Die weerverwante rampe en aardbewings waarvan ons in die nuus lees probeer om iets baie belangriks aan ons te vertel. U behoort dit te weet!

Terwyl dit lyk asof ons wêreld al hoe meer buite beheer raak, kan ons dit nie langer bekostig om die waarheid te ignoreer nie! Die Almagtige God – die Skepper van die hemel, aarde en alle dinge – probeer om ons aandag te kry! Hy laat ons weet deur verskriklike weerverwante rampe, aardbewings en die dinge wat in die wêreld rondom ons gebeur, dat Hy in beheer is!

Almal van ons moet leer om die werklikheid in die gesig te staar! Die Almagtige God is nie “dood” nie! Hy leef werklik en is nou, meer as ooit tevore, besig om in wêreldsake in te gryp! Ons wat hierdie Werk doen het aan almal van u, die lesers van die Wêreld van Môre, baie spesifieke profesieë verduidelik wat onlangs plaasgevind het of nou besig is om plaas te vind.

Skenk u persoonlik hieraan aandag? Is u bereid om die werklikheid in die gesig te staar? Dink!

Duisende van u weet dat ek die laaste van die vyf oorspronklike evangeliste is wat in Desember 1952 deur Herbert W. Armstrong verorden is. Ek het op daardie tydstip met hom en ander leiers in die Werk kragte saamgespan om te “waarsku” dat die Britse Ryk tot ’n einde sou kom. Ons het gewaarsku dat nasionale grootheid van die Amerikaners en nasies van Britse afkoms spoedig oor die hele wêreld in duie sou stort en dat ons “trotse mag” tot ’n einde sou kom (Levitikus 26:19). Ons het gewaarsku dat die groot “seepoorte” wat God aan die Britte en die Amerikaners gegee het, weldra weggeneem sou word. Ons het gewaarsku dat honderde duisende Russiese troepe en tenks wat gedurende daardie tyd in Oos-Europa gestasioneer was, gou sou onttrek en dat Duitsland die ooglopende leier van ’n komende Verenigde Europa sou word – só ook baie ander spesifieke profesieë!

Kort nadat ek begin het om saam met Herbert Armstrong te preek en in die The Plain Truth tydskrif oor hierdie profesieë te skryf, het dit begin gebeur! Ek en my vrou is gedurende die herfs en winter van 1956 na Brittanje gestuur en dit was juis in dié tyd dat die Suezkanaal van Brittanje af weggeneem is! Die Suezkanaal was gedurende daardie tyd een van die belangrikste “seepoorte” in die wêreld. U kan in ons artikel “Die Suez-krisis: 60 jaar later” lees van die geweldige uitwerking wat die verlies van daardie kanaal op die Britse Ryk gehad het. In die jare wat direk daarna gevolg het, is daar ook begin om die meeste van die ander “seepoorte” weg te neem: Die Straat van Hormuz, die Bab el-Mandeb, die Simonstad Basis – wat in beheer was van die suidpunt rondom Suid-Afrika – asook die Straat van Malakka wat groot getalle skepe beheer het wat deur gebiede in die Verre Ooste gevaar het. Daarna het President Jimmy Carter die Panamakanaal feitlik “weggegee” – die enigste groot seepoort wat deur Amerika beheer was!

’n Paar jaar later is duisende Russiese tenks en troepe inderdaad uit die nasies van Oos-Europa onttrek en die Berlynse Muur het tot ’n val gekom! Duitsland het weer een nasie geword, met ’n spoed wat politieke waarnemers verstom het!

Hierdie dinge het plaasgevind net soos ons gewaarsku het dit sou gebeur. Nou, selfs terwyl ek hier skryf, word Duitsland internasionaal as die magtigste nasie en die “leier” van die Europese Unie erken en net twee van die agt tot tien vernaamste seepoorte het onder Britse of Amerikaanse beheer oorgebly: Gibraltar en die Falkland-eilande. Dié van u wat wêreldnuus noukeurig volg, weet dat albei die eilande voortdurend in die media “onder beleg” is met die Argentyne wat deurentyd daarop aanspraak maak dat die Falkland-eilande aan hulle behoort en die Spanjaarde wat probeer om beheer oor Gibraltar te verkry en Brittanje uit te skop! Binne die volgende paar jaar sal een of albei van hierdie poorte ongetwyfeld “verlore” wees. Soos ons dan moontlik kan sê: Hulle is “almal weg”!

My Vriende, hierdie profesieë is nie “nietige” gebeure nie! Dit beïnvloed honderde miljoene mense en honderde miljarde dollars in internasionale handel en nywerheid wat deur hierdie groot “seepoorte” moet vaar. Om die Bybel se woorde te omskryf, hierdie omvangryke gebeure het nie “in ’n hoek” plaasgevind nie! Hierdie selfde groot God – die God van die Bybel – het ook spesifiek voorspel dat absolute omvangryke gebeurtenisse in die weer en verwante voorvalle spoedig oor ons gaan kom! Saam met die geprofeteerde droogte en hongersnood is daar verskriklike brande wat altyd as gevolg hiervan voorkom. Ek sluit ook aardbewings in, wat God ook op dieselfde manier as die weer beheer. God is inderdaad “El Shaddai” – die Almagtige God. Ons almal behoort dit regtig te verstaan asook die ooglopende implikasies daarvan, want hierdie feit gaan u lewe en die lewens van al u kinders en geliefdes in die nabye toekoms raak.

