Baie mense het al gehoor van die merk van die dier en bespiegelings is volop wat dit betref. Sommige mense in die Verenigde State het op ’n stadium gedink dat die sosiale sekuriteitsnommer daardie merk is en ander mense het gedink die merk kan die Kanadese sosiale sekuriteitsnommer wees, met sy akroniem “S.I.N.” Die strepieskode en die meer onlangse vinnige reaksie (QR)-kode [’n rangskikking van swart vierkante of “pixels” in ’n vierkant wat data stoor vir ’n masjien om dit te lees] het ook onder dié beskuldiging deurgeloop. Al hierdie dinge hou verband met koop en verkoop of om ’n werk te behou, maar nie een daarvan is die merk van die dier wat in die boek Openbaring openbaar word nie.

Daar word ook bespiegel oor rekenaarskyfies wat in die hand of die voorkop ingeplant word. Verseker, ingeplante skyfies word gebruik om honde en katte op te spoor wanneer hulle wegraak – selfs vir menslike identifikasie – maar rekenaarskyfies is nie daardie merk nie. Hoe kan ons verseker weet?

In hierdie artikel sal ek bespreek wát daardie geheimsinnige merk is, maar ek sal ook ’n heel ander merk bespreek – die merk of teken van God, want dit is deur hierdie God-bepaalde merk dat ons die begrip van die merk van die dier sal verstaan.

Die volledige onderwerp van die dier se merk sou onbekend gewees het indien dit nie vir die boek Openbaring was nie; dit is dus die Bybel sélf wat lig hierop moet werp. Die fundamentele punt om hierdie merk te kán verstaan, is wát dit genoem word: Die merk van die dier. Dit is die dier se merk! Enige merk wat nie voortspruit uit die dier nie – wat of wie ookal die dier is – kan nie sy merk wees nie. Daarom, tensy die V.S., Kanada of enige ander land dus die dier is, kan hulle sosiale sekuriteits- of sosiale versekeringsnommers nie daardie merk wees nie. Die skyfies wat in ’n mens se hand of voorkop ingeplant kan word, kan ook nie daardie merk wees nie, tensy dit afkomstig is van en afgedwing word deur die dier.

Dus, wié of wát is hierdie dier en sy merk?

Die soektog begin in die tweede hoofstuk van die Ou Testamentiese boek Daniël. Daar lees ons dat God aan die profeet Daniël die betekenis van die antieke Babiloniese koning Nebukadnésar se bekende droom geopenbaar het. In hierdie droom het Nebukadnésar die beeld gesien van ’n man met ’n kop van goud, bors en arms van silwer, maag en dye van brons en bene van yster. Wat besonder belangrik is, is dat die beeld se voete en tone ’n mengsel van yster en klei was.

Daniël het aan die koning verduidelik dat hierdie figuur van ’n man, vier koninkryke verteenwoordig. Die kop van goud was Nebukadnésar se Chaldese ryk. Die geskiedenis toon dat die drie ryke wat gevolg het, die Medo-Persiese, Grieks-Macedóniese en Romeinse ryke was. Al hierdie ryke sou uit die Midde-Ooste en die Mediterreense wêreld te voorskyn kom.

Wat het dit dus met u, met my óf die merk van die dier te doen? Alles – maar waarom?

Daniël se profesie dek die tyd vanaf Nebukadnésar regdeur die geskiedenis tot die Wederkoms van die Verlosser, Jesus Christus en die vestiging van Sy Koninkryk hier op die planeet Aarde:

“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur” (Daniël 2:44-45).

Die klip wat sonder mensehande uit die berg losgeraak het – met ander woorde, op ’n bonatuurlike wyse – is duidelik ’n verwysing na die Wederkoms van die Messías terwyl Hy ’n toekomstige, ewigdurende Koninkryk vestig. Ons sien dus dat Christus terugkeer en die mensdom se ryke vernietig deur hierdie groot beeld se voete en tone te verbrysel (vers 34).

Geskiedskrywers meld dat die Romeinse Ryk in 476 n.C. tot ’n einde gekom het, maar Christus het nie teruggekeer nie en ook nie gedurende daardie tyd ’n wêreldregerende koninkryk ingestel nie. Ons moet onsself dus afvra of hierdie profesie gefaal het? Is daar dalk meer aan verbonde? Die sleutel word gevind wanneer ons die bene van yster van hierdie vierde koninkryk met sy eienaardige voete en tone wat uit yster en klei bestaan, van naderby beskou.

“En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was – dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is – ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het – hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aan mekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie” (Daniël 2:41-43).

