COVID-19 rig steeds verwoesting aan op die ekonomiese gebied. Wat kan ons leer van die tekorte wat so algemeen geraak het?

Onlangs moes ’n hoofwaterpyp naby my huis herstel word. Die watertoevoer is gevolglik vir ’n dag of wat afgesny. Ons verwag dat hierdie ontwrigtings van tyd tot tyd sal plaasvind, dus het almal dit maar so in die verbygaan aanvaar. Nadat die watertoevoer hervat is, het ons die krane oopgedraai en ’n bietjie water het dadelik uitgeloop, maar toe het die krane begin water en lug uitblaas. Waarom? As gevolg van die herstel van die toevoerpyp was ’n groot gedeelte daarvan sonder water. Nadat die lug egter ontsnap het, het vars water weer by ons huis se waterpyp ingevloei, aangesien die normale diens herstel is.

Ons moderne wêreld het baie verskillende pyplyne – baie produkte bereik hulle bestemmings deur ’n kombinasie van vragskepe, vragvliegtuie, spoorvervoer en vragmotors – figuurlik gesproke almal saam ’n “voorsieningsketting-pyplyn” wat items van vervaardigers na verbruikers neem. Dit begin met grondstowwe wat aan die een kant van die pyplyn ingevoer word en deur komplekse prosesse van vervoer wat vervaardiging, samestelling, sortering, verwerking gaan en wat dan by verskeie punte langs die pyplyn afgelewer word voordat dit verbruikers aan die ander kant bereik.

Maatskappye wat probeer om kostes laag te hou, het die voorsieningsketting swak asook gekompliseerd gemaak, deurdat elke stap onderling afhanklik van die ander stap is. Dit maak die voorsieningsketting-pyplyn kwesbaar, selfs vir klein ontwrigtings. Wanneer hierdie ontwrigtings die vlakke bereik wat ons sedert die begin van die COVID-pandemie ondervind het, het verskeie faktore wat ons moderne globale voorsieningsketting kompliseer duidelik geraak.

Dink daaraan:

• Baie van die wêreld se toevoerlyne het geen surplus personeel nie en min sekondêre opsies is beskikbaar as die toevoerlyn van ’n spesifieke komponent onderbreek word.

• Wanneer daar betroubare voorsieningskettings is, kan voorraad wat “betyds” beskikbaar is, doeltreffend en teen laer koste bewerkstellig word, maar met onvoldoende voorraad van noodsaaklike onderdele, word vervaardigings-prosesse kwesbaar vir ontwrigting.

• Regeringsbeleide wat in die greep van ’n krisis aanvaar word, kan beplanning vir vervaardigers moeilik maak wanneer hulle moet reageer op groot skommelings in verbruikersaanvraag en soms selfs op tekorte wat veroorsaak word deur oorhaastig opgestelde beleidsrigtings.

Elke skakel in die voorsieningsketting maak staat op die vorige skakel. Wanneer een verskaffer nie sy deel kan doen nie, kan ander verskaffers in die ketting nie hulle gedeelte doen nie, aangesien hulle nie die nodige onderdele kan kry nie. Uiteindelik betaal verbruikers meer vir minder items wat die ketting in staat is om te verskaf. Net soos in die geval van die waterpypleiding in my woonbuurt – sodra probleme opgelos en toevoer herstel is – neem dit tyd voordat goedere hulle bestemming kan bereik.

Die COVID-pandemie

Nadat die COVID-19-pandemie die wêreld vroeg in 2020 getref het, het baie hospitale se intensiewe sorgeenhede vinnig vol pasiënte geraak en regerings regoor die wêreld het inperkings geïmplementeer om die verspreiding van die siekte te vertraag. Produksie van baie goedere en dienste het eenvoudig opgeraak en die aanvraag na sommige produkte soos motors, wat nutteloos vir ingeperkte bevolkings was, het vinnig afgeneem.

Dit het talle verbandhoudende ontwrigtings van interaksie in wêreldwye voorsieningskettings veroorsaak. Vervaardigers van rekenaar-mikroskyfies in Taiwan en Suid-Korea is byvoorbeeld verantwoordelik vir 83 persent van die wêreld se produksie van mikro-verwerkers en 70 persent van die uitset van geheueskyfies. Daardie mikroskyfies is ’n uiters noodsaaklike komponent van baie produkte, met inbegrip van motors. Met die vraag na motors wat in 2020 skerp gedaal het, het vervaardigers van halfgeleiers hulle produksie verskuif om aan ander verbruikersbehoeftes te voldoen. As gevolg hiervan – toe die vraag na motors in 2021 die hoogte ingeskiet het – kon motorvervaardigers nie genoeg halfgeleiers koop om genoeg produksie te hervat om aan die oplewing in die aanvraag te voldoen nie. Dit het tekorte aan motors, sowel as hoër pryse vir verbruikers beteken.

Daar was tekorte aan baie soorte produkte. Volgens ’n November 2021-verslag van Adobe Digital Insights het aanlynkopers in Oktober 2021 alléén meer as twee miljard boodskappe ontvang vir items wat nie in voorraad was nie. Wanneer ons terugdink aan die analogie van die stukkende hoof waterpyp – was daar “lug in die pyplyn”.