Dit is God wat die weer beheer!

Nuusberigte het onlangs die verskriklike aardbewing beskryf wat sentraal Italië getref het waar byna 300 mense gesterf het. Dorpies is in totaliteit so erg verwoes dat dit moontlik nooit weer herbou sal kan word nie! Volgens die aangetekende geskiedenis ondervind die hele Amerikaanse Weste ’n ernstige droogte en groot gebiede is besig om af te brand! Terselfdertyd het die teenoorgestelde in dele van Texas en Louisiana plaasgevind – met die verskriklike oorstromings in die Baton Rouge, Louisiana omgewing wat die lewens en eiendom van tienduisende mense geheel en al verwoes het!

Onthou asseblief, die Bybel self maak dit baie duidelik dat beide die Ou en Nuwe Testament deur God geïnspireer is en Jesus Christus het voortdurend die Ou Testament as “Skrif” aangehaal – die ware Woord van die Skepper!

In Amos 4:1-9 profeteer die Almagtige God aan die mense van “Samaria”, (vers 1) die antieke “huis van Israel”, die voorvaders van die Amerikaners en nasies van Britse afkoms: “Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (verse 6-9).

God beskryf dus hoe Hy dit oor sommige stede “te veel” sal laat reën en die reën van ander stede sal weerhou! Tog sê God dat Sy mense hulle nie sal bekeer en na Hom terugkeer nie! Onthou asseblief my vriende, al hierdie profesieë waarvan ek melding maak is geskryf eeue voordat moderne “klimatoloë” met hulle voorspellings oor “aardverwarming” gekom het, terwyl hulle ’n paar jaar gelede “aardverkoeling” voorspel het en nie een van die twee het tot op hede in enige groot mate voorgekom nie! Dit is die Almagtige God – nie die moderne klimaatkundiges nie – wat in der waarheid die weer beheer! Begin u persoonlik dit “verstaan”?

In Sy belangrike “Olyfbergpredikasie” in Matthéüs 24, beskryf Jesus Christus die “sleutel” veranderings in gebeure wat definitief sal plaasvind en nou aan die einde van hierdie tydperk besig is om gestalte aan te neem. Eerstens waarsku Jesus ons om bedag te wees op valse profete (verse 4-5). Dan beskryf Hy oorloë en gerugte van oorloë en verduidelik dat verskillende nasies en “etniese” groepe al hoe meer in die eindtyd teen mekaar in opstand sal kom (vers 7). Daarna beskryf Hy hongersnood, pessiektes (of siekte-epidemies) en aardbewings op verskillende plekke. Jesus Christus sê dat al hierdie dinge die “begin van die smarte” is (vers 8). Jesus profeteer dan dat Sy ware dienaars aan verdrukking oorgelewer sal word en deur al die nasies ter wille van Hom “gehaat” sal word (vers 9). Dit alles sal binnekort gebeur, selfs gedurende die leeftyd van die meeste van u wat nou hier lees!

Elía het “slegte weer” voorspel

Onthou u die profeet Elía? Baie mense onthou, maar vergeet gewoonlik dat hy die absolute beheer van God oor die weer aangedui het. Trouens, Elía word die eerste keer op hierdie manier bekend gestel: “En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die Here, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Konings 17:1).

Waarom het God dan vir Elía geïnspireer om algehele droogte vir ’n tydperk van drie jaar te voorspel? Die antwoord word duidelik wanneer Elía homself uiteindelik voor die aangesig van die bose koning Agab stel: “En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het” (1 Konings 18:17-18).

Die Nuwe Testament bekragtig direk hierdie Ou Testamentiese weergawe. In die boek van Jakobus – wat deur Jesus Christus se broer geskryf is – vind ons hierdie geïnspireerde woorde: “Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jakobus 5:17-18).

Het ons in die Verenigde State, Kanada en Brittanje, “die gebooie van die Here verlaat” soos toe koning Agab deur Elía veroordeel is omdat hy dit gedoen het? Die antwoord is voor die hand liggend. Sal ons dieselfde soort straf ontvang wat die land van Israel destyds ontvang het? Ons het die antwoord uit die Woord van God: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleági 3:6). Soos die Nuwe Testament dit stel: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

Let op Salomo se geïnspireerde gebed waar hy God se direkte beheer oor die weer erken. “As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe – want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel – en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het” (2 Kronieke 6:26-27).

Met verwysing na Jerusalem sê God in Jesaja 29:6: “Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ’n verterende vuur.”

