Wanneer baie families in die Verenigde State voorberei om bymekaar te kom vir Dankseggingsdag (Thanksgiving Day) behoort almal van ons die vraag te vra: Is ons ’n dankbare nasie?

Is u nasie dankbaar vir die seëninge wat God voorsien het? Besef hulle daardie seëninge kom van God – net soos ’n nasionale doel? Belangriker nog, besef ú hierdie dinge? Die Woord van God maak dit duidelik dat dit nodig is om dankbaar te wees!

In die VSA kom miljoene mense met hulle gesinne en vriende op Dankseggingsdag (Thanksgiving Day) bymekaar om goeie kos, samesyn en die seëninge wat dit bied om te leef in ’n vooruitstrewende nasie, te geniet. Amerikaners geniet die seëninge van vryheid en die beskikbaarheid van geleenthede. Dank hulle God egter vir hulle seëninge? Verstaan hulle hoekom hulle nasie so geseënd is? Verstaan veral diegene wat in die VSA bly en ander nasies van Britse afkoms, wáárom hulle seëninge ontvang het wat ongeëwenaard is in die geskiedenis van die mensdom?

Of dit nou op die vierde Donderdag van November, soos in die VSA gevier word, op die tweede Maandag van Oktober soos in Kanada óf op een van die vele ander dae wat deur verskillende lande van die wêreld uitgesonder word, is ’n nasionale dag van danksegging ’n tyd wanneer mense hulle seëninge behoort te tel. Die burgers van sommige van hierdie nasies het ongekende seëninge ontvang. In die 20ste eeu het die VSA en Britse Gemenebes die rykste en magtigste nasie en groep nasies in die wêreld geword. Daardie nasionale mag en aansien het egter baie afgeneem. Die VSA was eens ’n ekonomiese kragreus en nasies regoor die wêreld het sy uitvoere gretig aangekoop en sy geld geleen. Vandag is Amerika egter die wêreld se grootste skuldenaar, met ’n staatskuld van meer as $21 triljoen wat steeds toeneem – meer as $65,000 vir elke Amerikaanse man, vrou en kind.

Hoe het die VSA en ander Engelssprekende nasies soveel seëninge verkry? Hou die ontwikkeling van die Noord-Amerikaanse vasteland in gedagte. Daar was in 1607 die baanbreker nedersettings deur die Britte in Jamestown, Virginia; die Nederlanders, het wat nou bekend staan as Albany, N.Y., in ongeveer 1614 gestig; en die pelgrims het in 1620 in Plymouth, Massachusetts aangekom. Ná ’n strawwe en rampspoedige winter het hulle in 1621 God gedank vir hulle oes, wat historici bestempel as die eerste Dankseggingsdag!

In die loop van slegs 70 jaar – van 1783 tot 1853 – het die jong nasie genoeg grond verkry om sy kontinentale gebied uit te brei “van see tot glansende see”. Die grootste landuitbreiding het in 1803 onder president Thomas Jefferson plaasgevind nadat Frankryk die gebied van Louisiana aan die VSA verkoop het vir slegs $15 miljoen – net vyf sent per akker! Die Franse keiser Napoleon het na bewering gesê: “Die verkryging van hierdie grondgebied bevestig vir ewig die mag van die Verenigde State”.

Die VSA het deur die jare op ekonomiese en militêre gebied ontwikkel. Tydens sy toespraak in die Laerhuis, na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, het die Britse Premier, Winston Churchill, kommentaar gelewer op die status van die VSA: “Ek moet my na die Verenigde State wend, met wie ons voorspoed en belange inmekaar verweef is ... Die Amerikaners ... het nou die grootste staat en moondheid in die wêreld geword, hulle praat ons eie taal, koester ons gemene reg en volg ... dieselfde idees” (28 Oktober 1947).

Die ware Bron van Amerika se seëninge!

Is daar ’n Bybelse en historiese rede vir hierdie mag? Wat is werklik die bron van hierdie nasionale seëninge? Die antwoord word deur ons nasionale doel geopenbaar! U mag verbaas wees om te hoor dat die antwoord met die geskiedenis van die patriarg Abraham begin. God het ’n verbond met Abraham gesluit en dit is as gevolg van Abraham se geloof dat ons geseënd is.

God het Abraham getoets deur hom opdrag te gee om sy seun Isak te offer. Abraham het in geloof gehoorsaam en God het Isak se lewe gespaar! Wat het God gevolglik vir Abraham gesê? “Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Génesis 22:16-18).

