Volgens die woorde van die Londense koerant, Daily Telegraph (24 Oktober 2009), word dit “een van die mees beduidende ontwikkelings sedert die Hervorming”, genoem. Pous Benedict XVI het in Oktober 2009 ’n geestelike bom op die belydende Christelike wêreld losgelaat deur Anglicanorum Coetibus goed te keur, wat ’n verstommende nuwe plan bekendstel om ontnugterde Anglikane, wie ontsteld is oor homoseksuele biskoppe, ordinering van vroue en dieselfde-geslag huwelike, toe te laat om terug te keer na die skoot van die Rooms-Katolieke Kerk, terwyl hulle baie van hulle vorige Anglikaanse dissiplines mag behou – insluitend getroude priesters!

Hierdie verrassende aankondiging deur die Vatikaan – wat die Kerk van Engeland geskok het – word deur die Rooms-Katolieke beleidmakers geloof as die werk van die Heilige Gees wat die verskillende gedeeltes van die belydende Christelike gemeenskap lei “na Katolieke eenheid” onder die Pous. Beide die geskiedenis en Bybelse profesieë wat nou gestalte begin aanneem, verleen egter ’n heel ander perspektief aan hierdie onlangse merkwaardige verwikkeling!

Draaipunte van geskiedenis

Hierdie gewigtige aankondiging deur die Vatikaan is ’n poging om die gang van die geskiedenis te wysig! Die Anglikaanse Kerk – die Kerk van Engeland – het in 1534 van die Kerk van Rome weggeskeur toe die Vatikaan die tot-nietig-verklaring van Koning Henry VIII se huwelik geweier het. Sedertdien was die Anglikaanse Kerk aan die hart van Protestantse Engeland – die klein eilandnasie wat verskeie pogings deur Katolieke vorste op die Vasteland, om die Engelse met geweld na die Rooms Katolieke skoot terug te dwing, afgeweer het! Die neerlaag van die Spaanse Armada wat in 1588 deur die Katolieke Koning Philip II van Spanje gestuur was, was in Engeland gesien as “’n Goddelike ingryping” om Protestantse Engeland te bewaar. Hierdie dramatiese gebeure in Engeland en ander dele van Europa het die Protestantse Hervorming effektief bevorder. Die onlangse aankondiging om Anglikane se terugkeer na die Roomse Kerk te vergemaklik, sal ’n betekenisvolle ommekeer van vroeëre neigings wees en mag regkry wat die Spaanse Armada gefaal het om te vermag – die ondergang van die Anglikaanse Kerk en die verduistering van Protestantse Engeland.

’n Ander antieke skeur is ook in die proses om geheel te word. In 1054 het die “Groot Skeur” die Rooms-Katolieke Kerk in twee geskeur toe die Pous in Rome en die Patriarg in Konstantinopel mekaar wedersyds uit die kerk geban het oor sake van teologie en pouslike gesag. Ou vyandskappe was verder vererger deur die opgang van Italiaanse Katolieke handelaars in dominante posisies in die handel en finansiële sektore van Konstantinopel, waar hulle plaaslike Griekse handelaars vervang het. Hierdie smeulende ontevredenheid het in geweld uitgebars toe Griekse Katolieke die Rooms-Katolieke handelaars in Konstantinopel aangeval het. In 1204 het kruisvaarders, op die Vierde Kruistog wat deur Pous Innocent III onderneem was, die pragtige stad Konstantinopel oorwin en brutaal verwoes. Rome se oplegging van Latynse patriarge op die oorwonne Grieke het aanleiding gegee tot ’n erflating van haat en wantroue tussen die Oosterse en Westerse takke van die “Christendom” wat vir meer as 950 jaar voortgesmeul het.

In die afgelope dekades egter, het Rooms-Katolieke pouse en Oosters-Ortodokse patriarge stadig beweeg na ’n heling van die Groot Skeur deur ontmoetings en saam te bid en te oorweeg wat voorheen ondenkbaar was! Die beweging na versoening is ook gedryf deur eksterne kragte: Die opkomende bedreiging van radikale Islam, die verval van morele waardes in die Westerse samelewing en die pogings van Europa se politieke elite om enige skyn van Christelikheid uit die openbare lewe te weer. Leiers in Rome en Konstantinopel besef dat, tensy hulle verenig, hulle eerder vroeër as later gesystap en as ontoepaslik beskou sal word deur die opkomende sekulêre magte.

