Een van die mees sielpynigendste bekommernisse is die vrees om van God afgesny te wees. Selfs meer kwellend as dit, is die gedagte dat mens vir ewig afgesny kan wees, met geen kans op verlossing nie. Party mense is bevrees dat hulle die “onvergeeflike sonde” gepleeg het. Voel u skuldig, bekommerd dat u sondes u van God af weghou?

Indien u graag verlos wil word van u skuldige gevoelens – indien u self wil bekeer en graag verlos wil word van u gevoel van wanhopigheid – dan is daar hulp beskikbaar. God is nie daarop uit om mense met ’n slap riem te vang sodat hulle sondig en dit dan as verskoning gebruik om hulle te vernietig nie. Inteendeel, God wil graag hê dat ons deel van Sy huisgesin moet wees en moet deel in Sy liefdevolle manier van lewe. Hy wil graag hê dat ons uit ons foute moet leer, ons bekeer en ons lewens verander.

Pla u gewete u? Die Skrif beskryf dat dié mense wat werklik die onvergeeflike sonde gepleeg het, hulle gewetes toegeskroei het – hulle word heeltemal verteer deur opstand teen God. Hulle is gladnie daaroor bekommerd of hulle die uiterste sonde gepleeg het nie. Hulle mag bang wees vir hulle uiteindelike straf, maar hulle soek nie uitkoms uit hulle onbuigsame toewyding aan boosheid en bedorwenheid nie.

Presies wat is die onvergeeflike sonde? Eenvoudig gestel: Dit is ’n sonde wat nie vergewe sal word nie. God is gewillig om ons sondes te vergewe indien ons ons daarvan bekeer, indien ons jammer is daaroor en indien ons vasberade is om te verander. Wanneer iemand sy gewete egter so toegeskroei het dat hy hom nooit daarvan sal bekeer nie, kan hy nie vergewe word nie. Jesus maak hierdie probleem duidelik: “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel” (Markus 3:28-29).

Jesus sê dat alle sondes die mensekinders vergewe sal word indien hulle hul bekeer van daardie sondes. Die een onvergeeflike sonde is laster teen die Heilige Gees. Wat beteken dit? Hoe laster ons teen die Heilige Gees?

Volgens HAT beteken om te laster: “Beledig, hoon: [Teen] die Opperwese laster” of “eerskennis, onware kwaadsprekery”. ’n Vergelykende evangelieverslag gee aan ons ’n duidelike voorbeeld: “Toe het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?” (Mattheüs 12:22-23).

Die skare het verstaan dat die geprofeteerde Messias, die Seun van Dawid, in staat sou wees om hierdie wonderwerk te vermag, maar die Fariseërs het valslik beweer dat Jesus gebruik gemaak het van Satan se mag. “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie” (Mattheüs 12:24).

Daardie beskuldigers het gelaster – hulle het kwaad gespreek van God se wonderbaarlike werk deur die Heilige Gees. Jesus het hulle kragtig gewaarsku: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie” (Mattheüs 12:31-32).

Ons behoort almal ag te slaan op hierdie waarskuwing. Kyk na die apostel Paulus se waarskuwing aan Christene: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:26).

Opsetlike sonde is ’n heeltemal bewustelike, vasbeslote handeling en ’n gesindheid om nooit van sonde te bekeer nie. Die opsetlike sondaar is halsstarrig. Hy of sy het ’n gewete wat geskroei is om kwaad te doen. Hierdie soort sondaar sal nooit eens die gedagte oorweeg om te bekeer en daarna streef om na God se lewenswyse terug te keer nie (verwys 1 Timotheüs 4:2). Die verstokte sondaar is nie verblind soos die res van die wêreld nie, hulle “ken die waarheid”. Hulle weet wat die uitwerking van Christus se offer is, nogtans ontheilig hulle dit. Daarom wag op hierdie soort mense “... ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:27-29).

Ja, daar sal ’n vurige oordeel wees – ’n poel van vuur vir diegene wat volhard in opsetlike sonde en die Gees van genade beledig. Die Skrif gee ook ’n waarskuwing aan almal wat, as Christene, “... die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het”. Onthou, God gee die Heilige Gees “... aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Indien Christene opsetlik terugdraai na boosheid – indien hulle wegval en hulle wend na ’n verstokte en permanente gesindheid van ongehoorsaamheid – leer die Skrif ons dat dit onmoontlik is “... om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:6).