Let daarop dat Abraham se afstammelinge die “poort van sy vyande” sou beheer. Deur die loop van die 20ste eeu het Amerika en Brittanje die meeste van die wêreld se seepoorte beheer. As gevolg van ons nasionale sondes het God egter begin om hierdie beheer weg te neem.

Wat het daardie ou verbond vandag met ons te doen? God het Sy verbond met Abraham se seun, Isak en later met Isak se seun, Jakob, wie se naam na Israel verander is, hernu. Israel het twaalf seuns gehad. Twee van die twaalf was Juda en Josef. Josef het twee seuns gehad, Efraim en Manasse.

Die Skrif vertel ons dat Jakob hierdie seën aan sy kleinseuns Efraim en Manasse oorgedra het: “... die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het – mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle [Efraim en Manasse] my naam [Israel] genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Génesis 48:16).

Hierdie seëninge word die eersgeboortereg-beloftes genoem. Hierdie profetiese beloftes, wat rykdom, oorvloed, militêre mag en internasionale oorheersing insluit, sou in die nageslag van Josef vervul word. Dit mag vir baie van u verrassend wees, maar die goddelike seëninge wat aan Manasse en Efraim gegee is, is vervul in die VSA en nasies van Britse afkoms. Lesers wat hierdie tydskrif reeds lank ontvang, is reeds met hierdie wonderlike Bybelse waarheid vertroud. Indien u nog nie hierdie waarheid aan uself bewys het nie, skryf asseblief aan ons om ’n gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? te ontvang of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

’n Land van natuurskoon en oorvloed

Hou Amerika se seëninge met hierdie belofte aan antieke Israel in gedagte: “Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning; ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap” (Deuteronómium 8:7-9).

Amerika se nasionale erfenis sluit in natuurskoon, vrugbare landbougrond en ryk mineraal-neerslae vir industriële ontwikkeling. Het die burgers van die Verenigde State egter erkenning en eer gegee aan die bron van daardie seëninge? Sal ons Westerse nasies nog baie langer voortduur? Dink aan God se waarskuwing: “... en jy sal eet en versadig word en die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het. Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie” (Deuteronómium 8:10-11).

Het ons op daardie waarskuwing, individueel en nasionaal, ag geslaan? Soos wat president Abraham Lincoln erken het, bring nasionale sondes nasionale strawwe mee. Met die afkondiging van ’n Nasionale Dag van Verootmoediging op 30 April 1863 het Lincoln gesê: “Dit is die plig van nasies sowel as van individue om hulle afhanklikheid aan die oorheersende mag van God toe te skryf ... en om die verhewe waarheid te erken, soos aangekondig in die Heilige Skrifte en bewys deur die hele geskiedenis, dat net daardie nasies geseën word wie se God die Here is”.

Lincoln het erken dat God die ware bron van nasionale en individuele seëninge is. Die nasionale doel van die Verenigde State moet die erkenning van sy Skepper en Weldoener insluit! Erken u nasie die soewereiniteit van God? Of is ons so wêrelds en ondankbaar dat hulle hul rug op God gedraai het? Dank u persoonlik ons Almagtige God vir al die voordele wat ons so dikwels as vanselfsprekend aanvaar? Slaan ag op wat die apostel Jakobus geskryf het: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie” (Jakobus 1:17). Alle waarlik goeie dinge wat u ookal in die lewe geniet, kom van God, die gewer van elke goeie en volmaakte gawe. Abraham Lincoln het die Amerikaanse volk daaraan herinner om daardie feit as ’n nasie te erken!

Die noodsaaklikheid van ’n nasionale doel

Wat gebeur wanneer ’n land sonder ’n nasionale doel is? Die destydse Amerikaanse senator, John McCain, het gereeld oor nasionale doel gepraat. Terwyl hy sy nasionale konvensie in 2000 toegespreek het, het hy gewaarsku: “Tensy ons die soewereiniteit van die volk oor die regering herstel, ons trots in die staatsdiens hernu, ons openbare instellings hervorm om die uitdagings van elke nuwe dag die hoof te bied en ons nasionale doel laat herlewe, sal Amerika se beste dae agter die rug wees”.

Sewe-en-vyftig jaar gelede het Senator James Fulbright opgemerk dat Amerika sy koers kwyt is. Hy het gewaarsku: “Groter motors, groter parkeerterreine, groter korporatiewe strukture, groter plase, groter apteke, groter supermarkte, groter fliekskerms. Die tasbare en funksionele brei uit, terwyl die ontasbare en dit wat mooi is, afneem. Die nasionale doel word toegelaat om te kwyn ... Nasionale dialoog raak geleidelik verlore in waardelose misleidende self-tevredenheid en niksseggende opmerkings. Nasionale behoeftes en belange word stadig verswelg deur ’n nasionale beheptheid met die onbenullige”.

