Verkeer u onder God se beskerming? Beskou God u as ’n “Christen”? Lees hierdie artikel om seker te wees!

Die wêreld wankel op die rand van vergetelheid. Regdenkende mense oraloor begin om bevrees te wees. Ons lewe in die skaduwee van gewelddadige dood. Dit kan enige dag of enige nag kom, selfs enige sekond. Dit kan ontketen word deur die kleinste politieke vonkie in ’n veraf land. Vroeër hierdie jaar het die Bulletin of Atomic Scientists die beroemde “Oordeelsdag-horlosie” twee minute vorentoe geskuif, na slegs vyf minute voor middernag!

Die mense weet dat ons in gevaarlike tye leef en baie is rusteloos. Baie van hulle dink meer ernstig as ooit tevore na oor baie dinge – en nie die minste daarvan is diehiernamaals.

Verhoogde belangstelling in godsdiens

Hierdie era van geweld en potensiële wêreld-selfmoord het gehelp om in die VSA, soos ook in Suid-Afrika, belangstelling in godsdiens aan te wakker. Talle mense dink meer en meer daaraan om met iemand vrede te maak, verkieslik met God.

Maar, “maak mense werklik vrede” met God – deur hulle waarlik te bekeer, deur verander te word en om onder Sy goddelike beskerming te kom?

Die ware Skeppergod sê dat die meeste godsdienstige mense mislei is! U Bybel beskryf hierdie einste eindtyd as ’n tydperk wanneer Satan die Duiwel “die hele wêreld salmislei”.

Jesus beskryf óns tyd wanneer Hy sê: “Baie sal onder My Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:5). Ja, die baie predikers wat daarop aanspraak maak om Christus se dienaars te wees en wat verkondig dat Hy Christus is, verkondig hul eie mens-uitgedinkte boodskap oor die persoon van Jesus enmislei daardeur miljoene der miljoene mense!

Nogtans, ten einde deur God beskou te word as ’n ware Christen – ten einde Sy beskerming te geniet in hierdie onstuimige tye, ten einde deur Sy Gees gelei te word – moetu die ware boodskap wat Jesus vanaf God die Vader na hierdie aarde gebring het, glo en gehoorsaam. Jesus het beveel: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

In hierdie tydperk, meer as in enige ander een, het u God ontsettend nodig – Sy leiding, Sy seëning, en Sy beskerming! Dit help nie om uself oor hierdie feit te “bluf” nie.Hierdie is u lewe – hoe wil u dit gebruik?

Wat u behoort te doen

U behoort die feit te erken dat heel waarskynlik een van die magdom mense is wat die breë weg volg wat na die verderf lei (Lukas 13:24)! Indien u die menigte volg – indien u dieselfde algemene gesindheid teenoor godsdiens koester as meeste mense – dan is u sonder twyfel mislei! Onthou dat dit Satan die duiwel is “wat die hele wêreld verlei (mislei)” (Openbaring 12:9).

Genadiglik is sommige van u anders. Baie duisende van u besef, deur die Tomorrow’s World beeldsendings en die bladsye van hierdie tydskrif, dat u dieselfde boodskapontvang wat Jesus Christus gebring het om die wêreld van sigself te red. Indien u onder die seën en beskerming van God wil kom, behoort u seker te wees van daardie boodskap – en dan daarvolgens te handel en dit te gehoorsaam.

U behoort eens en vir altyd aan uself te bewys dat daar ’n persoonlike, lewende, aktiewe, almagtige Skeppergod is. U behoort te weet dat die Bybel Sy geïnspireerdeopenbaring van die ware doel van die lewe is en van die geestelike Wette wat vreugde en sukses meebring. U behoort dit te bewys en te weet dat die Bybel gesaghebbend is – dat die woorde gerugsteun word deur die lewende God wat aan u elke asemteug gee.

U mag dit alreeds verstaan, maar maak asseblief seker dat u dit aan uself só volledig bewys het dat u bevrees sal wees om aan God se bevele ongehoorsaam te wees. U behoort God se woord as die outoriteit oor u ganse lewe te beskou. Christus sê: “Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag” (Johannes 12:48). Wanneer u eers hierdie basiese beginsels ten volle aan uself bewys het, behoort u aan te hou om die Bybel te bestudeer om die ware boodskap van die Almagtige God soos vervat in die Bybel, te verstaan en te gehoorsaam.

Christus se Boodskap

Jesus Christus gee aan ons die volmaakte, duidelike openbaring van God se plan en doel. Om ’n “Christen” te wees beteken eenvoudig om te glo in en te gehoorsaam wat Jesus verkondig het – om die boodskap wat Hy van God die Vader gebring het, te aanvaar en u daaraan te onderwerp.

