Ons moenie doekies omdraai en weier dat tyd en politieke agendas ons nagedagtenis verander nie. Op 7 Oktober 2023 het monsters die nasie Israel oorval.
Namate die nuus daardie dag versprei het, het baie Israelies hulle na hulle selfone of televisieskerms gehaas om beeldmateriaal te sien van terroriste wat die land- en kusgrense oorsteek – selfs in klein, geïmproviseerde vliegtuie. Hulle het toegesak op ’n musiekfees waar duisende jongmense gedans het. Hulle het woonbuurte binnegedring. Hulle het by huise ingebreek en hulle doelwit was duidelik: Maak dood, vermink, verneder, verkrag, martel en ontvoer.
Dit is, met ander woorde, om te terroriseer.
Ten tye van hierdie skrywe, dui verslae daarop dat Hamas-terroriste ongeveer 1,200 mense in Israel gedood het, meer as 5,000 beseer en meer as 240 mense ontvoer het. ’n Mens sou gehoop het dat die Westerse media, wat voorheen huiwerig was om Hamas, ’n terroriste-organisasie te noem, baie gou hulle fout sou insien terwyl hulle na beeldmateriaal gekyk het van Hamas se “soldate” wat deur die stad paradeer het. Daar is met die verkragte en vermoorde jong vroue se vernederde lyke, waarop gespoeg is, geparadeer. Ongelukkig het die gesloer voortgeduur en moreel bankrot ideologieë is oorheers deur baie “invloedrykes” van openbare meningsvormers.
Sommige mense in die Weste beskou Hamas se optrede as geregverdigde dade van aggressie teen “koloniseerders”. Die wrede verkragting van vroue, die sistematiese terrorisering en slagting van onskuldige gesinne en kinders asook die feesvierende verontheiliging van die liggame van die vermoordes, word vir hierdie betreurenswaardige siele aanvaarbare vorms van geweld wanneer die motief na bewering “dekolonisering” genoem word. Die Westerse beskawing het tot ’n vlak gedaal waarop ’n selfverklaarde “feministiese” organisasie soos CodePink die verkragting van weerlose vroue, die vertoon van vroue se lyke as trofees en die ontvoering van verskrikte vroue, ondersteun deur mans wat beoog om hulle in die openbaar en onbeskaamd onuitspreeklike leed aan te doen. Namate sulke ideologiese verrotting toeneem, kan die woorde “Westers” en “beskawing” nie in verband met mekaar gebring word nie.
Geen morele gelyke
Geen politieke affiliasie – of enige teken van politieke besorgdheid – is nodig om in te sien dat die optrede van 7 Oktober 2023, boos en ’n afskuwelike klad op die mensdom is nie. Ja, internasionale verhoudings is ingewikkeld – veral in ’n streek wat so oproerig is soos die Midde-Ooste. Niemand sê dat die staat Israel in sy hedendaagse geskiedenis onberispelik is nie. Niks hiervan kan egter die eenvoudige aard van die onverskoonbare gruweldaad wat die Israeliese volk toegedien is, verander nie. Diegene wat sou beweer dat Hamas se jongste optrede deel is van die een of ander aanvaarbare plan om Israel in eie munt terug te betaal [“tit for tat”] vir hulle oortredings – asof daar morele gelykwaardigheid tussen Hamas se gruweldade en die optrede van die staat Israel is – is misleidend en is vasgevang in ’n moreel korrupte siening van ons samelewing.
Hamas en soortgelyke organisasies, is tevrede daarmee om hulle eie kinders se skole en hulle eie mense se hospitale te gebruik as skuilings vanwaar hulle aanvalle kan loods en hulle maak staat op Israel se onwilligheid om terug te slaan en onskuldiges dood te maak. Vóór hierdie konflik het baie hoofstroom media-organisasies dit erken en daaroor berig. Ongeag hiervan, wie sou kon voorgee dat, indien die situasie omgekeer was, ’n Hamas-terroris nie nog gretiger sou wees om Israel aan te val op ’n manier wat soveel as moontlik onskuldige burgers sou doodmaak nie? Vir enigiemand wat hulleself dit anders voorstel, behoort hierdie jongste Hamas-aanvalle sulke waanbeelde uit te wis. Die moord, verminking en marteling van die onskuldiges was die doel van Hamas se aanval. Daar is geen morele vergelyking tussen een kant wat gereeld menslike skilde gebruik en ander wat deur die teenwoordigheid van menslike skilde afgeskrik word nie.
