Die ruimtewedloop vat weer vlam! Behoort dit so te wees? Is die voordele van ruimtereise die risiko’s werd? Dit is nodig dat ons perspektief kry oor ons pogings oor die finale grens.

Met so baie probleme tuis,
Wat hoop ons om te bereik?
Is die beloning van ruimtereise die risiko’s
werd of mis ons dalk iets?

Dit was Junie 1969 en ’n vlieënier was besig om ’n vreemde soort toestel op ’n oefenvlug te neem – ’n ongemaklike masjien – glad nie prakties om mee te reis nie. Dit was gevaarlik en moeilik om te beheer. Binne-in was ’n primitiewe rekenaar wat veronderstel was om die vlug te beheer, maar dit het nie baie goed gewerk nie en toe die rekenaar ophou werk, het die vlieënier oorgeneem. Maak nie saak wát gedoen sou word nie, dit sou neerstort. Hierdie vlieënier het al meer as een keer die dood verkul en het ’n reputasie gehad dat hy tot op die laaste oomblik in sy vliegtuig bly – net ’n oomblik voordat dit te laat sou wees om uit te skiet.

Slegs ’n maand later sou hierdie selfde vlieënier ’n soortgelyke toestel op een van die mees gewaagde avonture in die geskiedenis van die mens loods en dit sou foutloos moes verloop. Op 16 Julie 1969 het ons waaghalsige vlieënier en twee ander dapper manne bo-op die ekwivalent van ’n groot vuurklapper gesit en daarop gewag om van die aarde af gelanseer te word. Indien dit suksesvol was, sou hierdie 6-miljoen-pond, 36-verdieping Romeinse kers drie manne veilig na hulle bestemming ’n kwartmiljoen myl weg, neem – na die Maan.

Vier dae na die lansering van die aarde af was ons vlieënier weereens in beheer van een van hierdie vreemde vliegtuie, maar hierdie keer was daar geen moontlikheid vir uitskiet of terugkeer nie. Hulle was in ’n wentelbaan wat hulle na die eerste maanlanding en ’n plek in die geskiedenisboeke sou neem.

Nadat hulle ’n paar keer om die maan gewentel het, het Neil Armstrong en Buzz Aldrin afskeid geneem van mede-ruimtevaarder Mike Collins. Hulle het die maanlandingstuig van die Apollo 11-ruimtetuig geskei en afwaarts begin daal om te land. Armstrong en Aldrin het op ’n hoogte van twaalf myl oor die Maan gevlieg en toe begin om na die oppervlak neer te daal. Alles het glad verloop, volgens die boek, maar op ongeveer 2,000 voet van die oppervlak af het alarms weerklink. Die rekenaar kon nie die data hanteer nie en het opgehou werk. Armstrong het die kontroles oorgeneem.

Merkwaardig waaghalsig

In daardie situasie het prosedures bepaal dat die missie laat vaar moes word, maar Armstrong het voortgegaan en niemand was van plan om hom te probeer keer nie. Die landing van ’n maantuig word beskryf as soortgelyk daaraan om ’n Boeing 747 vanuit die passasierskajuit te land. Dit was egter nie die enigste probleem nie. Die landingsplek was besaai met groot rotse en met die brandstof wat sorgwekkend min was, moes ’n alternatiewe terrein gevind word. Uiteindelik het daardie gerusstellende woorde gekom terwyl ’n luisterende wêreld wat op die rand van hulle sitplekke gesit het: “The Eagle has landed”.

Niemand weet verseker nie, maar volgens ’n CBS-nuusbron het ons dapper ruimtevaarders dalk so min as sewe sekondes, maar beslis nie meer as ’n minuut nie, se brandstof oorgehad, voordat hulle die landing sou moes laat vaar en dus nie weer kon aansluit by Mike Collins nie. Hy was in beheer van die module wat om die Maan gewentel het. Daar sou geen moontlikheid vir redding wees nie. Dit sou ’n gewisse dood gewees het.

