Indien u nog nie blootgestel was aan die 2012 “profesieë” wat so wyd geadverteer word nie, sal u spoedig wees. Kan u egter die waarheid uitvind te midde van die media-sirkus?
Presies wat het Hollywood teen planeet Aarde?


Of dit nou ook al gaan oor aardverwarming wat amok maak in films soos The Day After Tomorrow of groot meteoriete wat met die aarde bots in films soos Armageddon enDeep Impact, lyk dit of filmmakers dit in het vir planeet Aarde en sy mense! Klaarblyklik maak digitaal-verwerkte tonele van massavernietiging groot geld.

November 2009 bring ’n nuweling in hierdie rolprent kategorie in: Roland Emmerlich se epiese 2012. Hierdie film met ’n “einde van die wêreld” tema, val kykers se sintuie aan met tonele van ondenkbare vernietiging, wanneer fliekgangers toekyk hoe hulpelose mense worstel om te oorleef. Deur gebruik te maak van supermoderne digitale effekte, bied die film verskriklike tonele van rampspoedige vulkaniese uitbarstings, ongeëwenaarde seismiese aktiwiteite (waar selfs hele kusstede in ’n honger see gewerp word!) en skrikwekkende realistiese tsunami’s van ondenkbare hoogte, wat selfs hoër is as die wêreld se hoogste bergreekse.

Nogtans, agter al die rekenaargrafieke, is die film 2012 gewortel in ’n werklike wêreldse verskynsel: die stygende histerie rondom die jaar 2012 – spesifiek die datum 21 Desember 2012. Groeiende getalle voorspellers voorspel die Aarde se rampspoedige vernietiging op daardie datum – terwyl, aan die ander einde van die spektrum, andere weer die aanbreek van ’n goue “New Age” vir Aarde en dié se inwoners verwag.

Verbasend genoeg, lyk dit of miljoene mense hierdie voorspellings ernstig opneem. Mense en groepe van nasies reg oor die wêreld hoop voedsel en voorrade op – gebruik soms selfs al hul spaargeld om grond op afgeleë bergtoppe te koop – alles “ter voorbereiding” vir die aardskuddende dinge wat hulle glo op 21 Desember 2012 sal gebeur.

Wat lê agter hierdie “2012 waansin?” Waarom glo so baie mense dat 21 Desember 2012 die einde van die wêreld sal wees? Hoe behoort Christene te reageer op hierdie voorspellings? Is daar enige manier om werklik te weet wat voorlê?

Waarom 21 Desember 2012?

Om te verstaan waarom so baie mense die datum 21 Desember 2012 as belangrik beskou, moet ons ’n bietjie kyk na die antieke Maja-beskawing – ’n kultuur wat vir ’n tyd lank in die Meso-Amerikaanse streek tussen Noord- en Suid-Amerika gefloreer het.

Die Maja het gebruik gemaak van baie verskillende kalenders om tred te hou met verskillende tydsiklusse. Een daarvan noem die geleerdes die “Langtelling Kalender” – wat die dae aandui wat verloop het sedert die Maja se mitologiese skeppingsdatum in Augustus 3114 v.C. Volgens die Langtelling Kalender, dui 21 Desember 2012 die einde van ’n era van 5,100 jaar aan.

Oor die algemeen het baie mense hierdie datum as die “einde” van die Maja kalender vertolk. Dit is egter waar die lesse van die geskiedenis eindig – en waar moderne “New Age” fantasieë begin! 2012 Het inderdaad die aanvaarde fokuspunt geword van ’n asemrowende “dieretuin” van “New Age” astrologiese of okkultiese boodskappe oor wat gaan gebeur in die dae wat voorlê.

