Het u al ooit ’n ware Christen ontmoet? Het u al ooit ’n kerk vol ware Christene bygewoon? Is u seker? Wat maak ’n persoon ’n ware Christen?

Die Amerikaners noem hulleself ’n Christelike nasie. Hulle druk selfs die woorde op hulle geldeen­heid dat hulle in God vertrou. Suid-Afrikaners beskou hulleself ook as ’n Christelike nasie.

In ons verwarde, wanordelike wêreld is daar meer as 400 sektes en godsdienstige organisasies wat hulleself “Christelik” noem. Alhoewel hulle almal verskil­lende idees en praktyke volg, beroep almal hul tog op die naam van Jesus Christus. As gevolg van dié verskeidenheid idees en praktyke maak nie-Christene ’n bespotting daarvan dat die Christenheid direk deur God geïnspireer is.

Geen wonder nie, want baie van die grootste oorloë in die moderne geskiedenis is begin deur belydende Christelike nasies. Die statistiek oor verkragtings, moord en roof het ook die afgelope dekades die hoogte ingeskiet in baie van die Westerse Christelike nasies.

Hoekom?

Kan dit wees dat hul nie werklik verstaan waaroor Christelikheid eintlik gaan nie? Kan dit wees dat alhoewel miljoene mense ernstig betrokke is by “kerkisme” hulle nie werklik die eenvoudige, duidelike leerstellings van Christus verstaan en daar­volgens lewe nie?

Die hoog aangeskrewe moderne filosoof, Sören Kierkegaard, skryf in sy Attack upon Christendom: “Die Christelike godsdiens van die Nuwe Testament bestaan net eenvoudig nie meer nie. Miljoene mense het God deur die eeue stukkie vir stukkie van Christenheid beroof en het daarin geslaag om die Christenheid presies die teenoorgestelde te maak van wat dit in die Nuwe Testament is”.

Ons kan dan vra, waarom is miljoene so verward oor wat ware Christelikheid eintlik is – so verward dat sommiges tot die slotsom gekom het dat dit glad nie bestaan nie?

’n Beplande misleiding

Die feit is dat ware Christelikheid – en ware Christene – wel bestaan. Hulle mag net moeiliker wees om te vind as wat u sou dink. As ons onder­soek wat die Bybel ons leer, sal ons besef waarom daar so min ware Christene is.

Laat ons verduidelik. Jesus sê: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:5). Neem kennis dat diegene NIE onder hulle eie naam kom nie! Baie mense glo verkeerdelik dat hierdie verse na ’n menigte “vals Messiase” verwys wat elkeen voorgee dat hy, persoonlik, die ware Christus is. Sommige misleide mense het wel sulke lasterlike beweringe gemaak. Die mees afgelope voorbeeld was David Koresh wat in 1993 in sy beleërde kampong gesterf het.

Maar gesonde verstand dui aan dat dit ’n verkeerde vertolking van die Skrif is. Onthou die Skrif sê “baie sal kom” en sal “baie mense mislei”. Die feit van die saak is dat daar nie BAIE was wat persoonlik daarop aanspraak gemaak het dat hulle Christus is nie. Daar was gewis nie baie wat deur hulle mislei is nie. David Koresh self het slegs ’n paar geflous. Hy het verseker nie miljoene mense laat glo dat hy, persoonlik, die Messias was nie.

Wat is die antwoord dan? Is Jesus se bewering verkeerd? Glad nie. Die regte vertolking van Matt. 24:5 is dat baie mense sou kom en beweer dat JESUS CHRISTUS die Messias is. So ver, so goed. Maar hulle sou “baie mense mislei” deur, dit wat Christus geleer en voor gestaan het, te ondermyn, te verdraai en verkeerdelik voor te stel.

Hierdie vals profete kom onder Jesus se Naam en sê aan die mense dat Hy wel die Christus is. Deur Sy Naam te gebruik, verkondig hulle hul eie vals, godsdienstige idees en filosofieë, onder die dek­mantel van “Christelikheid”!

U sien, mense kan, as hulle “slim” genoeg is, die term “Christelik” aan omtrent enigiets koppel. Hulle kan die idee of filosofie in mooi, godsdienstig klinkende frases versteek en ander mense dan oorreed om dit te glo.

Maar daar skuil selfs meer daaragter, buiten die misleide manne en vroue, is daar ’n groot geestelike wese wat Satan die Duiwel genoem word. Voorheen was hy ’n buitengewoon wyse en pragtige gérub of engel (Eseg. 28:12-15). Nou is hy egter boos­aardig, slu en listig en sy aantrekkingskrag bly steeds baie aanloklik vir oningeligte mense (2 Kor. 11:14).

God noem Satan “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:2). Satan word verder beskryf in Op. 12:9: “die groot draak, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”.

As Satan dus in die kinders van die ongehoor­saam­heid werk en indien hy “die hele wêreld bedrieg”, dan is BILJOENE mense vanselfsprekend deur hom bedrieg!