Dit is duidelik dat die voete en tone van die beeld die ryk verteenwoordig wat tydens Christus se Wederkoms sal bestaan. Hoe kan dit egter wees aangesien Rome meer as 1,500 jaar tevore tot ’n val gekom het?

 

Vier diere

Die sewende hoofstuk van Daniël brei verder uit op hierdie vier wêreldryke deur hulle as vier wilde diere te beskryf. Die eerste dier word beskryf as ’n leeu met arendsvlerke, die tweede dier soos ’n beer, die derde een soos ’n vierkoppige luiperd en die vierde dier word beskryf as “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad” (Daniël 7:7).

Hierdie vier konings of koninkryke (Daniel 7:17, 23), verrys op uit die Middellandse see met die vierde koninkryk wat, soos die standbeeld in Daniël 2, eindig wanneer Christus terugkeer om ’n ewige Koninkryk te vestig. “Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die [vierde dier se] heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (verse 26–27).

Wanneer dit aandagtig gelees word, dui dit daarop dat dit nutteloos is om op ons eie oor hierdie simbole te spekuleer, aangesien God die simbole wat Hy in die Skrif gebruik, Sélf verduidelik. Die beeld in Nebukadnésar se droom word verduidelik as vier koninkryke, wat begin met Nebukadnésar se ryk. Ons word meegedeel dat die vier diere van Daniël 7, vier konings of koninkryke verteenwoordig en dat die vierde ryk eindig wanneer God se Koninkryk gevestig word. Hierdie diere verteenwoordig dus duidelik dieselfde vier koninkryke as dié wat in Daniël 2 genoem was.

 

Die samestelling van die dier

Met verloop van tyd openbaar God meer besonderhede oor hierdie koninkryke. Ons lees nou van ’n ander dier wat in Openbaring 13 gevind word. Ons vind dieselfde kenmerke wat in Daniël 7 gesien word maar nou is almal gekombineer in ’n enkele kreatuur. Dit is omdat Johannes die visioene opgeteken het soos wat aan hom gegee is in die laat 90's n.C. – gedurende die tyd van die Romeinse Ryk. Die eerste drie koninkryke het elkeen tot ’n val gekom en is uiteindelik in Rome opgeneem.

“En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, en sy pote soos dié van ’n beer, en sy bek soos die bek van ’n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Openbaring 13:1-2).

Wanneer ons hierdie gedeeltes vandag lees weet ons Rome het reeds meer as 1,500 jaar gelede tot ’n val gekom. Hoe kan dit dus bestaan tydens Christus se Wederkoms? Let daarop dat hierdie dier sewe koppe het. Vergelyk dit met Daniël 7 en u sal dieselfde aantal koppe sien wanneer u al vier wesens tel. Openbaring 13:3 verduidelik dat een van die koppe ’n dodelike wond gehad het maar wat genees het. Aangesien die eerste drie diere in Rome opgeneem is – wat hierdie dier ’n samestelling van die vier maak – is die enigste kop wat genees kon word dié van Rome, presies soos ons dit in die geskiedenis vind.

Die Romeinse Ryk het in 476 n.C. tot ’n val gekom, maar in 554 n.C. is dit deur Justinianus, in samewerking met die Rooms-Katolieke kerk herstel – sogenaamd “genees”. Ons moet na Openbaring 17 gaan om te verstaan wat volgende gebeur het, waar die “herstelde” Romeinse Ryk voortduur. Daar vind ons nog ’n dier met sewe koppe, maar eers ná die genesing van sy gewonde kop. Daar is egter een betekenisvolle verskil tussen hierdie dier met sewe koppe en die een waarvan ons in Openbaring 13 lees: Hierdie dier word deur ’n vrou gery.

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:1-3).

In die Bybel word ’n vrou somtyds as ’n simbool van ’n kerk gebruik (Efésiërs 5:31-32; Openbaring 19:6-9). Hier sien ons ’n gevalle vrou, ’n afvallige kerk – ’n moederkerk met hoerdogter (17:1, 5). Hierdie herstelde Romeinse Ryk met sewe koppe word gery deur ’n afvallige godsdiensstelsel. Verder leer ons dat dit ná sy genesing vir “twee-en-veertig maande” sou voortduur (Openbaring 13:5). Let daarop dat die Skrif gewoonlik die “dag vir ’n jaar”-beginsel gebruik (Jesaja 34:8; Eségiël 4:6). Wanneer ons in ag neem dat ’n Bybelse profetiese maand 30 dae is, gee 42 maande van daardie dae vir ons 1,260 dae of jare, afhangend van die konteks van die gedeelte.

