Profesieë in die Bybel het lank reeds voorspel dat net voor die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde, die wêreld die herlewing van ’n Europese moondheid met wortels wat teruggaan tot die antieke Romeinse Ryk, sal sien (Daniël 2:28, 40-45). Die Skrif noem hierdie herleefde moondheid ’n “dier” wat gestempel sal word met ’n Romeinse etiket en sal bestaan uit tien konings [of nasionale leiers] wat hulle onafhanklikheid sal oorgee aan ’n sterk en geslepe individu (Daniël 11:3-39; Openbaring 17:12-13). Die Bybel dui ook aan dat hierdie eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk die mag van ’n dominante kerk sal kombineer met die politieke masjien van die staat – die “vrou” (simbool van ’n godsdienstige leier) wat die dier (simbool van die staat) sal ry (sien Daniël 7:8, 20-21; Openbaring 17:1-6).  Hierdie lank-bepeinsde profesieë word nou vervul!

Die verlede herleef

Duitsland se federale Kommissaris vir Kultuur en die Media, Bernd Neumann, het verlede Augustus by die opening van ’n Berlynse uitstalling oor “Die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie” die rede gevoer. Die uitstalling by die staatsbeheerde Historiese Museum in Berlyn, wat nogal heelwat aandag van die publiek getrek het, het die verlede van Ou Europa in oënskou geneem om strukture en ontwikkelingsprosesse te vind wat van groot betekenis is vir die federale konstruksie van Europa. Die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse nasie het vir bykans ’n duisend jaar oor die nasies in sentraal Europa geheers – vanaf 962 tot 1806 n.C. In sy opmerkings aan die besoekers by die museum, het Neumann die wesenlike rol beklemtoon wat ’n herleefde Heilige Romeinse Ryk kan speel as ’n model vir die toekoms van Europa. Volgens Neumann kan die Duitse Ryk van die Middeleeue, gesien vanuit vandag se perspektief, dien “as ’n geldige model vir die werkende orde van ’n supermoondheid”(persvrystelling, Duitse Federale Inligtingskantoor, Augustus 27, 2006).

Neumann is nie die eerste persoon wat aandring op die herlewing van hierdie Imperiale idee nie. Otto von Hapsburg, ’n nasaat van die laaste keiser wat op die Oostenryks-Hongaarse troon gesit het, het ook daarop gewys dat daar nog steeds ’n rol vir die Imperiale kroon van die Heilige Romeinse Ryk kan wees om ’n betekenisvolle unie tussen die verskillende lande van Europa te smee.Ewe-eens het die Pan-Europese Unie dit ook beklemtoon dat “die ewige funksie van die Reich in die Europa van môre hernu behoort te word tot voordeel van die Weste” (Monthly Bulletin of the Pan-Europa Union, January 1977).

’n Beroep op godsdiens

Gedurende die dae van die Heilige Romeinse Ryk was die mag verdeel tussen die Duitse keisers en die pouse in Rome. Die pouse het beheer uitgeoefen op geestelike gebied terwyl die keisers hulle mag in die politieke gebied laat geld het. Rooms Katolieke pouse het die keisers gekroon en dit het geestelike geldigheid aan die amp van die monarg verleen. Dit lyk of dit in die verskiet ook vir die toekoms van Europa voorlê. Die Duitse Kanselier, Andrea Merkel, het onlangs aan Pous Benedictus XVI, vroeër Kardinaal Joseph Ratzinger van Duitsland, ’n uitnodiging gerig om in 2007 in Berlyn die rede te voer tydens die geleentheid van die 50ste herdenking van die Verdrag van Rome, wat die Europese Ekonomiese Gemeenskap tot stand gebring het – die voorloper van vandag se Europese Unie. Berigte suggereer dat die pous beplan om oor die “geestelike grondslag” van Europa te praat – wat in Benedictus se raamwerk dui op die rol wat die Rooms Katolieke Kerk gespeel het – en weer kan speel – om die “Christelike” nasies van Europa gedurende die Middeleeue te verenig. Verskeie pouse voor Benedictus het ook beklemtoon dat dit noodsaaklik vir Europa is om sy geestelike oorsprong te ontdek. Ander leidende geestelike en politieke figure het ook te kenne gegee dat dit “iets meer” as ekonomiese verdrae en handelsverordeninge sal verg om die nasies van Europa saam te snoer.