Werklik bekeerde Christene is daardie mense aan wie God die Heilige Gees gegee het (Romeine 8:9). Selfs bekeerde Christene sal sondig – maar hulle sal altyd boetvaardig wees en hulle bekeer. Hulle het ’n berouvolle gesindheid nodig en streef altyd daarna om hul gedrag en gesindheid te verander, selfs al voel hulle nog te swak om dit reeds te kan doen. God is geduldig, maar ons moet reageer op daardie geduld omdat die tyd kort word. Begeer altyd bekering. Begeer altyd om u lewe ten goede te verander selfs wanneer u weens swakheid, soms toegee aan versoeking. Vra God vir ’n berouvolle gees!

Hoe kan Christene die onvergeeflike sonde vermy?

Ons het gesien dat die onvergeeflike sonde ’n sonde is wat nie vergewe sal word nie, omdat die sondaar opsetlik teen die Heilige Gees laster en sy hart so verhard dat hy nooit sal bekeer nie. So ’n sondaar skroei sy gewete toe om kwaad te doen en hy sal in die vuurpoel eindig, soos ons in Openbaring 21:8 lees. Hoe kan ons voorkom dat ons hierdie strydende, verharde denke het?

Ons het almal die keuse om lewe en liefde eerder as dood en ongehoorsaamheid te kies. Hoe kan enigiemand egter opsetlik en permanent besluit om die verkeerde weg van opstand te betree? Lees hier wat mnr. Herbert W. Armstrong geskryf het aangaande daardie opsetlike keuse: “Dit mag voortspruit uit foutiewe beredenering; van ’n foutiewe begeerte wat uitgedink is tot ’n finale vaste, permanente besluit ten opsigte van sy lewenswyse; of om wrewel in sy hart toe te laat teenoor óf God, óf ’n persoon wat hom moontlik te na gekom het. Om toe te laat dat haatdraendheid hom so verbitter dat dit hom sy hele lewensrigting laat verander en hom van God te distansieer” (What Do You MeanThe ‘Unpardonable Sin’?, 1972, bl. 34).

Gekrenkte gevoelens lei dikwels tot gekrenktheid, en gekrenktheid tot haat en verbittering. Is u wrokkig of haatdraend teenoor iemand? Ons moet altyd op ons hoede wees vir dié soort gevoelens. Onthou: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). Indien u sodanige gevoelens koester, behoort u dit te oorkom deur ’n keuse te maak om God te vrees en te verkies om die erns van haat en gegriefdheid te verstaan.

In die Bergpredikasie gee Jesus ’n ander teenmiddel teen haatdraende gevoelens en begeertes om wraak te neem: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:43-45).

Hierdie benadering klink naïef en belaglik vir die vleeslike denke, maar deur uitvoering van die opdrag om vir ons vyande te bid, kan ons gevrywaar word van die gif van bitterheid. Ja, dit is ’n rewolusionêre lewenswyse. Dit is in teenstelling met die hedendaagse selfsugtige, inhalige, “ek eerste” filosofie. Dit is egter die lewenswyse wat die Seun van God aan ons geleer het en die lewenswyse wat elkeen in die Millennium – Christus se toekomstige duisendjarige regering op aarde – sal leer. Probeer dit! Gaan werklik op u knieë en bid vir die welvaart van iemand wat u selfs moontlik haat. U sal verbaas wees oor die verligting van spanning wat u sal ondervind. Ons gesindheid en benadering tot andere is uiters belangrik.

Volgens Sy oordeel sal God onreg straf. Soos die apostel Paulus geskryf het: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Ons moet almal voor die regterstoel van Christus staan (Romeine 14:10). Vertrou op God dat Hy slegte mense sal straf, net soos Hy sê.

Nog ’n manier om bitterheid te oorkom, is: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15).

Hier is nog ’n waarskuwing om bitterheid te vermy. Die voorskrif is: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking”. Jesus het in die Bergpredikasie gesê: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Mattheüs 5:9). Hy sê: “... doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (vers 44). Aanvaar u Sy uitdaging? Sal u uself voor God verootmoedig en vir u vyande bid? Dit sal baie daartoe bydra om enige wortel van bitterheid wat in u mag wees, te oorkom.

Mens kan ook die Heilige Gees verloor en die pad van die onvergeeflike sonde volg deur voortdurende nalatigheid. Verwaarloos u gebed, Bybelstudie en omgang met ander bekeerde Christene?

Hierdie wêreld oefen so ’n aantrekkingskrag uit op ons belange dat ons aandag weggelei kan word van ons geestelike prioriteite. Wat is u persoonlike doel in die lewe? Jesus het gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Volgens ons Verlosser, behoort dit ons lewensdoel te wees! As ons ons geestelike prioriteite verwaarloos, mag dit lei tot geestelike swakheid, maar God se Gees is die Gees van krag en liefde en gesonde denke. Die apostel Paulus het geskryf: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:6-7).