Vir baie mense is 2012 hul verwagte “einde van die wêreld” – maar presies hoe dit eindig of wat daardie einde beteken, hang af van wie u vra. Sommige mense voorspel dat ’n vernietigende wêreldwye vloed daardie jaar sal voorkom (in teenstelling met Genesis 9:11-17)! Andere weer verwag ’n rampspoedige ontwrigting van die aarde se magnetiese veld. Sommige mense voorspel selfs dat die aarde self in die ruimte sal omkantel, skielik die pole sal omkeer of om in die teenoorgestelde rigting te roteer. Ander voorsien weer dat vlamme van die son die aarde se oppervlakte sal skend, of dat kragte van ’n seldsame “inlynstelling van die melkweg” ongekende verwoesting op ons planeet sal aanrig.

Nog ’n groep toegewyde 2012 aanhangers glo vas dat die regerings en die wetenskaplikes van die wêreld inligting weerhou oor ’n planeet of klein ster wat aan die kom is en in 2012 met die aarde sal bots of byna daarmee sal bots – waarlik ’n sameswering van ondenkbare afmetings!

By die Cornell Universiteit sê sterrekundig-gegradueerde student, Ann Martin, dat baie mense angsbevange is. “’Dit is so erg dat ons e-posse kry van graad vier leerlinge wat sê dat hulle nog te jonk is om dood te gaan,’ sê Martin. ‘Ons het ’n ma van twee jong kinders gehad wat bang was dat sy nie sou leef om hulle te sien opgroei nie’” (Associated Press, 11 Oktober 2009).

Tog, aan die ander kant van die 2012 waansin, kry ons diegene wat verwag dat 21 Desember 2012 ’n “ewolusie” van die mensdom sal inlui – ’n nuwe era van vrede, liefde en geluk wat niks minder sal wees nie as die “Tydperk van Aquarius” waaroor in die hippies se teenkulturele musiekblyspel Hair, gesing is! Hierdie nuwe tydperk van verligting, afhangende van u bron, mag kontak met buiteaardse wesens behels, buite-dimensionele intelligensie of die wydverspreide aanvaarding van denke-veranderende dwelms of hallusinogene as deel van die verwagte “inlynstelling van die melkweg”.

Klaarblyklik, watter verwagting u ookal vir die toekoms van die mensdom mag hê – dood, vernietiging, dwelms of bevryding – die plek daarvoor op u kalender is 21 Desember 2012!

Neem die bron in ag

Gekonfronteer met so ’n verwarrende reeks voorspellings, mag ons begryplikerwys stilstaan en vra: “Waar op aarde het al hierdie idees vandaan gekom?”

Interessant genoeg, alhoewel hierdie idees dikwels verbind word met die Maja, voorspel hul antieke kultuur eintlik niks van die aard nie! Soos Dr. Stephen Houston, antropoloog by Brown Universiteit en ’n kenner van Maja hiërogliewe, opmerk: “Hierdie doemprofesieë het eintlik nie enige grond in wat ons weet van die Maja nie ... die Maja se beskrywings praat weinig oor hierdie gebeurtenis” (ABC News, “Will the World End in 2012?”, 3 Julie 2008).

’n Baie meer siniese waardebepaling word gebied deur Dr. Sandra Noble, die uitvoerende direkteur van die Stigting vir die Bevordering van Meso-Amerikaanse Studies in Florida. Soos USA Today berig het op 27 Maart 2007: “Om 21 Desember 2012 te bestempel as ’n oordeelsdag of ’n oomblik van kosmiese verskuiwing, sê sy, is ‘’n algehele versinsel en ’n geleentheid vir ’n klomp mense om geld te maak’” (“Does Maya calender predict 2012 apocalypse?”).

Inderdaad, die waansin rakende die jaar 2012 is ’n moderne verskynsel met moderne, “New Age” oorsprong!

Baie van die mees invloedryke mense wat die “2012-leer” gewild gemaak het, het openlik erken dat hul idees na hul gekom het deur die gebruik van hallusinogeense en psigedeliese dwelms, soos bv. dimethyltryptamine, of DMT. Hierdie persone beweer dat hul gebruik van dwelms hulle in staat stel om toestande van “verligte bewustelikheid” en “sjamaanse visioene” te verkry – wat hulle dan in staat stel om met vreemde, buite-dimensionele wesens te praat en van hulle kennis te verkry. Baie mense wat betower is deur die gedagte aan wêreldveranderende gebeure in die jaar 2012, is onbewus van die “chemies ondersteunde” bronne van die inligting wat aan hulle gegee is.

