Is biljoene mense besig om vir ewig in nimmereindigende pyniging te brand omdat hulle op die verkeerde plek of tyd gebore is? Ja, daar is ’n hel – asook ’n helse vuur – maar die waarheid is nie wat die meeste mense dink nie!

Wie is nou in die hel? U onbekeerde familie?

Mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie? U Bybel verduidelik die waarheid oor die hiernamaals en wat werklik gebeur wanneer u sterf!

As ’n leraar wat begrafnisse deur die jare gelei het, het ek baie weduwees, wewenaars en ander oorblywende gesinslede gesien wat deur die waarhede in hulle Bybels vertroos is – hulle weet God se Woord beloof dat hulle geliefdes weer uit die dood opgewek sal word. Aan die ander kant het ek ook die geestelike wroeging van diegene gesien wat aanneem dat ’n “ongeredde” lid van die gesin of vriend ewigdurende pyniging in die hel verduur.

In 2007 het die Gallup-Organisasie hulle opname oor “Waardes en oortuigings” vrygestel, wat openbaar dat 81% van Amerikaners in ’n hemel glo en 69% in ’n hel. Geloofsoortuigings oor hemel en hel wissel egter aansienlik. Sommige mense kry hulle idees van die hemel en hel uit fiktiewe werke soos die van die middel-eeuse Italiaanse digter, Dante se Divine Comedy, terwyl andere hulle weer na wetenskaplike verhandelings oor “naby dood ervarings” wend vir leidrade oor wat na die dood gebeur.

Lesers van die Wêreld van Môre weet dat ons na God se Woord kyk vir antwoorde op die lewe se mees basiese vrae. Wat sê u Bybel oor hemel en hel en oor die toekomstige hoop van diegene wat gesterf het? Die goeie nuus is dat die Waarheid van die Skrif hoop kan gee aan diegene wat deur valse inligting oor hemel en hel mislei is.

Aan die slaap tot die opstanding

Terwyl die Sanhedrin Hom ondervra het, het die apostel Paulus sy mees kosbare oortuigings verduidelik. Terwyl hy die ware grondslag van sy hoop op lewe na die dood verdedig het, het hy die opstanding uit die dood die sentrale punt gemaak: “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg” (Handelinge 23:6).

Het Paulus gesê dat hy na die hemel sou gaan wanneer hy sterf? Nee! Paulus het na die opstanding uit die dood, tydens Jesus Christus se Wederkoms, uitgesien! Paulus skryf oor sy geloof in Christus en sy toekomstige doelwit tydens die opstanding: “... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Filippense 3:10-11).

So skokkend as wat dit vir diegene mag klink wat die wêreld se gebruiklike begrip aangeneem het, leer die Bybel ons dat wanneer mense sterf, hulle tot die opstanding dood bly. Die opstanding is ware Christene se hoop! Die apostel Paulus wou hê dat ons hierdie waarheid oor die opstanding moes weet. Hy skryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie” (1 Thessalonicense 4:13-15).

Paulus het die woord ontslaap as ’n metafoor vir dood gebruik. U mag dalk dink: “Daar moet tog sekerlik ’n klompie sondaars wees wat op hierdie oomblik in ’n ewigbrandende helse vuur gemartel word!” U mag verras wees om uit te vind dat die Bybel antwoord: Baie beslis nie!

Ja, soos ons later sal sien, verduidelik die Skrif dat onboetvaardige goddelose mense ná die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:14-15; 21:8), in die poel van vuur gegooi sal word. U Bybel noem dit die ewige straf (nie ewigdurende straf nie), die “tweede dood” – die finale dood waaruit daar geen toekomstige opstanding sal wees nie. Wie gaan egter na daardie ewige straf en wanneer? Soos ons later in hierdie artikel sal sien, het geen mens nog daardie straf ondervind nie en dit mag ook op veel minder mense van toepassing wees as wat u verwag!

Let daarop dat die apostel Paulus nie die Christene wat gesterf het, as aktief of lewend in die hemel beskryf nie. Hulle slaap – is dood – totdat hulle met Christus se Wederkoms opgewek sal word. Paulus skryf verder: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thessalonicense 4:16-18).

