VRAAG: Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het, “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44)? Beteken dit dat daar sommige mense is wat God nie na Hom toe trek nie?

ANTWOORD: Baie mense verstaan hierdie vers verkeerd, omdat hulle nie besef dat God nie nou almal tot redding roep nie. God sal sekerlik aan almal wat nog ooit geleef het uiteindelik verlossing bied (Romeine 9:15; 1 Timótheüs 2:3-5). Hy wil hê dat almal die ewige lewe ontvang en dat niemand sal vergaan nie (Johannes 3:16-17; 2 Petrus 3:9). Die Skrif maak dit duidelik daar is “geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Hoe kan God dan Sy Woord hou en tog miljarde mense red wat geleef en gesterf het sonder dat hulle selfs Sy Naam of Sy ware boodskap gehoor het?

Die Bybel vertel ons van ’n toekomstige tyd wanneer almal die ware Evangelie sal hoor en God se roeping sal ontvang (Openbaring 20:5, 11-12). Daardie tyd staan bekend as die “Groot Wit Troon Oordeel”. Dit sal nie ’n “tweede kans” wees nie. Dit sal ’n tyd wees wanneer miljarde mense opgewek word na fisiese lewe en vir die eerste keer die geleentheid gegee sal word om Christus se Naam en leerstellings te hoor.

God trek egter nou, in hierdie huidige tyd, ’n “klein kuddetjie” na Hom (Lukas 12:32). Hulle word die “eerstelinge” genoem (Jakobus 1:18). Hierdie Christene – individue wat in hierdie hedendaagse tydperk God se Heilige Gees ontvang om hulle te help om hul menslike natuur te oorkom en volgens God se weg te leef – moes veg om nie net hulle eie sondigheid te oorkom nie, maar ook die sondige invloed van die samelewing en van Satan, wat deur die Skrif die “god van hierdie wêreld” genoem word (2 Korinthiërs 4:4).

Die beter opstanding

In teenstelling hiermee sal diegene wat God tydens die Groot Wit Troon Oordeel roep, hulle vorige lewens – wat hulle geleef het in hierdie tyd terwyl dit deur Satan en die vleeslike samelewing beïnvloed is – kan vergelyk met die duisendjarige omgewing waarin God hulle sal opwek en die meeste van hulle sal sekerlik God se aanbod van verlossing en die ewige lewe aanvaar.

Omdat die eerstelinge sonde in ’n moeiliker omgewing moet oorkom, beloof God aan hulle ’n “beter opstanding” (Hebreërs 11:35). Hulle sal met Christus se Wederkoms lede van God se Gesin word en sal Hom help om gedurende die Millennium oor hierdie aarde te regeer. Dit is die duisendjarige tydperk waarin die wêreld in vrede en harmonie onder Christus se heerskappy sal leef en sal voorberei vir die Groot Wit Troon Oordeel. Hierdie oordeel sal plaasvind ná die einde van die Millennium. Na die Groot Wit Troon Oordeel sal alle mense die ware Evangelie gehoor het en diegene wat dit verwerp het sal verbrand word in ’n poel van vuur wat hulle vir ewig in die “tweede dood” sal vernietig (Openbaring 20:14-15).

God verwag dat Sy mense die ware Evangelie sal verkondig totdat Christus weer kom (Matthéüs 24:14, 46). Tog verstaan ons dat die meeste mense wat ’n eksemplaar van die Wêreld van Môre-tydskrif opneem, nie in hierdie tyd deur God geroep word nie. Die artikels wat hulle lees sal vir hulle net as ’n “getuie” dien, sodat hulle nie in die toekoms kan sê: “Niemand het my ooit vertel nie! God is nie regverdig nie!”

God verwag van ons om op te tree volgens dít wat Hy ons geleer het. Selfs na die doop, behou ons ons vrye morele keuse en ons werke en keuses gaan gepaard met ons geloof (Jakobus 2:20-22). Redding is ’n geskenk wat ons nie kan “verdien” nie, maar ons kan daardie geskenk verwerp indien ons opsetlik teen ons Verlosser rebelleer. Indien u dus verstaan wat u in hierdie tydskrif lees, moenie die wonderlike geleentheid vermors wat God aan u gee om een van Sy eerstelinge te word nie. Hierdie eerstelinge sal as konings en priesters die unieke voorreg hê om onder Jesus Christus in die Millennium te regeer. Hou aan om die Wêreld van Môre-tydskrif te lees en vergelyk wat u hier lees met wat u in u Bybel vind. Indien u dink dat u dalk gereed mag wees om gedoop te word, skryf asseblief vir u gratis eksemplaar van ons boekie, Behoort U Gedoop te Word? of kontak een van ons verteenwoordigers by een van die adresse wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif gelys is.