Groot veranderings is besig om in Europa plaas te vind. Nasionale groeperings wat vir dekades sonder verandering behoue gebly het, is besig om te verskuif. Kragtige magte is in die proses om die geo-politiese landskap op hierdie historiese vasteland te herrangskik, maar die meeste mense is te besig om dit agter te kom. Nog minder mense verstaan waarom dit gebeur en waartoe hierdie dramatiese gebeurtenis aanleiding sal gee. Wat maak dit tog op stuk van sake saak wat in Europa gebeur?

Henry Kissinger, die voormalige Amerikaanse minister van binnelandse sake, merk op: “Die verskyning van 'n verenigde Europa is een van die mees rewolusionêre gebeurlikhede van ons tyd” (Does America Need a Foreign Policy? bl. 47). Die eertydse Britse Eerste Minister, Margaret Thatcher, het opgemerk dat “die neiging na 'n burokratiese Europese superstaat ... reuse implikasies vir die hele wêreld inhou. Tog is ek telkemale op my reistogte buite Europa getref deur hoe min mense enige begrip daarvan het” (Statecraft, bl. 324). Richard Leone, president van die 'Century Foundation', skryf “ons beleef 'n ongewone era in terme van die verhouding wat die VSA met die nuwe Europa het” en dat die proses van integrasie van Europese nasies van “besondere belang is” (Rethinking Europe's Future, Calleo, bl. xii-xiii).

Waarom is die huidige poging om Europa te verenig so betekenisvol? Waarom word die geskiedenis skielik versnel? Wat hou die toekoms in? Verbasend genoeg wil dit voorkom dat niemand weet waarom nie – nie eers die “gesaghebbendes” oor buitelandse verhoudings is nie! David Calleo, direkteur van Europese Studies by die Johns Hopkins Universiteit sê 'aangesien Europa met stampe en stote deur die vorige eeu gekom het, kan niemand met soveel sekerheid voorspel wat hul lot gaan wees nie. Daar is te veel onvoorspelbare elemente' (ibid., bl. 1).

Tog is Calleo se bewering nie waar nie! Daar is bronne wat wel verduidelik wat die belangrikheid van gebeure in Europa is, waarom dit gebeur en waartoe dit aanleiding sal gee! Hierdie bronne word deur die 'babbelende klasse' oftewel die hedendaagse media en geleerdes vergeet of geïgnoreer. Dr. Kissinger het openhartig opgemerk dat moderne joernaliste en politieke leiers geneig is om op “die krisis van die oomblik” te fokus, aangesien hulle die produk is van 'n opvoedingstelsel wat min klem op geskiedenis plaas” (Kissinger, bl. 30). Hy betreur die feit dat sedert die “studie van geskiedenis en filosofie [godsdiens], die vakgebiede wat die toepaslikste is om die kuns van staatsleierskap te vervolmaak, oral verwaarloos word”. Hedendaagse geslagte, aldus Kissinger, begryp nie hoe huidige gebeure in die verloop van geskiedenis inpas nie – mense sien of verstaan eenvoudig nie die geheelbeeld nie” (ibid., bl. 30, 286).

Bybelprofesie wat die toekoms openbaar, word geïgnoreer en Bybelse weergawes wat belangrike perspektiewe op wêreldgebeure werp, word afgemaak. Dit is egter uiters onwys om hierdie noodsaaklike Bybelse dimensie te ignoreer terwyl dramatiese gebeurtenisse ons hedendaagse wêreld verander. Die Bybelse weergawe van die Toring van Babel is 'n goeie voorbeeld.