Toekomstige aangeleenthede

Die verkiesing van Joseph Ratzinger, die eerste Duitse pous in ’n duisend jaar, plaas die pousdom in ’n buitengewone posisie. Ratzinger, wat tussen die twee wêreldoorloë in Duitsland gebore is, is diep geraak deur sy ondervindings in die Hitler- Jeug en as dienspligtige in die Duitse leër gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy het as ’n Vatikaan-amptenaar twee dekades lank gedien as hoof van die Vergadering vir die Leerstelling van die Geloof (voorheen bekend as die “Inkwisisie”), waar hy die bynaam “God se Rottweiler” verwerf het, weens sy koppige volharding om konserwatiewe Katolieke standpunte te handhaaf.   

Benedictus se besoek aan Berlyn in 2007 sal saamval met die tyd wanneer Duitsland die  sesmaandelikse roterende presidentskap van die EU beklee, en ook met dié nasie se jaarlange voorsitterskap oor die G-8-organisasie van die vernaamste industriële lande. Benedictus se teenwoordigheid by die vyftigste herdenking van die Verdrag van Rome sal ongetwyfeld wettigheid verleen aan die idee van samewerking tussen Kerk en staat in die toekomstige evolusie van ’n verenigde Europa, selfs wanneer sommige Europeërs – veral die Franse, wat openlik verbind is tot sekularisme en skeiding tussen godsdiens en politiek – nie so ’n verwikkeling sal verwelkom nie.   

Neumann se opmerkings oor ’n Duitse Ryk is ’n weerklank van stellings deur ander Duitse leiers en hou ernstige implikasies in vir nasies in Oos Europa. Neumann het sy gehoor daaraan herinner dat die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie “deel was van die verlede van baie Europese state”, insluitende Pole en die Tsjeggiese Republiek, en dat “Duitsland en Sentraal Europa histories en kultureel onafskeidbaar aan mekaar verbind is” (persvrystelling, Duitse Federale Inligtingskantoor, Augustus 27, 2006). Sodanige bewerings deur Duitse leierskap oor ander dele van Europa, genereer angs onder die nuwe onafhanklike state aan die suide en ooste van Duitsland. Duitse studente-organisasies bevorder ook voortdurend Duitse gebiedsaansprake oor dele van Oostenryk, Pole, Denemarke, België, Switserland, Italië en Rusland, waar Duits-sprekendes woon. Trouens, een groep het gesê, “Die grense van die Duitse Ryk soos dit bestaan het op 31 Desember 1937, word nog steeds deur die Duitse wet erken” en verder, “Deur Duitsland verstaan ons die Duits-bewoonde gebiede in Sentraal Europa waaruit Duitsers onwettig uitgeskop is... Duitsland bestaan onafhanklik van landsgrense”. (2005HandbookDeutsche Burschenchaft). Dit is nie sommer net nasionalisme nie; hierdie selfde idees was deur Duitsland se Nazi-party verkondig toe hy sy begeerte om grondgebiede van ander lande te annekseer, wou rasionaliseer en in dié proses die vure van die Tweede Wêreldoorlog aangesteek het. Bybel-profesieë wys dat hierdie finale herlewing van die Heilige Romeinse Ryk in Europa, wêreldwyd gevolge gaan hê (vir meer inligting oor hierdie wesenlike onderwerp, vra vir ’n gratis kopie van ons leersame boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? of vra dit aanlyn aan by ons webwerf www.wvm.co.za ).          

Terwyl baie wêreldlike kritici spot met die idee dat die Bybel die geïnspireerde woord van ’n Almagtige God is wat in die geskiedenis ingryp, sien ons in vandag se nuusopskrifte die vervulling van spesifieke profesieë wat duisende jare gelede in u Bybel opgeteken is. Die profeet Daniël het voorspel dat die finale fase van die herlewing van die Romeinse Ryk plaas sal vind net voor die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde (Daniël 2:41-45). Hy voorsien ook ’n prominente geestelike leier wat deur die eeue heen ’n oorheersende rol in die opeenvolgende herlewings van die Romeinse sisteem sou speel (Daniël 7:8-25). Die apostel Johannes het ’n vrou [’n kerk] gesien wat ry op ’n eindtydse dier, saamgestel uit tien leiers wat aan die einde van hierdie tydvak vir ’n kort tydjie saam sal werk (Openbaring 17). Hierdie profesieë is tans besig om vervul te word en sal die wêreld verras in die dae wat voorlê – want die dier begin om op te staan! Om meer te leer oor die identiteit van Duitsland in profesie, vra asseblief ons gratis herdrukte artikel, ’n Vierde Reich? aan.