In 2019 is die vyftigste herdenking van die Apollo 11-sending gevier en die onsterflike woorde wat Neil Armstrong op 20 Julie 1969 geuiter het: “Dit is ’n klein treetjie vir die mens en ’n reuse sprong vir die mensdom”. [“That’s one small step for man and one giant leap for mankind”.] Hy het hierdie woorde geuiter toe hy die eerste mens geword het om sy voete op die maan te sit. Oor die volgende drie en ’n half jaar het mede-ruimtevaarder Buzz Aldrin en tien ander mans in sy voetspore gevolg, maar hy was die eerste om op die Maan te loop en niemand het dit nog sedert Desember 1972 gedoen nie.

Sameswering-entoesiaste ontken die feit dat die bemande maanlandings ooit gebeur het en waarskynlik sal niks hulle anders oortuig nie. Feitlik al hulle besware is al afgeskiet en talle onafhanklike bevestigings van regoor die wêreld staaf die feit van die ses landings. Een van die oortuigendste bevestigings kom van die voormalige Sowjet-Unie. Tot vandag toe het Rusland nooit hierdie landings betwis nie, alhoewel dit in die middel van die Koue Oorlog belangrike openbare betrekking-prestasies vir Amerika was. Indien iemand sou weet dat die landings bedrog was, sou dit die Sowjet-Unie wees, met hulle eie tegnologie en opsporingstelsels.

Japan, Indië en China oorweeg al drie bemande missies na die Maan ná die 47-jaar lange onderbreking en mens kan wonder waarom dit die mensdom so lank neem om hierdie groot avontuur voort te sit. Ten tye van die eerste landings was daar ’n algemene gevoel dat dit die begin was van die mens se verkenning van die heelal. Trouens, het Neil Armstrong dit nie te kenne gegee, toe hy met die woorde “een reuse sprong vir die mensdom” die Maan betree het nie?

In baie opsigte lyk dit asof die “reuse sprong” op die langebaan geskuif was.

’n Passie om terug te keer ... dog teen ’n prys

Ons sien egter nou ’n opwellende belangstelling “om moedig te gaan waar niemand nog voorheen gegaan het nie”. Ander nasies begin ook deelneem aan die spel. Privaat maatskappye bou vuurpyle en bied geleenthede vir ruimtetoerisme. Daar word selfs daarvan gepraat om na Mars te gaan.

In 2013 het Mars One, ’n Hollandse privaat maatskappy, begin om ’n eenrigting-reis na die rooi planeet te adverteer met die doel om ’n kolonie daar te vestig. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle sowat 200,000 gretige vrywilligers van regoor die wêreld het wat nou tot ’n lys van 100 belangstellendes beperk is. Hulle beplan om reeds in 2023 met die reis te begin.

Skeptici glo dat die hele onderneming ’n bedrogspul is, aangesien die nodige tegnologie eenvoudig nog nie op hierdie stadium bestaan nie. Volgens The Verge-netwerk het Mars One op 15 Januarie 2019 bankrotskap verklaar, wat skeptici se bewerings geloofwaardig maak. Of die probleem bloot blatante bedrog is of die gevolg is van oormatige optimistiese ambisies, wag nog om gesien te word. Wat hierdie mislukte onderneming egter beklemtoon, is dat ruimtereise nie so maklik is as wat baie mense dink nie. Dit is duur en ingewikkeld en dit help om die 47-jaar gaping te verduidelik.

Ruimtevaart het die mens se verbeelding vir meer as ’n eeu aangegryp. Jules Verne se 1865 roman From the Earth to the Moon vertel die verhaal van drie mans wat met ’n kanon na die maan geskiet is. Wel, Verne het ten minste die bestemming en die aantal mans reg gehad, maar ruimtevaart het bewys dat dit ’n groot uitdaging is, selfs wanneer ons na ons naaste buurman reis.

Die eenstemmigheid wat bereik is kort ná die eerste bemande maanlandings, was dat die koste en moeite, ruimtevaart onprakties maak. Een Apollo maansending is geskrap as onnodig en drie ander is gekanselleer weens die koste. Met verloop van tyd het die publiek ook die les geleer dat om buite ons planeet te reis, gevaarlik is. Rusland asook Amerika het verskeie sterftes gehad in pogings om streke buite Aarde se atmosfeer te verken en Ilan Ramon van Israel was een van die ruimtevaarders op die ruimtependeltuig, Columbia, toe dit uitmekaargebreek het met die terugkeer. Talle “amper mislukte pogings” getuig van die gevare verbonde aan hierdie avonture.