Die kern van die saak is dat, onder die onsigbare maar magtige invloed van Satan, die Duiwel, allerhande soorte idees as “Christelik” voorgestel word terwyl dit geensins Christelik is nie. Sommige van dié idees is direk afkomstig uit die heidendom. Buitendien is die duidelike leerstellings van Jesus Christus aangaande ’n Christelike lewenswyse feitlik begrawe onder ’n berg van vreemde gelowe, leerstellings en godsdienstige gebruike.

Jesse Lyman Hurlbut het in sy handboek: The Story of the Christian Church, ’n treffende stelling gemaak:

“Ons verwys na die laaste geslag van die eerste eeu, vanaf 68 n.C. tot 100 n.C. as ‘Die Tydperk van die Skadu’s’, deels omdat die somberheid van vervolging op die kerk gerig was; maar veral omdat dit dié geskiedenis­tydperk is waarvan ons die minste weet. Ons het nie meer die duidelike lig van die Boek van Handelinge om ons te lei nie; en geen skrywer van daardie era het dié gaping in die geskiedenis gevul nie. Ons sou graag van die latere werk van Paulus se helpers, soos Timotheus, Apollos en Titus wou lees, maar ná Paulus se dood is daar geen rekord van diegene en sy ander vriende nie. Vir vyftig jaar ná Paulus se lewe is daar ’n sluier oor die kerk getrek waardeur ons tevergeefs streef om insig te bekom; en uit die geskrifte van die vroegste kerkvaders in omtrent 120 n.C. toe die kerk uiteindelik weer ‘verskyn’, vind ons ’n kerk wat in menige aspekte HEMELSBREED verskil van dié in die dae van Petrus en Paulus” [1970, bl. 33].

In bostaande aanhaling erken die hoofstroom Protestante skrywer dat die belydende Christelike kerk GROOTLIKS “verander” het nadat die oor­spronk­like Apostels oorlede is. HOEKOM? Wie het enigeen die REG gegee om die oortuigings en handelinge van die kerk te verander? Het misleide mense dit op hulle self geneem om hierdie diepgaande veranderings te maak?

Wat Jesus in werklikheid geleer het

Ten einde te verstaan hoe “anders” die verskeie Christelike kerke geword het, is dit nodig dat ons terugkeer na die oorsprong van Christelikheid – na Jesus Christus. As enige iemand behoort te weet wat Christelik­heid is, dan is dit sekerlik Jesus!

As ’n jong Jood in Israel is Jesus só groot gemaak dat hy die Tien Gebooie, die Sabbat en die Heilige Dae onderhou het wat God aan antieke Israel geopen­baar het. Blykbaar het die groot “geleerdes” dit heel maklik gevind om dié feit van Jesus se opvoeding eenvoudig te “vergeet”, dit te verdoesel of voor te gee dat dit nie belangrik is nie.

Behels ware Christenskap slegs die doen van “Goeie Werke”?

Dit is nie te betwyfel dat goeie werke deur ’n verskeidenheid van godsdienstige organisasies gedoen word nie. Deur hulle bure goed te behandel ervaar mense en diegene om hulle, seëninge. Jesus sê van die geestelike wette en beginsels van die Bybel, “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63). Met ander woorde hierdie geïnspireerde woorde beskryf wesenlike waardes en kragte wat in baie gevalle outomaties in werking tree – net soos die swaarte­krag­wet. Indien ’n persoon goed is vir ander mense en hulle met liefde en vriendelikheid behandel, dan werk dit byna outomaties so uit dat so ’n persoon geseën sal word op een of ander manier. Hierdie beginsel geld afgesien van die geloofs­oortuiginge van die persoon.

Maar, deur persoonlik hulpvaardig en liefdevol te wees – of om “goeie werke” te doen in een of ander organisasie – sal GLAD­NIE, op sigself, mense kwalifiseer vir die ewige lewe in God se Koninkryk nie. Mede dienaars van Christus het my al verskeie kere vertel dat die mees liefdevolle, mededeelsame en godsdienstig toegewyde mense waarmee hulle al te doen gehad het, die Tai-Boeddhiste is. Baie van hierdie mense openbaar ’n persoonlike warmte, welwillendheid, sagmoedig­heid en dienswilligheid wat selfs selde in die Christelike wêreld gesien word. Dit, afgesien van hulle vals geloof wat die Verlosser van die mensdom, Jesus Christus, verwerp. Baie bely­dende Christelike organisasies vandag kan soortgelyk geprys word vir die diens en dade van liefdadigheid wat hulle doen ten behoewe van die behoeftiges en minderbevoorregtes. Maar as hierdie selfde groepe egter God se wette en die HELE lewenswyse wat Christus openbaar het, verwerp, wat is die eind­doel van hulle goeie werke?

Jesus Christus sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23). Verder sê Christus ook van diegene wat Hom tervergeefs aanbid: “Maar TEVERGEEFS vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas” (Mark. 7:7-8).