Wêreldwye produksie neem weer toe en nywerheidsbestuurders wat ontmoedig is, hoop om maatreëls te implementeer om voorraadontwrigtings in die toekoms tot die minimum te beperk. Daar word berig dat China byvoorbeeld ’n voorraad van halfgeleiers opgaar, voordat die verwagte Amerikaanse sanksies die jaarlikse aankope tot $380 miljard opstoot – wat weer sal bydra tot die wêreldwye tekort in halfgeleiers. Ekonome hoop dat die pyplyn baie van sy kapasiteit teen laat 2022 sal herstel, maar sommige sektore sal dalk eers in 2023 of 2024 herstel kan word.

Tekorte en nasionale veiligheid

Logistieke, toevoerlyne en grondstowwe kan ernstige nasionale veiligheidskwessies wees. Nasies sal hulle tot oorlog wend ten einde die hulpbronne van kritieke belang vir hulle ekonomieë te verseker. Wat veral kommerwekkend is, is petroleum – soos die wêreld gesien het in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog. Die V.S. was destyds ’n groot petroleum-uitvoerder, maar het ’n verbod op die verskaffing van ru-olie aan Japan geplaas. Baie mense onthou nie vandag dat kwessies rakende die voorsieningsketting ’n belangrike faktor in Japan se besluit was om Pearl Harbor, Maleisië en Thailand aan te val om sodoende die hulpbronne en toevoerlyne te verseker wat noodsaaklik is vir sy heerssugtige ambisies nie. Net so was een bepalende motivering met betrekking tot Hitler se besluit om die U.S.S.R. tydens die Tweede Wêreldoorlog aan te val, die Duitse militêre mag se behoefte aan ’n stabiele bron van petroleum uit die Kaukasus.

Europese leiers is gedurende die laaste jare meer bekommerd dat Rusland besig is om die voorsiening van aardgas aan Europa as “wapen” te gebruik om ekonomiese en politieke toegewings te eis. Dit is ook kommerwekkend dat ongeveer ’n derde van die wêreld se skeepvaart deur die Suid-Chinese See vaar. China gaan voort om sy aansprake in daardie streek te militariseer en uit te brei, in wat tans as internasionale waters erken word. Deur militêre beheer oor daardie skeepsroetes te verkry, kan China ’n magtige ekonomiese en politieke hefboom oor wêreldhandel hê. Terwyl China sy vlootmagte versterk, verloor die V.S. beheer oor die wêreld se seepoorte, wat kommer oor strategiese voorrade verhoog.

Oorloë en gerugte van oorloë

Kort voor Sy kruisiging het Jesus Christus Sy dissipels opgeneem na die Olyfberg, wat ongeveer ’n kilometer oos van Jerusalem se Tempelberg oorkant die dal van Kidron is. Vandag kan daardie gebied deur toeriste besoek word en as ’n mens weswaarts oor die vallei na die Tempelberg sou kyk, mag u dalk die profesie van Sagaría onthou wat sê: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; ... En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaría 14:2-4).

Terwyl die dissipels oor die dal van Kidron na die Tempel uitgekyk het, het hulle moontlik ook hierdie profesie onthou wat deur Sagaría gegee is. Hulle het vir Jesus gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Matthéüs 24:3-8).

In die laaste boek van die Bybel beskryf Christus verder die wêreldtoestande net voor die rampspoedige gebeure wat Sy Wederkoms sal voorafgaan. Eerstens openbaar Hy ’n wit perd, wat valse Christenskap voorstel wat die wêreld sal mislei. Die volgende wat sal plaasvind is oorloë, wat uitgebeeld word as “’n ander perd, ’n vuurrooie, ... en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.” Kos sal onbekostigbaar raak tydens hongersnood – “’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.” Uiteindelik kom siekte-pandemies en wydverspreide dood, soos die teks voortgaan: “... kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk [die graf] het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:1-8).

’n Paar jaar gelede kon ons wêreld homself nie ’n wêreldwye pandemie – ’n “pes” – indink wat ons lewenswyse in net ’n paar maande sou verander nie. Min mense sou hulle die voedseltekorte, ontwrigting van voorrade en internasionale spanning wat ons nou sien, kon voorstel. Ons hoor byna daagliks van oorloë en gerugte van oorloë in die nuus en die moontlikheid van oorlog is ’n groot internasionale bekommernis in Europa, die Midde-Ooste, Taiwan en die Suid-Chinese See. Hierdie probleme is nie noodwendig die begin van die Groot Verdrukking nie – wat die Bybel sê net voor Christus se Wederkoms sal plaasvind – maar dit gee ons ’n idee van wat in ’n baie kort tydjie in ons onderling verbinde wêreld kan gebeur.

Jesus was baie duidelik met Sy instruksies met betrekking tot diegene wat in die eindtyd leef, wanneer dit alles sou gebeur. Hy het gesê: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Markus 13:35-37).

Waarna behoort ons te kyk? Bybelse profesieë wat in die konteks van huidige gebeure gesien word! In die gelykenis van die vyeboom, wat gedurende dieselfde tyd op die Olyfberg gegee is, het Jesus gesê: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Markus13:28-31). Christus se instruksies is gewis.

Die Wêreld van Môre is toegewy daaraan om u te help om op die uitkyk te wees, om huidige gebeure in Bybelse verband te plaas. Om meer te wete te kom oor naderende, geprofeteerde gebeure, bestel gerus gratis eksemplare van Vervulde Profesie: God se Hand in Wêreldsake en Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig of lees dit aanlyn by wvm.co.za.