Daar is ’n leegheid wat skadeliker is as enige opgedroogde opgaardam.

Kan die samelewing ’n droogte van “lewende water” oorleef (Johannes 7:38)?

Sommige berigte gryp mens se verbeelding aan en wil nie los nie – veral wanneer dit by ’n desperate situasie kom wat massas mense raak. Ons sien baie sulke buitengewone kragte wat tans ontketen word, met enorme oorstromings regoor die Suide van die Verenigde State, wat op wydverspreide skade aan eiendom en lewensverlies uitloop, dieselfde tyd wanneer Kalifornië – Amerika se digbevolkste staat, wat net ’n paar honderd kilometer weg is – verdor as gevolg van langdurige droogte.

Opgaardamme se watervlakke is desperaat laag en die gewone bronne wat die watervoorraad aanvul – soos sneeu op die berge en lente-reëns – het nie in 2014 gerealiseer nie en het die ergste droogte in die geskiedenis van Kalifornië tot gevolg gehad. Streng verpligte waterbeperkings is ingestel. Landbou wat so belangrik vir Kalifornië en vir die res van die land is, word ernstig ingekort as gevolg van gebrek aan water vir besproeiing. Watergebruik vir tuine, grasperke en ontspanning is ingekort of heeltemal belet in ’n poging om kosbare water vir basiese behoeftes te bewaar. Lugfoto’s van Kalifornië se opgaardamme, riviere en strome wys die verwoestende omvang van die droë toestande. Dit is waarlik ’n situasie waar Kalifornië se inwoners putte sonder water het.

Diegene wat deur hierdie katastrofiese omstandighede geraak word mag in ’n oomblik van stilte wonder: “Waarom? Wat kan hierdie uiterstes tog moontlik beteken?”

Terwyl hierdie fisiese toestande verduur word, veroorsaak ’n ander soort droogte ook groot lyding en onuithoubare probleme. Die VSA en die meeste Westerse nasies beleef ’n geestelike droogte. Geestelike beginsels en gedragskodes wat die samelewing vir eeue gerig het, word oorboord gegooi. Afwykende gedrag en perversie word aangemoedig en as “normaal” deur groot segmente van die bevolking aanvaar.

Terwyl toenemend meer perverse aktiwiteite veral in die afgelope jare prominent geword het, is niks hiervan nuut nie. Hierdie selfde toestande het in die antieke stede van Sodom en Gomorra geheers. U kan die verhaal daarvan in Génesis 18 en 19 lees. God het uiteindelik genoeg gehad en hierdie stede verwoes.

Raak soortgelyke aktiwiteite werklik ons lewensomstandighede? Die Bybel sê dit uitdruklik. Deuteronómium 28 bevat die belofte van seëninge vir gehoorsaamheid en vloeke vir ongehoorsaamheid aan God se lewenswyse. Dit sluit selfs die vooruitsig van droogte in. Oorweeg die volgende: “En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:23-24).

Baie ander verse toon ook aan hoe God die weer gebruik om Sy wil tot uitvoer te bring.

Die apostel Petrus het kommentaar gelewer oor die toestand van geestelike droogte wat deur bose dade veroorsaak word. Hy skryf: “Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ’n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid dié wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel” (2 Petrus 2:17-18).

Ons behoort medelye met diegene te hê wat onder die uiters droë toestande in die Westelike state gaan ly. Ons behoort nogtans meer sielewroeging te voel vir diegene wat sal ly en vergaan as gevolg van ’n sondige lewenswyse. God is baie genadig om diegene te vergewe wat opreg berou het en hulle lewenswyse verander. Petrus maak dit weereens duidelik: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

Hierdie boodskap van waarskuwing en oproep tot bekering is die doel van die Werk wat ons by die Wêreld van Môre doen. Vir diegene wat na hierdie boodskap luister, “... hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie” (Jeremia 31:12).