Hoewel die Goue Reël van goeie werke doen ’n integrale deel van Christenskap is, is daar veel meer. Ja, ons moet sekerlik daaraan werk om die eienskappe van sagmoedigheid, vriendelikheid en diens aan ander te ontwikkel. Maar ons moet ook – in ’n baie werklike sin – deur God VEROWER wees.Ons moet besef dat ons eie geregtigheid eenvoudig nie goed genoeg is nie. (Jes. 64:6; Rom. 3:23). Ons moet met totale oorgawe God se wil doen in ELKE fase en faset van ons lewe – nie net in “goeie werke” nie. Ons moet Sy Tien Gebooie gehoorsaam (Matt. 19:17), die heilige dae wat Hy geheilig het heilig hou (Ex. 20:8) en toelaat dat Jesus Christus ten volle Sy lewe in ons leef deur die Heilige Gees. (Gal. 2:20).

Die hoof Christelike denominasies het reg deur die geskiedenis dit NIE gedoen NIE. Hulle het NIE God se ontsagwekkende plan en doel vir die mensdom verduidelik nie. Hulle het hulle volgelinge NIE aktief voorberei om konings en priesters te wees in die komende Koninkryk van God wat spoedig op die aarde gevestig gaan word onder Jesus Christus nie. Hulle het NIE die profetiese waarskuwings van die Bybel oor die eindtyd verkondig wat ons mense so dringend nodig het om te hoor nie. Om die waarheid te sê, het hulle omtrent geen begrip van die lewensbelangrike kwart van die Bybel wat aan profesie gewy is nie – en gevolglik het hulle selde iets daaroor te sê. As gevolg hiervan doen hierdie hoof denominasies NIE God se werk of berei Sy mense voor vir God se Koninkryk nie.

Lees (en herlees!) hierdie lewensbelangrike boekie sodat u kan verstaan wat ware Christelikheid werklik behels.

Maar, soos ons sal sien, die feit dat Christus God se wette onderhou het máák ’n GROOT verskil. Diegene wat anders wil voorgee, doen dit ten koste van hulle ewige lewe!

Luister!

Dié vraag is aan Jesus gestel: “Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 19:16-19).

Só leer Jesus dus duidelik dat die WEG tot die ewige lewe is – om God te gehoorsaam deur Sy Tien Gebooie te onderhou!

In die Bergpredikasie vervul Jesus herhaal­de­lik God se geestelike wet, die Tien Gebooie. ’n Noukeurige studie toon dat Jesus die Tien Gebooie nog meer bindend gemaak het en dit beslis nie afgeskaf het nie. Jesus openbaar dat hul geestelike wette vorm, insluitende, maar baie groter in omvang, dan die letterlike vereistes wat God aan antieke Israel gegee het. Jesus leer dat Sy volgelinge nie slegs nie mag doodmaak nie, maar dat hulle selfs nie eers die gedagte aan moord – dwase woede, haat, gramskap – in hulle harte mag hê nie (Matt. 5:21-22).

Hy gaan voort en dui verder aan dat ’n ware Christen nie slegs nooit egbreuk mag pleeg nie maar sê: “dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (vers 28).

Die wet wat vrymaak

Dink net ’n bietjie daaroor na!

As die hele wêreld sou begin om volgens die Tien Gebooie te lewe – soos vervul deur Jesus Christus – sou ons geen misdaad hê nie, geen moord, geen egbreuk, geen gebroke huis­gesinne, geen ont­wortelde kinders en geen oorloë nie! Die diepe gewaarwording van stabiliteit, vrede en sekuriteit wat dan die wêreld sou vul, sou in baie opsigte ’n definitiewe helende effek hê. Die voorkoms van terneer­ge­drukt­heid en geestes­ongesteldheid sou baie verminder. Selfs liggaamlike siektes en lyding sou afneem, want ons fisiese gesondheid word beslis deur ons geestes­toestand beïnvloed .

God se wet BEVRY ons van skadelike gedrag. Die apostel Jakobus noem die wet van God “die wet van vryheid”. In Jak. 2:10-12 skryf hy: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word”.

Dit is baie duidelik dat hierdie apostel van die Nuwe Testamentiese tyd geïnspireer is om ons aan te moedig dat ons beslis die wet van God – soos opgesom in die Tien Gebooie, moet onderhou! Hy sê ook dat as ons slegs ’n gedeelte van die wet onderhou, terwyl ons ongehoorsaam is aan ander gedeeltes van die wet, dan “word [ons] deur die wet as oortreders bestraf” (vers 9). Dus is daar NIE met die Tien Gebooie weggedoen NIE en dit is ook nie aan die “kruis gespyker” nie. Indien wel, sou dit niemand en niks kon oordeel nie!

As God se wonderlike “wet van vryheid”, soos deur Christus vervul – wêreldwyd gehoorsaam sou word – sou die mensdom verseker wees van wêreld­vrede en persoonlike geluk! Maar gaan dit ooit gebeur?

Ja, beslis!