Ons woon op ’n pragtige tuiste wat ons Aarde noem. Ons het alles wat ons nodig het om oorvloedige en gelukkige lewens te lei. Ons het nietemin ’n aangebore begeerte om te verken en die “laaste grens” lyk of dit ons nader wink. Soos ons egter uit ondervinding geleer het, is die heelal buite ons atmosfeer ’n vyandige omgewing. Dit mag opwindend lyk, maar die werklikheid is baie anders. Daar is ’n gevoel van realisme in die ruimtevaarder Scott Kelly se beskrywing van sy jaarlange avontuur aan boord van die Internasionale Ruimtestasie. Ons sien foto’s van manne en vroue wat gewigloos sweef in die zero-swaartekrag binne die ruimtestasie, maar hoor min van die probleem van die opbouing van koolstofdioksied wat hoofpyn en ’n dowwe verstand veroorsaak. Ons sien rolprenttonele van ruimtevaarders wat rondsweef, soos George Clooney en Sandra Bullock gedoen het in die film “Gravity”, maar daardie glansryke fiksie is ver verwyder van die werklikheid af. Om vir ure in ’n beknopte posisie te sit terwyl ’n mens ’n verskriklike ongemaklike pak dra en voorberei vir ’n ruimtewandeling, is eenvoudig nie iets wat goed oorgedra kan word in ’n 90-minuutlange rolprent nie. Nog minder kan die ongemaklike realiteit daarvan weerspieël word om “ruimteluiers” [doeke] te dra, omdat mens nie die ruimtepak kan uittrek tydens die ure van wag, lanseertyd en werk in die ruimte nie. Die deurslaggewende faktor van die saak is dat ruimtereise nie so glansryk is as wat dit op televisie en in die rolprente lyk nie.

Om bo-op tonne onstabiele vaste en vloeibare brandstof in massiewe vuurpyle te ry is gevaarlik. Dit is iets wat ek eerstehands gesien het in die 1960’s terwyl ek op die Vandenberg Lugmagbasis aan die kus van Kalifornië gewoon het. Wanneer ’n missiel gelanseer is, het ons almal na buite geskarrel om te gaan kyk – of dit by die huis of by die skool was. Die aanskoulikheid en kombinasie van geluide, beelde en gedreun wat mens kon voel wanneer ’n vuurpyl gelanseer word, is iets om te beleef. As tieners was ons nooit teleurgesteld wanneer een ontplof het of vernietig moes word wanneer dit van koers af gegaan het nie. In daardie stadium van ons lewe het ons nie die belasting betaal wat die missiel befonds het nie en die ontploffings het al die ander vuurwerkvertonings oortref. Alhoewel al die lanserings vanaf die Weskus onbeman was, het daardie missiele dieselfde vlugtige brandstofbron gebruik as die bemande vlugte en hierdie kragtige lanserings het vir my jong gemoed al die gevare wat betrokke is, geïllustreer. Baie kan en gáán verkeerd.

’n Vraag wat die moeite werd is om te vra

Ek stel glad nie belang daarin om die mens se soeke na avontuur en die begeerte om die onbekende te verken te ontmoedig nie. Die vraag moet egter gevra word: “Gaan na die Maan – vir watter rede?”

Elkeen van ons neem alledaagse risiko’s of ons nou so dink of nie. Dit geld in honderde gevalle, maar veral wanneer ons in ’n motor, bus, trein of vliegtuig klim. Daar bestaan altyd ’n risiko dat iets verkeerd kan gaan. Daar is ’n risiko aan verbonde wanneer die dokter u opereer en soos advertensies op die televisie dit duidelik maak, u loop risiko’s wanneer u die nuutste medisyne gebruik. Na die eerste deel van ’n advertensie vir ’n wondermedisyne – kompleet met glimlaggende mense wat Frisbee met ’n gelukkige hond speel – kom die waarskuwings. Die volgende advertensie is van ’n regspraktyk wat die farmaseutiese maatskappye dagvaar vir hulle foute. Selfs wanneer u kos inneem, dra dit ’n geringe risiko – onthou u die Heimlich-maneuver?