Selfs die wetenskaplik-klinkende teorie van “inlynstelling van die melkweg” is vol gate. Robert Bonadurer, direkteur van die Daniel M. Soref Planetarium by Milwaukee se Openbare Museum, het dit duidelik gestel dat daar geen so ’n inlynstelling op daardie datum sal wees nie (“Did the ancient Mayans predict the end of the world?”, Milwaukee Journal Sentinal, 18 April 2009).

Wanneer dit reg verstaan word, is die sogenaamde “inlynstelling van die melkweg” nie ’n wetenskaplike begrip wat uit die gebied van fisika of sterrekunde kom nie. Dit is liewer ’n bygeloof wat hoort by die gebied van astrologie – die aspek van die okkulte wat glo dat die rangskikking van verskillende hemelse liggame kragtig en onsigbaar die lotsbestemming van mense op aarde kan beïnvloed.

Soos ons kan sien, wanneer dit “onder die mikroskoop” geplaas word, kom die oorsprong van die 2012 verskynsel skerp en verontrustend in fokus: Astrologie en die okkultisme, gebruik van psigedeliese dwelms en sjamanisme, spiritualisme en “kanalisering” – en natuurlik die eenvoudige begeerte na geldelike gewin of hebsug deur diegene wat staatmaak op die liggelowigheid van die massas.

’n Christelike evaluasie

Wanneer gekonfronteer word met sulke wilde bewerings behoort ’n Christen die Bybelse opdrag te gehoorsaam: “Bewys alle dinge, behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Hoe vergelyk die bronne en aansprake betreffende 21 Desember 2012 met die toets van die Skrif? Sal u u Bybel glo en gehoorsaam?

Die Bybel is duidelik oor die gebruik van astrologie en inlynstelling van hemelliggame om die toekoms te voorspel: “So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie” (Jeremia 10:2). Christene word duidelik beveel om die praktyk en voorspellings van astrologie te vermy!

Word die gebruik van psigedeliese en hallusinogeniese dwelms in die Skrif veroordeel? Ja! Baie mense besef dit nie, maar die dwelmverwante gebruike van hedendaagse voorspellers of “sjamane” – sowel as die pogings om “buite-dimensionele wesens” te “kanaliseer” of te kontak – duisende jare oud is. In Bybelse taal word hierdie gebruike beskryf as waarsêery, towery, spiritisme, die gebruik van mediums en “gedienstige geeste”; en God veroordeel dit geheel en al as ’n gruwel in Sy oë (Deuteronomium 18:10-12; Levitikus 19:31; 20:27, et al.)!

Daar is werklik glad geen rede vir enigiemand wat in die God van die Bybel glo om vasgevang te word in die waansin rondom die jaar 2012 nie!

Wat hou die toekoms egter in?

Selfs vir die mees terloopse waarnemer, is dit nogtans duidelik dat ons in unieke tye leef. Vir diegene wat Christus se naderende wederkoms inderwaarheid verwag, is hierdie dae meer as uniek – hulle is profeties!

Gedurende die laaste paar jaar het ons die wêreldekonomie op die randjie van ineenstorting sien wankel, terrorisme sien toeneem tot skrikwekkende omvang, asook ontstellende chaos en verwarring in die politieke arena gesien. Dit lyk of weerpatrone meer onstuimig raak en natuurrampe selfs meer fel. Die wêreld se belangrikste nasie – die eens “onkwesbare” Verenigde State – is verneder soos nog nooit tevore nie. Dit lyk of skurkagtige nasies en onstabiele regerings daarop uit is om kernwapens te verkry en dit kom voor of die wêreld op die randjie van ’n ongeëwenaarde verandering is!