Net so is daar geen morele vergelyking tussen een kant wat dikwels waarskuwings gee aan plekke wat gebombardeer gaan word sodat die onskuldiges kan vlug – selfs al loop so ’n waarskuwing die risiko om die doeltreffendheid van ’n aanval te verminder – terwyl die ander kant wat sonder waarskuwing aanval om te verseker dat soveel as moontlik onskuldige slagoffers verkrag, geterroriseer en doodgemaak sal word. Daar is ook geen morele vergelyking tussen een kant wat probeer om kollaterale skade onder nie-vegtendes tot die minimum te beperk en die ander kant wat die beelde van mishandeling van hulle vyand se kinders uitsaai, spog met die vertoning van die naakte en verontheiligde liggame van hulle vyande se dogters en vrouens en video’s die rondte laat doen van die vernedering en terrorisering van hulle vyande se oumas nie.
Internasionale betrekkings en politiek is ingewikkeld. Oorlogvoering tussen nasies behels altyd morele kompromieë, met of sonder goedkeuring. Baie selde, in enige konflik, kom enige kant onskuldig daaruit. Daar is egter niks ingewikkeld aan die optrede wat op 7 Oktober 2023 plaasgevind het nie. Dit kan moreel nie vergelyk word nie. Diegene wat enigsins glo dat die optrede van Hamas op daardie dag geregverdig was, het die moraliteit van monsters aangeneem en moet berou hê. God oordeel ons nie net vir wat ons doen nie, maar ook vir wat ons goedkeur (Romeine 1:32).
Die enigste weg na vrede
Ons kan dus wonder: In hierdie dodelike Midde-Oosterse landskap – met sy diepgesetelde haat wat sy oorsprong het in ’n konflik wat véél dieper strek as geskille oor grense en hulpbronne en politieke intriges – hoe en wanneer sal vrede uiteindelik kom?
Sommige mense interpreteer hierdie jongste konflik as ’n teken dat daar dalk nooit vrede – ten minste nie werklik volhoubare vrede – in die Midde-Ooste sal wees nie. Hulle is nie ver van die waarheid af nie. Menslike pogings alléén sal nie die probleme van hierdie onrusgeteisterde streek oplos nie.
Daar kom nogtans binnekort ’n tyd wanneer meer as menslike pogings ’n rol sal speel. Soos Richard Ames in Die Midde-Ooste in Profesie skryf: “Ons moet egter onthou dat vrede in die mens se lewe slegs tot stand kan kom as sy menslike natuur verander word. God sal aan die oorgrote meerderheid van alle mense die gawe van Sy Gees skenk. Dan sal hulle leer hoe om die weg na vrede te vind” (bl. 40).
Die Vredevors kom en Hy sal kom met “genesing onder sy vleuels” (Maleàgi 4:2). Ongelukkig sal daar meer bloedvergieting wees in die dae en jare wat voorlê. Israel, sowel as die Verenigde State en Groot-Brittanje, staar ’n toekomstige verdrukking in die gesig wat al die lyding van die verlede as gering sal skat wanneer dit vergelyk word. (Matthéüs 24:21; Jeremia 30:7). Tensy ware bekering en ’n fundamentele terugkeer na God die Vader en sy Seun plaasvind, is die koms van daardie lyding ’n besliste feit.
Daar is egter goeie nuus. Diegene wie se wreedheid geen perke in hierdie lewe geken het nie, sal geregtigheid in die gesig staar deur die hande van die Een wat geen barmhartigheid bewys aan diegene wat geen genade bewys het nie (Jakobus 2:13). Die monsters van 7 Oktober behoort te sidder oor die wete dat so ’n dag gaan kom en dat die God van die wese en die weduwees verklaar dat Hy hulle geroep hoor en dat Hy sal vergeld (Exodus 22:22-24). ’n Tyd van genesing en vrede, soos die wêreld nog nooit geken het nie, gaan kom met die Wederkoms van Jesus Christus. Laat ons uit die diepte van ons harte bid dat Sy Koninkryk binnekort kom en totdat vandag se wêreld, die wêreld van môre word, laat ons almal bid “om die vrede van Jerusalem” (Psalm 122:6).