Die Toring van Babel

Die Toring van Babel is nie net 'n denkbeeldige storie nie, ook is dit nie bloot fabelagtige beeldspraak nie. Dit is 'n sorgvuldige vertelling wat belangrike lesse vir die mensdom inhou. Die oprigting van die toring hou verband met 'n sentrale gebeurtenis wat die geskiedenis van die ganse mensdom beïnvloed het. Die stad en die Toring van Babel het deel gevorm van 'n koninkryk (die eerste keer dat die Skrif hierdie woord gebruik) wat deur Nimrod, 'n agterkleinkind van Noag, in Babilonië en Assirië gestig is. Dit stem ooreen met die hedendaagse Irak. Nimrod het die eerste ryk na die vloed gestig (Genesis 10:10). Die Bybel sê dat hy “begin [het] om 'n geweldenaar op die aarde te wees” en “hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here (verse 8-9). Op die keper beskou, klink dit onskuldig genoeg, tog beteken die naam Nimrod “'n held” of “om te rebelleer”. Die uitdrukking “geweldenaar” is afkomstig van die Hebreeuse woord gibbor wat “krygsman, sterkman of tiran” beteken. Die Chaldese omskrywing van 1 Kronieke 1:10 lees: “Kus was die vader van Nimrod, wie geseëvier het in boosheid, want hy het onskuldige bloed gestort, en teen Jehova gerebelleer”. (The Companion Bible, Bylaag 28). Sekulêre bronne dui aan dat Nimrod 'n groot, kragtige man was – 'n eersugtige krygsman wat mense gejag en 'n koninkryk opgebou het deur te plunder, te verower, te bedrieg en deur tirannie (sien The Antiquities of the Jews, Josephus, Boek 1, hoofstuk 4; ook die Jerusalem Targum). Nimrod se opstand het die stelsel van politieke en militêre wedywering en konflik laat ontketen wat sy merk op die verloop van menslike geskiedenis gelaat het.

Ten einde die integrasie van volke te bevorder en eenheid in sy koninkryk te koester, het Nimrod reuse bouprojekte aangepak – die oprigting van versterkte stede en reuse openbare geboue soos die Toring van Babel. Die eerste stede wat deur hoë mure omring is, word in hierdie streek aangetref. Die Bybelse verklaring, “Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” onthul dat menslike ydelheid Nimrod se beleid gemotiveer het (Genesis 11:4). Die bou van 'n indrukwekkende en magtige ommuurde stad met 'n hoë toring, het groter aansien aan die bouers verleen. Deur 'n keiserryk van baie stede te maak, het Nimrod op militêre, ekonomiese en politieke terreine die oorhand oor die omliggende streek gevoer. Beide die Bybel en sekulêre bronne dui daarop dat Nimrod 'n wêreldryk nagestreef het.

Die opkoms van Nimrod se keiserryk was 'n belangrike keerpunt in wêreldgeskiedenis. Nimrod het gesorg vir 'n patroon van opstandigheid teen God se instruksies en om 'n koninkryk te bou deur trots gemotiveerde verowering, onderwerping en magsoorheersing wat deur die eeue voortgeduur het. Dit is waarom God ingegryp het deur die tale by die Toring van Babel in verwarring te bring, met die gevolg dat die bouproses doodgeloop het! Die patroon wat Nimrod by Babel daargestel het, eindig egter nie hier nie. Babilon en Ninevé, as twee van die prominentste stede van die antieke wêreld, het Nimrod se idees wyd en syd versprei. In die Bybel word Babilon sinoniem met elke moontlike kwaaddenkende praktyk gestel. Babilon en Irak verskyn opvallend in profesieë wat die eindtyd raak, dus is dit baie belangrik dat ons hierdie belangrike Bybelse vertellings verstaan. Wat het dit egter met hedendaagse Europa te doen?

Hedendaagse Europa

Die argitekte van die Europese Unie erken die ooreenkoms tussen die Toring van Babel en hul pogings om 'n nuwe Europa “op te rig”. Die Europese Raad het 'n plakkaat van die Toring van Babel gebruik om die opbou van Europa 'n hupstoot te gee. Toergroepe wat deur die EU se parlementêre kantore in Brussel geneem word, luister na 'n bandopname wat die vele tale van afgevaardigdes vergelyk met 'n “moderne Toring van Babel”. Teenstanders verwys na die EU as die “Babelse Sneltrein”, gebaseer op die vergelyking van 'n wegholtrein wat op “Eurospraak” – hoogdrawende welsprekendheid en stemwerwingspolitiek – gebaseer is. Verbasend genoeg strek die betekenisvolle ooreenkomste baie dieper.

