Die bekende cliché, “die vroeë voëltjies vang die wurmpies” word dikwels gevolg deur ’n ander afgesaagde waarheid, “die tweede muis kry die kaas”. Terwyl ons oor hierdie geestelike woordskilderye glimlag, bevat hulle wel ’n greintjie van waarheid wat vir almal geld.

Fisies gesproke, weet ons dat stiptelikheid en ywer met verloop van tyd betaal met verhoogde produktiwiteit en met geleenthede, wat die minder ywerige of lui persoon sal misloop. Ons weet ook, alhoewel die “tweede muis” dit dalk nie begryp nie, tydsberekening baie belangrik is. Deur onnodige risiko te vermy, laat ons die kaas geniet na die gevaar verby is – eerder as om in die posisie van die eerste muis te wees, wat die muisval laat afgaan het.

Sorg hierdie muise vir lesse aan ons as mense? Ons mag dalk nie die stukkie kaas soek nie, maar die beginsel bly dieselfde. Vermy die voor die hand liggende gevare in die lewe, en moet nie onbedagsame kanse vat wat ernstige gevolge kan inhou nie. Wees ook altyd bedag op geleenthede wat ander mense moontlik nie raaksien nie. Die skrywer van die boek Spreuke in u Bybel, bespreek hierdie onderwerpe breedvoerig vir ons aandag. Byvoorbeeld: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf” (Spreuke 22:3). Die wysheid in hierdie boek is baie duidelik. Verder lees ons: “Wie die gebod hou, bewaar sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterwe” (Spreuke 19:16).

Ons moet altyd waaksaam wees sodat slegte besluite ons nie verstrik nie, sodat ons nie te staan kom voor ernstige gevolge van oorhaastige optrede wat ons nie sorgvuldig genoeg oorweeg het nie. ’n Oomblik se nalatigheid kan lei tot ’n leeftyd van hartseer. Die belangrikheid daarvan om ons oë oop te hou – om bewus te wees van wat aangaan – is ’n bekende tema regdeur die Bybel. Oorweeg: “Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees” (Spreuke 4:25-26).

Afrigters in enige sport sal voortdurend aan hul spelers sê: “Hou jou kop op die spel”. Hierdie vermaning, wat dikwels in die Skrif herhaal word, en wat ons bedag maak op ’n denkwyse van akute bewustheid, is beslis ook belangrik in die “spel van die lewe”.

Koning Salomo van ouds het ook ’n bekende en veelseggende gedeelte geskryf aangaande tydsberekening, wat die belangrikheid openbaar van om nie net in harmonie te bly met die seisoene van die jaar nie, maar ook met die seisoene van ons lewens. Hy begin: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd” (Prediker 3:1). Salomo gaan in hierdie gedeelte voort om voorbeelde te gee van kwessies in die werklike lewe wat deur tydsberekening geraak word: “... ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag ... ’n tyd om te bewaar en ’n tyd om weg te gooi ... ’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek” (verse 4, 6-7).

Ons kan sien dat Salomo, deur die gee van hierdie tydlose advies, ’n diepgaande begrip het van die belangrikheid van tyd en tydsberekening. As fisiese mense, is ek en u deur ons Skepper ’n bepaalde tydsduur toegeken waarin ons ondervinding moet opdoen en in ons lewens God se heilige en regverdige karakter moet bou, om ons voor te berei vir die ewige fase van Sy grootse plan, soos geopenbaar deur die jaarlikse Heilige Dae, namate ons elke jaar deur die siklus gaan.

In sy poging om God se plan te dwarsboom, stel Satan “muisvalle” om ’n niksvermoedende bevolking te vang. Wat gaan u doen om daardie strikke te vermy? Sal u in ’n strik gevang word? Of sal u waaksaam en ywerig wees, sodat u – soos die “tweede muis” – die loon sal ontvang wat ’n liefdevolle God bied aan al daardie mense wat Hom sal aanvaar en gehoorsaam?

Om meer te leer oor hoe u die “vroeë voëltjie” en die “tweede muis” kan wees, lees ons gratis boekies, Die Heilige Dae – God se meesterplan en Wat is ’n ware Christen?Hulle sal u help om te verstaan wat God besig is om in u lewe te doen, en wat u kan doen om die ewige beloning te verseker wat Hy wil hê u moet kry.