Jesus sê: “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek” (Johannes 12:49). Dus kom Jesus se boodskap direk van God die Vader.

Dit moet gehoorsaam word! Jesus het ook gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” Lukas 6:46).

Jesus het gekom om die Vader te “openbaar” (Mattheüs 10:27). Meer as enigiets anders, het Hy God openbaar as die Oppermagtige Heerser van die heelal. Hy het geleer dat menslike wesens nie hul eie idees en tradisies behoort na te volg nie, maar behoort te “lewe ... van elke woord van God” (Lukas 4:4). “Ondersoek die Skrifte” het Jesus gesê.

In die “model-gebed” het Jesus Sy dissipels geleer om te bid, “Laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Lukas 11:2).

Christus het voortdurend gehoorsaamheid aan die Wet en wil van God verkondig. Toe ’n jong man Hom die weg na die ewige lewe gevra het, het Jesus geantwoord: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Dus, om ’n ware Christen te wees, moet u uself onderwerp om God se wil te gehoorsaam, die Tien Gebooie te onderhou en u wil so volledig te onderwerp aan u Skepper dat u werklik daarna sal streef om volgens “elke woord van God” te lewe.

Die Nuwe Testament onthul dat God nou besig is om in dié mense wat Hy heilig noem, Sy regverdige en volmaakte geestelike karakter te vorm, dit wat ’n voorvereiste is vir die kosbare gawe van ewige lewe in Sy koninkryk. Die basis van daardie volmaakte karakter is totale oorgawe om God se volmaakte geestelike Wet – soos openbaar in die Tien Gebooie en geestelik uitgebrei in die Nuwe Testament – te gehoorsaam.

Dit vereis dat u u persoonlike wil volkome aan God sal onderwerp. Dit beteken ’n totale verandering in gesindheid, geloof en lewenswyse. Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2).

Onthou, menslike wil en krag kan nie hierdie verandering teweeg bring nie. Die geestelike liefde en krag moet as ’n gawe van God kom.

God se hulp word benodig

Die meeste van ons ken mense wat “voornemens” gemaak het om ’n beter lewe te lei – alkoholiste wat besluit het om die “bottel vaarwel toe te roep”, of misdadigers wat op een of ander wyse “hervorm” geword het. Baie min van hierdie veranderings is egter blywend of bevredigend. Selfs wanneer ’n verandering in een faset van die lewe permanent blyk te wees, kan ons sien dat die persoon se hele lewe, gesindheid en handelswyses nie heeltemal oorgegee is aan die algehele en volkome wil van die Skepper nie.

Menslike wesens wat afgesny is van die ware God kan hulself in ’n beperkte mate self “hervorm”. Hulle kan egter nooit die proses wat ons “bekering” noem, teweeg bring nie, want ware bekering is ’n totale verandering wat God teweeg bring in die persoon se werklike denke en aard. Die apostel Paulus stel dit so: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Dít, my vriende, is die “sleutel”. Deur opregte berou oor sonde, daarna volkome oorgawe aan God deur Jesus Christus en nederige geloof in God se vergifnis van ons sondes deur die gestorte bloed van Christus, word ons die “gawe, die geskenk” van God se Heilige Gees belowe – Sy eie aard en karakter wat in ons ingeplant word. Slegs dit gee aan ons die krag om onsself te kan “oorwin” en om God werklik gehoorsaam te wees want dit is “Christus in ons” wat God se volmaakte geestelike Wet gehoorsaam – net soos Hy dit in die menslike vlees gedoen het (Johannes 15:10).

Na ware bekering van sonde, moet u begin om die Bybel te bestudeer, oor God se Wet te mediteer en om voortdurend tot God te bid en met Hom te praat. U moet God werklik altyd soek (lees my Persoonlike boodskap op die eerste bladsy van hierdie uitgawe)! Deur hierdie proses en deur Sy Gees, sal u begin om die werklike gedagtes en aardvan God in u te ontwikkel, want Christus leef dan in u deur die Heilige Gees!

ganse lewe sal heeltemal verander – bekeerd wees – en u sal dag na dag groei in genade en kennis. In geestelike gesindheid en karakter sal u meer en meer soos Christus word in elke faset van u lewe. ’n Algehele verandering sal in u plaasvind wat nooit sou kon gebeur behalwe deur ’n bonatuurlike handeling van die Almagtige God nie.

God stel egter hierdie bonatuurlike hulp beskikbaar onder sekere baie belangrike voorwaardes.