Die basiese gesindheid wat die bouers van die stad en die Toring van Babel gemotiveer het, was 'n begeerte vir mag en aansien. Daardie selfde motief is diepgewortel in die begeerte om 'n verenigde Europa op die been te bring. In die jare na die Eerste Wêreldoorlog, het Europa die posisie van wêreldleierskap aan die VSA en die Sowjet-Unie afgestaan. Intellektuele hoëlui van die vasteland het vereniging as die enigste weg gesien om Europa se agteruitgang om te keer. Die huidige poging tot Europese integrasie is om weer 'n leidende rol op die wêreldtoneel te herwin. Die Duitse minister van buitelandse sake, Joschka Fischer, het gesê: “Europa sal slegs haar verdiende rol in globale ekonomiese en politieke kompetisie inneem as ons moedig vorentoe beweeg”. Margaret Thatcher het opgemerk dat Europa se “ambisie om haarself sterk te vestig ongeëwenaard is, maar ... die poging om 'n rol op die wêreldtoneel te speel is 'n universele verleentheid” (Thatcher, bl. 342). Die planne om 'n Europese weermag op die been te bring, is sterk deur politiek gemotiveer – om Europa 'n gevoel van identiteit te gee – nie blote militêre oorwegings nie.

Net soos Nimrod groot bouprojekte georganiseer het om die mense van sy koninkryk te verenig, so behels die bou van Europa ook verskeie projekte wat tegelykertyd plaasvind: die instelling van 'n gemeenskaplike geldeenheid, 'n sentrale bank, gemeenskaplike wette, 'n kontinentale regstelsel en polisiemag, 'n Europese weermag, 'n gemeenskaplike buitelandse beleid en 'n grondwet. 'n Hoofdoelwit is die uitskakeling van individuele state deur die kombinering (oorgawe) van nasionale oppergesag aan supranasionale Europese instellings. Die stigters glo dat die enigste manier om vrede te waarborg en toekomstige oorloë in Europa te verhoed, die stigting van 'n Europese superstaat is. Europese tegnokrate beskou klein nasies as 'n outydse wyse van organisasie wat nie in ons hedendaagse globale wêreld inpas nie. Iemand wat nie hierdie onafwendbaarheid erken nie, sê hulle, is uit voeling met die realiteit en staan in die pad van vooruitgang.

Hoe geldig is hierdie hoë ideale? Is die vereniging van Europa die enigste hoop vir die toekoms? Steun die rekord van die geskiedenis hierdie ambisieuse onderneming? Sal die reuse eksperiment om 'n groter en verenigde Europa te bou, daarin slaag om vrede na 'n verdeelde vasteland te bring, of sal dit onverwags faal – soos die Toring van Babel?

'n Skadukant

Die stigters van die nuwe Europa wil die vereniging van die Romeinse Ryk herstel. Die koninkryk van Karel die Grote, en die  Middeleeuse “”Heilige Romeinse Ryk” word ook as voorbeelde van 'n verenigde vasteland voorgehou. Tog was hierdie koninkryke nie juis goeie voorbeelde van vrede, harmonie of eensgesindheid nie. Die “Christendom” wat deur die Romeinse Ryk aangeneem is, was vermeng met heidendom aangesien teenstrydige leerstellings beide kerk en ryk geskei het. Karel die Grote het sy “Christen”-koninkryk deur militêre oorwinnings uitgebrei en bekerings het dikwels aan die punt van die swaard plaasgevind. Gedurende die Middeleeuse “Christendom” was daar bitter wedywering tussen pouse en keisers wat in die hartjie van Europa teen mekaar oorlog gevoer het. Napoleon het ook probeer om Europa te verenig onder die kroon van die “Heilige Romeinse Keiser”. Sy doel was om die landkaart van Europa te verander, om 'n gemeenskaplike regstelsel daar te stel en om met die mag van die Franse leër vrede op die geteisterde vasteland te bewerkstellig. Minder as 'n eeu later het Hitler 'n soortgelyke weg gevolg, maar dié keer met behulp van die Duitse militêre mag.

