Gebeure wat in u Bybel voorspel word, begin nou al meer gereeld gebeur. In hierdie Werk van die lewende God is ons daartoe in staat om u te waarsku oor wat binnekort gaan gebeur. Ons praat nie van dekades in die toekoms nie. Ons praat van Bybelprofesieë wat met toenemende intensiteit in die volgende vyf tot vyftien jaar van u lewe vervul gaan word!

Verstaan asseblief. Ons wil nie “onrussaaiers” wees nie. Ons is lief vir ons medemens. Dit is dus ons plig om ons mense te waarsku—voordat dit gebeur—om gereed te maak vir die toekoms. Die meeste van ons raad is geestelik van aard. In hierdie redaksionele kommentaar wil ek u egter goeie raad gee betreffende u fisiese oorlewing en finansiële welvaart.

Ons moet altyd die “geheelbeeld” profesie van Mattheus 24:6-11 in gedagte hou. Christus verduidelik dat daar kleiner oorloë binne “nasies” sal wees en groot konflikte tussen “koninkryke.” Hy dui in Lukas 21:11 aan dat daar “verskriklike dinge”—of, soos 'n paar Engelse vertalings dit stel, “terrors”—oor ons sal kom, sowel as werklik “groot” aardbewings aan die tyd van die einde. Hiermee saam sal daar hongersnood en siekte-epidemies wees.

As ons werklik Christene is wat in die Bybel glo, moet ons gereed maak vir hierdie situasies. Ons word aan die ou spreekwoord herinner, “God help diegene wat hulself help!” Baie voorbeelde dui daarop dat, hoewel God dikwels bonatuurlik sal ingryp om ons te red, Hy van ons verwag om wysheid aan die dag te lê en dat ons ons deel moet doen om onsself te beskerm.

God het Josef destyds in Egipte vermaan om ekstra kos te bêre vir 'n geprofeteerde hongersnood (Genesis 41:25-27). Natuurlik kon God gesê het: “Moenie jou kwel of enige voorkomende stappe neem nie, Ek sal jou eenvoudig verlos—wat ook al gebeur!” Die Bybel—wat God se denke openbaar—dui egter daarop dat God wou hê dat Josef en sy mense deur dié ervaring moes gaan om ekstra voedsel opsy te sit en te leer om hulle deel te doen om voor te berei vir toekomstige rampspoed. Die apostel Jakobus skryf “dat die geloof sonder die werke dood is” (Jakobus 2:20).

Dit is beter vir mense om deur hierdie situasies die lesse te leer en te ervaar wat dit is om sorg, wysheid en deursettingsvermoë aan die dag te lê, in plaas daarvan dat God hulle uit elke moontlike moeilikheid “verlos.” God is mos in die proses om ons op te lei om vir ewig Sy volle kinders te wees in Sy Koninkryk en Gesin. Ons moet leer om Sy wil te verstaan en die wysheid te ontwikkel om in baie verskillende situasies reg op te tree. Dan sal ons beter bevoeg en voorbereid wees om onder Christus as konings en priesters te heers in die Wêreld van Môre.

In Spreuke 22:3 sê ons Vader vir ons: “'n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.” Natuurlik wil God nie hê dat ons lafhartig moet wees nie. Dit is ook duidelik dat 'n wyse man of vrou “hom of haarself soms moet verberg”—voorkomend optree—of in die geheim oor die stad se muur laat sak te word om te “vlug”—soos die apostel Paulus in 'n gevaarlike situasie gedoen het (Handelinge 9:23-25)!

Elkeen van ons moet dus ons eie situasie ontleed en bepaal watter aksie ons moet neem. Woon ons in 'n laagliggende kusgebied waar ons dalk in gevaar kan wees terwyl orkane, vloedgolwe of soortgelyke natuurrampe toenemend voorkom? Het ons ten minste 'n week se noodvoorraad kos en water, flitsbatterye, 'n noodhulpkissie, 'n radio wat met batterye werk, voorgeskrewe medikasie en ander noodsaaklike items? Het ons ons land of provinsie se noodplan gelees oor hoe om voor te berei vir noodgevalle soos orkane, aardbewings en terroriste-aanvalle?

Ek wil ook ons lesers—veral die Amerikaners—ten sterkste aanmoedig om voor te berei vir ‘n finansiële nood wat ons nasie binne 'n paar jaar kan tref. Hoewel ek beslis nie 'n finansiële deskundige is nie, het ek toegang tot talle baie betroubare nuusbronne. Tans is daar al hoe meer nuusberigte wat waarsku teen 'n dreigende finansiële ineenstorting wat die Verenigde State binne die volgende paar jaar kan verwoes! Let goed op 'n paar hoogtepunte uit 'n artikel deur Carolyn Lochhead in die San Francisco Chronicle van 12 September 2004:
“Die eerste van die “na-oorlogse” geslag wat 77 miljoen sterk staan, gaan in net vier jaar begin aftree... 'Ontmoedigend' is die woord wat die Verenigde State se hoof-valutabeheerbeampte, David Walker, gebruik om die begrotings-vooruitsig te beskryf.