God het die apostel Paulus gelei om Jeremia se geïnspireerde profesie aan te haal wat die duisend­jarige vrederyk van God beskryf: “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die HERE nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle” (Heb. 8:10-11).

Dit is dus duidelik dat God se geestelike wet, die Tien Gebooie, die absolute grondslag sal wees vir die lewe in die Wêreld van Môre. Alle mense sal leer om die ware God lief te hê, te vereer, te aanbid – en om te doen wat Hy beveel. Almal sal leer om hul naaste lief te hê soos hulleself. Deur ware bekering en met die besieling van God se Gees sal hulle geleidelik leer om almal hulle medemens te help, te dien, te bou en te bemoedig om ’n goeie, gelukkige en vrug­bare lewe te lei.

Wanneer God se “wet van vryheid” wêreldwyd begryp en gehoorsaam word, sal die wêreld waarlik “in vrede” leef – soos wat daar sedert die tyd van Adam en Eva in die tuin van Eden nog nooit ondervind is nie.

Wat u moet doen

Daar is verskeie dinge wat u moet doen – indien u ’n ware Christen wil word – dié soort Christen wat in die Bybel beskryf word.

Eerstens moet u vir uself bewys dat daar ’n ware God is – nie ’n “mag ten goede” êrens in die hemel nie, maar die letterlike Geestespersoonlikheid wat die hemel en die aarde geskape het en nou daaroor heers. Soos die boek Hebreërs dit stel: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

U moet ook tot u eie bevrediging bewys dat die Bybel regtig die geïnspireerde openbaring van God aan die mens is. Die apostel Paulus verduidelik dit só: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16).

Dan moet u werklik begin om die Bybel te bestudeer! U moet nie slegs die Bybel lees nie, maar verskillende vertalings, ’n konkordansie en ander studiehulpmiddels ook raadpleeg om die Bybel deeglik te bestudeer. U moet diep nadink oor wat u lees, dit ernstig bepeins, bid oor wat u lees en besluit dat u gaan doen wat God sê – dat u gehoorsaam gaan wees aan Sy Woord.

Jesus sê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). U moet uself dus waarlik onderwerp aan God se wil om volgens elke woord van God te LEWE! Met sodanige persoonlike en opregte gesind­heid om die ware God en Sy wil te soek, sal u onge­twyfeld dan deur God se Gees gelei word. U sal sien dat Jesus Christus van Nasaret werklik die Seun van God, die Saligmaker van die wêreld – en u persoon­like Verlosser van u sonde is.

Die apostel Paulus beskryf dit soos volg: “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in Sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Rom. 5:8-10).

Ons is dus “geregverdig”, reg gemaak – versoen met God – deur ons opregte aanvaarding van die dood van Jesus ter delging van ons persoonlike sondes. Almal van ons moet altyd ’n innige, persoon­like waardering en lojaliteit teenoor Jesus openbaar omdat Hy Homself, ter wille van ons, so onvoorwaar­delik geoffer het.

Jesus Christus, die Seun van God, het Homself geoffer vir ons! Hy is ons getroue Hoëpriester wat aan God se regterhand sit om vir ons in te tree wanneer ons bid en na God soek (Heb. 4:14-16). Christus is ook die Lewende Hoof van Sy Kerk (Ef. 1:22-23) en Hy kom binnekort om te regeer as Koning oor die hele aarde (Op. 11:15).

U persoonlik, moet self die ware Jesus Christus van die Bybel as u persoonlike Saligmaker, u Heer en Meester, u Hoëpriester en toekomstige Koning aan­vaar. U betrokkenheid met God moet absoluut opreg wees!

Die volgende stap is ’n lewensbelangrike sleutel­faktor!

U moenie slegs vir Jesus as persoon aanneem nie. U moet in Sy Boodskap glo – dit wat Hy verkondig het en waarvoor Hy staan! Jesus self sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Weer: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).

Nou watter boodskap het Jesus dan verkondig? “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:14-15).

Jesus het gekom om die GOEIE NUUS van die Koninkryk of Regering van God te verkondig. Soos ons reeds gesien het, het Hy baie duidelik geleer dat die WETTE van daardie Koninkryk gebaseer is op die Tien Gebooie.

Om dus ’n ware Christen te wees, moet u van u sondes bekeer en uself toewy om die wette van die toe­komstige Regering van God te onderhou, om te glo in die Goeie Nuus van die Koninkryk van God en om Jesus Christus as u persoonlike Saligmaker aan te neem.

Bekeer u en laat u doop

Ons het reeds gesien dat sondaars deur die wet bestraf word in Jakobus 2:9. Jakobus verklaar verder: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword” (vers 10). Die wet bevat tien grondbeginsels – die Tien Gebooie. As ons enigeen van hulle oortree, word ons deur die wet bestraf.

