Hierdie werk voorspel reeds dekades lank wat Duitsland se geprofeteerde rol in wêreldgebeure sal wees voor Christus se Wederkoms. Die vraag is: Hoe?

“Hou die Sowjet-Unie uit, die Amerikaners in en die Duitsers onderdanig”. Daardie bondige opsomming van die doel van die Noord-Amerikaanse Verdragsorganisasie het gekom van Lord Hastings Ismay, die eerste sekretaris-generaal van NAVO (“After 77 years in timeout, Germany is crucial to the fascist resistance”, WashingtonPost.com, 8 April 2022). Min mense onthou vandag vir Lord Ismay – nog minder mense onthou sy geskiedkundige kommentaar, maar dit word nou sowat 70 jaar later weer in herinnering geroep in die lig van die Russiese inval in die Oekraïne.

Na die einde van die Koue Oorlog wat algemeen beskou word as 26 Desember 1991, is die doel van NAVO ernstig getoets. Meer as een Amerikaanse president het Duitsland en ander Europese state versoek om hulle verpligtings na te kom om 2 persent van hulle BBP aan verdediging te bestee. Die gewese president Donald Trump, het selfs so ver gegaan as om te dreig om uit die alliansie te onttrek indien hulle dit nie doen nie. Per slot van rekening, waarom behoort Amerikaners altyd die rekening te betaal? Waarom behoort Amerika meer vir Europa se kinders om te gee as wat Europa sélf doen?

Vladimir Poetin het dit feitlik oornag verander. Die alliansie wat besig was om sy doelstelling te verloor en deur twis geteister was, het skielik gesien hoe sy lidlande hulle verskille opsysit om te verseker dat Rusland uitbly. Amerika was nie langer besig om hulle uit Europa se verdedigingsreëlings te wikkel nie. Die derde deel van Lord Ismay se vergelyking – om Duitsland onderdanig te hou – het in die verwarring verlore gegaan.

Duitsland is immers al meer as 70 jaar lank een van die wêreld se mees stabiele demokrasieë. Dit het ’n sterk en goed geordende ekonomie, het ’n leidende rol in die “red die wêreld” van klimaatsverandering geneem en het ingewikkelde militêre verwikkelings vermy. Duitsland is nie vandag dieselfde land wat twee keer sy buurlande binnegeval en die wêreld in twee twintigste-eeuse oorloë gedompel het nie. Duitsers is hardwerkend, plesierig en finansieel verantwoordelik, veral met betrekking tot belastingverpligtings.

Wat is dus die probleem? Is Duitsland na 70 jaar van goeie gedrag nie hervorm nie? Kan hulle steeds nie vertrou word nie? Is daar moontlik iets in die Duitse DNS wat in ag geneem behoort te word? ’n Mens kan net wonder wat Lord Ismay of Winston Churchill, wat Ismay as NAVO se eerste sekretaris-generaal aangestel het, vandag sou dink. Dit is onwaarskynlik dat hulle so naïef sou wees soos wat mense uit die na-oorlogse geslagte blyk te wees.

Hierdie huidige generasie kan dalk vergewe word omdat hulle nie die geskiedenis verstaan nie. Daardie vak is dekades gelede deur “sosiale studies” vervang, wat nou verander het in ’n hersienings-kurrikulum wat in baie van vandag se skole te vinde is. Kanselleer-kultuur het nie net persone wat uit pas is gekanselleer nie – dit is besig om monumente af te breek, geskiedenis te herskryf en die samelewing aan hulleself oor te laat. Geopolitieke lesse van die verlede gaan verlore.

’n Mens moet die transformasie van Duitsland bewonder. Uit die puin van die Tweede Wêreldoorlog het dit verrys tot die vierde grootste ekonomie ter wêreld. Slegs die V.S., China en Japan is groter. Is dit nie interessant dat Duitsland en Japan, twee “verloorders” van die oorlog, derde en vierde op die lys van ekonomiese reuse is nie?

Wie is hierdie merkwaardige mense wat in die hart van Europa woon? Duitsland se verlede was nie altyd somber nie. ’n Skrywer van Tomorrow's World, dr. Douglas Winnail, het die volgende in sy insiggewende artikel, “A Fourth Reich?” geskryf:

“Die meeste geleerdes erken dat ‘Duitsland een van die groot kulturele sentrums van Europa is en dat Duitse prestasies in argitektuur, musiek, letterkunde en filosofie van die mylpale van die beskawing is’ (The New Germans, Radice, bl. XVI). Die groot komponiste – Bach, Beethoven, Mozart en Strauss – was Duitsers. Gutenberg het die eerste boek met gegote lettertipes, die Bybel, in Mainz omstreeks 1456 gedruk ... Duitse filosowe en teoloë het die intellektuele klimaat van die Weste gevorm. Op akademiese gebied, ‘van agronomie tot dierkunde, het Duitsers nie net die natuurwetenskappe bevorder nie, maar feitlik gedefinieer’ (Schoenbaum, bl. 11). Duitse ingenieursprodukte is sinoniem met akkuraatheid en kwaliteit regoor die wêreld. Duitsland se bydrae tot die ontwikkeling van die Westerse beskawing is byna sonder weerga!”

