Die meeste lesers van hierdie tydskrif verstaan dat dit lyk asof die gebeure wat in die Bybel voorspel word, besig is om te “versnel” soos ons die einde van hierdie tydvak nader. Maar, besef u werklik waarom Christus Sy ware volgelinge aangesê het om “waaksaam” te wees, om te lét op hierdie gebeure?

Soos die meeste van u weet, het die ware Christus van die Bybel nie Sy Kerk gestig om dit te vul met “dierbare ou dames” wat mooi gedagtes koester oor “eendag hemel toe gaan” nie. Die Bybel praat eerder aanhoudend van dramatiese gebeure wat gaan plaasvind in die voorspelde “laaste dae” van hierdie menslike samelewing – wat hulle klimaks gaan bereik met die Wederkoms van Jesus Christus as “Koning van die konings” (Openbaring 19:11-16).

Dan sal die vestiging van die ware “Nuwe Wêreld Orde” plaasvind – die Koninkryk of Regering van God, deur middel van Jesus Christus en Sy heiliges, wat dan einde ten laaste vir ’n duisend jaar, werklike vrede na hierdie hele wêreld sal bring! Jesus sê, “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Soos die meeste van u weet, is hierdie Werk van die lewende Christus nou reeds vir baie jare besig om ons nasies te gewaarsku aangaande die spesifieke Bybelvoorspellingswat in groot besonderhede beskryf wat voorlê vir die Verenigde State, én vir die nasies wat van Britse afkoms is wat Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika insluit. Baie van daardie profesieë het alreeds begin om gestalte aan te neem! Die verskillende “gedeeltes” van die Bybelvoorspelde scenario kom toenemend in skerp fokus, maar die “hoofstroom” predikante van hierdie wêreld verstaan dit eenvoudig nie. Hulle kan nie hierdie nasies se profetiese identiteit in eindtydse gebeure herken nie. Die meeste Bybelstudente vandag ignoreer totaal die deurslaggewende kwart van God se woord wat profeties is.

Maar u behoort dit te weet! Dit is nodig dat u dit verstaan
In Sy beroemde Profetiese rede op die Olyfberg, beskryf Jesus ’n hele vlaag van baie vals predikers (Mattheus 24:5). Hy beskryf ’n eindtydse opbou van “oorloë en gerugte van oorloë” – ’n toepaslike beskrywing vir die oorloë en stamgevegte wat nou in dele van Afrika, die Midde-Ooste en elders regoor die aardbol voorkom. Jesus voorspel ook daar sal “hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (vers 7).

Nadat Hy hierdie en ander soortgelyke eindtydse gebeure beskryf het, sê Jesus: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan ” (Lukas 21:34-36).

Inderdaad, indien ons toelaat dat ons so betrokke raak in ons “daaglikse roetine” – ons werk, ons geliefkoosde televisieprogramme, die Internet en so baie ander afleidings – sal ons heeltemal faal om waarlik “paraat” te wees vir hierdie uiters belangrike profetiese gebeure wat vinnig besig is om plaas te vind! Ons sal dan, soos Jesus waarsku, belas wees deur die “sorge van die lewe”. Jesus beveel ons dus om te “waak,” om die ontvouing van hierdie profetiese gebeure dop te hou, sodat ons sensitief kan wees vir God se groot doel. Ons Skepper is besig om die opkoms en val van nasies te lei, om in te gryp deur kragtige weerverwante gebeure en aardbewings en pessiektes wat Hy spesifiek vir ons tyd voorspel het. Ons waaksaamheid ten opsigte van profetiese gebeure – terwyl ons dringend bid dat God Sy mense sal beskerm en hierdie gebeure tot hul beswil sal lei – beweeg ons nader aan ons Skepper en maak dit ons meer bewus van Sy krag, Sy doel en Sy wysheid.

Jesus Christus het hierdie streng teregwysing gerig aan die godsdienstige leiers van Sy dag wat om ’n spesiale teken van Sy Messiasskap gevra het: “In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” (Mattheüs 16:2-3). So is dit ook vandag. Die meeste godsdienstige mense – en hulle leiers – het feitlik geen idee van die voortsnellende profetiese gebeure wat nou besig is om plaas te vind nie, ook nie dat die groot God (wat die opkoms en val van nasies lei) gereed maak om die Verenigde State af te breektensy haar mense eerlik berou tot bekering toon nie!