Die Bybel maak dit baie duidelik wat sonde is. Teen die einde van sy lewe skryf die apostel Johannes: “Sonde is immers die oortreding van die wet van God” (1 Joh. 3:4, NV). Hy skryf verder: “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (vers 22). Dit is dus duidelik uit die Skrif dat om God se Wet te onderhou só belangrik is dat selfs die verhoring van gebed – ten minste in ’n groot mate – daarop berus. Hoe belangrik is dit dan dat ware Christene moet begryp dat hulle dit aan God verskuldig is om die Tien Gebooie te onderhou!

Die Nuwe Testament omskryf duidelik wat sonde is. Dit sê nooit dat dans of fliek toe gaan sonde is nie. Sonde kan nie in elke geval gedefinieer word as dit wat jy doen nie. Maar sonde het altyd betrekking op verkeerde gedagtes of gesindhede wat die gees van God se wet oortree.

Die soort danse wat seksuele wellus aanmoedig, is sekerlik altyd sondig. Om dikwels na moord- en seksbelaaide rolprente te kyk, gaan sekerlik ’n sondige effek op die menslike bewussyn hê.

Onthou, die standaard is nie “hier is my siening van die saak” of “dit is wat so-en-so sê” nie. Die ware standaard om tussen reg en verkeerd te onderskei, is die gebooie van God. “Sonde IS immers die oortreding van die wet van God”. Kan enigiets duideliker wees?

’n Ware Christen moet God se wet ’n deel van homself maak sodat dit ’n deel van sy denke en identiteit word – deel van hom. Om dit reg te kry, moet hy gevul word, en gelei word deur God se Heilige Gees. Die apostel Paulus verklaar: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14).

Maar hoe ontvang u die Heilige Gees? Hoe funksioneer dit? Die manier waarop u te werk gaan om die Heilige Gees te ontvang, word deur die apostel Petrus geopenbaar, wat sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Hand. 2:38).

Aangesien u ou self begrawe of gedoop moet word, dit is “onder gedompel” – figuurlik gesproke begrawe – in water vir die vergifnis van sonde, moet u uself bekeer, of wegdraai, van sonde! Onthou, “sonde is immers die oortreding van die wet van God”. U moet dus DAARVAN WEGDRAAI OM GOD SE WET TE OORTREE!

U moet gedoop word in ’n “watergraf” as die uiterlike erkenning van beide die doodsvonnis wat u oor uself gebring het deurdat u ongehoorsaam was aan die WET van u Skepper asook u bereidwilligheid om u ou self te laat sterf.

God se Woord sê: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei” (Rom. 6:3-4, NV).

’n Verbond met u Skepper

Wanneer u besluit om ’n ware Christen te word, moet u bereid wees om die ou selfsugtige self in die doop te “begrawe”. Om die waarheid te sê kan slegs God u die opregte berou tot bekering gee wat u nodig het om Sy wil te volbring. (Handelinge 11:18). As Hy werklik u verstand open om te verstaan wat ware Christelikheid behels – en u roep om in die eerste opstanding te wees – dan moet u u wil geheel en al aan u Skepper OORGEE. U moet uself eerlik en bitterlik BEKEER omdat u onverskillig al die jare u eie weg gevolg het – en berou hê omdat u aanhoudend God se Heilige wet verbreek en VERTRAP het in beide u gedagtes en optredes. WERKLIKE bekering beteken om om te draai en in die ander rigting te gaan! U moet dan ’n verbond met u Skepper aangaan om nie net OP TE HOU om die Tien Gebooie te breek nie, maar om – met be­hulp van die krag van God se beloofde Heilige Gees – begin om dit as ’n lewenswyse te ONDERHOU.

U moet vasbeslote wees om, met God se hulp, NOOIT toe te laat dat enige begeertes of ydelheid of “gode” tussen u en die ware God kom nie, dat u sal onthou om Sy Sabbatdag heilig te hou, dat u werklik u ouers sal respekteer, dat u nie net nie sal moord pleeg nie, maar u sorgvuldig daarteen sal waak om nie eers in u gedagtes wrokgevoelens van haat en geweld teen u naaste te koester nie. Dat u nie slegs nié owerspel sal pleeg nie, maar ook nie eers u gedag­tes sal laat dwaal oor wellus nie. (Matt. 5:27-28). U moet ook vasbeslote wees om God gereeld te vra vir die krag om nie te steel, nie te lieg of nie te begeer nie.

Ná ware berou oor u rebelsheid teenoor God, en ’n opregte verloëning van u eie vleeslike weë en begeertes, word u nederig ge­doop – waarmee u te kenne gee dat u aanvaar dat Christus se bloed gestort is ter uitwissing van u sondes van die verlede. U word die “gawe” van God se Heilige Gees belowe nadat u gedoop is. Dan, deur Sy Gees, plaas Christus Sy natuur in u – Sy liefde, Sy geloof, Sy krag, om u in staat te stel om u eie swakhede te oorwin, asook om die versoekings van Satan en hierdie wêreld te oorwin.

Die liefde wat u deur God se Gees ontvang, is nie maar net menslike liefde nie. Dit is die opregte liefde van God, “...omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5).