Wanneer dit kom by ruimtevlugte, sal die meeste van ons verkies om ons voete stewig op die gronde te hou. Ruimtereise vereis ’n spesiale soort waaghals. Die adrenalien inspuiting wat die gevolg is van op die rand van die dood te wees, is waarom baie ruimtevaarders voormalige toetsloodse is. Dit kan nie maklik wees vir gesinslede om saam met sulke individue te leef nie. Hulle wonder altyd watter nuwe manier hulle gesinslid gevind het om homself te verongeluk. Wanneer dinge verkeerd gaan, word ouers, gades en kinders agtergelaat. Hulle waardeer nogtans die roem wat gepaard gaan met die assosiasie met iemand wat so avontuurlustig is. ’n Mens wonder egter wat kinders dink terwyl hulle grootword sonder die ouer wat sy of haar eie droom nagejaag het. Baie van hulle is sekerlik baie trots op hulle familielid wat nou weg is, maar hoeveel van hulle sou enigiets opoffer om hulle geliefde weer terug te hê in hulle lewens – veilig en heel?

Uiteindelik moet ons wéér vra: “Vir watter rede?” Dit is waar dat baie van die uitvindings wat ons nou geniet, die gevolg is van die ruimteprogram. Baie vooruitgang in mikro-rekenarisering is ’n direkte resultaat. Nuwe materiale is ontwikkel en aangepas om die alledaagse lewe te verbeter. Ons weet meer van die heelal rondom ons, alhoewel baie van daardie kennis nie nodig is nie en dit is ook nie nodig dat mense die aarde verlaat om dit te ontdek nie. Satellietkommunikasie is te danke aan ruimteverkenning vir kommunikasie en ’n mens mag te kenne gee dat dit die lewe verbeter het, maar het dit regtig? Het ons vergeet dat ons heel goed geleef het voor slimfone en satellietnavigasie? Lekker ... maar noodsaaklik?

Watter kennis sal ons moontlike ontdek wat enige ewige verskil in ons lewens hier benede sal maak? Het ons geleer om beter met mekaar klaar te kom as gevolg van ruimteverkenning? ’n Mens kan na die Internasionale Ruimtestasie verwys en daarop let dat ruimtevaarders van voormalige vyandige nasies in harmonie saamwerk en dit is waar. Die Russiese ruimtevaarder Mikhail Kornienko en die Amerikaanse ruimtevaarder Scott Kelly het ’n jaar saam op die ruimtestasie deurgebring en respekteer en vertrou mekaar sonder twyfel, maar wat van hulle twee se lande?

Laat ons nou nader aan die huis kom. Hoe het ruimteverkenning die verhoudings tussen mans en vrouens, ouers en kinders en bure verbeter? Die antwoord is voor die hand liggend: Glad nie.

’n Mens kan selfs die teenoorgestelde sê – dat ruimteverkenning ons wêreld gevaarliker gemaak het. Van die begin af is militêre belange verweef met die verkenning van ons omgewing. Sputnik [die rolprent] was oulik, maar is ver van die volledige storie van waaroor satelliete gegaan het. Die publiek was betower deur maanwandelinge en mikro-swaartekrag, maar agter dit alles was militêre eksperimente en sendings. Vandenberg AFB het satelliete gelanseer om op Rusland te spioeneer en ons is naïef as ons dink Rusland het ook nie op Amerika gespioeneer nie. Regerings het verskeie begeleide missiel-stelsels getoets, waardeur ’n enkele vuurpyl verskeie kernkoppe kan dra. Satelliete wentel bokant ons om hommeltuie te beheer en radio-beheerde bomme te teiken. Daarom kan ’n toekomstige oorlog in die ruimte begin, want elke nasie probeer om die ander se bevel- en beheer-satelliete te vernietig.

Sommige mense veroordeel enige gebruik van die ruimte vir oorlogvoering en pleit: “Moenie die ruimte militariseer nie!” Die ruimte was egter van die begin af gemilitariseer. Dit is waaroor die “ruimtewedloop” in die 1950’s en 1960’s gegaan het. Om na die Maan te gaan, het die aandag van die publiek aangegryp, maar om die strategiese oormag te verkry was die spel wat die Sowjet-Unie en Amerika met mekaar gespeel het. Nou het ons ’n oproep vir ’n nuwe vertakking van die Amerikaanse weermag – ’n ruimtemag. Wat ons fundamenteel sien in ruimteverkenning, is ’n uitbreiding van die mens se verskille wat op ’n nuwe gebied afspeel, aangesien elke moondheid daarna streef om die oorhand te verkry en dit te behou.