Alle Amerikaners behoort hulleself af te vra: Het ons ons nasionale doel versterk of herstel of het ons toegelaat dat dit wegkwyn? Het ons ’n doel groter as onsself? Indien wel, verstaan ons wat daardie doel is? Is dit hulle nasionale doel om die wêreld se magtigste en voorspoedigste nasie te wees? Ons weet reeds dat die VSA die nasie in die wêreld is met die grootste skuldlas. Is dit ons nasionale doel om vryheid en demokrasie uit te brei na elke ander nasie op aarde? Dit is nodig om te verstaan dat alle nasies ware vryheid kan beleef wanneer hulle die Waarheid van die Bybel gehoorsaam. Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Jesus het na die Skepper van alle nasies verwys toe Hy gebid het: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Het ons ons lig laat skyn deur die Waarheid uit te leef? Dra ons ons deel by om die Waarheid aan die wêreld bekend te maak?

Word ons nasies se tyd in beslag geneem deur onbenullighede of erken ons die Bron van ons doel en van ons vele seëninge? Wanneer dié van ons en diegene in die VSA Danksegging vier, behoort ons te vra: “Aan wie betuig ons dank?” Aan die Almagtige God en Jesus Christus? Of aanbid ons die dollar – of die pond, die euro, die peso, die jen of die rand? Amerikaanse muntstukke en geldeenhede verklaar: “In God We Trust”. Indien hierdie nasie nalaat om daardie leuse gestand te doen, sal dit nie langer van krag wees nie. U en ek moet die leuse en Bybelse voorskrif in ons eie lewens uitleef!

Westerse nasies is bekend vir hulle materialisme en fokus op geld terwyl verbruikersbesteding ons ekonomieë vorentoe dryf. Die apostel Paulus het voorspel dat hierdie karaktertrekke en ander tekens wat ons sal herken, opvallend sal wees aan die einde van hierdie huidige tydperk: “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:2-5).

Enige godvresende beskawing behoort opregte lewenswaardes te bevorder – nie vals waardes van materialisme, hoogmoedigheid en selftevredenheid nie. Hierdie kulturele gebreke, asook ondankbaarheid, sal enige samelewing uiteindelik vernietig wat versuim om dit te oorwin.

God waarsku ons om nie op ons voorspoed en besittings te vertrou nie. In plaas daarvan om te dink dat ons welvaart deur ons eie pogings verkry is, behoort ons te verstaan dat dit God is wat ons die vermoë gee om rykdom te verwerf (Deuteronómium 8:17-18). Hy waarsku ons: “Maar as jy nogtans die Here jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie” (verse 19-20).

Dit is ’n ontnugterende waarskuwing aangaande die toekoms van enige land wat deur God geseën is. Tydens Danksegging word God gedank vir die natuurskoon en oorvloed waarmee Hy ons nasies geseën het. Terselfdertyd behoort ons bekommerd te wees omdat ons nasionale karakter al hoe meer met onsedelikheid besmet raak. Gaan Westerse nasies aanhou om nie die Tien Gebooie te gehoorsaam nie en om die Bybelse waarhede te verwerp wat eenmaal tot ons voorspoed gelei het en wat tot ware lewe, vryheid en geluk lei?

Is ons regtig dankbaar?

Die meeste van diegene wat hierdie jaar ’n Dankseggingsdag vier, sal van die mees materieel geseënde mense op aarde wees. Selfs die armste Amerikaners en Kanadese geniet ’n sekere mate van oorvloed, gemak en gerief wat menige bevolkings van die wêreld hulleself nie eens kan indink nie. Nogtans vind ons steeds baie om oor te kla.

Wat is die teenmiddel vir so ’n gekla? Die teenmiddel daarvan is danksegging! Is u dankbaar dat u in ’n betreklik welvarende nasie woon? Dat u die vryheid het om ooreenkomstig u eie oortuiging te aanbid? Dat u baie geleenthede het om in opleiding en menslike potensiaal te ontwikkel? Dat u familie en vriende het en dalk ’n goeie werk? Ons behoort selfs dankbaar te wees vir die sonskyn en vars lug om ons en vir die kos en drinkgoed wat ons kan geniet.

