Is daar ’n verlore dimensie in die soeke na wêreldvrede? Die Bybel onthul belangrike sleutels!


Waarom is die soeke na wêreldvrede so moeilik en frustrerend? Waarom het die pogings van diplomate, pouse, politici, weermagte en generasies van betogers versuim om blywende vrede te bereik? Waarom was die Verenigde Volke nie in staat om werklike eenheid onder die nasies en volkere van die wêreld te bevorder nie? Wat skort met menslike pogings om onmin, geweld en oorloë wat steeds oral op aarde uitbreek, te beëindig? Is daar ’n weg wat tot ware vrede op aarde sal lei?

Hoe verrassend dit ook al vir hedendaagse skeptici en sekulêre geleerdes mag voorkom, onthul die Bybel ’n verlore dimensie in die soeke na vrede. Die getuienis van die geskiedenis toon die ontnugterende gevolge wanneer hierdie noodsaaklike inligting nie verstaan word nie. Terwyl baie mense vandag aanneem dat dit onmoontlik is om die toekoms akkuraat te voorspel, onthul Bybelprofesie duidelik hoe daar vrede na die aarde sal kom. Wanneer u verstaan wat die Bybel aangaande die ware weg na vrede onthul, kan u ware hoop vir die toekoms hê!

Die bloedigste eeu

Geweld en oorlogvoering teister die mensdom al vir duisende jare, maar die afgelope jare was van die gewelddadigste. Die vooraanstaande Britse historikus, Niall Ferguson, skryf: “Die twintigste eeu was die bloedigste era in die geskiedenis ... tussen 167 miljoen en 188 miljoen mense het weens georganiseerde geweld gesterf” (Foreign Affairs, September-Oktober 2006, bl. 61). Ferguson voer aan dat “die Tweede Wêreldoorlog [wat ongeveer 55 miljoen lewens geëis het] die grootste mensgemaakte katastrofe van alle tye was” (War of the World, bl. xxxiv). Hy vra: “Wat maak die twintigste eeu... so bloedig? Die honderd jaar na 1900 was immers ’n tyd van ongekende vooruitgang” waarin kennis ontplof, tegnologie vooruitgegaan, lewensverwagting toegeneem en die lewensgehalte vir baie mense ongekende hoogtes bereik het (ibid., bl. xxxv). In sy soeke na die oorsake vir moderne geweld, neem professor Ferguson waar: “Die verwagting kon gewees het dat sulke voorspoed die oorsake van oorlog uit die weg sou ruim. Baie van die ergste geweld van die twintigste eeu het egter relatief ryk lande betrek” (Foreign Affairs, September-Oktober 2006, bl. 62). Na die evaluering van die faktore wat meestal as oorsake van oorlog en geweld voorgehou word – die beskikbaarheid van meer verwoestende wapentuig, ekonomiese krisisse, die verskyning van grootheidswaansinnige diktators en uiterste ideologieë – “is nie in staat om oortuigend te verduidelik waarom dodelike konflik op spesifieke tye en plekke plaasgevind het nie” (ibid., bl. 64).

In Ferguson se ontleding is die drie hoofoorsake van die geweld in die 20ste eeu, die opvlam van etniese konflik, ekonomiese plofbaarheid (stadig- of snelgroeiende ekonomieë wat samelewings onstabiel laat) en die verval van ryke (Ferguson, bl.xli). Hy is nie die enigste een wat erken dat hierdie faktore weereens op die wêreldfront uitbreek nie, en hy waarsku dat “indien die geskiedenis van die twintigste eeu ’n riglyn is, die brose raamwerk van die beskawing baie vinnig ineen kan stort” (ibid., bl. 645). Ferguson sluit sy wetenskaplike studie van oorlog af met hierdie woorde: “Ons sal nog ’n eeu van konflik vermy, slegs indien ons die kragte verstaan wat die vorige een veroorsaak het – die donker magte wat etniese konflik optower en imperiale wedywering weens ekonomiese krisisse, en sodoende ons gemeenskaplike menslikheid weerspreek. Dit is magte wat diep binne almal van ons woel” (ibid., bl. 646). Die ontnugterende les van die 20ste eeu is dat ons nóg die werklike oorsake van oorlog, nóg die werklike weg na vrede op die aarde verstaan!