In een opsig is dit opwindend om die opbou tot die finale Groot Verdrukking “dop te hou”. Maar, in ’n ander baie persoonlike sin, is dit hartverskeurend vir Amerikaners om op te merk hoe hulle geliefde Verenigde State van Amerika afgebreek word. Dit geld ook vir haar wonderlike Britse en Gemenebes bondgenote wat al hoe swakker word – dit terwyl China en Indië hulleself versterk, en die nasies van die Europese vasteland georganiseer word in die finale Supermoondheid wat God in Openbaring 17 beskryf.

Ek is seker dat dit vir ons Britse vriende en broers besonder pynlik is om te besef dat die eens magtige Britse Ryk nie meer bestaan nie, en dat die uiters belangrike “seepoorte” wat eens op ’n tyd deur Brittanje en Amerika beheer was, nie meer aan hulle behoort nie – behalwe Gibraltar en die Falkland-eilande. Selfs hierdie twee sal eersdaags nie meer onder Britse beheer wees nie. Die eens magtige invloed van die Anglo-Saksiese volke regoor die wêreld is stadig maar seker besig om te verdwyn!

God het voorspel dat dit sou gebeur! Die groot God wat aan ons lewe en asem skenk het aan ons voorvaders gesê: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:14-16, 18-19).

Geagte leser, bestudeer hierdie Skrifgedeelte baie noukeurig, en “waak” dan om te sien hoe dit oor die volgende paar jaar in vervulling sal kom – tensy die Amerikaners, en die nasies wat van Britse afkoms is, tot ’n tipe van nasionale berou tot bekering kom soos wat hulle nog nooit vantevore ervaar het nie! Wat u aanbetref, mag God nou besig wees om u verstand en hart te open tot persoonlike berou tot bekering – om werklik die ontsagwekkende doete verstaan wat die Ewige God besig is om onder mense en nasies uit te werk. U het op die een of ander wyse in direkte kontak gekom met die lewensbelangrike Werk wat God tot stand gebring het om Sy waarskuwende boodskap aan die Amerikaners en die nasies van Britse afkoms, bekend te maak en om – as ’n “getuie” (Mattheus 24:14) – die wonderlike Goeie Nuus te verkondig van die toekomstige Regering van God wat oor die hele wêreld gaan heers!

Soos wat hierdie opwindende en nogtans traumatiese voorspelde gebeure voortgaan om oor die volgende aantal jare al hoe vinniger gestalte aan te neem, moedig ek u almalaan om die intensiteit van u Bybelstudie te verhoog asook die vurigheid van u gebede en die diepte van u verhouding met die groot God wat ons lewe en asem gee! Indien u sorgvuldig al die profetiese artikels in elke uitgawe van Die Wêreld van Môre-tydskrif lees – vernaamlik die rubriek “Profesie neem gestalte aan” (elders in hierdie uitgawe) – en indien u waarlik studeer en bid en “waak” soos Jesus Christus ons aansê om te doen, sal hierdie gebeure wat aan die kom is, u nie “bekruip” en onverwags oorval nie! Soos die apostel Paulus aan die Thessalonicense skryf: “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thessalonicense 5:1-6).

Die opkoms van die voorspelde Europese Ryk (die “Dier” van Openbaring 17) sal tydelike “vrede” bring vir miljoene belydende Christene, wat eenvoudig met die meerderheid sal saamgaan en deel sal word van daardie Ryk se magtige godsdiens-politiese sisteem. Maar, wanneer daardie Ryk se leiers sê “vrede en veiligheid,” (1 Thessalonicense 5:3), sal u – wat waarlik u eie Bybel bestudeer het en geleer het om te “waak” – nie mislei word nie! U sou derhalwe Jesus se opdrag om te “waak” en te “bid” ywerig gehoorsaam het. Dus, vir diegene van u wat God nou mag roep, herinner ek aan Christus se woorde: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” (Lukas 8:8).