Duitsland het soos die meeste groot nasies tog ook ’n donker kant. Tomorrow's World verkondig al dekades lank dat Duitsland na vore sal tree om ’n ekonomiese en militêre mag te wees wat saam met sy bondgenote ’n mag sal word om mee rekening te hou afgesien van die huidige NAVO-alliansie.

Hoe weet ons dit? Die antwoord word in Bybelse profesieë gevind, maar indien mense oor die algemeen onkundig oor geskiedenis is, is hulle selfs meer onkundig wanneer dit kom by wat die Bybel oor die verlede en die toekoms te sê het.

’n Kort les in geskiedenis

Die kern van ’n groot deel van die Bybel bevat die geskiedenis van een man, naamlik Abraham en sy nageslag. Hy het ’n lewe van geloof gelei. Hy het vertrou op wat God gesê het die waarheid is – soveel só dat hy bereid was om sy wonderbaarlik gebore seun, Isak, op te offer toe God hom beveel het om dit te doen. Uiteindelik het God hom dit nie laat doen nie, maar dit het ’n belangrike voorbeeld van die profesie van God die Vader gebly, wat Sy wonderbaarlik gebore Seun, Jesus die Christus, gegee het om die straf vir ons sondes te betaal (sien Génesis 22:1-19; Johannes 3:16).

Die gevolg van Abraham se geloof was dat God groot en kosbare beloftes aan hom en sy nageslag gemaak het. Hierdie beloftes word selfs vandag nog vervul.

Abraham se kleinseun was Jakob, wie se naam na Israel verander is. Jakob het twaalf seuns gehad wat stamme geword het en wat elkeen tot tienduisende en uiteindelik honderde miljoene getel het. Selfs mense wat toevallig die Bybel lees weet dat Israel se familie as slawe in Egipte beland het en onder God se leierskap deur Moses uitgelei is. Nadat hulle vir 40 jaar in die woestyn rondgedwaal het, het hulle ’n gebied oorgeneem wat selfs groter is as wat die meeste mense vandag “Israel” noem.

Daarbenewens het baie Bybelgeleerdes uiteenlopende verhale gehoor van Simson, Rut, Dawid en Góliat, koning Salomo, koningin Ester en Daniël en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednégo. Diegene wat die Bybel lees weet natuurlik van Jesus en sommige van Sy volgelinge – Petrus, Johannes, “ongelowige Thomas” en Paulus. Wie weet nie van Judas, die verraaier van Jesus Christus nie? Min mense verstaan egter die verband tussen die Skrif en selfs die mees basiese geskiedenis van hierdie mense – hulle onkunde beteken dat hulle nie Bybelse profesieë sal verstaan en hoe dit vandag besig is om tot vervulling te kom nie.

Die twaalf stamme van Israel het uiteindelik in twee afsonderlike nasies verdeel: Die huis van Israel en die huis van Juda. U kan hieroor lees in 1 Konings 12, u sal daarby baat vind indien u nie vertroud is met die geskiedkundige weergawe nie.

Die res van 1 en 2 Konings asook die grootste deel van 1 en 2 Kronieke word gewy aan die geskiedenis van hierdie twee afsonderlike nasies, met inbegrip van die oorloë tussen hulle. Die huis van Israel, wat uit tien Israelitiese stamme bestaan het, het op die verkeerde pad begin en op die verkeerde pad gebly. As gevolg van hulle sondes is hulle tussen 740 en 720 v.C. omvergewerp en in ballingskap weggevoer deur die Assiriërs, ’n hoogs georganiseerde krygsvolk.

Ongeveer 130 jaar later is die huis van Juda (die Jode) ook in ballingskap weggevoer na ’n ander nasie, suid van die Assiriërs. Hierdie twee nasies – die huis van Israel en die huis van Juda – was nooit weer saam nie en hulle sal nie herenig word voor die Wederkoms van Christus nie. Dit is duidelik uit die geskiedenis en uit Bybelse profesieë.

God het byvoorbeeld vir die profeet Eségiël gesê: “En jy, mensekind, neem vir jou ’n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ’n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote” (Eségiël 37:16). God sou hulle dan saamvoeg aangesien die twee nasies bestem is om weer een nasie te word. Wanneer sal dit egter gebeur?