Let daarop dat hierdie opstanding “by die basuin” van God plaasvind. Dit is die laaste basuin, die sewende basuin wat in Openbaring beskryf word (1 Korinthiërs 15:52; Openbaring 11:15). Let ook op: “... die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan”. Ware Christene wat gesterf het sal nie opgewek word voor Christus se Wederkoms nie! Diegene van ons wat nog lewe tydens Christus se Wederkoms, sal by daardie heiliges aansluit wat in die geloof gesterf het. Hulle sal uit die dood opgewek word om die beloofde gawe van die ewige lewe te ontvang! Dit is waarna alle ware Christene vandag uitsien – die opstanding tot onsterflikheid met Christus se Wederkoms!

Ja, die Skrif bevat baie verwysings na individuele opwekkings uit die dood na fisiese lewe, soos toe Christus vir Lasarus uit die dood opgewek het (Johannes 11:43). Die opstanding waarop Christene hoop, is egter die opstanding tot onsterflikheid – die eerste van drie “algemene” opstandings wat in u Bybel beskryf word.

Wie is in die hemel?

Waarheen sal Christene gaan nadat hulle opgewek is? Sal hulle die ewigheid in die hemel deurbring? Om te begin om hierdie vraag te beantwoord, behoort ons te vra: “Wie is nou in die hemel?” Wat van die helde van geloof wat in Hebreërs 11 vermeld word, waarna dikwels as die “geloofshoofstuk” in u Bybel verwys word? Indien enigeen van hulle in die hemel is, behoort dit tog sekerlik koning Dawid te wees (want God noem hom in Handelinge 13:22 “’n man na my hart”) – maar wat sê u Bybel?

Op Pinksterdag in 31 n.C., het die apostel Petrus vir ’n groot skare gepreek. Nadat hy hulle van die Messias se opstanding uit die dood vertel het, verduidelik hy: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29). Om dit nog meer duidelik te maak, voeg hy by: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (vers 34).

Jesus Self het hierdie punt baie duidelik gemaak deur te sê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het” (Johannes 3:13). Die apostel Johannes het hierdie stelling omtrent 60 jaar na Jesus se dood en opstanding neergeskryf, dus het hy ’n terloopse opmerking by sy Verlosser se woorde gevoeg: “... naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is”. Johannes se stelling bevestig dat toe hy sy Evangelie in die mid-90’s n.C. geskryf het nog nét Jesus Christus na die hemel opgevaar het!

Die Skrif openbaar dat die heiliges die aarde en “alle dinge” sal beërwe – die heelal (Openbaring 21:7; Romeine 8:32)! Daardie erfenis sal egter nie voor die opstanding gegee word nie! Die Bybel toon duidelik dat dié wat dood is, dood bly tot die opstanding. Die idee dat mense met hulle dood direk hemel-toe of hel-toe gaan, is op die heidense leerstelling van die onsterflikheid van die siel gebaseer, wat nie in u Bybel voorkom nie, maar wat in die belydende Christendom ingebring is namate dit deur die Romeinse Ryk versprei het en baie voormalige heidene hulle ou leerstellings in hulle nuwe kerke ingebring het!

Ons behoort te verstaan dat ons nie met onsterflikheid gebore word nie. Dit is ’n gawe, ’n geskenk van God! Onthou: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Let daarop dat die Skrif nie sê: “... die loon van die sonde is ewige lewe in die helse vuur” nie. Die loon van sonde is nie ewige lewe nie, dit is dood – die afwesigheid van lewe. Indien u reeds oor ’n onsterflike siel beskik, indien u alreeds ewige lewe het, dan benodig u dit nie as ’n geskenk van God nie. Ja, ’n siel kan sterf! Die profeet Esegiël herinner ons: “… die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4).

Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh, wat fisiese of natuurlike lewe beteken. In Genesis 1 verwys hierdie selfde woord nephesh ook na “al die lewende wesens” – na alle dierlike lewe, met inbegrip van soogdiere, visse en voëls. Die Bybel leer ons dat daar ’n gees in die mens is (1 Korinthiërs 2:11; Job 32:8, 18). Hierdie menslike gees is nie ’n onsterflike siel nie.