Gesien in hierdie lig, is Pous Benedict se verrassende uitnodiging aan Anglikane om met waardigheid terug te keer na die Rooms-Katolieke skoot, ’n wesenlike stap en mag ook ’n voorspel wees tot hereniging met die lankvervreemde Oosters-Ortodokse Christene – die ander “long” van die Kerk.     Dit lyk asof ons ’n ander betekenisvolle draaipunt in die geskiedenis dophou – een wat lank gelede in die Bybel voorspel is.

Eindtydse profesieë

Byna 2,000 jaar gelede was aan die apostel Johannes ’n profetiese visioen gegee van gebeure wat sal plaasvind aan die einde van hierdie tydvak, net voor Jesus Christus se wederkoms na hierdie aarde. In Openbaring 13 beskryf Johannes twee diere. Een beeld ’n magtige persoon uit wat ’n Europese politieke organisasie lei. Hy sal verskyn as die finale herrysing van ’n regeringstelsel wat verbind is aan die antieke Romeinse Ryk (sien Daniël 2:40-43). Die ander dier is ’n versinnebeelding van ’n invloedryke geestelike persoon aan die stuur van ’n kerk wat die wettigheid van die eerste dier bevorder (sien Daniël 7:8, 15-25). Later beeld Johannes hierdie geestelike organisasie uit as ’n “skarlakenrooi vrou” met wêreldwye invloed, terwyl sy “ry” (invloed uitoefen) op die politieke dier wat in Europa sal verrys (sien Openbaring 17). Daardie vrou word genoem: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5).

Protestante het lank reeds hierdie simboliese voorstelling verbind met die Rooms- Katolieke Kerk (sien Halley’s Bible Handbook, 24ste uitgawe), met haar baie godsdienstige gebruike en tradisies wat terugdateer na die godsdienstige geheimenisse van antieke Babilon (sien The Two Babylons, Hislop). Interessant genoeg het pouse en Vatikaanse diplomate vir dekades die vorming van ’n verenigde Europa aangemoedig en bevorder. Is dit dan verrassend dat so ’n entiteit vandag tevoorskyn tree uit die as van die Romeinse Ryk – net soos die profesieë in Daniël en Openbaring voorspel het?

Die profeet Jesaja openbaar bykomende besonderhede oor die aktiwiteite van hierdie eindtydse godsdienstige organisasie. Hierdie “dogter van Babel” sal daarop aanspraak maak dat sy “gebiedster vir altyd” is (dink hier aan Rome, “die ewige stad”), en “dit is ek en niemand anders nie” (dink daaraan dat daardie kerk daarop aanspraak maak om die enigste ware Kerk te wees). Sy sal beweer: “Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie” (Jesaja 47:1-8) – sy sal baie moeite doen om haar verlore “dogterkerke” terug te win wat vir ’n tyd, uit protes, van haar geskei was (Openbaring 17:5).

Ons sien hoe hierdie profesieë vandag besig is om gestalte aan te neem in die pogings van die Roomse Kerk om ander belydende Christenkerke terug te bring in die Katolieke skoot van die Moederkerk! Die apostel Paulus het ook ’n profesie aangeteken wat hierdie migrasie van eens protesterende dogters terug na die Roomse Kerk, deel maak van ’n reeks dramatiese gebeure wat sal plaasvind net voor die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde.

Die Skrif openbaar dat, baie eens ware Christene hulle geloof sal versaak en sal terugkeer na heidense praktyke aan die einde van hierdie tydvak (1 Timotheüs 4:1). Sommige sal terugkeer na ’n heidense vorm van vals Christelikheid; ander weer sal alle skyn van Christelikheid laat vaar. Tegelykertyd met ware Christene se versaking van die geloof wat eenmaal oorgelewer is, sal skokgolwe deur die wyer belydende Christengemeenskap trek, namate eens afgeskeide “dogters” van Rome herenig met hulle “moeder”. Die eerste en tweede dier, hierbo beskryf, sal miljarde mense opsweep met ’n vals godsdiens wat rebelleer teen God se wette en die waarheid van Jesus Christus.

Antieke profesieë wat die terugkeer van protesterende dogterkerke na die Moederkerk voorspel, en die opstand van miljoene mense teen die leringe van die God van die Bybel, is vandag besig om gestalte aan te neem in dramatiese gebeure wat die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde en die einde van hierdie tydvak, vooraf sal gaan! Om meer te leer oor hierdie wesenlike onderwerp, vra asseblief vir u gratis kopieë van ons boekies, Satan se Vervalste Christendom asook Die Dier van Openbaring. Namate ons nader kom aan die finale geprofeteerde tyd van die groot afvalligheid, is dit nodig dat u weet wat die waarheid is oor die toekoms van ons wêreld!