“En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ’n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees en hulle vir my ’n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek die Here is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees” (Eségiël 37:25-28).

Dawid was lankal reeds dood en in die graf toe dit geskryf is. God se heiligdom is nie nou “vir ewig in hulle midde” nie. Jesus het nie twee nasies tydens Sy tyd op aarde verenig nie en die geskiedenis toon dat hierdie eenwording tot vandag toe nie plaasgevind het nie. Hierdie profesie het betrekking op die toekoms. Dit beteken dat die huis van Israel en die huis van Juda tans iewers op aarde bestaan en nog steeds hier sal wees wanneer die afgestorwenes opgewek word met die Wederkoms van Jesus Christus om Sy Koninkryk op te rig.

Waarom u behoort te weet

Waarom is dit belangrik? Hoe hou dit verband met betrekking tot die Russiese inval in die Oekraïne? Hoe pas Duitsland hierby in? Wat het dit met u te doen?

Die meeste mense verstaan nie Bybelse profesieë nie, want hulle kort belangrike sleutels wat profesie ontsluit. Daardie sleutels is die identiteit van moderne nasies met betrekking tot die Bybel. Die meeste mense neem aan dat elke profesie oor Israel van toepassing is op die Jode, maar dit is só verkeerd!

Dit was deur die Jode dat die Messías sou kom, maar die geboortereg-seëninge wat in die eerste vyf boeke van die Bybel beskryf word, behoort aan die stam van Josef. Let op ’n stelling wat hierdie punt in 1 Kronieke 5:1-2 verduidelik:

“EN die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was die sterkste onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad”.

God het die bejaarde Israel geïnspireer om Josef se twee seuns – Efraim en Manasse – aan te neem om sy naam aan hulle oor te dra (Génesis 48:5-6, 15-16). Hulle was diegene wat die geboortereg-seëninge ontvang het om ’n enkele groot nasie en ’n groep (of gemenebes) van nasies te word (Génesis 35:10-11; 48:18-19). Die tien stamme wat bekend staan as die huis van Israel, wat gelei was deur die eersgeboortereg-nasies van Josef se seuns Efraim en Manasse, is deur die Assiriërs gevange geneem. Wie was hierdie Assiriërs dan en wat het met hulle gebeur?

Dr. Douglas Winnail se “Resurgent Germany: A Fourth Reich?” (beskikbaar as ’n herdrukte artikel van die streekkantoor naaste aan u, gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif en aanlyn in Engels beskikbaar by TomorrowsWorld.org) toon dat die hedendaagse Duitsland afstam van niemand anders nie as antieke Assirië. God het deur sy profeet Jesaja verduidelik dat Hy die Assiriërs gebruik om die ongehoorsame Israel te straf. Assirië is die roede in God se hand.

“WEE Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie [Israel], en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate” (Jesaja 10:5-6).

Het die antieke Assiriërs besef dat hulle deur God gebruik word om Israel te tugtig? Hulle het nie – en hulle sal ook nie God se hand in die toekoms verstaan nie. “Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:7). Assirië het die huis van Israel wat afgodsdiens beoefen het omstreeks 720 v.C. in ballingskap weggevoer en twee keer in die twintigste eeu het God die hedendaagse Assirië gebruik om ons nasies te straf en te waarsku om hulle te bekeer en hulleself na Hom te wend.

In plaas daarvan om ons te bekeer, het ons gedrag nog sondiger geraak. Alhoewel God die nageslag van Israel genadig was en hulle twee keer in die twintigste eeu die oorwinning gegee het, was dit elke keer teen ’n verskriklike prys. Hy laat ook nie die roede wat Hy swaai, agterwee nie – ook die nageslag van Assirië is sondaars (Jesaja 10:15-19).

Bybelse profesieë is dikwels tweeledig – daar is ’n vorige vervulling asook ’n vervulling in die laaste dae. ’n Noukeurige bestudering van die hoofstuk hierbo toon dat daar ’n toekomstige vervulling van sy profetiese stellings sal wees. Die huis van Israel sal weer in ballingskap gaan!

Deur die Oekraïne binne te val, het Vladimir Poetin gedoen wat geen Amerikaanse president kon doen nie. Hy het Duitsland se strewe oor sy behoefte verander met betrekking tot herbewapening. Wat hy ook gedoen het, is om Amerika vir eers deel van die alliansie te hou. Amerika, Duitsland en die ander NAVO-lande sal Rusland ongetwyfeld saam uithou. Duitsland sal egter nie ondergeskik bly nie.

