God se Woord is nie vir gemakstoel-filosowe en persone wat godsdiens as stokperdjie beoefen nie, dit is ’n instrument wat u kan gebruik om u lewe te verbeter en om voor te berei vir die ewigheid!

Die Skepper wil hê dat ons die ware weg na ’n suksesvolle lewe en die ewige lewe sal vind. Hy het daardie lewensweg in u Bybel geopenbaar!


Die Bybel is die heel belangrikste boek in die wêreld. Die kans is goed dat u ’n Bybel iewers in u huis het. Die meeste mense weet nogtans baie min van hierdie ongelooflike boek en wat daarin staan. Hierdie boek onthul die geheime van die lewe. Dit onthul die toekoms van die mensdom. Die Bybel kan u ook op baie maniere help, selfs ver bo u grootste verwagtings en drome.

Die Bybel is vir baie mense ’n geheimsinnige boek. Dit is vir hulle soos ’n legkaart wat moeilik is om saam te stel. Indien ons die groot prentjie het, soek ons na ooreenkomste in kleur of vorm. Deur die-toets-en-tref-metode te probeer mag ons ’n klein deeltjie hier en ’n klein deeltjie daar saamstel. Deur volharding kan ons selfs die prentjie voltooi.

Wat is die Bybel dus? Is dit net ’n boek wat geskryf is deur antieke trekkers wat ’n god geskep het na hulle eie beeld? Is dit slegs ’n boek van menslike wysheid om ons denke te stimuleer? Of is die Bybel die geïnspireerde woord van die Skepper-God? Kan die Bybel die groot geheimenisse van die lewe verklaar? Kan die Bybel die toekoms en u potensiële plek daarin voorspel?

Jaar ná jaar is die Bybel die boek wat die meeste in die wêreld verkoop! Dit is die heel belangrikste boek in die wêreld. U behoort die moed te hê om die Bybel te lees en vir uself te ondersoek! Die kans is goed dat u ’n Bybel op u koffietafel het – of êrens in ’n kas weggebêre. Hoeveel mense lees egter ooit die Bybel? Indien u nie hierdie boek lees nie, kan u die geleentheid laat verbygaan om die mees opwindende inligting en kennis wat die wêreld nog ooit geken het, te wete te kom Deur die Bybel te lees kan u u denkwyse verbreed!

Miljoene mense regoor die wêreld besit Bybels. Selfs so ver terug as 1950 het ’n geloofwaardige tydskrif berig dat “teen die einde van 1950 (die 500ste herdenking van Gutenberg se uitvinding), meer as twee miljard Bybels en dele van Bybels gedruk is en 25 miljoen sal elke jaar bygevoeg word” (Antiquarian Bookman Magazine, 18 November 1950). Volgens die Princeton Research Centre besit 93% Amerikaners ’n Bybel en 27% besit vier of meer.

Indien u nie ’n Bybel besit nie, moedig ek u aan om een te koop. Indien u ’n Bybel iewers in ’n kas of laai weggepak het, moedig ek u ook aan om dit te vind en te lees. In hierdie artikel sal ons vyf belangrike voordele in ag neem by die lees en bestudering van die Bybel – vyf maniere waarop die Bybel u kan help. Ek wil u aanspoor om die lees van u Bybel ’n daaglikse deel van u lewe te maak. Soos Lord Tennyson opgemerk het: “Om Bybel te lees is opvoeding op sigself” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Volgens ’n meningspeiling “sê ongeveer ses uit elke tien Amerikaners (59%) hulle lees die Bybel ten minste per geleentheid ... Die lees van die Bybel het oor die algemeen heelwat gedaal sedert die 1980’s – van 73% na 59% vandag. Die persentasie gereelde lesers, dit is diegene wat die Bybel ten minste een keer per week lees, het in die laaste dekade effens gedaal, van 40% in 1990 tot 37% vandag” (Six in Ten Americans Read Bible At Least Occasionally, Gallup Poll, 20 Oktober 2000).

Hoe belangrik is die Bybel?