Nou hoe werk hierdie liefde aktief in u lewe? Laat God se woord die regte antwoord gee! “Want DIT is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Dit is deur God se liefde wat deur die Heilige Gees in ons geplaas is, dat ons in staat gestel word om Sy gebooie te onderhou!

U kan die volmaakte voorbeeld van Jesus Christus navolg, nie deur u eie krag nie, maar deur die geestelike krag van God – wat God se Heilige Gees aan u ver­leen. U kan u onderwerp aan God se wil sodat Jesus dieselfde soort lewe in u lei as wat Hy meer as 2,000 jaar gelede gelei het – deur dieselfde wette van God te onderhou – op dieselfde Heilige Dae wat God ingestel het aanbid, en u weerhou van deelname aan hierdie wêreld se gemeenskap, politiek en oorloë. Deur gereelde Bybelstudie, opregte gebed, deur nou en dan te vas, deur bestendige geestelike oorwinning en groei – kan u uself onderwerp aan God se wil sodat God u letterlik kan vorm na Sy geestesbeeld, sodat u in die opstanding wedergebore kan word as Sy GEESTELIK GEBORE KIND – wanneer u dan ook Sy ware natuur sal hê!

Dít is, inderdaad, die werklike DOEL van u be­staan!

Die geestelike KRAG wat u nodig het

Om God se gees­te­like wet te onderhou en ons eie sondige weë te oorwin, soos ons gesien het, benodig ons die liefde wat slegs God aan ons kan gee. Dit belowe Hy deur Sy Gees. Verder, soos ons pas in 1 Joh. 5:3 geleer het, werk God se liefde deur die onderhouding van Sy gebooie.

Johannes – die apostel vir wie Jesus persoonlik baie lief was – wat aan die einde van die era van die Apostels skryf, sê vir ons dat dit God se liefde is wat ons lei om “Sy gebooie te onderhou”. Ten spyte van die moderne slim teologiese argumente tot die teendeel, sê Johannes duidelik dat God se gebooie nie “moeilik” is nie.

’n Ware Christen sal dan God se liefde soos “lewende water” deur sy “binneste [laat] vloei” (Joh. 7:38-39). Soos wat hy die Bybel deeglik bestudeer en bepeins en soos hy ywerig elke dag op sy knieë tot God bid vir die geeste­like krag, vir die geloof, vir die leiding en vir die liefde wat hy nodig het, groei die ware Christen geestelik.

Dit is duidelik dat miljoene belydende Christene nooit verander nie! Hulle mag “groot geword het” in ’n besondere kerk, of hulle mag Christus “aange­neem het” by ’n evangelisasie byeenkoms. Maar in die meeste gevalle is die Christus wat hulle aange­neem het NIE die Christus van die Bybel nie! Die “evangelie” wat hulle geleer het is NIE die evangelie van die Bybel nie! Te dikwels is dit net ’n boodskap oor die PERSOON van Jesus Christus – hoe Hy vir ons sondes gesterf het en dat al wat ons nodig het om te doen is om net te “glo”.

Gewoonlik word hierdie onskuldige slagoffers van Satan se massiewe misleiding NIE vertel dat hulle die Tien Gebooie moet nakom nie! Hulle word NIE vertel dat Jesus Christus dieselfde soort lewe in hulle moet lewe as wat Hy as mens 2,000 jaar gelede gelewe het nie. Hulle word NIE die wonderlike GOEIE NUUS vertel van die Wêreld van Môre nie – dat alle ware heiliges hul voorberei om as konings en priesters saam met Christus die wêreld te regeer nie. (1 Kor. 6:2-3; Op. 2:26; 3:21; 5:9-10). Die apostel Paulus was geïnspireer om ons te waarsku teen hierdie vals Christelikheid wat reeds in sy tyd begin het: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:4).

Onwetend moes meeste van ons vir lief neem met die soetsappige “evangelie” soos hierbo beskryf! Die ware Evangelie vertel Christene egter om te groei en te verander – om God se eie karakter te ontwikkel. (vgl. 1 Pet. 1:15-16). Die ware Evangelie – die regte “GOEIE NUUS” – vertel ons dat ons konings en priesters in die vinnig-naderende Koninkryk van God gaan wees (Luk. 19:11-19; Op. 20:6). Paulus daag die Korintiërs: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Kor. 6:2-3).

In hierdie lewe moet ons dus verstandig gebruik maak van die natuurlike bekwaamhede wat God ons gegee het, om ons voor te berei vir die DOEL om Jesus Christus by te staan om ware vrede en vreugde na hierdie aarde te bring, deur ’n regering wat gebaseer is op God se geestelike WET – die Tien Gebooie. Soos die hele wêreld uiteindelik sal ervaar, moet ons nou God se Wet in ons harte en verstande geskryf kry: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jer. 31:33).