God sê weer in Maleági 3:6: “Ek, die Here, het nie verander nie”. Hy het antieke Jerusalem met aardbewings en storms gestraf. Hy begin nou om die moderne afstammelinge van antieke Israel op dieselfde manier te straf.

God beheer aardbewings

Na ’n onlangse aardbewing in Suid-Kalifornië, het ’n aantal plaaslike joernaliste gevra: “Waarom op Los Angeles pik?” ’n Beter vraag sou wees: “Waarom nie?”

Los Angeles word allerweë as die vermaaklikheidshoofstad van die wêreld beskou. In Los Angeles word meer verrotte, walglike rolprente en TV-programme vervaardig wat moord, geweld en ongeoorloofde verdraaide seks uitbeeld as enige ander plek in die wêreld. Kalifornië word lank reeds beskou as die “brandpunt” van skynbaar elke vorm van perversie wat aan die mensdom bekend is. Die groot God wat oor volke en nasies regeer het die volste reg om verslegtende en opstandige volke en nasies te straf wat Sy Wette verontagsaam het en Sy groot seëninge nie waardeer nie. Die mense in Kalifornië – en in die grootste dele van die Engelssprekende wêreld – het in die verlede baie geleenthede gehad om die Waarheid te leer indien hulle enige opregte belangstelling gehad het. God se basiese etiese standaarde, wat deur die Tien Gebooie opgesom is, is oor die algemeen goed bekend en bevat geen verborge duistere kennis nie. Moontlik sal ’n goeie “opskudding” mense se aandag trek!

Die groot God sê aan ons voorvaders: “Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ’n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid. En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ’n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam” (Jeremia 3:2-3). Wees eerlik. As ’n belydende Christelike nasie het ons die land met ons moderne egbreek, afvallighede, misdade en moorde “besoedel” – met inbegrip van die slagting van sowat 50 miljoen ongebore kindertjies sedert 1973, toe die V.S. Hooggeregshof aborsie gewettig het – sowel as ander ontelbare handelinge wat gruwelik in die oë van die God van die hemel is. Is Hy dan regverdig indien Hy die “laat reën” van diegene weerhou wat aan Hom ongehoorsaam is of wanneer Hy ons straf?

Die nasies van Britse afkoms is definitief die afstammelinge van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme” van Israel. God het ons nasies onmeetbaar geseën met die grootste konsentrasie rykdom en materiële hulpbronne in vergelyking met enige ander volk in die mens se geskiedenis. Ons het God egter “vergeet”. Ons is ’n verleentheid vir die Een wat ons so ryklik geseën het. Daarom, in profesie na profesie in u Bybel, beskryf God in besonderhede hoe hy die moderne “huis van Israel”, asook die Joodse volk, gaan straf. Soos ’n liefdevolle vader sy seun “dissiplineer”, so sal God ons weereens vir ons eie beswil dissiplineer, in die hoop dat dit ons sal wakker maak!

Het u al van die massiewe aardbewing gelees wat San Francisco in 1906 getref het? Die skrywer Jack London het net 64 km daarvandaan gewoon. Nadat hy die nuus gehoor het, het hy hom na die stad gehaas en aangeteken wat hy gesien het: “Niks daarvan het oorgebly behalwe herinneringe en ’n strokie woonhuise aan die buitewyke nie ... Daar was geen keer aan die vlamme nie. Daar was geen organisasie nie, geen kommunikasie nie ... Die telefoon- en telegraafstelsels was ontwrig. Die groot waterpypleidings het gebars. Alle slim uitvindsels en voorsorgmaatreëls van die mens is in dertig sekondes deur stuiptrekkings van die aardkors uit rat gegooi ... Nog nooit in die geskiedenis is ’n moderne vorstelike stad heeltemal so in totaliteit vernietig nie. San Francisco is weg” (“The Story of an Eyewitness”, Collier’s, 5 Mei 1906).

Die verwoesting van San Francisco was onbeskryflik. In die 45 tot 60 sekondes van skuddings en drie dae van brande, is 28,000 geboue vernietig en 225,000 mense dakloos gelaat. ’n Geskatte 3,000 mense het hulle lewens verloor. Skade aan eiendom het $400 miljoen (in 1906 dollars) beloop. Die vuur het 10 vierkante km van San Francisco vernietig – bykans twee-derdes van die stad.

Op vandag se Richterskaal het die aardbewing 7,7 tot 7,9 gemeet – byna 100 keer meer intens as die verskriklike aardbewing wat Northridge, Kalifornië op 17 Januarie 1994 getref het!

My Vriende, wat sal dit verg om u te “skud” om gewilliglik en waarlik na God te soek – die ware God van die Bybel – met u hele hart en met u hele siel? Wat sal dit neem om u te “skud” sodat u gewillig sal wees om uit hierdie huidige samelewing te kom en werklik die God te gehoorsaam wat aan u lewe en asem gee?

In die Nuwe Testament het die grote God wat ons almal geskape het, die skrywer van Hebreërs geïnspireer om aan ons hierdie waarskuwing te gee: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebreërs 12:25-29). Mag die God van u Bybel u help om te luister.