Sonder daardie geestelike krag sal ons nie in staat wees om ons lewe te verander nie. God is egter gewillig om aan ons daardie gawe te gee, die waardevolste gawe, uitgesonderd die gawe van Sy Seun vir die sondes van die wêreld. Wat moet ons doen? Op Pinksterdag, aan die heel begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk, het die apostel Petrus gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Christene ontvang wel daardie gawe, maar dit is ’n gawe wat waardeer moet word, en selfs “aangewakker moet word”, soos die apostel Paulus ons vermaan het.

Voortdurende verwaarlosing van ons geestelike prioriteit sal lei tot ’n “onverskillige” gesindheid – ’n gesindheid wat tot ’n verharde hart en die onvergeeflike sonde kan lei. “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1). Indien ons dit nie doen nie, “... hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam?” (vers 3). Christene moet hulself daartoe verbind om nooit toe te laat dat verbitterde of gekrenkte gesindhede hul harte en denke vergiftig nie. Ons moet onsself ook daartoe verbind om God te soek terwyl Hy te vinde is. Hou vol met innige gebed en Bybelstudie. Kies om geestelik wakker te bly. Verbind u daartoe om geestelik aktief en waaksaam te bly!

Een van die mees gerusstellende en bemoedigende waarhede van die Bybel is dat miljarde mense – individue wat deur party Christene veroordeel is of as vir ewig verlore beskou word – in werklikheid geestelik verblind was. Hulle was vleeslik, hulle was selfs boos, maar hulle het nooit die ware Evangelie gehoor of dit verstaan nie. Ja, hulle sal sekerlik geoordeel word, net soos die goddelose mense van Sodom of Gomorra geoordeel was toe God swael en vuur op hulle laat reën het. Het hierdie verblinde mense egter die onvergeeflike sonde gepleeg? Jesus het gepraat van daardie stede wat hulle moes bekeer toe hulle Sy dissipels hoor preek het: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” (Mattheüs 10:15). Selfs die mense van Sodom en Gomorra sal hul geleentheid om gered te word, ontvang!

Hoop en bemoediging

God het Sy beloftes aan die aartsvader Abraham gegee, maar op die oog af het dit gelyk of vervulling daarvan onmoontlik was. Lees wat die Bybel sê oor Abraham se gesindheid: “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees” (Romeine 4:18).

Abraham het “teen hoop op hoop geglo”, of soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo”. Ek kan my daarmee vereenselwig. Voordat ek ’n Christen geword het, het ek net so gevoel. U Bybel is gevul met God se beloftes aan u. U kan ’n versekering, ’n verwagting en ’n hoop vir die toekoms hê. Daar is nie slegs hoop nie, maar ook belofte – die belofte van ’n nuwe wêreld, die Koninkryk van God op hierdie aarde en die duisendjarige regering van Jesus Christus. Ek het geleer van Jesus Christus se belofte om terug te kom na hierdie aarde – en dat Hy ewigdurende wêreldvrede tot stand sal bring. Paulus sê verder: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Efesiërs 2:13).

Indien u voel u is afgesny van God, kan u versoen word. U kan hoop hê. U kan nader gebring word deur die bloed van Christus. Indien u graag met een van ons leraars wil beraadslaag, skakel ons asseblief of skryf aan ons Streekkantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Daar is hoop vir u – en vir die miljarde mense op hierdie aarde. God wil hê dat alle mense op Sy liefde sal reageer. God “... wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4). U kan ook tot daardie kennis van die waarheid kom.

Indien u uself daarop toelê om u lewe te verander – indien u werklik diep boetvaardig is oor u sondes en u werklik bekeer – sal u vergewe word. ’n Noodsaaklike sleutel om die onvergeeflike sonde te vermy, is om altyd ’n berouvolle gesindheid te hê. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Ons behoort ons sondes voor ons God en Redder te bely. Onthou die tollenaar van wie Jesus gesê het dat hy, eerder as die Fariseër, geregverdig na sy huis gegaan het? Hy het gebid: “... o God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13). Mag God u help om Hom heelhartig te soek, want Hy is in staat om u sondes te vergewe en om u van alle ongeregtigheid te reinig. Indien ons volhard in hierdie boetvaardige gesindheid, kan ons seker wees dat ons nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie en dit ook nie sal pleeg nie!