Vraag: Dit wil voorkom asof elke Christen wat ek ken ’n halssnoer met ’n kruis daaraan dra of ’n kruisvormige bufferplakker op hulle motor het – ek is dus verbaas dat u geen kruisbeelde in u tydskrif gebruik nie. Waarom nie?


Antwoord: Alhoewel dit waar is dat die kruis al lank as die kenmerkende ikoon van tradisionele Christendom beskou word, was die simbool lank voor die Christendom in gebruik en met ’n heel ander betekenis. Nêrens in die Bybel vind ons dat die kruis of kruisbeeld wat beskou word as ’n voorwerp, of simbool, wat gedra, vertoon, aanbid of enigsins geassosieer word met diegene wat beweer dat hulle Christus volg nie. Geskiedenis en argeologie is ook grootliks stil oor hierdie punt, met baie verhale oor die kruis en die gebruik daarvan wat slegs in apokriewe geskrifte of geskiedkundige bronne verskyn wat etlike eeue na Jesus se dood geskryf is.

Trouens, alhoewel die meeste mense aanvaar dat Jesus Christus aan ’n kruis met die T-vorm vasgespyker was, wat ons vandag so algemeen sien, bevat die Bybel geen beskrywing van die werklike houtpaal waaraan Hy vasgespyker was nie. Die woord wat in die Bybel gebruik word, is stauros (vergelyk Matthéüs 27:32; Markus 15:21; Lukas 23:26; Johannes 19:17), wat bloot ’n regop paal, ’n stok of selfs ’n boom beteken het. Die Romeine het ’n verskeidenheid metodes gebruik om diegene tereg te stel wat deur hulle veroordeel is.

Geskiedkundige voorstellings

Die geskiedenis dui daarop dat die simbool van die kruis voor die Christendom bestaan het en verskillende voorbeelde daarvan kom in heidense kuns en in godsdienstige gebruike voor wat terugdateer na antieke tye. Die Britse Museum besit byvoorbeeld ’n Assiriese standbeeld van koning Shamshi-Adad V wat ’n byna perfekte Maltese kruis dra. Griekse gode soos Diana en Bacchus is met kruise uitgebeeld en Diana het baie in gemeen met latere middeleeuse uitbeeldings van die maagd Maria.

Regoor die aardbol, van Latyns-Amerika tot Egipte en Asië, is kruise in die vorm van die antieke Egiptiese ankh, regop kruise en selfs swastika-tipe simbole gevind en een letter van die Semitiese alfabet verskyn selfs as ’n kruis wat terugdateer na ongeveer 1500 v.C. Tog word nie een van hierdie kruise geassosieer met die aanbidding wat deur die vroegste getroue Christene beoefen is nie.

Die eerste amptelike “Christelike” gebruik van die kruis kan so laat as 312 n.C. gedateer word, onder die heerskappy van Konstantyn, die heidense keiser van Rome. Konstantyn het beweer dat hy ’n visioen gehad het van ’n soort kruis – waarskynlik die Chi Rho, wat die eerste twee letters van die Griekse woord Christos (ΧΡΙΣΤΟΣ) op mekaar geplaas het. Hy het beweer dat hy deur die visioen beveel is om daardie simbool op sy leërs se vlae te plaas wanneer hulle uitgegaan het om hulle vyande te oorwin. In wat blykbaar ’n polities gemotiveerde stap was om beheer te neem oor die toenemend gewilde afvallige “Christendom” destyds in Rome, het Konstantyn hierdie simbool gebruik om homself met goddelikheid te assosieer en om sy weergawe van die Christendom die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk te maak. (“Cross, Crucify,” Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words). Selfs die Chi Rho-kruis het egter bande gehad met antieke heidense bronne en word gevind op munte wat deur die Egiptiese heerser Ptolemy III Euergetes in die derde eeu v.C. uitgereik is. Daar is geen geskiedkundige of argeologiese bewyse dat die simbool voor die vierde eeu deur belydende Christene gebruik was nie.

In Exodus 20:3-5 beveel God Sy volk spesifiek om nie voor ’n gesnede beeld neer te buig nie – ’n waarskuwing wat geïgnoreer word deur diegene wat in hulle godsdienstige vierings voor ’n kruisbeeld ’n kniebuiging maak. Hierdie opdrag word weer beklemtoon in die Nuwe Testament, waar die apostel Johannes die Christene vermaan: “... bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21).

Wat behoort Christene dus te doen? Ons behoort te erken dat geen beskrywing in die Bybel van die spesifieke tipe stauros of kruis gevind word wat in Christus se kruisiging gebruik is nie en besef dat Christus wil hê dat ons fokus op die betekenis van Sy offer, op wat Hy op die oomblik doen en wáárom Hy dit doen. Die feit dat die tradisionele kruis uit die heidense godsdiens afkomstig is, behoort ons te laat huiwer.

Die kruis is nie die enigste onchristelike aspek van populêre “Christendom” nie. Om meer te wete te kom oor hoe die hoofstroom godsdiens baie leerstellings van Christus en Sy Vader verdraai en selfs laat vaar het, kan u gerus vra vir ’n gratis eksemplaar van ons boekie, Satan se Vervalste Christendom, of lees dit aanlyn by wvm.co.za.