U moet die ware Evangelie glo

Jesus Christus en Sy Apostels het altyd die evangelie van die koninkryk of wêreldheersende regering van God verkondig. Ons lees: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Neem weereens kennis dat die twee dinge wat Jesus beveel het, bekering van sonde en geloof, in Sy boodskap was.

In verband met geloof, het Jesus geleer dat geloof in die ware evangelie wat Hy verkondig het en gehoorsaamheid aan die Wette van God, onskeidbaar van mekaar is. Hy sê: “Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val” (Lukas 16:16-17).

Hier sien ons dat die Wet en die profete – die Ou Testament – God se enigste openbaring aan die mensdom was voor die tyd van Johannes die Doper se bediening. Maar die geestelike boodskap van redding en die uitbreiding van God se Wette in hul geestelike verband en bedoeling, was deur Christus geopenbaar.

Let ook op hoe Jesus gehoorsaamheid aan God se Wette gekoppel het aan die Nuwe Testament se evangelie van die koninkryk. En dan, om enige twyfel die nek in te slaan dat Hy van God se geestelike Wet, soos openbaar deur die Tien Gebooie, praat, het Hy die oortreding van een van daardie einste Wette uitgelig: “Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk” (Lukas 16:18).

Regdeur die boek Handelinge vind ons dat die geïnspireerde dienaars van God voortdurend die evangelie van die koninkryk verkondig het – insluitende natuurlik,gehoorsaamheid aan die Wette van God. Ons sien in Handelinge 8:12 dat Filippus hierdie evangelie verkondig het. Paulus het in Handelinge 20:25 gesê dat hy dit aan die heidene in Éfese verkondig het. In Handelinge 28:30-31 vind ons dat Paulus voortgegaan het om dieselfde boodskap te verkondig tot aan die einde van sy bediening – selfs aan die heidene in Rome.

Hierdie is die ware evangelie. Dit is ’n boodskap oor die regering van die Almagtige God oor ons lewens nou, ter voorbereiding van ons toetrede tot Sy wêreldregerende koninkryk wat binnekort gaan kom, wanneer Jesus Christus weer sal kom met goddelike mag en heerlikheid as Koning van konings en Here van here. En, aangesien God se koninkryk ook Wette het, is dit ’n boodskap van oorgawe en gehoorsaamheid aan die Wette en regering van God.

Om u voor te berei vir daardie koninkryk, moet u allereers berou tot bekering hê oor u sondige weë. U moet u afkeer van sondewat die oortreding van God se geestelike Wet, soos vervat in die Tien Gebooie, is (1 Johannes 3:4) en die ware evangelie glo. Dan is daar ook ’n volgende noodsaaklike stap wat u moet neem: Die waterdoop.

Waterdoop is absoluut noodsaaklik

Na algehele bekering en geloof in die ware evangelie, is waterdoop die volgende noodsaaklike stap wat u moet neem om werklik bekeerd te wees en God se Heilige Gees te ontvang. In werklikheid is dit ’n toets van u ware berou en gewilligheid om God te gehoorsaam.

Jesus Christus het Sy dissipels beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:15-16).

Jesus het presies bedoel wat Hy gesê het!
In Sy afskeidsopdrag sê Jesus: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19).

In Petrus se geïnspireerde preek op Pinkster, het hy uitgeroep: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Let daarop dat God slegs die gawe van die Heilige Gees belowe op voorwaarde dat u berou tot bekering ervaar en gedoop word. Later het Petrus gepraat van die “Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). U behoort te doen wat God sê. U behoort u te bekeer en gedoop te word, of u sal nooit God se Heilige Gees ontvang nie.

Daar is geen ander manier nie
Die apostel Paulus stel dit so: “Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:9). Met ander woorde, tensy u ten volle bekeerd is van u sondes en na God gekom het deur Jesus Christus as u persoonlike Saligmaker, gedoop is soos Hy beveel het, dan is u nie van Christus nie – dan behoort u nie aan Hom nie. Derhalwe is u nie ’n Christen in God se oë – en was dit nog nooit en sal dit nooit wees nie – tensy u uiteindelik gewillig is om u lewe oor te gee aan God die Vader; en Jesus Christus nie slegs te aanvaar as u enigste Redder nie, maar ook as u Hoëpriester, u toekomstige Koning, u regeerder aan wie u gehoorsaam sal wees deur alle ewigheid heen!

God se Gees is die werklike aard en lewe van God, waardeur ons Sy verwekte kinders kan word. Sy Gees help ons om tot volwassenheid te groei in ’n Christelike karakter. Wat bring dit vir ons mee? “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheidselfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Galasiërs 5:22-23).