Soos ons met aktiewe oorgawe God toelaat om – deur Sy Heilige Gees – Sy eie karakter in ons te bou, moet ons werklik beter, vriendeliker, meer liefdevolle bure word. Ons moet beter, wyser, meer toegewyde werkers of professionele mense word asook meer nadenkende, liefdevolle en geduldige vaders en moeders, mans en vrouens. Ons sal ook meer toege­wyde slawe van Christus moet word in die groot Werk van Sy ware Kerk – deur die waarheid aan alle nasies te verkondig.

Soos Paulus skryf, “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20). Dit is wat ware Christelikheid werklik behels! Nie deur net in Christus te glo nie, maar om die Lewende Jesus Christus letterlik binne in ons te laat LEEF deur die krag van die Heilige Gees! Dit is wat ons die geestelike krag en liefde gee om volgens God se wet te leef. Dit is NIE ons krag nie. Dit is Christus se krag – Sy KRAG en Sy geestelike LIEFDE wat deur die Heilige Gees in ons geplaas word! Christus LEEF binne die ware Christen. Dit is die sleutel!

Stukkie vir stukkie en stap vir stap moet elkeen van ons daarvoor sorg dat ons “toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Deur God se hulp en Sy Gees wat in ons is, moet ons onsself daagliks onderwerp aan God se wil sodat Jesus Christus Sy lewe in ons kan lei.


Is daar hoop vir my?

Baie mense is verkeerdelik oortuig dat God nooit hulle sondes kan vergewe nie omdat die omvang daarvan so groot is. Tog het die profeet Miga, wat as ’n sondaar ernstig vergifnis nodig gehad het, as volg geskrywe:

“Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die Here ’n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oor­treding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?” (Miga 6:6-7).

Die antwoord is amper te goed om waar te wees:

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).

Jesus Christus, die Here God van Israel, het in die wêreld ingekom om die mensdom te red – nie om te veroordeel nie, maar om sonde te verdoem (Joh. 1:1, 14; 3:17; Rom. 8:2-3). Ons plig is om berou te hê, om Jesus as ons Saligmaker aan te neem, om met ons hele wese na God en Sy volmaakte wet te draai – en om gedoop te word ter vergifnis van ons sondes (Hand. 2:38). God sal elke persoon se sondes van die verlede geheel en al vergewe en vergeet wie hierdie handelinge ernstig opneem (1 Joh. 1:8-9). Daar is geen perke aan God se genade en goedheid aan diegene wat Hom heelhartig soek nie (Jer. 29:12-13).

God se Woord sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Omdat Jesus Christus elkeen van ons gekoop het met Sy bloed, moet ware Christene hulle persoonlike verant­woordelik­heid besef om elke dag God se wil te soek in alles wat hulle dink, doen en sê.

Ons sal wel soms struikel en tekortskiet in ons pogings om Christus in ons te laat woon. Ons moet nie hierdeur ontmoedig word nie. Dit gebeur met elkeen. Johannes, die “apostel van liefde”, skryf só aan die ware Christene van sy dag, oor hierdie probleem: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:8-9).

Dus, as ons ná ons bekering ’n fout begaan en ou foute herhaal (of nuwes begaan!) en as ons waarlik berou het en hierdie sonde tot God bely, sal Hy ons vergewe. Johannes verklaar verder dat God ons sal “reinig van ALLE ongeregtighede”.

Maar, u het tyd nodig om te kan oorwin. Dit gebeur nie sommer meteens nie. Dit is waarom ons nooit mis­moedig mag word en opgee nie.

Die vrugte van ’n ware Christen

Jesus sê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Matt. 7:20). Die “vrugte” of resultate van die werking van God se Heilige Gees in ons lewens sal toon of ons waarlik Christelik is of nie. Toe Jesus gevra is wat die belang­rikste ding is wat ons moet doen, antwoord Hy: “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:37-39).

Vir die ware Christen word God die middelpunt van alles. Die ware Christen is GOD-gesentreerd, (die spil waarom alles draai). Hy sal God wil behaag in al sy gedagtes en handelinge. Hy sal gedurigdeur onthou dat God sy Vader is, en dat Jesus sy Saligmaker en Hoëpriester is.

Hy sal dus letterlik deur God “gevoed” word deur gedurig die geïnspireerde woord van God, die Bybel, te bestudeer en in te drink (Joh. 6:56-57). Hy sal die gewoonte aanleer om God te soek in ernstige gebed soos wat Jesus gedoen het (Mark. 1:35). Deur alles sal hy leer om met “God te wandel” – om sy gedagtes en handelinge meer in te stel op God en Christus, elke dag van sy Christelike lewe.

’n Ware Christen sal ook deur God se Gees gelei word om “sy naaste lief te hê soos homself”. Hy sal, met God se hulp en leiding, daarna streef om minsaam en liefdevol te wees en te gee. Die ware Christen sal poog om Jesus se instruksie te volg: “Dit is saliger om te GEE as om te ontvang” (Hand. 20:35).

’n Opregte volgeling van Jesus sal dus daarna streef om ’n “gewer” te wees – om sy medemens te help, te dien, te onderskraag en te bemoedig. Hy sal met sy hele hart help om die kosbare Waarheid aan ander oor te dra – soos Daniël skryf: “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:3).