Die geskiedenis openbaar dat die Romeinse Ryk, wat nou deur ’n afvallige kerk beheer word, deur Justinianus in 554 n.C. herstel is. Hierdie ryk het tot ’n val gekom en het nóg vier keer herleef. Die tweede herlewing het in 800 n.C. plaasgevind op “Kersdag toe Karel [Charlemagne] die Grote [Koning van die Franke], met die mantel en sandale van ’n patricius Romanus [’n Romeinse edelman], voor die altaar van Petrus in gebed gekniel het. [Pous] Leo het toe skielik ’n kroon, versier met edelgesteentes, te voorskyn gebring en dit op die koning se kop geplaas” (Will Durant, The Age of Faith, 1950, bladsy 469).

Ná Karel die Grote het die Ryk weer agteruit gegaan, maar het ’n derde keer onder Otto I die Grote, herleef. “Soos Karel die Grote het Otto sy troon bestyg deur die pouslike verklaring dat die Roomse Kerk sedert die vroeë vierde eeu die enigste keiserlik-verkose was ... Die Heilige Romeinse Ryk was dus tot ’n groot mate Duits wat betref sy etniese en politieke basis, Christelik in sy morele regverdiging en Rooms in sy aanspraak op wettigheid en universaliteit” (The Holy Roman Empire in the Middle Ages, ed. Herzstein, 1966, bl. viii).

Karel die Grote en Napoleon was verantwoordelik vir die vierde en vyfde herlewings. Vanaf die genesing van die Ryk onder Justinianus in 554 n.C. tot en met die val van Napoleon in 1814, is dit presies 1,260 jaar soos dit voorspel is (Openbaring 13:3, 5).

 

Die dier se merk

Soos aan die begin van hierdie artikel genoem, daar is groot belangstelling en ’n menigte interpretasies met betrekking tot die “merk van die dier” en “die getal van sy naam” wat 666 is. Die belangrikste maatstaf vir hierdie merk soos uitgelig is dat dit “van die dier” is. Die rede vir die lang relaas om te verduidelik wie of wat die dier is, is dat indien ’n merk nie van die dier is nie, is dit nie die merk van die dier nie! Dit is presies só eenvoudig – tog raak mense opgewonde oor elke nuwe uitvinding wat gekoop en verkoop kan word. Waarskynlik was die mees onlangse “kandidaat” die COVID-19-entstof. Wat enigiemand ook al mag dink oor die wysheid en veiligheid van die entstof, dit is nie die merk van die dier nie.

Wat weet ons dus van hierdie geheimsinnige merk? Ons moet in die boek Openbaring kyk om daardie vraag te beantwoord, want dit is waar dit bekendgestel word. Eerstens moet ons egter oplet dat hierdie vrou wat op die dier ry, as ’n aparte dier genoem word in Openbaring 13. Na die bekendstelling van wat ons nou gesien het die Romeinse Ryk is, lees ons in die verse aan die begin van die hoofstuk:

“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak ... Hy doen ook groot tekens, sodat Hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:11-14).

Ja, hierdie dier lýk soos Christus – soos ’n lam – maar praat soos die duiwel – ’n draak (Openbaring 12:9). Dit behoort ons nie te verbaas nie, aangesien die apostel Paulus waarsku dat Satan dienaars het wat hulle as dienaars van Christus voordoen (2 Korinthiërs 11:13-14). Hierdie tweede dier – dieselfde as die hoer van hoofstuk 17 – is duidelik ’n godsdienstige stelsel wat valse wonderwerke verrig in samewerking met die Romeinse stelsel.

Dit bring ons by die deurslaggewende verse aangaande die dier se merk: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Openbaring 13:16-17).

 

God se teken van sy volk

Wat die dier se merk ook al is, dit is ’n teken van ongehoorsaamheid. Dit kan nie bloot ’n rekenaarskyfie of strepieskode wees nie. Dit is in die eerste plek die dier se merk. Ons lees ook dat God se toorn oor die ongehoorsames kom (Romeine 1:18; Kolossense 3:5-6) en dit is op diegene wat die merk aanneem dat Sy toorn val (Openbaring 16:2).

Die duiwel is ’n groot bedrieër (2 Korinthiërs 11:3-4, 13-15). Hy het die teken vervals wat God aan Sy volk gegee het, sodat Satan se mense aan sy merk uitgeken word. Watter teken gebruik God dan om Sy mense te identifiseer?