Die les wat geskiedenis ons leer is dat al hierdie pogings nie daarin geslaag het om blywende eenheid en vrede op hierdie oorloggeteisterde vasteland te bring nie. Trouens, een rede waarom Europa 'n bloedbevlekte geskiedenis het, is die herhaalde stryd om 'n enkele koninkryk onder een leier en een geloof te stig. Dit is dan die ware vrug van die stelsel wat deur Nimrod by die Toring van Babel uit oorwinning, oorheersing en mag geïnisieer is. Hierdie geskiedenis strek oor 'n tydperk van meer as 4 000 jaar!

Miskien is die mees verbasende aspek van die huidige poging om 'n verenigde Europa te stig, die werklike nalatenskap van bepalings, planne en idees wat in die oprigting van die nuwe Europa aangewend word. Alhoewel geskiedkundiges erken dat die Nazi's en Fasciste die doel en glorie van 'n verenigde Europa bevorder het, geniet hierdie onderwerp deesdae min aandag. Tog maak toeganklike geskiedkundige dokumente die verstommende feit bekend dat soortgelyke planne, doelwitte en terminologie tans voorgestel word! Die “nuwe” Europa word gebou volgens bloudrukke wat in die veertigerjare in Duitsland opgetrek is. Soos een geleerde vra: “Is dit moontlik dat die edele konsep van 'n Verenigde Europa met idees besmet is wat in die dokumente [toesprake en skrywes van prominente Nazi's en Fasciste] wat hier versamel is, voorkom? Die antwoord moet JA wees!” (Documents on the History of European Integration, Lipgens, bl. 53). Hierdie geleerde poog om te rasionaliseer dat die ooglopende ooreenkoms “niks te doen het met enige intellektuele persoon nie, nog minder met morele affiniteit” (ibid.). Tog is dit skaars geloofwaardig aangesien die Duitse bloudrukke om Europa te verenig, geskep is deur 'n “geslag van Duitssprekende intellektuele ondersteuners van die Nazi-beweging” (The Rebirth of the West, Duignan & Gann, bl. 2).

Wanneer 'n mens dokumente uit die oorlog lees, wat planne vir 'n Nuwe Orde in Europa beskryf, kry jy 'n vreemde gevoel dat jy vandag se nuus lees. Selfs die terminologie is dieselfde! Mussolini het verklaar: “Europa mag weereens aan die voorpunt van 'n wêreldbeskawing staan indien sy 'n greintjie politieke eenheid kan ontwikkel” (The Tainted Source, Laughland, bl. 47). Hitler het gepraat van die behoefte om “weg te doen met die mengelmoes klein volke” in Europa en dat “slegs die Duitsers Europa werklik kan organiseer ... daarna is die weg na wêreldoorheersing byna 'n uitgemaakte saak” (Lipgens, bl. 10). Die Nazi's se plan was om Duitsland en Italië die sentrale punt van die vastelandse vereniging te maak, “die middelpunt van Europa waarom die res van die vasteland sou draai” (ibid., bl. 10). Vandag is daardie kern Frankryk en Duitsland en die as van die nuwe Europa loop tussen Parys en Berlyn. Europa is deur die Nazi visie as 'n “reuse bouperseel” gesien waarop 'n helder toekoms gebou word (ibid., bl. 56). Daar is vandag nog sprake van die bou en oprig van die struktuur van 'n nuwe Europa. Geleerdes wat ten gunste van 'n Nazi-Duitsland is, het 'n breedvoerige plan uitgedink om die kaart van Europa oor te teken en 'n Europese Gemeenskap met 'n eenvormige geldeenheid en 'n eenvormige landboukundige staatsbeleid te stig (ibid., bl. 123-162). Nazi propaganda roep 'n vreedsame Europa voor oë, waar konflik in Europa sou verdwyn. Dieselfde temas word vandag nog gehoor.