Is daar enige manier om werklik te weet wat voorlê? Is daar ’n tydbeproefde en betroubare gids na wat die toekoms inhou – en wat staan ons te doen ter wille van onsself, ons gesinne en ons geliefdes?

Ja, daar is
God sê duidelik aan ons: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” (Jesaja 8:19). Ja, ons moet ons Skepper se wysheid soek, nie dié van Nuwe Tydperk “profete” nie.

Die Almagtige God is die Een wat kan verduidelik wat voorlê! “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

Ja, God openbaar wel die toekoms aan diegene wat gewillig is om te luister. Wat Hy openbaar word uitgespel in die bladsye van u Bybel.

God se woord openbaar dat ongelooflike rampe oor ons planeet gaan kom in die jare wat binnekort voorlê. In besonder waarsku die Bybel van verskriklike vernietiging wat oor Amerika en die Britsafstammende volke gaan kom, wat sal lei tot die totale ineenstorting van hierdie nasies as wêreldmagte! Dit vertel ons ook van ’n oorlog wat uiteindelik sal uitbreek tussen ’n Duits-geleide Europese superstaat en nasies wat suid en oos daarvan lê. Hoewel Bybelse profesieë ons waarborg dat die wêreld nie in 2012 sal eindig nie, nog minder sal ’n nuwe wêreldwye tydperk van vrede, voorspoed en vreugde in daardie tyd ingelui word. Die Skrif deel ons uitvoerig dinge van vernietigende impak mee, wat plaas moet vind in die drie-en-’n-half jaar voor Christus se wederkoms. Hierdie gebeure het nog nie begin in November 2009 nie, dus kan ons seker wees dat Christus se wederkoms nie sal plaasvind op (of voor) Desember 2012 nie.

Enigeen van ons mag natuurlik enige tyd sterf, dus mag ons persoonlike “einde van die wêreld” lank voor Christus se wederkoms wees – wat beteken dat ons ons lewens vandag so moet leef asof Jesus Christus ons vannag gaan oordeel!

Wat sê Bybelse profesie dus aan ons sal gebeur in die jare wat binnekort voorlê? Dit openbaar dat die wêreld wel geskud sal word deur gebeure wat binnekort gaan plaasvind – selfs moontlik nog voor 2012!

Die Skrif praat van toekomstige natuurrampe – en bonatuurlike rampe – van verskriklike skaal en omvang! Toe Hy die eindtyd aan Sy dissipels beskryf het, sê Jesus: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom” (Lukas 21:10-11). Hierdie gebeure sal uiteindelik alle nasies raak, en op so ’n skaal as wat nog nooit voorheen op aarde gesien is nie! Verder aan in dieselfde hoofstuk waarsku Christus: “... daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulleradeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26). Hierdie sal nie astrologiese “tekens” of “inlynstellings” wees nie – hulle sal werklike, aardskuddende gebeure in die hemele en op die aarde wees (vergelyk Openbaring 6 en 8)! Mense sal letterlik doodbang wees vir die gebeure wat gaan kom, soos beskryf in die boek van Openbaring en in baie profesieë in die Ou Testament!

Anders as die baie vae, sogenaamde “profesieë” met betrekking tot die oorbeklemtoonde 2012 verskynsel, beskryf u Bybel in besonderhede die toekomstige gebeure waarvoor ons op die uitkyk moet wees. God se woord waarsku ons byvoorbeeld oor wêreldwye godsdienstige misleiding – ’n deel daarvan is alreeds in werking – en die opkoms van ’n valse profeet wat wonderwerke verrig (2 Thessalonicense 2:7-12; Openbaring 13:11-15). Dit vertel van ’n wêreld-dominerende militêre en ekonomiese mag wat in Europa aan die opkom is en wat deur ’n magtige Duitsland gelei sal word, wat anders sal wees as enige Ryk wat die wêreld al ooit gesien het (Openbaring 13:1-4). Ons word ook aangesê om op die uitkyk te wees vir ’n groep Arabiese nasies wat ’n eenheid bereik wat voorheen vir hulle nie beskore was nie (Psalm 83:4-7).