God het ’n verbond met Israel gesluit waardeur Hy die sewendedag Sabbat as ’n teken tussen Hom en Sy volk verklaar het (Exodus 31:12-17). Sommige mense redeneer verkeerdelik dat Jesus die Sabbat na die eerste dag van die week verander het, maar die Bybel en vroeë Kerkgeskiedenis toon dat Jesus, die Apostels en die eerste-eeuse Kerk van God, voortgegaan het om die dag te onderhou wat God duisende jaar gelede opsygesit het – nog voordat Moses gebore is. Dit was die Romeinse keiser Konstantyn wat in 321 n.C. “die eerbiedwaardige dag van die son” tot heilige tyd verklaar het (Philip Schaff, History of the Christian Church: Vol. II: From Constantine the Great to Gregory the Great A.D. 311-600, 1867, bl. 380).

God het verder aan antieke Israel bekend gemaak dat die Fees van Ongesuurde Brode – een van sewe jaarlikse feeste wat Hy aan die mensdom gegee het en wat Jesus en die vroeë Kerk onderhou het (1 Korinthiërs 5:7-8). “En dit moet vir jou as ’n teken wees op jou hand en ’n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die Here in jou mond mag wees” (Exodus 13:9, 16 ).

Net soos die merk van die dier op ’n persoon se voorkop en op ’n persoon se hand is, so is God se Heilige Dae ook op die voorkop en op die hand van ’n persoon. Die voorkop simboliseer hoe ons dink en die hand simboliseer ons optrede. Ons behoort te verstaan dat geen simboliese teken letterlik op die hand of voorkop gestempel word nie.

Daniël 7 praat ook van hierdie afvallige godsdiensstelsel (verse 19-21). “En hy [‘naamlik hierdie horing ... wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander’, dit wil sê, die vrou wat op die dier ry] sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander” (vers 25).

Baie mense verwar die merk van die dier met die potensiële metodes van om dit af te dwing. Keiser Konstantyn het die merk op sy onderdane afgedwing en enigeen wat dit geweier het, het ’n duur prys betaal. Hoofstroom “Christendom” gaan voort om dit af te dwing – soms gewelddadiger as in ander tye. Dink byvoorbeeld aan die sogenaamde “blou wette”, wat besighede gedwing het om op Sondae te sluit.

Wat duidelik is, is dat hierdie merk wat ’n poging was om tye en wette te verander, wéér afgedwing sal word. Die metode om dit af te dwing mag dalk ’n oogskandering, tegnologiese gesig-identifikasie of ’n ander bepaler van identiteit wees, maar die metode om Satan se merk van ongehoorsaamheid aan God se Wette af te dwing, is nie die merk self nie.

 

Moenie die tien tone vergeet nie

Daniël 2 en 7, asook Openbaring 13 en 17, toon ’n opeenvolging van vier groot ryke vanaf Nebukadnésar tot by die Wederkoms van Christus. Ons lees in Openbaring 17: “Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit [Rome is geleë op sewe heuwels]. En hulle is sewe konings: vyf het geval [“herlewings” van die ou Ryk tussen 554 tot 1814 n.C.] en een is; [die Spilmoondhede onder Hitler en Mussolini] die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (verse 9-10). Die een wat kom is nog in ons toekoms.

“En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (verse 12-14).

Hierdie konings, leiers of nasies, sal in die hedendaagse Europa te voorskyn kom. Hulle sal gesamentlik militêr en ekonomies so sterk soos yster wees. Soos ons egter uit Nebukadnésar se droom afgelei het, sal hierdie kortstondige, tien-tonige eenwording nie suksesvol wees nie – net soos yster en klei nie kan meng nie.

Wanneer hierdie finale herstel van die Romeinse Ryk plaasvind, sal dit weereens, saam met die groot afvallige kerk, Konstantyn se edik van 321 n.C. van rus op “die eerbiedwaardige dag van die son” afdwing. Dit mag dalk gedoen word in die naam van die versterking van gesinne of die redding van die planeet of sosiale verantwoordelikheid en openbare veiligheid, maar wat ook al die poging om dit te regverdig, moenie ’n fout maak nie: Die tydperk wanneer die merk van die dier afgedwing gaan word, is aan die kom!

Vir ’n vollediger verduideliking van hierdie onderwerp en om die betekenis van die getal 666 te verstaan, bestel ’n gratis kopie van Die Dier van Openbaring by die streekkantoor die naaste aan u (lys op bladsy 2) of lees dit aanlyn by wvm.org.