Hoe belangrik is die Bybel in u lewe? Lees u dit ten minste een keer per week? Hoe dikwels lees Amerikaners die Bybel? Gallup berig: “In terme van gereeldheid van Bybel- lees, sê 16% Amerikaners dat hulle die Bybel elke dag lees, 21% sê hulle lees dit weekliks, 12% sê hulle lees dit maandeliks, 10% sê minder as een maal per maand en 41% sê dat hulle dit selde of ooit lees” (ibid.).

Hoe belangrik is dit om die Bybel te lees? Wat sê die Bybel self daaroor? Die apostel Paulus het aan die jong evangelis, Timótheüs, gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timótheüs 3:16-17). Die Skepper wil hê dat ons die ware weg na ’n suksesvolle lewe en die ewige lewe sal vind. Hy het daardie lewensweg in u Bybel geopenbaar!

Die Bybel is die Woord van God. Diegene wat daarna streef om te leef volgens die Bybel en die lewenswyse beoefen soos geleer deur Jesus Christus en die Skrif, sal wysheid en begrip kry. Jesus sê: “... die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en lewe” (Johannes 6:63). Ons wil almal oorvloedige lewe hê. Jesus sê in Johannes 10:10: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê”.

Ja, u kan die Bybel verstaan en u kan die wonderbaarlike voordele geniet. Kom ons kyk na vyf belangrike maniere waarop die Bybel tot u voordeel kan wees en aan u en u gesin vrede, vreugde en ongelooflike seëninge kan bring.

1. Beter verhoudings met mense

Een van die grootste probleme wat sommige van ons het, is om met ander mense oor die weg te kom. Ons kan moontlik konflik hê met ons baas, met ons man of vrou, met ons kinders of ouers, of met vriende en familie. Ons argumenteer dalk oor finansies, huishoudelike take, of oor te veel tyd spandeer op die sosiale media. Kan die Bybelu help om beter met ander mense oor die weg te kom? Ja, dit kan indien u die instruksies volg. Onthou u die twee groot Gebooie? Jesus sê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:37-39).

Wanneer u hierdie groot Gebooie toepas, kan u u verhoudings met ander mense verbeter. Nog ’n beginsel waardeur u verhoudings met ander verbeter kan word, is om vergewensgesind te wees. Hoeveel mense klou aan griewe vas? Hulle weier om dit te laat gaan. Hulle wil net nie vergewe nie. Onthou wat Jesus in die modelgebed, wat dikwels die Onse Vader genoem word, geleer het: “... en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheüs 6:12). Bid u op daardie manier? Vergewe u ander mense? Is u geduldig in die omgang met vriende, familie en medewerkers? Die toepassing van hierdie Bybelse beginsels kan help om u lewe dramaties te verander!

2. Ware sukses, vervulling en geluk

Die apostel Johannes haal Jesus aan waar Hy die aandag vestig op die kontras tussen die weë van die wêreld en die weë van God. “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). U kan ware sukses en ’n oorvloedige lewe hê, indien u die Verlosser elke dag in al u doen en late erken. Daar is so baie wonderlike Bybelse beginsels wat aan ons ware sukses beloof. Die apostel Paulus sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Let ook op na hierdie sleutel tot God se seën: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

God beloof om ons elke dag op die pad na lewe en sukses te lei indien ons Hom erken. ’n Beginsel vir leiding is dat ons behoort te bid oor alles wat ons bekommerd en besorgd maak en ons raak! Die apostel Paulus sê aan ons dat as ons God erken in al ons weë, Hy ons paaie gelyk sal maak (Filippense 4:6).

Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg. Die Bybel gee aan ons die ware beginsels vir sukses. Ons behoort na die egte waardes van die lewe te soek, nie die vleeslike, selfsugtige, wellustige waardes nie. Koning Dawid was ’n man na God se hart (Handelinge 13:22). Let op na sy advies met betrekking tot ware sukses: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag” (Psalm 1:1-2).

Kyk wat die gevolg van die oordenking van God se Wet en Sy manier van lewe is: “En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Psalm 1:3). Dít is ware sukses in die lewe.

Daar is baie meer opwindende beginsels vir ’n suksesvolle lewe in u Bybel. Lees net die Bergpredikasie in Mattheüs 5, 6 en 7. Lees die Spreuke van Salomo. U kan suksesvol, gelukkig en in oorvloed leef.