In 1940 het Joseph Goebbels juigend gesê: “Ons het die geleentheid om Europa te herorganiseer ... die grootste historiese toneelstuk in die geskiedenis word op hierdie tydstip afgespeel” (ibid., bl. 73-74). Hy het ook gewaarsku dat “geen enkele Europese nasie toegelaat mag word om in die pad te staan van die algemene proses van organisasie nie” (ibid., bl. 75). 'n Nazi amptenaar, wat frases gebruik wat herinner aan antieke Babilon (sien Genesis 11:3-4; Daniël 4:28-30), verkondig dat Berlyn “die magtigste en mooiste stad in die wêreld sal word ... die middelpunt van Europa ... 'n magneet” in die hartjie van Europa” (ibid., bl. 98). In 1990 beskryf Joschka Fischer “die unieke geleentheid om ons vasteland te verenig” en dat 'n Europese kern die swaartepunt sou wees en soos 'n magneet sou optree in die hartjie van Europa. Hy het gepraat van die stigting van 'n nuwe orde in Europa en gewaarsku dat nasies wat nie wou verenig nie “die ander nie kan verhoed om dit te doen nie”.

In 1941 het Hitler verklaar dat “die toekoms nie aan die verspotte, semi-beskaafde Amerikaners behoort nie, maar aan die pas ontstaande Europa” (Lipgens, bl. 89). Nazi leiers het gepraat van “Duitsland se sending” om die volke van Europa te verenig. In die vyftiger jare het Duitse Kanselier Konrad Adenauer gesê: “Duitsland het 'n goddelike sending om Wes-Europa te red”. Helmut Kohl voer aan dat die “toekoms aan die Duitsers behoort ... wanneer ons die huis van Europa bou” (The Principality and Power of Europe, Hilton, bl. 39). Nazi's en Fasciste gebruik anti-Amerikaanse en anti-Britse slagspreuke om hulle nuwe Europa te bevorder. Nazi leiers was berug daarvoor dat hulle nie hul ware doelstellings vir die oorheersing van Europa bekend gemaak het nie. Vandag is dit steeds so in Europa. Die Nazi's het telkemale leuens vertel oor hul voornemens. Verslaggewers wat ondersoek doen, het 'n soortgelyke patroon in die EU opgemerk; een boek oor die EU is getiteld The Castle of Lies (Booker & North, 1997).

Terwyl die huidige argitekte van Europa dalk nie waardering het vir die verbintenis tussen hulle idees en die Nazi's en Fasciste se planne tydens die oorlogsjare nie, toon stellings van opeenvolgende Europese leiers dat die Nazi-era se idees vandag steeds staan! Die stilte van geleerdes en hedendaagse voorstanders van Europese eenwording oor hierdie duidelike oorvleueling is merkwaardig – en onheilspellend. Die Bybel onthul dat die ware oorsprong van windmakerige gekonkel om ander deur middel van wapens of slim planne te oorheers, by Nimrod en die Toring van Babel ontstaan het. Met so 'n oorsprong behoort die toekoms nie 'n verrassing te wees nie.

Toekomstige probleme

Die eenwording van Europa is 'n ou droom met 'n kleurvolle, dog bevlekte verlede. Dit is ook 'n bedwelmende idee – een van profetiese belang. Talle Europeërs is vandag begeester deur hierdie aanloklike visie, selfs al bewys “geskiedenis duidelik die vrugteloosheid en gevaar daarvan om die Europese state tot 'n enkele sentrale mag saam te snoer” (Calleo, bl. 343). Tog is Europa se stigters blind wanneer dit kom by die lesse wat uit die geskiedenis geleer kan word, onbewus van profesie en gou om die waarskuwings van kritici te ignoreer. Dit voorspel niks goeds vir die toekoms nie.

Die Europese huis is 'n delikate struktuur wat op 'n wankelrige fondasie van sinsbedrog, veronderstellings en misverstande gebou is. Die boumeesters van Europa neem aan dat samesmelting, onderhandeling, eenstemmig-heid en uitsprake teen vyandiggesindheid genoeg is om oorlog op die vasteland te verhoed. Tog is “die ooglopend-ste algemene kenmerk” van dié voorstanders van vrede se veronderstellings hul bykans algehele versuim om die verloop van geskiedenis te verander” (The Question of Europe, Gowan, bl. 99). Die Bybel sê duidelik dat die mens nie die pad na vrede ken nie (Jesaja 59:8). Die gewilde naïewe veronderstelling is dat een demokrasie nie teen 'n ander demokrasie sal oorlog voer nie (Calleo, bl. 5, 357). Die Europese demokratiese state se poging om 'n eenparige beleid oor Irak in te neem, het ernstige verdeeldheid tot gevolg gehad. Hoewel integrasie beskou word as die weg na welvaart en volle werkverskaffing, het werkloosheid in Europa kommerwekkende vlakke bereik. Die “welvarendheid” waarvoor Europese welsynstate sorg, word bedreig deur minder jong werkers wat 'n verouderende bevolking moet onderhou.