'Die langtermyn vooruitskouing van die begroting is eenvoudig angswekkend,' het Leonard Burman, mededirekteur van die stigting vir die beleid oor stedelike belasting, bygevoeg. 'Ek het vier kinders en dit ontstel my werklik. Ek dink net dat wat ons besig is om aan hulle te doen, onverantwoordelik is...’

'Om u net 'n idee te gee hoe groot die probleem is', sê Laurence Kotlikoff, ekonomiese voorsitter van die Universiteit van Boston, wat reeds breedvoerig oor die onderwerp geskryf het, om 'n fiskale gaping van $51 biljoen te oorbrug, 'moet mens 'n onmiddellike en blywende verhoging van 78% in die federale inkomstebelasting hê'.

Hierdie verpligtinge is nie denkbeeldig nie. En anders as in die 1980's en 1990's, kan ekonomiese groei nie die regering uit die moeilikheid help nie aangesien die “na-oorlogse” geslag se aftrede ophande is. Diegene wat in 1946 gebore is, sal in 2008 die ouderdom van 62 jaar bereik, wat hulle in staat stel om met vroeë pensioen te gaan en te kwalifiseer vir bestaansbeveiligingsvoordele ... 'n Baanbreker-studie deur Jagadeesh Gokhale van die Federale Reserwebank van Cleveland en Knet Smetters, 'n eertydse adjunk-hulpsekretaris van die tesourie—afgevaardig deur die voormalige sekretaris van die tesourie, Paul O'Neill—het 'n fiskale gaping van $44 biljoen beraam. Dit het 'n paar pynlike opsies voorgehou oor hoe om die verpligtinge na te kom:

Die betaalstaatbelasting moet, dadelik en vir altyd, meer as verdubbel word, van 15,3% van die loon tot byna 32%; die inkomstebelasting moet dadelik en vir altyd met twee-derdes verhoog word;

Die bestaansbeveiliging en die mediese bystandsvoordele moet dadelik en vir altyd met 45% gesny word;
Of staak vir altyd alle diskresionêre uitgawes, wat die weermag, landsveiligheid, hoofweë, howe, nasionale parke en die meeste van dit wat die federale regering doen, buiten die oordrag van betalings aan bejaardes, insluit.

Sulke regstellende optredes word elke jaar erger. Deur net te wag tot 2008, die einde van die volgende presidentstermyn, sal beteken dat die betaalstaatbelasting tot 33,5% verhoog moet word in plaas van 32%, het die studie bepaal.

Gokhale het gesê dat nuwe berekeninge van die kurators van mediese bystand toon dat die fiskale gaping sedertdien gegroei het tot $72 biljoen, waarvan $10 biljoen vir bestaansbeveiliging is en 'n verbysterende $62 biljoen vir Medicare, die regering se mediese program vir bejaardes.”

Dink!
Trek 'n bedrag van $72 biljoen u aandag? Blyk die nodigheid om die inkomstebelasting met twee-derdes te verhoog—“dadelik en vir altyd”—wesenlik te wees? Blyk die nodigheid om bestaansbeveiliging en mediese bystandsvoor-dele met byna die helfte te sny, ernstig te wees?

En wie het ons so pas aangehaal? 'n Paar godsdienstige dwepers of finansiële eksentriekes? Nee! Ons het so pas die Verenigde State se hoofsekretaris van tesourie en 'n paar gerespekteerde ekonome, insluitend twee amptenare van die Federale Reserwebank, aangehaal. Dit is hulle wat hierdie verbysterende syfers gee, wat die grootste ekonomiese uitdaging van die moderne tyd voorspel. Elkeen van ons moet dus sorgvuldig nadink oor wat voorlê en ons eie finansiële huis in orde kry.

‘n Eerste prioriteit sal wees om alle krediet-kaartskuld te delg—en alle ander skuld wat ons moontlik kan. Ons moet ook ten minste genoeg
fondse vir 60 dae se normale uitgawes hê vir ingeval die bankstelsel ineenstort of 'n soortgelyke noodgeval opduik. Ons moet ook stadigaan 'n gesinsbegroting uitwerk wat ons toelaat om oor 'n tydperk 'n finansiële reserwe op te bou wat ons vir 'n jaar of meer sal kan dra, sou ons ons werk verloor of 'n noodlottige gesondheidsprobleem opduik, ensovoorts.

Laastens, ons moet God nie buite rekening laat nie. Hoewel die natuurlike reaksie sal wees om voorsiening te maak vir die finansiële sy en te vergeet van God, is die werklik wyse benadering om God te eer in hierdie saak en te weet, in geloof, dat Hy ons sal seën en lei in al ons ander pogings. Die Bybel sê: “Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos” (Spreuke 3:9-10).

Jesus Christus Self leer ons: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees (Mattheus 6:19-21).

As u werklik glo in die lewende God en in Sy geïnspireerde Woord, sal u u deel doen om Sy Werk te ondersteun, selfs gedurende moeilike tye. Dan sal die Skepper beslis “daar wees” wanneer u Hom dringend nodig het. Selfs al verstaan u nog nie hierdie geestelike waarheid nie, wees beslis bewus van wat fisies gaan gebeur en neem onmiddellike stappe om te begin om u finansiële huis in orde te kry. U skuld dit aan uself en u gesin!