Mislukte drome

Die wêreld se bloedigste eeu het ook herhaaldelike en ongekende wêreldpogings gesien om oorlog uit die weg te ruim en vrede te bevorder, maar geeneen van daardie mensgemaakte planne het daarin geslaag om die uiteindelike doel van wêreldvrede te verwesenlik nie. In die jare pas na die Eerste Wêreldoorlog – die sogenaamde “oorlog om alle oorloë te beëindig”, ook genoem die oorlog “om die wêreld veilig te maak vir demokrasie” – het die politieke leiers in Amerika en Europa die Volkebond gevorm “om internasionale samewerking te waarborg en internasionale vrede en sekuriteit te bereik” (Civilization Past and Present, Brummett et al., bl. 762-763). Die Volkebond was die “eerste stelselmatige en deeglike poging om ’n organisasie te skep wat ontwerp is om oorlog te voorkom en vrede te bevorder" (ibid., bl. 764). Wêreldleiers se pogings om die Volkebond te skep en te onderhou, het “voortgespruit uit die strewe van mense regoor die wêreld om oorlog vir altyd te voorkom” (The World Book Encyclopedia, 50ste uitgawe, vol. 12, bl. 140). Die Verenigde State het egter uiteindelik geweier om by die organisasie aan te sluit, ander nasies het geweier om met hierdie wêreldeksperiment saam te werk en die Volkebond het sy onvermoë bewys om vrede in die wêreld te bewaar en nuwe oorloë te voorkom.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die nasies van die wêreld nog ’n poging aangewend om oorlog te voorkom en vrede op aarde te bevorder. In 1945 het die wêreld se magtigste lande die Verenigde Nasies gevorm met ’n agenda baie dieselfde as dié van die mislukte Volkebond. Soos ’n voormalige Amerikaanse weermaggeneraal, President Dwight Eisenhower, per geleentheid opgemerk het: “Met al sy foute, al die mislukkings ... verteenwoordig die VN steeds die mens se bes-georganiseerde hoop om die slagveld vir die konferensietafel te verruil” (ibid.). In die 60 jaar sedert sy stigting, het die VN egter versuim om die weg na vrede te vind of om die oorsake van oorlog uit die weg te ruim. Eindelose pogings tot onderhandelings en dosyne pogings om “VN-vredebewaarders” na konflikgebiede te stuur, kon ook nie die probleem van oorlog oplos nie.

In die 20ste eeu het die twee wêreldoorloë in Europa begin en het eers slegs Europese magte betrek. Met daardie geskiedenis in gedagte, het leiers met visie in Europa gewerk om die nasies van Europa saam te bind deur verdrae, handelsooreenkomste en trans-nasionale regeringstrukture die lewe te laat sien wat die Europese Unie uitmaak – insluitend die Europese Kommissie, ’n Europese Parlement, ’n Europese Hof, ’n Europese Bank en ’n ontluikende Europese Weermag. Die doel is om die nasies van Europa stewig saam te bind in ’n Europese Unie ten einde nog ’n oorlog in Europa te voorkom. Die EU was egter magteloos om die onlangse volksmoord in die Balkan te voorkom. Die EU was ook nie in staat om te voorkom dat internasionale terrorisme die nasies van Europa tref nie. Ten spyte van ’n eeu van menslike pogings om maniere te vind om wêreldvrede te bevorder, sien ons tans ’n verrysing van ’n “botsing van beskawings” namate gewelddadige Moslemekstremiste posisie inneem teen die sogenaamde “Christelike nasies” van die Westerse wêreld. Terwyl baie van die wêreld se mense vrede wil hê, sê Ferguson “broei daar vandag steeds nog ’n wêreldkonflik” en die kruitvat wat daardie konflik kan laat ontplof, blyk in die Midde-Ooste te wees (Foreign Affairs, September-Oktober 2006, bl. 74).

’n Noodsaaklike verlore dimensie

Waarom het die pogings van party van die wêreld se beste verstande – wat ywerig werk om geweld en konflik te voorkom en vrede te bewerkstellig – misluk om hierdie eerbare doeleindes te behaal? Is daar ’n kritieke dimensie wat politieke- en godsdiensleiers van dié wêreld nie kan begryp nie? Hoewel dit vir sekulêr-georiënteerde denke ongelooflik mag blyk, onthul die Bybel waarom die mensdom vergeefs worstel om die weg na vrede te vind. Die profeet Jesaja het hierdie ontnugterende waarskuwing lank gelede gerig aan dié wat die raad van die Ewige God verontagsaam: “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8). Die ware God van hierdie heelal het meer as 2 500 jaar gelede verduidelik hoe die pogings tot vrede en die voorkoming van konflik deur blote mensehande – diplomasie, verdrae, optogte, gewapende tussentrede, kern-afskrikmiddels en internasionale organisasies wat samewerking probeer bevorder – nie in die langtermyn sal werk indien hulle ’n fundamentele dimensie wat God in die Skrif openbaar het, ignoreer nie.

Ons vind dat hierdie noodsaaklike sleutel tot ware vrede beskryf word in die geskrifte van Israel se koning Dawid, van wie God gesê het dat hy “’n man na my hart” is (Handelinge 13:22). Dawid verklaar duidelik in die Skrif: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). Eeue later het die profeet Jesaja hierdie selfde noodsaaklike sleutel beklemtoon: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid” (Jesaja 32:17). Die Bybel verduidelik hoe gehoorsaamheid aan die Wette en gebooie van God deel uitmaak van regverdigheid (Psalm 119:172). Hierdie noodsaaklike dimensie – die nodigheid om God se instruksies oor hoe om vrede te bereik, te gehoorsaam – is nie deel van die denkwyse van hedendaagse politieke- en godsdiensleiers van hierdie wêreld nie.