Veronderstellings dat Europese eenwording onafwendbaar – selfs 'n vereiste deur ons wêreldekonomie – is, word skepties aanvaar deur diegene wat onthou dat Duitse staatkundige teoretici tydens die dertiger- en veertigerjare van die “wette van leefruimte” gepraat het en verklaar het dat “Europese eenwording 'n uitgemaakte ontwikkeling sou wees, ooreenkomstig die ongenaakbare wette van geskiedenis” (Lipgens, bl. 95, 111). Peter Rietbergen, die Nederlandse historikus, het opgemerk “dat indien daar enigiets uit die verlede te leer is, is dit dat idees wat as absoluut geldig voorgehou word, altyd gevaarlik is” (Europe: A Cultural History, xxiii).

Terwyl kontinentale beplanners 'n Verenigde State van Europa voorstel, sien ander weer 'n “gevaarlike lugspieëling” (Gowan, bl. 84). Die “astrante” Frans-Duitse poging om nouer bande te smee, word ook gesien as “die groot dobbelspel” en 'n “projek ... wat waarskynlik sal misluk” (ibid., bl. 123). Margaret Thatcher het die poging om Europa te verenig as 'n “klassieke utopiese projek” beskryf, “'n monument aan die ydelheid van die intellektuele persoon, 'n program wat onvermydelik tot mislukking bestem is... Ek voorspel ... dat so 'n onnodige en irrasionele projek in die toekoms bestempel sal word as die grootste dwaasheid van die moderne eeu” (Thatcher, bl. 359, 410). Selfs die pous het opgemerk dat pogings om Europa op 'n sekulêre fondasie te bou “binne 'n dekade sou ineenstort” (The Economist, 24 Augustus 2002, bl. 43). Die Bybel verklaar: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1).

Beide geskiedenis en die Bybel dui aan dat daar niks nuuts of onvermydelik is in die nuutste poging om die nasies van Europa te verenig nie. Terwyl geleerdes maan dat die “toekoms onvoorspelbaar is”, voorspel Bybelprofesie wat voorlê. Die Skrif beskryf die moderne Babilon wat deel sal vorm van die eindtydse militêr-ekonomiese stelsel met wêreldwye bande. Hierdie kragtige dog bros samesmelting (yster en klei, vgl. Daniël 2:40-43) sal op die wêreldtoneel verskyn net voor Jesus Christus se Wederkoms. Uiterlik sal hierdie stelsel gekenmerk word deur materiële rykdom en mag, maar innerlik sal dit goddeloos, omkoopbaar en uitbuitend wees. Dit sal saamgestel word uit tien leiers wat vir 'n kort tydperk van drie-en-'n-half jaar hulle mag aan 'n staatkundige leier sal oorgee. Tog, net soos Nimrod se Toring van Babel, sal hierdie hedendaagse Babiloniese stelsel 'n omwentelende einde ervaar (Openbaring 17-18). Hierdie laaste herlewing van mense se windmakerige planne sal deur God se direkte ingryping tot 'n einde gebring word, wanneer Jesus Christus terugkom om die Koninkryk van God tot stand te bring. Byna 2 500 jaar gelede het die profeet Daniël aan die Babiloniese koning Nebukadneser 'n droom verduidelik. Hy het aan hom bekend gemaak “in die tyd van hierdie [tien] konings sal die God van die hemel 'n koninkryk stig wat nooit sal verval nie”. Daniël het verder verklaar “die droom is waar en oor die uitleg is daar geen twyfel nie” (Daniël 2:44-45).

Die versnelling van geskiedkundige gebeurtenisse wat ons vandag gadeslaan, dui aan dat die eindtyd in die nabye toekoms sal wees. Besef u wat aan die kom is? Sal u gereed wees?