In sy eie lewe en persoonlikheid sal die Christen meer en meer geestelike “vrugte” toon, wat die apostel Paulus só beskryf: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelik­heid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbe­heersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Gal. 5:22-23).

Deur die Gees van God wat in hom werk, sal die Christen liefde – ’n opregte, uitgaande besorgdheid vir alle mense – teenoor almal betoon, sowel as warmte en toegeneentheid vir almal in die nabyheid. Soos ons gesien het, word God se liefde bekend gemaak deur ons onderhouding van Sy Gebooie (1 Joh. 5:3).

Die innerlike vreugde en vrede wat ’n ware Christen beleef, is van onskatbare waarde. Alle Christene moet groei in die gees van vriendelikheid, geduld, goedheid en sagmoedigheid wat in die bogenoemde skriftuur beskryf word.

’n Ander lewensbelangrike vrug is geloof – die geestelike krag om u vertroue in God te plaas en om verbonde te wees aan daardie geloof in elke faset van die lewe.

Die finale vrug van die Gees is selfbeheersing – die geestelike krag om u sondes en begeertes te oorwin en om God te gehoorsaam. Weereens, as u u hart, siel en wil opreg aan God se wil onderwerp, Jesus Christus aanvaar en in Sy Naam gedoop word, is daar God se belofte van die KRAG van die Heilige Gees om u hierdie soort geestelike krag en selfbeheersing te gee.

Die apostel Paulus skryf aan Timotheus: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Deur God se Gees gee Hy ons die krag om Sy gebooie te gehoorsaam. Ons gehoorsaam­heid wys dat ons daardie Gees het. Soos Johannes skryf, “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het” (1 Joh. 3:24).

Johannes sê ook, “EN hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:3-6). Soos ons weet, het Christus Sy Vader se gebooie ONDERHOU. (Joh. 15:10).

Ons moet egter nie eensklaps “volmaaktheid” verwag nie! Ons het reeds gesien dat ons moet “GROEI in genade en in kennis”. Die ware Christen se lewe is ’n lewe van oorwinning en groei om meer soos Jesus Christus te word – selfs in ons diepste gedagtes en begeertes.

Die wonderlike toekoms wat op die ware Christen wag, is baie meer werd as ons alledaagse ver­soekings, beproewinge en “groeipyne” (Rom. 8:18).

Hou u oë op die EINDDOEL

As God u tot ware insig roep en u die feite in hierdie boekie begryp, is u ongetwyfeld geroep om ’n volledige kind van God te word. Die betekenis en die uiteindelike doel van u roeping is VERSTOMMEND.

Soos wat u daagliks u gedagtes, tyd, energie en u hele lewe onderwerp om Jesus Christus toe te laat om Sy lewe in u te lei, sal u meer en meer die karakter van God ontwikkel. Maand na maand en jaar na jaar sal u leer om soos God self te dink, op te tree en te lewe.

Uiteindelik, met Jesus se terugkeer na hierdie aarde as Koning van konings, sal u óf opgewek word uit die graf, óf van vlees na gees verander word. Gebore uit die gees as ’n kind van God sal u dan by Jesus Christus aansluit om te HEERS oor die nasies van hierdie wêreld (Op. 2:26), en om uiteindelik ware vrede en geluk te help bewerkstellig op hierdie aarde!

Uit eie reg sal u verheerlik word as ’n regerende lid van die Koninkryk of regering van God, soos die apostel Johannes skryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh. 3:2).

In die opstanding sal die ware heiliges geheel en al soos Jesus wees. Hulle sal verstommende geleenthede en verantwoordelikhede gegee word om oor die stede en nasies op hierdie aarde te help regeer. Hulle sal verheerlikte geestelike liggame hê om hulle in staat te stel om daardie werk te doen, want hulle sal nooit moeg word nie, nooit siek word nie, NOOIT STERF NIE!

Hierdie opgewekte heiliges van God – saamgestel uit gees, gevul met dryfkrag, energie en VREUGDE – sal vir ewig lewe in die einste familie van God.

Só skryf Johannes: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Indien u graag meer wil weet van die glorie en mag wat voorlê vir ware Christene, bel ons of skryf aan ons om die boekie U uiteindelike lotsbestem­ming aan te vra wat hierdie onderwerp volledig bespreek. Dit is waarlik ’n opwindende boekie wat u gratis sal ontvang. As u graag persoonlik met iemand wil praat oor die doop of soortgelyke sake, skakel of skryf aan ons en vra vir ’n besoek.

Almal van ons met ware insig het goeie rede om ons­self aan God – wat ons geskape het – te onderwerp, om Sy Seun as ons Saligmaker aan te neem, om ons lewens oor te gee om volgens elke woord van God te lewe, om Sy gebooie te onderhou, om Hom toe te laat om Sy karakter in ons te bou en onsself sodoende voor te berei vir die Wêreld van Môre – die toekom­stige Koninkryk van ons God.