As daar een ding is wat ek vir u as leser van Die Wêreld van Môre kon toewens, was dit dat u die geloof en moed kan hê om op die Waarheid te reageer. Deur hierdie tydskrif sowel as die Wêreld van Môre-radioprogram en ander fasette van die Werk, bied ons aan u kosbare waarheid wat deur die meerderheid van die mensdom nie verstaan word nie. Soos Jesus gesê het: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheus 7:13-14).

Omdat die egte waarheid van God se weg so baie verskil van die “algemene” godsdiens, huiwer baie mense om iets daaromtrent te doen. Andersins is hulle bang dat dit “tot iets sal lei” waarvan hulle nie hou nie en daarom plaas hulle dit uit hul gedagtes. Soos Sir Winston Churchill gesê het: “Die mensdom struikel soms oor die Waarheid, maar die meeste van hulle staan op en stap flink weg asof niks gebeur het nie!”

Is dit ’n raak beskrywing van uself?

In die hoofartikel van hierdie uitgawe, bespreek ek een van die belangrikste aspekte wat u vierkantig in die oë staar. Met die wêreld wat oorlog in die gesig staar en daagliks met die gevaar van terrorisme saamleef, is dit belangrik dat ons besef waarvan God ons in Sy Woord vertel en waarteen Hy ons waarsku. Wanneer Christus binne die volgende paar jaar uit die hemel terugkeer met die trompetgeskal van die sewende basuin en die stede van hierdie rebelse samelewing tot in hul fondamente geskud word (Openbaring 16:17-20), sal u gereed wees en kwalifiseer om saam met Christus in Sy koninkryk te regeer? Soos die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?” (1 Korintiërs 6:2).

Wil dit vir u voorkom asof God “ver weg” is en blyk al die Bybelverse oor Christus, wat ’n werklike koninkryk hier op Aarde kom vestig, vaag en onwerklik te wees? Het u God al werklik leer ken of het u bloot “groot geword” in u ouers se kerk of moontlik slegs by ’n kerk van u eie “keuse” aangesluit? Is “u” kerk werklik God se Kerk? Onderrig dit die egte Waarheid oor die hele doel vir die menslike bestaan?

Dink - vir u eie ewige onthalwe - asseblief hieroor!

Jesus Christus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). Indien God u verstand open vir dit wat werklik aan die gang is in geprofeteerde wêreldgebeure en vir ware Christene se dringende behoefte om gereed te maak vir heerskappy in Christus se komende koninkryk (Openbaring 2:26-27), dan hoop en bid ek dat u sal reageer op daardie lewensbelangrike kennis! Tyd is min. Ons leef werklik in die “laaste dae” van hierdie wêreld se samelewing onder Satan die duiwel se invloed.

Om die Waarheid te ken is nie genoeg nie! U moet die moed hê om op die Waarheid te reageer. Vele verse dwarsdeur die Bybel wys ons dat ons moet reageer. Een van my gunsteling skrifgedeeltes is Jakobus 1:22: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie”.

Namate ons in hierdie Werk die Amerikaanse en Britse afstammelinge waarsku teen die komende Groot Verdrukking, hoor honderde duisende mense ons boodskap oor die televisie, radio of deur die Internet, maar hulle is dikwels verlam deur besluiteloosheid - deur die onwilligheid om enigiets daaraan te doen! Let daarop hoe dikwels mense versuim om op God se boodskap te reageer. God vertel aan Esegiël: “En jy, mensekind, die kinders van jou volk wat oor jou gesels langs die mure en in die deure van die huise - hulle spreek die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die HERE uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ’n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan” (Esegiël 33:30-31).

Mag God gee dat u in staat sal wees om wakker te word en te reageer! Dit is in u ewige belang dat u nie bang is om te erken dat u nooit persoonlik die soort “bekering” ervaar het waarvan die Bybel praat nie - dat u nog nooit die ware krag van die Heilige Gees in u lewe ervaar het, om u te help om te groei “tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efesiërs 4:13).

Laat ek doodeerlik wees! Die meeste belydende Christene en kerkgangers was nog nooit die kragtige boodskap van die komende Koninkryk van God geleer nie. Hulle was nog nooit geleer wat “sonde” werklik is nie! Hulle was dus nog nooit in staat om hulle ten volle te bekeer en behoorlik gedoop te word soos God beveel het nie.

Is u geleer van ware berou tot bekering?

Lees asseblief die volgende verduideliking, van ware bekering deur een van God se getroue dienaars, noukeurig:

“Laat ek dus hier iets noem van bekering wat ek vind die meeste mense nie verstaan nie.

Die BEKERING wat vereis word, as ’n voorwaarde vir ware bekering deur die ontvangs van God se Heilige Gees, is iets baie anders as wat die meeste mense veronderstel. Dit is oneindig meer as om net God se WAARHEID, of deel daarvan, te “sien” en goed genoeg te wees om dit aan te neem en te aanvaar. Dit is iets heel anders as om slegs met sekere leerstellings saam te stem.

Wie u ook al is, U HET TANS of in die verlede ’n AFGOD gehad. U het ’n ander ‘god’ voor die aangesig van die ware lewende Almagtige God gehad. Dit mag dalk u stokperdjie of gewoonte tydverdryf wees. Dit mag u man of vrou, kind of kinders wees. Dit mag u werk wees. Dit mag u eie YDELHEID, u grimering, u besigheid of beroep wees. Dikwels is dit die opinie van u vriende, u familie, vriendekring, sosiale- of besigheidskennisse.

Wat dit ook al is, daardie afgod moet eers VERBRYSEL en VERNIETIG word, dit moet letterlik uit u gedagtes geruk word, al maak dit seerder as om u tande en deel van u kakebeen uit te ruk! Ek glo nie dat baie mense dit pynloos ervaar nie! Ek weet nie van enige verdowingsmiddel wat dit beter sal maak nie. Dit blyk dikwels meer pynigend as dood deur die ergste marteling te wees” (Autobiography of Herbert W. Armstrong, Vol. 1, bl. 593).

Geagte leser, het u al ooit hierdie soort ware bekering ervaar?

Jesus Christus is nou besig om ’n groep ware bekeerde, veranderde en getroue Christene op te lei om onder Hom te dien in Sy komende wêreldregering. Die tyd vir halfhartige Christenskap is verby! Die tyd om “kerk-kerk” te speel is verby! Lees asseblief die artikels in hierdie uitgawe noukeurig en met gebed. Vra God vir ware begrip en vra God vir die geloof en moed om op Sy Waarheid te reageer!