3. Die lewe se ware betekenis en doel

Die uiteindelike doel van die menslike lewe is om ’n persoonlike verhouding met God te hê! Dit is ’n diepgewortelde waarheid! Dink daaroor na! Die Skrif openbaar dat hierdie verhouding ’n liefdevolle gesinsverhouding is.

God het die menslike gesin geskep en Hy wil hê dat u deel van Sy Goddelike huisgesin sal wees. Die apostel Paulus skryf: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15). Ja, God is die Vader van ’n huisgesin en Hy wil hê dat u deel van ’n skeppende gesin sal word, om wonderlike geleenthede en vreugde tot in alle ewigheid te ervaar! Ja, u Bybel kan u help om u uiteindelike roeping te begryp.

Hoe word ons kinders van God? Ná bekering en doop in die naam van Jesus Christus, ontvang ons die gawe van die Heilige Gees (Handelinge 2:38). Ons word dan God se verwekte kinders, soos die apostel Jakobus dit beskryf: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Volgens sy wil het Hy [die Vader] ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees” (Jakobus 1:17-18).

4. Die lewenswyse, ná die dood

Een van die mens se grootste bekommernisse is dat almal van ons wat nou leef, uiteindelik sal sterf. Diegene wat die openbaring en waarheid van God verwerp, het geen hoop vir die toekoms nie. Die Bybel onthul egter die waarheid van lewe ná die dood. Kyk wat die apostel Paulus aan die jong evangelis, Timótheüs, skryf. Let op juis hoe belangrik die Bybel vir ons ewige lewe is: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timótheüs 3:14-15).

Waarom het ons “verlossing” nodig? Elke mens sal sterf! Ons moet almal van die ewige dood gered word! Ek en u het verlossing nodig. Ons benodig vergifnis van ons sondes. Waarom? Omdat sonde die ewige dood meebring. Die Skrif sê aan ons: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Wat ons deur ons sondige lewe verdien is die dood. God het egter ’n Verlosser na die wêreld gestuur, naamlik Jesus Christus. Hy het vir ons sondes betaal deur Sy gestorte bloed. Indien ons dus die Verlosser se opdragte volg, kan ons sondes vergewe word. Soos Jesus Self gepreek het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Die apostel Petrus dring by sy luisteraars aan: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sonde, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Die Bybel is in staat om deur Christus Jesus aan u wysheid tot saligheid te gee. Daar sal ’n glorieryke lewe anderkant die dood wees, wanneer getroue Christene vir Christus sal bystaan om blywende vrede tussen alle nasies in die Koninkryk van God tot stand te bring. U kan daar wees, in die wêreld van môre, indien u eerstens die Koninkryk van God soek en indien u uitsien na die heerlike opstanding soos beskryf in die opstandingshoofstukke, 1 Korinthiërs 15 en 1 Thessalonicense 4.

5. Die Bybel help ons om vir die toekoms voor te berei

Bybelprofesie onthul hoe God sal ingryp in wêreldsake. Dit gee aan ons die goeie nuus van die mensdom se uiteindelike bestemming. Ons het reeds gesien dat God se doel is om ons voor te berei vir Sy Koninkryk hier op aarde! Ware Christene sal vir ’n duisend jaar as konings en priesters saam met Christus regeer. Ware Christene sal met die opstanding verander word en in die Koninkryk van God gebore word. Dit kan u toekoms wees. Let op hierdie glorieryke gebeurtenis wanneer Christus terugkeer. Die apostel Paulus skryf van die opstanding wanneer ware Christene erfgename sal word van die Koninkryk van God en wanneer ons sal verander word van sterflikheid na onsterflikheid. “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:50-52).

Wat ’n heerlike toekoms wat God aan ons belowe! Met die opstanding sal ons onsterflik word. Soos die apostel Paulus skryf: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korinthiërs 15:53-54).

God wil hê dat ons almal in alle ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees. U behoort te weet wat die toekoms vir u inhou. U behoort u Bybel te bestudeer en meer te leer.