Die meeste jong mense stel belang in dit wat nuut is: Nuwe style, nuwe neigings, nuwe musiek en nuwe tegnologie. Op daardie gebied, is “oud” selde of ooit “cool”. Wat dan van mense? Is daar enige “ou mense” wat ’n belangrike deel van jou lewe is? Indien nie, waarom nie? Hoe kan dit wat “oud” is die jonges bevoordeel?

Die verheerliking van die jeug

Ons moderne Westerse kultuur verheerlik jonkheid. Het u al ooit opgelet wat die ouderdom van die gewildste kunstenaars is? Sou ’n 45-jarige Justin Bieber duisende gillende aanhangers na ’n konsert lok? Indien Miley Cyrus 36 was, sou sy soveel aandag ontvang het? Ons smag na vars gesigte en jong liggame op ons skerms en verhoë.

Dit is nie ’n probleem wat deur die jeug geskep is nie. Die outeur Arlene Weintraub skryf in haar boek, Selling the Fountain of Youth, dat anti-verouderings medisyne gedurende die laaste dekade ’n R970 miljard-per-jaar-industrie geword het. Sy beweer dat dokters wat in anti-veroudering spesialiseer ’n nuwe bedryf geskep het in die Amerikaanse kultuur, deur “baby-boomers” [babas wat net ná die oorlogsjare gebore is] te oorreed om die proses van veroudering te vertraag en dan munt te slaan uit die diepgewortelde afkeer daaraan om oud te word. Weintraub skryf: “Vir die nasie se 77 miljoen ‘baby-boomers’ wat vinnig op pad is na die Maatskaplike Sekerheidsrolle, is die idee van bejaard wees afstootlik. Hulle is die volmaakte gehoor vir die boodskap dat eenvoudige, veilige chemiese stowwe veroudering kan genees”.

Gelukkig vir diegene wat verby die advertensiegedrewe kniebuig-gesindheid kan kyk, is daar ouer mense wat ’n verborge bron kan wees om ’n jong persoon se lewe te verryk. Oorweeg ’n paar maniere waarop hulle van hulp kan wees:

Begrip

Job het gesê: “By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand” (Job 12:12). Ons het individue in ons midde wat dekades lank geleer het hoe om God se opdragte uit te leef. Hierdie aksie van toepassing van kennis in die daaglikse slagveld van die lewe, is wat wysheid en begrip voortbring. Wanneer ons hulle nou sien, is dit moeilik om die feit te begryp dat God besig was om met sommige ouer manne en vroue te werk sedert die tyd dat hulle dieselfde ouderdom was as wat u vandag is. In Psalm 71 skryf Dawid: “... o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders. En ook tot die ouderdom en die grysheid toe – o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag” (verse 17-18). ’n Ouer man of vrou wat God se manier aangeleer het en dit met vrymoedigheid aan die volgende geslag kan leer, is ’n kragtige instrument in God se hande. Hulle deeglike begrip van God se opdrag is ook ’n goudmyn wat gereed is om deur jonger Christene ontgin te word.

Perspektief

Indien ons kan leer om dinge uit ’n ander persoon se oogpunt te sien, kan ons ons horisonne verbreed en ook baie argumente voorkom! Hoe dikwels het ons al ’n meningsverskil met ’n vriend gehad, net om te besef dat ons die saak uit verskillende hoeke benader het en dat albei net ’n deel van die prentjie gevorm het? Wanneer ons vir ’n oomblik nadink oor die omvang van die perspektief wat ’n ouer persoon mag hê, veral in ons vinnig veranderende wêreld, maak ons ’n deur oop om ’n wêreld te verstaan wat heeltemal anders as ons s’n is. Luister wanneer ’n ouer persoon vertel hoe dit was om sonder rekenaars of selfone te leef – dit kan heel insiggewend wees. Om te kan gesels met ’n bejaarde man wat ’n soldaat in Europa was tydens die Tweede Wêreldoorlog, of ’n bejaarde vrou wat tydens die Groot Depressie grootgeword het, maak ons verstand oop vir ’n wêreld wat moeilik denkbaar is. Hulle was daar! Koning Salomo praat in Prediker 11:10 van die jeug en die jonkheid as “nietigheid”. Hier beteken “nietigheid” nie “ydelheid” nie, dit beteken net “kort”, soos in ’n asemteug. Terwyl ons jonk is, is ons lewenservaring redelik min, dus kan ouer persone aan ons die perspektief gee wat ons self nog kortkom.

Daar is ander redes waarom “oud goed is”. Ouderdom bring dikwels geduld mee en dit is algemeen  bekend dat grootouers net ’n bietjie meer kattekwaad van ’n kleinkind verdra. Dit lyk of die vermoë om tyd te kan geniet, hand aan hand gaan met die ouderdom. Dit sou moeilik wees om ’n “twintigjarige” te sien rustig raak deur op ’n wiegstoel op die voorstoep te sit en kyk na wat in die wêreld aangaan. Ouderdom kan egter die behoefte om by te hou met die gejaagde tempo van ons wêreld temper.

Hoe kan ons hierdie ekstra waardering vir “ouer mense” prakties benut? Hier is ’n paar gedagtes.

Betoon eer en respek

Exodus 20:12 sê aan ons: “Eer jou vader en jou moeder”. Met ander woorde, daar is iets wat geleer en onderrig behoort te word oor respek vir ouers. Ons leer dat hierdie beginsel van die spesifieke voorbeeld wat Hy geïnspireer het om in Levitikus 19:32 aan te teken in die algemeen geld vir diegene wat ouer as ons is. Hier word ons beveel: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer”. God is ernstig genoeg met die ontsag van hierdie beginsel van respek dat hy ons beveel om op te staan wanneer ’n ouer persoon ons nader! Ons sien ’n ander duidelike voorbeeld van respek vir ouer mense in Job 32:4, waar ons lees dat Elíhu, as die jongste van Job se metgeselle, gewag het tot ná Job en die ander metgeselle om te praat. “Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy”. Dit is nóg ’n goeie voorbeeld van hoe om eer en respek te betoon. Wanneer ’n ouer persoon u nader, staan u op, kyk hulle in die oë en groet, of ignoreer u die persoon? Onderbreek u ouer persone se gesprek en praat u met hulle asof hulle u maats is? Dit dui op oneerbiedigheid. Wanneer ons met respek optree, leer ons hoe om te respekteer. Wanneer ons geleer het om te respekteer, sal ons meer ontvanklik wees vir die wysheid, begrip en perspektief wat ouer mense met ons kan deel.

’n Goddelike lewe raak net beter

Die wyse koning Salomo het geskryf: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9). Met ander woorde, God het dit bestem dat die vroeë jare van ons lewe, jare van leer, ondersoek en ondervinding van die lewe behoort te wees, sonder die sorge wat kan ophoop wanneer ons later jare meer verantwoordelikhede het. ’n Wyse jong persoon sal ouer mense waardeer, van hulle leer, na hulle luister en hulle geselskap geniet. Hulle kan Bybelse waardes in die harte van jong mense wat deur God geroep word, vestig, totdat die tyd aanbreek vir vandag se jong mense om die volgende geslag se mentors te wees. Die Psalmdigter skryf: “Die regverdige sal groei soos ’n palmboom; hy sal opgroei soos ’n seder op die Líbanon. Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees” (Psalm 92:13-15).

Moenie mislei word deur die popsanger wat na sy hoërskool dae verlang, die glorieryke dae, die “beste dae van die lewe” nie. Jeug is ’n goeie tyd. ’n Lewe wat egter volgens die werklike waardes geleef word, met die hulp van wyse, ouer mentors, sal net beter raak!