Is die siel onsterflik? Jesus waarsku ons: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe [vernietig] in die hel” (Mattheüs 10:28). Ja, indien u u Bybel glo, moet u erken, God beskik oor die mag om die siel te vernietig!

Van watter “hel” praat u?

Moontlik kom die heel algemeenste hedendaagse begrip van die hel in die Westerse nasies van die bekende Italiaanse digter, Dante Alighieri, wat sy Divina Commedia of Goddelike Komedie geskryf het, wat uit drie dele bestaan: Paradiso, Purgatorio en Inferno, of Paradys, Vagevuur en die Hel.

In Dante se Inferno, lei die digter Virgil vir Dante op ’n mitiese reis deur die hel. By die hel se ingang is ’n onheilspellende teken met die woorde: “Gee alle hoop prys, jy wat hier ingaan”. Virgil vertel aan Dante wat hy op sy reis kan verwag. “Ek sal jou gids wees en jy sal my volg en ek sal jou deur ’n wêreld van pyn lei waar dooie siele in eindelose pyn krul en roep terwyl hulle skreeu om weer te sterf” (Canto I, bl. 24; eie vertaling).

Baie mense sal geskok wees om te leer dat hierdie duidelike beeldspraak nie uit u Bybel kom nie. Die hel van die Skrif is nie wat Dante uitbeeld nie. Indien dit wel waar is, wat en waar is die hel? Die bogemelde Mattheüs 10 verwysing gee aan ons ’n deel van die antwoord. Die woord vir “hel” wat Christus in Mattheüs 10:28 gebruik het, was “Gehenna” – ’n benaming vir die Hinnomvallei, die brandende vullishoop net buite Jerusalem, waar afval verbrand en vernietig was. Dus, in ’n sekere sin, is “hel” die Hinnomvallei. Die woord “hel” kan misleidend wees, aangesien daar vier verskillende woorde is – drie in Grieks en een in Hebreeus – wat in Afrikaanse Bybels as “hel” vertaal word. Elkeen van daardie woorde het ’n ander betekenis.

In die King James Version en die New King James Version is sheol die Hebreeuse woord wat dikwels as “hel” vertaal worddit beteken eenvoudig ’n “gat” of “graf”. Dit beteken nie ’n plek van ewigbrandende vuur nie! Die woord sheol kom 65 keer in die Ou Testament voor, nogtans word dit in die King James Version slegs 31 keer as “hel” vertaal! Dit word 31 keer as “graf” vertaal en drie keer as “gat”. Indien u in die New International Version lees, sal u opmerk dat sheol nooit as “hel” vertaal word nie – dit gebruik eenvoudig die Bybelse en taalkundig korrekte woord, “graf”. [In die Ou sowel as die Nuwe Afrikaanse Vertalings, die Lewende Bybel en die Nuwe Lewende Vertaling, word die woord deurgaans as “dood” of “doderyk” vertaal.] Volgens hierdie definisie kan u dus sien dat niemand tans besig is om in sheol te brand nie.

Saam met Gehenna wat die vuur beskryf wat die siele van die bose mense sal vernietig (Mattheüs 10:28), bevat u Nuwe Testament twee ander Griekse woorde wat in Afrikaans as “hel” vertaal is. Die Griekse woord hades, net soos die Hebreeuse woord sheol, beteken eenvoudig ’n “put” of “graf”. Indien u die New King James Version lees, sal u opmerk dat die woord hades dikwels onvertaald gelaat is.

Die vierde Bybelse woord wat as “hel” vertaal is, is die Griekse woord tartarus. Hierdie woord dui ’n toestand van inperking aan en volgens u Bybel het dit net op gevalle engele betrekking en nie op sondige menslike wesens nie. Let op: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel [tartarus] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word” (2 Petrus 2:4).

Soos u dus kan sien, deur die Engelse woord “hell” vir al vier hierdie woorde te gebruik, met hulle drie uiteenlopende betekenisse, word die waarheid van u Bybel nie akkuraat oorgedra nie. Wanneer iemand u dus oor die hel uitvra, behoort u hulle te vra om dit te omskryf: “Van watter ‘hel’ praat u?”

