Die wêreld het die afgelope dekade 'n reeks ongekende rampspoedige gebeure beleef! Baie mense begin vra: Waarom gebeur hierdie dinge? Op 11 September 2001 het 'n nuwe era van wêreldterrorisme op die wêreldtoneel losgebars toe selferkende Moslem-djihadiste 'n aanslag op belangrike simbole van die Westerse mag gemaak het – die Wêreldhandelsentrum en die Pentagon. Hierdie aanvalle is voorafgegaan deur bomont-ploffings by die Verenigde State se ambassades in Kenia en Tanzanië en 'n aanval op die Amerikaanse oorlogskip Cole in die Persiese Golf. Daaropvolgende ontploffings het Australiese toeriste in Bali as teiken gehad. Die terroriste-ontploffings in Madrid en Londen was gemik op die VSA se bondgenote.

Rekorddroogtes, storms, oor-stromings, orkane, aardbewings en vloedgolwe het gedurende hierdie selfde dekade regoor die wêreld voorgekom. Hierdie erge weerstoestande en geologiese gebeure het die VSA, Brittanje en ander Europese lande besonder hard getref. Engeland, Skotland en Wallis het die afgelope jare erg deur storms en oorstromings deurgeloop en dít reg op die hakke van die “malbees” ramp wat die eens trotse Britse beesbedryf byna vernietig het. Gedeeltes van Wes-Europa het gelei onder fel hittegolwe, droogtes, brande en oorstromings. Groot dele van Amerika, Australië en Suid-Afrika het gebuk gegaan onder die langste droogtes in 'n eeu. Die Amerikaanse staat Florida is in 2004 deur vier orkane in die bestek van 'n paar maande getref, wat ongehoord is. In 2005 het twee kragtige orkane die kusgebiede van Louisiana en Texas na mekaar getref. Dit het 'n groot deel van New Orleans vernietig en “die wydverspreidste skade” aan raffinaderye aangerig wat die Golfkus nog ooit ervaar het – 100 persent van die ruolieproduksie en 80 persent van die aardgas-produksie is buite aksie gestel en dit het maande geneem om te herstel. Brandstofpryse het die hoogte ingeskiet, wat reise beperk.

Wetenskaplikes en politici stry oor “aardverwarming” en twis oor die presiese mate van die mensdom se rol in die totstandkoming van die toestande wat aanleiding gegee het tot die onlangse weersontwrigtings. Byna al hierdie “kenners” – en selfs die meeste godsdienstige mense – is nie bewus daarvan dat die Bybel bykomende inligting verskaf oor die werklike betekenis van hierdie ongekende rampe wat die wêreld teister nie en waarom spesifieke nasies (insluitende die VSA, Brittanje, Australië, Suid-Afrika en die nasies van Noordwes-Europa) so hard geslaan word. Min mense besef vandag dat meer as 'n kwart van die Bybel uit profesieë bestaan – waarvan die meeste verband hou met die einde van hierdie tydvak – die tydperk net voor die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde. Ons sien vandag hoe hierdie profesieë gestalte aanneem!

Seëninge en vloeke

Die Skrif onthul dat daar 'n God is wat die toekoms kan voorspel en dit laat gebeur. Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (Jesaja 46:9-10). Die God wat die Bybel geïnspireer het, het die volk Israel gevorm deur Abraham, Isak en Jakob te roep. Danksy hulle gehoorsaamheid, het God groot seëninge aan hul nageslagte (die twaalf stamme van Israel) beloof (Genesis 12:1-3). Die Bybel openbaar dat die uiteindelike verwesenliking van die beloofde seëninge in die “laaste dae” sal plaasvind (Genesis 49:1-28), met die grootste seëninge wat beskore is vir Josef se twee seuns – Manasse (voorspel om 'n groot nasie te word) en Efraim (voorspel om 'n menigte [of gemenebes] van nasies te word). Hierdie belangrike profesieë is vervul in die Verenigde State en Brittanje, en in die Anglo-Saksies-Keltiese nasies van Noordwes-Europese afkoms wat wêreldwyd versprei het (vra vir ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?).

