Vraag: Jammer as hierdie vraag morbied is, maar ek is ’n bietjie verward. Ek lees in die boek Matthéüs dat Judas Iskáriot homself opgehang het, maar later lees ek in die boek Handelinge dat hy basies ontplof het. U het al voorheen gesê dat die Bybel homself nooit weerspreek nie, maar dit lyk nie of hierdie weergawes ooreenstem nie. Presies hoe het Judas Iskáriot gesterf?

 

Antwoord: Baie mense het al hieroor gewonder en dit is waar dat die Bybel se weergawes van Judas se dood met die eerste oogopslag teenstrydig mag wees. Kom ons kyk tog na die twee sleutelverklarings oor hierdie onderwerp en ondersoek dit meer noukeurig.

Die meeste mense wat die Bybel bestudeer weet dat Judas Iskáriot een van Jesus se twaalf Apostels was en dat hy vir Jesus verraai het vir 30 silwerstukke. In Matthéüs 27 lees ons dat Judas berou gehad het na hierdie verskriklike verraad en probeer het om die geld aan sy samesweerders terug te gee, maar die priesters het geweier om “bloedgeld” as ’n offer te aanvaar (vers 6). Matthéüs 27:5 sê vir ons: “En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.”

Volgens Matthéüs en die boek Handelinge het hulle dit gebruik om ’n stuk grond te koop waarin vreemdelinge begrawe kon word, in plaas daarvan om die geld in die skatkis te plaas. Terwyl daar in die boek Handelinge vertel word van die stuk grond wat met Judas se geld gekoop is, blyk dit dat daar ’n ander lot vir die verraaier beskryf word: “Hy het dan ’n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort” (Handelinge 1:18).

Die stuk grond wat met Judas se geld gekoop is word bevestig deur Matthéüs 27:7, maar om vooroor te val en oop te bars, klink nie soos ophang nie. Hoe bring ons hierdie weergawes in ooreenstemming met mekaar?

Ons het al voorheen opgemerk dat dit nie nodig is om te aanvaar dat dit ’n teenstrydigheid is omdat daar verskillende weergawes van dieselfde feite of omstandighede in die Bybel is nie – Jesus Self sê vir ons dat die geïnspireerde Woord van God homself nie weerspreek nie (Johannes 10:35). Die talryke verslae dien eerder as veelvuldige getuies, wat elkeen sy eie besonderhede by die geheelbeeld voeg.

Dink byvoorbeeld aan die teken wat bokant Jesus se kop aan die kruis vasgespyker was terwyl Hy gekruisig is. Dit hang af van watter een van die vier Evangelies gelees word en dan sal ’n mens ’n ander weergawe kry oor wat die teken gesê het:

Matthéüs sê die teken het gelui: “DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE” (Matthéüs 27:37).

Markus skryf dat die teken lees: “DIE KONING VAN DIE JODE” (Markus 15:26).

Lukas berig dat dit gelees het: “HY IS DIE KONING VAN DIE JODE” en is in Grieks, Latyn en Hebreeus geskryf (Lukas 23:38).

Laastens skryf Johannes dat Pilatus se teken gesê het: “JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE” (Johannes19:19).

Weerspreek die Evangelieskrywers mekaar? Glad nie! Trouens, hulle sê nie net in wese dieselfde ding nie, maar wanneer ons ook alles bymekaar sit, kry ons ’n voller prentjie – een van ’n bordjie wat lees: “JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE” in die drie tale wat algemeen in die gebied voorkom.

’n Vollediger prentjie

Op soortgelyke wyse weerspreek die weergawes van Judas se dood mekaar nie, indien dit gelees word as twee weergawes wat saam bydra om ’n vollediger prentjie te skets. Judas het homself inderdaad as gevolg van skuld en skaamte opgehang. Terwyl sy liggaam egter daar gehang het, het sy lyk gedoen wat lyke doen – dit het begin ontbind. ’n Ontbinde lyk sal opblaas indien dit net so gelaat word. Uiteindelik het Judas se dooie liggaam van die tou afgeval óf is dit afgekap en toe dit die grond tref het dit oopgebars … ’n verskriklike einde vir die een wat die Messías verraai het.

Dikwels is dit die geval dat wanneer ’n mens verstaan dat die Bybel homself nie weerspreek nie, maar wel verskeie getuies voorsien om ’n meer volledige beeld van ware gebeure te gee, los die probleme hulleself op. Om meer uit te vind oor die foutloosheid van die oorspronklike, geïnspireerde Skrif, kan u ’n gratis eksemplaar bestel by ons streekkantoor (sien bladsy 2) van ons insiggewende boekie: Die Bybel: Feit of Fiksie? of u kan dit aanlyn lees by wvm.co.za.