Het “Hunger Games” ’n heilsame invloed op Christene, of behoort die rolprente ons ’n verposing te bied om te besin oor ons eie waardes?

Smag u na geregtigheid, of na iets veel minder blywends?


Happy Hunger Games!” is die groet uit Suzanne Collin se treffer-sensasie, Hunger Games. Verlede November het Catching Fire, die tweede rolprent in ’n reeks Hunger Games-rolprente wat uit vier dele bestaan, uitgeskiet tot ’n loket-treffer en het die sesde meeste inkomste vir ’n openingsnaweek in die geskiedenis behaal. Ses maande ná die vrystelling daarvan, lank nadat die meeste rolprente gekom en gegaan het en oorgeplaas is op DVD, word Catching Fire nog steeds in ’n paar teaters vertoon.

Aanhangers wat na die rolprent gestroom het, wens mekaar dikwels “Happy Hunger Games!” toe via tekste, tweets en sosiale media-boodskappe wanneer hulle op hulle pelgrimstog na teaters gaan. Nou wag miljoene mense op die November 2014-vrystelling van die derde rolprent in die reeks: Mockingjay, Deel 1. Dit lyk asof die reeks ’n gretige kultusaanhang laat ontstaan het.

Onder die aanhangers van hierdie rolprent vind ons selfs ’n paar Christen-ouers en hulle woon dit saam met hulle kinders by. Hulle waardeer die aksiebelaaide intrige en die innemende heldin wat pragtig, magtig en intelligent is en die dood ontduik, terwyl sy die verstandelik swakker en minder aanpasbare mans rondom haar uitoorlê en lei. Hulle geniet die wortels wat voor die buiteperd gehou word. Is hierdie rolprente egter iets waarmee Christene regtig “gelukkig” behoort te wees?

Dit vind plaas in ’n toekomstige wêreld waarin Hunger Games afspeel in ’n wêreld waarbinne daar twee stande is: ’n Ryk, genotsugtige, regerende klas, wat die massas onderdruk en uitbuit vir hulle eie plesier. Hunger Games is ’n toekomstige werklikheidsrolprent wat geskoei is op die Romeinse gladiatorspeletjies. Manlike en vroulike verteenwoordigers (ouderdomme 12-18) uit twaalf werkerklas-distrikte veg teen mekaar tot die dood toe, terwyl die sadistiese elite – wat dwaas, arrogant en voyeurs is en oor bloed en wreedheid opgewonde raak – elke beweging met gretige afwagting dophou. Intrige, wellus, ydelheid en brutaliteit deurdrenk die rolprente.

Die jammerlike, maar duidelike ironie is dat terwyl Hunger Games die rolprentgangers vra om meerderwaardig neer te sien op die selfgesentreerde en bloeddorstige elite wat deur die rolprente uitgebeeld word, dit die rolprentgangers self is wat ’n skokkende parallelle rol vervul en opwinding vind in die uitbeelding van bloed, geweld, intrige en die omverwerping van ’n onderdrukkende regering.

Hoe behoort ware Christene dus ’n rolprent soos hierdie een te beskou? Die antwoord kan gevind word in die bladsye van u Bybel!

Die boek Jesaja bevat God se waarskuwing aan die antieke volk van Juda. Hy het Juda beveel om hulle heidense en gewelddadige lewenswyse te verander, sodat Hy nie gedwing word om hulle te vernietig nie, ’n waarskuwing wat ook vandag op ons van toepassing is. God sê uitdruklik vir Sy mense: “Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is ... wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie” sal geseën word deur Hom (Jesaja 33:15).

Wanneer ons ons verlustig in rolprentgeweld, is ons dan regtig besig om ons ore toe te stop om nie van bloedvergieting te hoor nie en ons oë te sluit om nie te sien wat sleg is nie? Ons word beveel om nie boosheid te “sien” of selfs daaraan te “dink” nie (Esegiël 20:7; Sagaria 8:17). Rolprente en ander vermaak soos video-speletjies wat ons motiveer om bloedvergieting te duld en te juig oor ander mense se gewelddadige dood, affekteer ons gedagtes en harte en kan aan ons Christelike karakter skade berokken.

Satan doen sy bes om ons te mislei en minder sensitief te maak. “Dit is nie só sleg nie”!, of “daar is maar net drie of vier ‘slegte tonele’ in”! Ware Christene wat God liefhet en daarna streef om Hom te gehoorsaam, sal nie verskonings soek om kwaad te duld nie. Hulle sal eerder hulle oë, ore en gedagtes ver daarvan weghou (Psalm 97:10). Hulle sal “liefhê wat goed is” (Amos 5:15) en probeer om hulle lewens te vul met dinge wat waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik, loflik, deugsaam en lofwaardig is (Filippense 4:8). Diegene wat daarna streef om as Christene te lewe, moet die standaard van sedelikheid verbeter en só optree dat hulle dade nie hulle woorde weerspreek nie en eerder ’n “voorbeeld van goeie werke” word (Deuteronomium 6:6-8; Titus 2:7-8).

Namate die samelewing vlam vat vir Hunger Games, behoort Christene eerder “vlam te vat” vir God se lewensweg en om Sy volmaakte, heilige en regverdige karakter te ontwikkel.