Intussen, in teenstelling met die vae “iets gaan gebeur” sentiment wat aan die 2012 waansin gekoppel is, is daar baie kragtige en spesifieke besonderhede wat die Skrif vir ons uiteensit – dinge waarvoor ons op die uitkyk moet wees voor Jesus Christus se wederkoms om Sy Koninkryk van vrede en mag oor die nasies te vestig! Sal die wêreld egter wakker skrik en aandag gee? Sal u?

Wat u moet doen!

 Een van die grootste misleidings wat veroorsaak word deur die omvangryke versameling 2012 voorspellings is die idee dat die mensdom se “afspraak met die noodlot” eenvoudig net dit is – ’n wesenlik willekeurige datum.

Hoewel u Bybel verduidelik dat die toekomstige rampspoedige gebeure nie sal plaasvind as gevolg van enige skynbaar toevallige datum op die kalender nie, maar liewer die gevolg is van die sondigheid van hardkoppige mense en hulle onwilligheid om hulle aan die Almagtige God te onderwerp!

Hierdie dinge sal gebeur omdat nasies onboetvaardig is – nasies wat uitsonderlik geseënd was deur ’n liefdevolle en genadige God wat getrou is aan Sy beloftes – nasies wat hulle nie tot Hom wend met dankbetuiging en gehoorsaamheid nie, maar wat voortgaan om hul Skepper te verag. Dit is nie ’n “toevallige gebeurtenis” of “kosmiese toevalligheid” nie! God herinner ons: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die Here dit nie bewerk het nie?” (Amos 3:6).

Anders as die ruimtelike rangskikking van die planete en sterre wat ons nie kan vermy nie, gee God aan elkeen van ons ’n keuse. Ons kan ons bekeer, dit wil sê ons kan God se Woord lees, Sy weë leer – wat vir ons beswil beveel was – en ons kan ons lewens verander. Vergeet van die aanhangers van 2012 wat rondkyk om grond op ’n bergtop te koop, of dié wat goud en wapens ophoop. Op baie plekke sê die Bybel dat daardie benaderings eenvoudig nie sal werk nie (verwys na Esegiël 7:14-19)!

Oorweeg liewer die woorde van Jesus Christus: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Vir diegene wat hul bekeer – wat gewillig is om hul na God se Woord te wend, om te lees wat dit sê en dit werklik van toepassing maak in hul lewens – bied God beskerming teen die verskriklike tye wat voorlê. Indien u daardie lewensveranderende keuse maak, sal die baie toekomstige rampe wat die Bybel voorspel, in werklikheid tekens van groothoop word. Soos Christus aan ons sê in Lukas 21:28: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”.

Ja, hierdie profetiese gebeure het ’n einde – ’n doel. Jesus Christus sal spoedig terugkeer! Nadat Hy die teenstand van ’n rebelse en hardkoppige mensdom gebreek het, sal Hy die Koninkryk van God inlui – ’n tyd van vreugde, oorvloed en vrede, heeltemal anders as enigiets wat die mensdom nog ooit beleef het! Mense sal leer om hul lewens te leef op die manier wat God eintlik beplan het dat dit geleef moet word, in ’n intieme verhouding met hul ware Skepper. Wat sal gebeur met diegene wat leer om nou, in hierdie lewe en in hierdie dae, hul Skepper te gehoorsaam en Sy gebooie te onderhou in ’n wêreld wat daardie gebooie haat? Hulle sal in glorie en mag, soos wat mens jou in ’n duisend leeftye nie kan indink nie, saam met Jesus Christus heers en onder Hom werk om die wêreld te leer!

Dít is die waarheid – en dit bied soveel meer hoop as ’n toevallige datum op ’n stowwerige, antieke kalender!