U mag nogtans wonder: “Wie gaan hel toe?” Is God onregverdig? Ons weet dat die naam van Jesus Christus die enigste naam is waardeur enigiemand gered kan word (Handelinge 4:12). Beteken dit dus dat diegene wat nog nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, veroordeel is tot die ewige hel sonder enige fout aan hulle kant? Of het God twee verskillende standaarde vir mense, afhangende of hulle al die naam van Jesus Christus gehoor het of nie?

Die antwoord mag u verras, maar behoort u ook hoop te gee. God sal aan elke menslike wese die geleentheid gee om die Ware Evangelie te hoor. Indien hulle daarop reageer, Jesus Christus se offer aanvaar en met die hulp van die Heilige Gees Sy gebooie gehoorsaam, sal hulle gered word. “Maar wat van die biljoene mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit die Evangelie te hoor?” Die antwoord hierop word in Openbaring gevind, waarin ’n toekomstige tyd, bekend as die Groot Wit Troon Oordeel, beskryf word.

Die “boeke” sal geopen word

Vandag se Christene wat in die geloof sterf, of diegene wat nog tydens Jesus Christus se Wederkoms leef, sal deel van die “eerste opstanding” wees en sal hulle Redder en Koning bystaan wanneer Hy tydens die Millennium – wat binnekort hier sal wees – op aarde gaan heers. Indien daar dus ’n “eerste opstanding” is (Openbaring 20:5), moet daar noodwendig ook ’n tweede opstanding wees. Daardie tweede opstanding is die Groot Wit Troon Oordeel. Die Bybel beskryf dit so: “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Die Griekse woord vir “boeke” is biblia. Ja, ná die tweede opstanding sal die “boeke” – die Bybel – vir die eerste keer geopen word vir die begrip van die biljoene mense wat voor die Millennium geleef en gesterf het sonder om ooit die ware Evangelie van Jesus Christus te hoor. Biljoene mense sal hulle eerste geleentheid hê om die waarheid te leer ken – hulle sal ook een besondere voordeel geniet wat ons nie vandag het nie, aangesien hulle die gevolge sal kan sien van wanneer die mensdom sy eie kop volg, soos in ons huidige tyd en dit sal kan vergelyk met die werklikheid van ’n wêreld wat deur Jesus Christus regeer word. Dit is nie ’n “tweede kans” vir daardie mense nie; dit sal hulle heel eerste geleentheid wees om die Waarheid te verstaan, hulle van hulle sondes te bekeer en Jesus Christus as hulle Redder aan te neem.

Ongelukkig, selfs tydens die Groot Wit Troon Oordeel, sal sommige mense God se genade en redding minag. Hulle sal weier om hulle van hulle sondes te bekeer en sal Christus se offer verwerp. God sal nie daardie rebelse mense dwing om Hom te gehoorsaam nie. Hy sal hulle in die poel van vuur vernietig. Uiteindelik sal diegene wat geleef en gesterf het terwyl hulle die waarheid geken het, maar dit verwerp het, opgewek word in ’n derde opstanding – die opstanding tot ewige straf deur dood (nie ewige lewe nie) in die poel van vuur (Johannes 5:29). Ja, God is regverdig. Hy herinner ons: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here” (Hebreërs 10:30). Terwyl hulle voor die poel van vuur staan, sal die bose mense gepynig word en dan sal hulle in die vuurpoel gegooi word om vir ewig opgebrand te word (Openbaring 21:8). Hulle sal nooit weer lewe nie. “Want die loon van die sonde is die dood [ewige dood] maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Diegene wat vandag deur God geroep word, het die ontsagwekkende geleentheid om met die eerste opstanding deel van Sy Gesin te word. Niemand hoef egter bevrees te wees dat mense hulle geleentheid om gered te word, geweier sal word nie. Indien God nog nie die denke van u vriende of geliefdes geopen het nie, sal hulle hulle beurt kry wanneer dit God se wil is. Indien God egter u denke open, behoort u nou daarop te reageer om die wonderlike beloning te ontvang wat Hy vir u gereed gemaak het!