Die Heilige Gees gee aan ons oorwinning oor onsself, selfdissipline en selfbeheersing. Deur dit word God se liefde in ons harte uitgestort (Romeine 5:5). Die Heilige Gees vorm ons tot die beeld van God (Romeine 8:29; 2 Korinthiërs 3:18).

U het God se Gees nodig. U het Sy leiding en beskerming nodig
Dit is egter ’n ontsaglike besluit om uself heelhartig aan God oor te gee – om volgens elke woord van Hom te leef en Hom regdeur die ewigheid heen te gehoorsaam. So ’n besluit moet nie ligtelik geneem word nie.

Doop behels ’n lewensbelangrike besluit

Die doop simboliseer die dood en begrafnis van ons ou, sondige self en ons oprysing uit die watergraf na ’n nuwe, veranderde, bekeerde lewe. Dit simboliseer ook Jesus se dood en begrafnis om vir ons sondes te betaal en Sy opstanding as die eersgeborene uit die dood.

Die apostel Paulus skryf: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel” (Romeine 6:3-4).

U besluit om gedoop te word hang af van u gewilligheid om u wil en u lewe, deur Jesus Christus as u Verlosser, heeltemal aan God oor te gee. Hy het die straf vir u sondes van die verlede betaal. Wanneer u egter die waarheid ken, mag u nie langer willens en wetens doen wat u weet sonde is nie en dan verwag dat God in Sy goedertierenheid u sal vergewe sonder dat u waaragtige berou oor u sonde het nie.

God regeer deur Sy Wet! “Onderhou die gebooie”, het Jesus gesê. 
Paulus skryf: “Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe” (Romeine 6:16).

Wanneer u moet kies tussen navolging van die weë van u vriende en familie, of om gehoorsaam te wees aan wat u gevind het God se wil is – watter weg gaan u volg? Gaan u die maklike uitweg kies en die mense volg? Dien u en gevolglik aanbid u die weë van die mense meer as God se weë?

Moet uself nie om die bos lei nie! U kan God nooit flous nie!
Wanneer u enige nuwe waarhede geleer het in die bladsye van hierdie tydskrif, in die Tomorrow’s World beeldsendings, of deur u eie persoonlike Bybelstudie, handel u daarvolgens in u lewe – gehoorsaam u dit – of verwerp u dit omdat dit teenstrydig is met wat u kerk of u besondere gemeenskap glo en doen?

Is u soos die Fariseërs wat Christus verwerp het omdat “hulle ... die eer van die mense meer liefgehad [het] as die eer van God” (Johannes 12:43)? God lyk vir sommige mense so ver weg, en hulle vriende skyn so naby en belangrik te wees. Watter een aanbid u? Wie gehoorsaam u?

Indien u u werk moet prysgee – u enigste bron van inkomste – ten einde ’n faset van die waarheid wat u in God se woord ontdek het, te gehoorsaam, sal u dit doen? Sal ugeloof beoefen, soos Jesus gedoen het, en vertrou op God se veelvuldige beloftes om “elke behoefte van julle [te] vervul” (Filippense 4:19)? Sal u God aanbid – of Mammon?

Hierdie vrae is op uvan toepassing!

Maak seker van u besluit

Indien u nog enige vrae het oor die doop, skryf dan dadelik en bestel ons gratis boekie, Behoort u Gedoop te word? Hierdie boekie sal die baie vrae wat u mag hê, beantwoord.

Die besluit om gedoop te word is egter u eie. Indien u voel dat u gereed is om ’n onvoorwaardelike oorgawe aan God te maak, deur middel van Sy Seun as u persoonlike Redder, stuur dan aan ons ’n e-pos of skryf aan ons en vertel ons dat u gedoop wil word. U sal die adres vind op bladsy 2 van hierdie tydskrif, of andersins kan u ons bel of kontak deur ons Webtuiste, www.wvm.co.za. Een van ons verteenwoordigers sal u dan nader en reël om u te ontmoet op ’n plek en tyd wat vir u gerieflik sal wees. Ons het in die meeste dele van die wêreld dienaars wat met u kan beraadslaag en diegene dan te doop wat gereed is om gehoor te gee aan hierdie bevel van God. Moet dus nie uitstel nie!

U het redding nodig! U behoort egter heeltemal daarvan oortuig te wees dat u gewillig is om ú deel te doen en uself aan God oor te gee. Dan kan u verseker wees dat Hy aan u Sy seëninge, Sy beskerming en Sy redding sal skenk!