Buite elke ingang van die Vandenberg-Lugmagbasis was advertensieborde wat gelees het: “Strategiese Lugbevel – Vrede is ons beroep”. (SAC is in 1992 ontbind en is vervang deur die Verenigde State se Strategiese Bevel.) Die boodskap was verstaanbaar: Wanneer ’n mens sterker is as jou vyand of ten minste in staat is om “wedersydse gewaarborgde vernietiging” te verseker, sal daar nie ’n kernoorlog wees nie of ten minste dien as afskrikmiddel. Dit is natuurlik net as daar geen tegniese fout of verkeerde berekening aan enige van die twee kante is nie.

Verbeelding ontmoet werklikheid

Ruimteverkenning gryp ons verbeelding aan. Kinders sien uitbeeldings wat hulle aanmoedig om te gaan waar min mense voorheen gegaan het. Televisienuus en rolprente beeld ruimtewandelings en swaartekrag-vrye rondswewery baie betowerend uit. Enige plek in die ruimte vanwaar ’n mens die aarde kan sien, behoort die allerbeste uiteindelike vakansieplek te wees. Wie wil nie in mikro-swaartekrag rondsweef nie, maar wat van die naarheid en braking wat gewoonlik gepaard gaan met die aanpassing? “The Martian” is vermaaklik sover dit rolprente betref, maar ver van die werklikheid af. Mans en vroue gryp ons verbeelding aan in fiksie rolprente wanneer dit lyk asof hulle skynbaar op verre planete rondloop – sonder om luiers (of “doeke”), ongemaklike en beperkende beskermingspakke of lywige suurstoftenks te dra en sonder om ure lank in ongemaklike posisies te sit. Die werklikheid druip die prettoets. Die grootste waarheid oor ruimteverkenning kan egter uiteindelik gevind word in die titel van die Star Wars-sage.

Ek veroordeel nie verkenning nie. Die menslike ras het waaghalse nodig. ’n Mens kan egter nie help om te wonder oor die gesonde verstand van enigiemand wat regtig dink ’n eenrigtingkaartjie na Mars is ’n goeie idee nie.

Ons probleme en uitdagings is hier op aarde. Om elders weer oor te begin, sal nie één van ons fundamentele probleme oplos nie. Die menslike natuur – selfsugtige begeertes, trots, gekrenkte gevoelens, haat en die gevolglike geweld – sal ons reisgenote wees. Byna 2,000 jaar gelede het ’n antieke profeet die aard van die mens beskryf: “[H]ulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:6-8).

Baie mense vind dit onmoontlik om te glo, maar vrede sál uiteindelik kom, alhoewel nie soos wat die mensdom verwag nie. ’n Ander profeet het meer as 700 jaar ná Jesaja verskyn en voorspel wat ons nou weet moontlik is: Die vernietiging van alle lewe van die aardbodem af (Matthéüs 24:21-22). In die lig van so ’n vooruitsig, mag ons dink dat dit nodig is om kolonies elders te begin, maar dit is nie die oplossing nie.

Die oplossing is die koms van die Een wat daardie voorspelling gemaak het, omdat Hy meer as ’n profeet is. Jesaja het die tyd voorspel wanneer die Verlosser weer sal kom om die mensdom van sy vernietigende weg te red: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Ruimteverkenning is betowerend. Om na die maan te gaan en veilig terug te keer, demonstreer die moed en waagmoed van die mensdom, maar uiteindelik moet ons weer met betrekking tot die onderneming vra, “Vir watter rede?” Dit het sekerlik nie harmonie hierheen gebring nie en sal dit ook nooit doen nie. Vrede sal kom, maar nie as gevolg van die mens se wetenskaplike ontdekkings nie, óf dit nou in die ruimte is of hier op terra firma. Aarde is die mens se tuiste en Aarde is waar vrede uiteindelik gevestig sal word!