God het egter nie net seëninge beloof vir gehoorsaamheid aan Sy wette nie; Hy het ook gesê dat daar ernstige gevolge sou wees indien die afstammelinge van hierdie nasies Hom sou vergeet en nie Sy gebooie sou nakom nie. In die parallelle hoofstukke van Levitikus 26 en Deuteronomium 28, het God Moses opdrag gegee om aan die Israeliete te sê dat gehoor-saamheid “reën van jou land op die regte tyd” sou meebring en oorvloedige oeste, toegang tot noodsaaklike hulpbronne, oorwinning oor vyande en ongeëwenaarde voorspoed, “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees” (Deuteronomium 28:10). Tog het Moses egter ook gewaarsku dat die gevolge van ongehoorsaam-heid droogte, hongersnood, siektes, gebrek aan voorspoed, oorwinning deur vyande en uiteindelike gevangenskap sou meebring (Deuteronomium 28:15-68).

As die mensdom die omgewingswette skend wat die wêreld se ekostelsel beheer, behoort dit nie verbasend te wees dat dit aanleiding gee tot ernstige ontwrigting van weerstoestande nie. Hoewel die gevolge van omgewingsontwrigting wêreldwyd voorkom, is dit noemenswaardig opmerklik dat ernstige rampe nou nasies tref wat God vantevore oorvloedig geseën het – nasies wat hul rûe op die ware God van die Bybel gekeer en Sy wette en opdragte geïgnoreer het.

Profetiese waarskuwings

In die dae van antieke Israel, het God profete gestuur om Sy mense te waarsku dat hulle ongehoorsaamheid toenemend ernstige gevolge sou meebring. Hierdie profesieë is “tweeledig” – dieselfde waar-skuwings geld vandag vir die hedendaagse nageslag van antieke Israel. Jeremia het 'n toekomstige tyd van groot probleme vir daardie nasies voorsien: “Want kyk, daar kom dae ... dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob ... Al jou minnaars [bondgenote] het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie; want Ek het jou geslaan soos 'n vyand slaan, met 'n wrede tugtiging, omdat jou ongeregtigheid groot is ... aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (Jeremia 30:3, 7, 14, 24).

Jeremia beskryf hoe gods-diensleiers van Israelitiese nasies die mense sal mislei en God se wette sal minag en hoe hul leiers mense teenstrydig met die Woord van God sal lei. Hy skryf: “Jou eie boosheid sal jou tugtig... jy [het] die HERE jou God verlaat, en my vrees [is] nie by jou nie” (Jeremia 2:19).

Deesdae is baie Israelitiese nasies trots op hul wêreldse kultuur. In die Verenigde State, waar die Tien Gebooie op bevel van die Hooggeregshof uit regeringsgeboue verban is, vier owerspel en aborsie hoogty en perverse seksuele verhoudings is aan die orde van die dag.

Moses het God se waarskuwing eeue tevore geboekstaaf: “Maar as julle nie na My luister... sal [Ek] verskrikking oor julle beskik... sodat julle voor jul vyande verslaan word... julle haters sal oor julle heers... Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper... en julle vee uitroei... sodat julle paaie verlate sal wees... As Ek vir julle die staf van die brood verbreek... Ek sal julle stede puinhope maak... Ek sal julle onder die volke verstrooi” (Levitikus 26:14-33).

Die profeet Esegiël is na die opstandige huise van Israel en Juda gestuur met die waarskuwing: “Nou is die einde oor jou en Ek sal... jou oordeel volgens jou weë ... Die lotsverandering kom teen jou... Die tyd kom, die dag is naby ... Die swaard [is] buite, en die pes en die hongersnood binne... Die angs kom; en hulle soek vrede, maar dit is nie daar nie. Onheil op onheil kom ... en hulle sal weet dat Ek die HERE is” (Esegiël 7:1-27).

Dit is presies die soort gebeure wat deesdae hoofnuus haal! God het hierdie waarskuwings vir Sy mense, wat Hy gekies het om as ligte vir die wêreld te dien, laat opteken en bewaar. Hulle mislukking om aan hierdie oproep gestand te doen, het hierdie antieke profesieë gestalte laat aanneem namate ons die einde van hierdie tyd en die Wederkoms van Jesus Christus nader.