Vir Christene is die grootste voordele egter geestelik! Ons dank God dat Hy Sy Seun as offer gegee het om vir ons sondes te betaal. Ons is dankbaar vir God se vergifnis en genade. Onthou, Jesus het ons geleer om te bid: “... vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Matthéüs 6:12). Ons is dankbaar vir die gawe van die Heilige Gees ná bekering en doop (Handelinge 2:38). Ons is dankbaar, nie net vir die offer van Christus nie, maar dat Hy lewe as ons Hoëpriester, Verlosser en Tussenganger! “... omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). Ons is dankbaar dat Jesus Christus lewendig is! Let op hierdie wonderlike waarheid: “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is” (Romeine 5:10). Hy is ons lewende Verlosser en groot Hoëpriester, soos die boek Hebreërs beklemtoon! Hy sal kom as die Koning van die konings en Here van die here!

Vandag se Christene is ook dankbaar vir die belofte van ’n toekoms. Ons is dankbaar vir die ware Evangelie – die boodskap wat Jesus verkondig het oor die toekomstige Koninkryk van God op aarde, wanneer alle nasies die weg van vrede sal leer. Ons weet dat die wêreld nie sal eindig in ’n kernuitwissing of deur ’n biologiese pandemie vernietig sal word nie – omdat Jesus Christus belowe het dat Hy ter wille van die uitverkorenes nét betyds sal terugkeer om te verhoed dat ons onsself vernietig (Matthéüs 24:22)!

Die wêreld het die Koninkryk van God op aarde nodig. Besef u hoe geseënd u is in vergelyking met baie lande regoor die wêreld? Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram beraam dat daar tans meer as 800 miljoen mense is wat op minder as VS $1,25 per dag leef. Kan u u voorstel hoe dit is om in sulke armoede te leef? Hoe dankbaar is u? Soos Jesus gesê het: “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word” (Lukas 12:48)! Ons moet getroue rentmeesters van ons seëninge wees en ons moet gewillig wees om op nasionale en individuele vlak aan ander te gee. Dit is veral nodig dat ons die goeie nuus van die Evangelie aan die res van die wêreld oordra! Ons nasionale doel behoort te wees om God se lewenswyse uit te leef en om daardie lewenswyse met die res van die wêreld te deel! God se weë behoort ons land se weë te wees. Let op hierdie woorde van Moses: “Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die Here my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk” (Deuteronómium 4:5-6).

Ja, God sal daardie nasies seën wat erken dat dit hulle nasionale doel is om in goddelike karakter toe te neem – as voorbeelde van Bybelse waardes wat die lig laat skyn in ’n donker wêreld, om volgens God se Tien Gebooie en in Sy insettinge en verordeninge te leef asook om die goeie nuus te verkondig van God se toekomstige Koninkryk, wat deur die Koning van die konings, Jesus Christus regeer sal word!

Sal ons ons nasionale doel as dankbare volk vervul? Wanneer Amerika Danksegging vier, behoort ons te onthou dat enige ondankbare volk wat weier om homself aan sy Skepper te onderwerp, die saad van sy eie vernietiging saai. God is egter geduldig! Hy gee aan ons ’n bietjie meer tyd om ons lewens individueel en nasionaal te verander. God “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

Ja, daar is goeie nuus vir die toekoms. Die meeste mense wat Dankseggingsdag vier, weet nie dat die Bybel van ’n toekomstige tyd praat wanneer die hele wêreld ’n soort Bybelse danksegging sal vier wat die Huttefees genoem word nie. Alle nasies sal na Jerusalem optrek om die Huttefees te vier onder die Koning van die konings en Here van die here, Jesus Christus! Die Skrif beskryf ’n toekomstige wêreld van vrede onder die heerskappy van die Messias – ’n wêreld wat Hy sal begin vestig wanneer Hy terugkeer na Jerusalem, die toekomstige wêreldhoofstad. “En in dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:4). Wie sal op die aarde regeer ná Jesus se Wederkoms? “En die Here sal koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (vers 9).

Ja, die Messias, Jesus Christus, sal al die nasies onder Sy heerskappy verenig. Hy sal verteenwoordigers van al die nasies van die wêreld na Jerusalem bring om tydens die jaarlikse Huttefees te aanbid. Daar kom ’n tyd wanneer alle nasies die Koning van die konings sal aanbid met danksegging (vers 16). Tot dán, het God Sy Kerk opdrag gegee om met alle nasies ’n visie van die toekoms te deel en ’n beroep op alle nasies en volke te doen om hulle te bekeer (Handelinge 17:30).

Mag ons almal met danksegging gevul word – dankbaar vir God se wil en vir die liefde van God en Jesus Christus. Mag ons daarna streef om die Bron van al ons persoonlike en nasionale seëninge lief te hê, te gehoorsaam en te dien. Soos die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 15:57 skryf: “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”