Die derde element van Ismay se formule sal egter nie hierdie krisis oorleef nie. Duitsland is nie meer ondergeskik nie; trouens, hulle is die spilpunt van die weerstand teen Poetin, gedruk in prominensie deur ’n sameloop van faktore: Hulle rykdom, hulle geografiese ligging en hulle ingewortelde vrees vir hulle self (“After 77 years in time-out Germany is crucial to the fascist resistance” WashingtonPost.com, 8 April 2022).


Die Nasionale Openbare Radio het berig oor die skielike ommeswaai in Duitse denke:

Die aankondiging het gekom drie dae nadat Rusland op 24 Februarie 2022 sy inval in die Oekraïne van stapel gestuur het en slegs ’n paar Duitse wetgewers is ingelig oor wat kanselier Olaf Scholz op die punt was om te sê, naamlik dat Duitsland sy weermag van 100 miljard euro sou voorsien en die mag sou plaas op die pad om Europa se sterkste gewapende mag te wees.

Scholz het bygevoeg dat Duitsland voortaan meer as 2% van sy bruto binnelandse produk in sy gewapende magte sal belê. Volgens data wat deur NAVO ingesamel is, word verwag dat Duitsland gedurende 2021, 1,53% van die BBP aan verdediging bestee het.

Duitsland se parlement het staande losgetrek met ’n seldsame toejuiging, wat die grootste saal van die Reichstag gevul het, ’n gebou waarvan die vernietiging en hergeboorte die middelpunt van die gruwels van die laaste wêreldoorlog was. Dit het nou weer getuig van wat die Duitsers as ’n Zeitenwende bestempel het: ’n geskiedkundige keerpunt (“With war in its doorstep, Germany plans a major war on its doorstep,” NPR.org, 22 Maart 2022).

Weermagte word nie oornag opgebou nie, maar hou in gedagte: Adolf Hitler is op 30 Januarie 1933 as kanselier aangestel. Ses jaar en sewe maande later het sy weermagte Pole binnegeval. Hoe lank dit sal neem om die Duitse weermag weer op te bou, is nie seker nie en sal van ’n aantal faktore afhang, maar The Times of Israel haal Marcus Faber, ’n verdedigingkundige en wetgewer van die liberale FDP-party aan, wat sê dat “dit tot agt jaar sal neem om al die toerusting van die weermag weer tot op hedendaagse standaarde te bring” (“How Germany, shaken by Russia’s Ukraine invasion, plans to rebuild its military,” TimesOfIsrael.com, 29 Maart 2022).

Daar is baie onsekerhede, maar baie daarvan is reeds aan die gang: “Duitsland het reeds aangekondig dat hy sy verouderde Tornado-vegvliegtuie sal vervang met ’n nuwe vloot Amerikaanse F-35-stealth-vegvliegtuie [moeilik opspoorbaar op radar] en Eurovegters, wat sowat 100 miljoen euro ($110 miljoen) elk kos” (TimesOfIsrael.com). Dit verg meer as om net groot somme geld te spandeer om ’n weermag te herbou. Mannekrag, opleiding, vragmotors en vliegtuie om manne en voorrade te vervoer is minder glansryk as peperduur wapenstelsels. Die Duitsers is nie van voorneme om aan te val nie. Hulle plan is slegs om hulle land te verdedig.

Baie van ons hier by die Wêreld van Môre volg reeds vir dekades lank die geopolitieke gebeure vanuit die perspektief van Bybelse profesieë. Alhoewel dit die gesaghebbendes en sogenaamde kenners geskok het, was die val van die Berlynse Muur nie vir ons ’n verrassing nie en ook nie dat Duitsland minder as ’n jaar later herenig is nie. Daar sal kort voor lank baie meer skokke in die maande en jare wat voorlê wees vir diegene wat nie verstaan wat die Bybel oor ons toekoms openbaar nie.

Op dieselfde wyse wat nét so verrassend was soos dié waarop Rusland se inval in die Oekraïne die Duitsers se denke oornag verander het, sal die V.S. die trots van sy mag verloor en hulle sal ly onder natuurlike en mensgemaakte rampe wat hulle sal vernietig (Levítikus 26:14-20). Daar wag ’n skok op die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms en dít sal hulle oor hulleself bring as gevolg van hulle verwerping van alle morele beperkings (Hoséa 4:2).

Ek verstaan dat dit dalk moeilik is om te glo dat Amerika en die nasies van Britse afkoms aangeval sal word deur Europese nasies wat tans hulle bondgenote is, maar dit sál gebeur en wanneer dit gebeur, onthou waar u daarvan gehoor het.

Laat ek egter op ’n positiewe noot eindig. Ons lees in Jesaja 19:24-25, dat ná die Groot Verdrukking en die Dag van die Here wat geprofeteer is om in die nabye toekoms plaas te vind, “... sal Israel [die Israelitiese afstammelinge] die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!”