God het die volk Israel herhaaldelik gewaarsku dat dit erge gevolge sal verduur omdat “jy die Here jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie” (Jeremia 2:19). Die profete het streng waarskuwings gerig aan misleide godsdiensleiers wat nagelaat het om die ware weg na vrede te verduidelik. Hulle merk op dat “van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste [oppervlakkige] manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:13-14; 8:11). Vandag steek pouse en predikers kerse op en lei gebede vir vrede en vir oorwinning op die slagveld sonder om te verduidelik wat die Bybel onthul oor die weg na vrede – dat die ware weg om oorlog te voorkom en vrede te bevorder die aanleer van gehoorsaamheid aan die Wette van God verg. Jesaja het ook geprofeteer van ’n tyd wanneer “die helde skreeu daarbuite” oor die mislukking van hul pogings om oorlog te voorkom en vrede te bevorder (Jesaja 33:7). Jesaja se woorde kan skaars die tragedies van die 20ste eeu beter beskryf – wanneer ongekende pogings soos die menslik-bedinkte Statebond en die Verenigde Volke misluk het om die bloedigste dekades in menseheugenis te voorkom!

Hoe vrede sal kom

Is ons egter gedoem om aan eindelose konflik en bloedvergieting tussen die nasies en volke van hierdie wêreld te ly? Is daar enige werklike hoop vir ware vrede op aarde? Die Bybel onthul weereens die opwindende antwoorde wat baie godsdiensleiers nie verduidelik nie – en waarskynlik nie verstaan of selfs glo nie. Die Bybel sê duidelik dat Jesus Christus sal terugkeer na hierdie aarde (Mattheus 24:30-31; Johannes 14:3; Handelinge 1:6-11; Openbaring 3:11). Hy sal staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê (Sagaria 14:1-4). Hy sal terugkeer op ’n tyd wanneer die nasies van hierdie wêreld gewikkel is in ’n wêreldstryd wat die einde van die mensdom sal beteken mits dit nie betyds stopgesit word nie (Mattheus 24:6-8, 21-22). Met Sy Wederkoms sal Jesus Christus beheer neem van die koninkryke van hierdie aarde en ’n wêreldregering daarstel wat in Jerusalem begin en uiteindelik die hele aarde sal beslaan (Openbaring 11:15-19; Jesaja 2:2-4). Hierdie is ’n grondliggende deel van die evangelie wat Jesus tydens Sy lewe op aarde verkondig het. Om meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp te bekom, tree gerus in verbinding met ons streekkantoor wat op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn, en vra ons gratis boekie, “Glo u die ware Evangelie?” aan.

Die Bybel voorspel lank reeds dat die heiliges saam met Jesus Christus in hierdie “koninkryk van God”, op hierdie aarde sal regeer (Daniël 7:27; Mattheus 19:28; Openbaring 5:10). Die heiliges – individue wat geroep en onderrig is om die Wette van God in hierdie fisiese lewe toe te pas – sal begin om die Wette van God aan alle mense te verduidelik en die wêreld die weg na ware vrede aan te wys. Dít is wat die profeet Jesaja beskryf het toe hy geskryf het: “Want uit Sion [Jerusalem] sal die wet uitgaan... En Hy sal oordeel tussen die nasies ... en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4). Die Bybel verwys duidelik na ’n tyd wanneer daar nie meer militêre akademies, gewapende magte, weermagsindustrieë of wapenhandelaars sal wees nie – dit sal met die Wederkoms van die Verlosser iets van die verlede word.

Jesus Christus sal as “die Vredevors” die regering van God op hierdie aarde vestig en Hy sal ’n tyd van vrede inlei wat vir ewig sal duur. Jesaja gee hierdie inspirerende profesie: “Vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:6). Die Bybel onthul dat die weg na ware vrede behels dat mense geleer word hoe om volgens die onveranderlike Wette van God te leef. Mense sal leer dat dit verkeerd is om te moor, te steel, te lieg, wellustig te wees of te verkrag – selfs onder die vaandel van godsdiens (Eksodus 20:12-17). Hulle sal leer dat dit verkeerd is om selfs net gedagtes van haat en dweepsug te koester, en hulle sal leer hoe om in tye van konflik tot vergelyk te kom, eerder as om oorlog te voer (Mattheus 5:21-26; 18:15-20). Hulle sal leer dat weerwraak nie ’n effektiewe manier is om vrede te vind nie (Mattheus 5:38-48). In God se komende koninkryk en regering sal die Wette van God nie as eenvoudige alledaagshede afgemaak word nie; hulle sal liefderyk dog streng deur die mag van God ondersteun word (Psalm 2:7-9; Openbaring 2:27). Die Bybel onthul dat dít is hoe swaarde uiteindelik ploegskare sal word, en hierdie aarde eindelik ware vrede sal vind.