Die mens het ’n natuurlike begeerte om die oorsprong en toekoms van die heelal te ken. Ons sal daarvan hou om tot die verste uithoeke uit te reik. Ons besef egter ook dat daar gevare is wat ons planeet in die gesig staar. Sal lewe op die Aarde oorleef? Sal die heelal self oorleef? Is daar hoop vir ons toekoms?


Antieke Koning Dawid het gewonder oor sy plek in die kosmos. As ’n jong skaapwagter het hy nag vir nag die glorie van die hemele aanskou. Hy het dieselfde vrae gevra as wat baie filosowe deur die eeue heen gevra het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5).

Het u al ooit aan u plek in die heelal gedink – nou, en in die toekoms? U behoort! Wanneer u uitkyk na die nagtelike hemel, wat sien u? Indien u in ’n groot stad woon, mag u miskien ’n handjievol sterre sien. Indien u op die platteland woon waar dit snags donkerder is, mag u honderde of selfs duisende sterre sien. Daardie sterre is egter slegs ’n klein groepie in ons skitterende Melkweg sterrestelsel. Wetenskaplikes beraam dat ons sterrestelsel meer as 200 miljard sterre bevat – sommiges meer as 13 miljard jaar oud! Sterrekundiges sê daar is minstens 50 miljard potensieel sigbare sterrestelsels in ons heelal, met verskeie kere daardie getal wat met ons beste teleskope nie sigbaar is nie.

Kan ons selfs net begin om sulke ontsaglike getalle, en so ’n eindelose skaal in ons heelal, te verstaan? Ons kan die wetenskap dankbaar wees vir die vlietende blik wat dit ons gee aangaande hierdie verstommende feite. Die wetenskap bly egter kragteloos om die groot vraagstukke van die lewe te beantwoord. Wat is die betekenis en doel van lewe? Wat is die uiteindelike toekoms van die mensdom? As ’n leser van Die Wêreld van Môre weet u dat ons na die Bybel kyk vir daardie antwoorde.

Ondersteun die wetenskap – of vereis dit selfs – die gevolgtrekking dat God nie die heelal geskape het nie? Nee! Ontelbare eerlike wetenskaplikes, of hulle hulself as Christene beskou al dan nie, stem saam dat wetenskaplike gegewens versoen kan word met die idee van ’n Skepper-God. Baie deel die perspektief van Patrick Glynn, houer van Harvard Universiteit se Ph.D., wat in sy belangrike boek, God: The Evidence, opmerk: “Die mees basiese verklaring vir die heelal is dat dit wil voorkom asof dit ’n proses is wat georkestreer is om die einddoel te verwesentlik om menslike wesens te skep”.

Antieke Koning Dawid het ’n stap verder gegaan en die Orkestreerder en Skepper van die heelal erken. Terwyl hy hom verwonder aan die kosmos, het hy dit waardeer as God se handewerk en die mens se plek daarin herken. Hy skryf: “U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:6-10).

God het aan die mens heerskappy gegee oor die Aarde en sy skepsele. Ons is veronderstel om te leer hoe om te regeer, te lei en te dien as getroue rentmeesters. As ons nie verantwoordelike rentmeesters oor hierdie planeet kan wees nie, hoe kan ons verwag om verantwoordelike rentmeesters oor die Maan, Mars of enige ander deel van die heelal te wees?

Ons besef as mense dat ons baie beperk is deur tyd en ruimte. Ons het egter ’n onversadigbare begeerte om ons heelal te verken. Daardie begeerte het gelei tot die Apollo Ruimteverkenningsendings in die 1960’s en 1970’s. Baie van u ouer lesers sal nog onthou hoe opwindend dit was om te sien hoe Apollo 11 se ruimtevaarders, Neil Armstrong en Edwin “Buzz” Aldrin, op 20 Julie 1969 op die maan loop. Hulle het 21 uur op die maan se oppervlakte deurgebring en teruggekeer na die aarde met 46 lb (± 21 kg) maangesteentes.

Vyf verdere Apollo sendings het op die maan gaan land. In Desember 1972 het ruimtevaarders Eugene Cernan en Harrison Schmitt die laaste van twaalf Amerikaners geword om voet op die geheimsinnige maanoppervlak te sit. Sedertdien het niemand weer teruggegaan nie.

Oorlog in die ruimte?

Wetenskaplikes sien die ruimte as ’n verkenningsveld; militêre en politieke leiers kyk dikwels daarna as ’n basis vir oorlogvoering. Soos die Amerikaanse Senator Sam Brownback, voorsitter van die Handelsubkomitee van die Senaat, aan verslaggewers gesê het: “Jy soek altyd die (strategiese) hoë grond” (Reuters, 15 Januarie 2004).

Militêre mikpunte het selfs ’n sleutelrol in die 1960’s se “ruimtewedloop” tussen die Verenigde State en die Sowjet Unie gespeel. Die mensdom het ’n geskiedenis van oorlog en ons behoort nie verbaas te wees om te sien dat daardie oorlogsugtige natuur na die ruimte kyk nie.

Presies hoe oorlogsugtig is die menslike ras? Historici Will en Ariel Durant het daardie vraag nagevors en tot die slotsom gekom: “In die laaste 3 421 jaar van aangetekende geskiedenis het slegs 268 jaar geen oorlog gesien nie (The Lessons of History, bl. 81). Futuriste Alvin en Heidi Toffler het tot ’n soortgelyke slotsom gekom, en noteer: “In werklikheid het die aarde gedurende die 2 340 weke tussen 1945 en 1990, slegs ’n groottotaal van drie geniet wat werklik oorlogsvry was. Om die jare sedert 1945 tot tans “na-oorlog” te noem, is om tragedie met ironie te vermeng” (War and anti-War, bl. 14).

Besorg oor die gevare van wêreldwye kernoorlog het die “Bullitin of the Atomic Scientists” vir meer as 50 jaar wat hulle die “Oordeelsdag-horlosie” noem, in stand gehou om te meet hoe naby ons aan wêreldwye kern-vernietiging gekom het. Minder as 18 maande gelede, op 17 Januarie 2007, het die Bullitin die horlosie twee minute aangeskuif tot 5 minute voor middernag. Hulle nuusvrystelling lui: “Hierdie groot nuwe stap weerkaats die groeiende besorgdheid aangaande ’n “Tweede Kerntydperk”, gekenmerk deur ernstige bedreigings, met inbegrip van: Kernambisies in Iran en Noord-Korea, onveilige kernmateriaal in Rusland en elders, die voortdurende “lanseer-gereed”-status van 2 000 van die 25 000 kernwapens wat deur Amerika en Rusland gehou word, eskalering in terrorisme en die nuwe druk deur klimaatsverandering vir vermeerderde burgerlike kernkrag wat die gevaar van besoedeling kan vermeerder”. Ja, ons leef in ’n gevaarlike wêreld. Dit is een rede waarom die mensdom uitwaarts kyk na die kosmos. Ons hoop om aan ons aardgebonde probleme te ontsnap. Sal ons nie slegs maar die aarde se probleme na die heelal neem nie?

Kraak, samepersing of hitte-dood?

Die Hubbel-teleskoop het aan ons wonderlike beelde gegee van sterrestelsels en supernovae. Die meeste wetenskaplikes beraam dat ons Melkweg sterrestelsel 100 000 ligjare in deursnee en 1 000 ligjare “dik” is van bo tot onder. Kan ons enigsins ’n idee vorm van daardie geweldige uitgestrektheid in die ruimte? Kan ons ’n idee vorm van die spoed waarteen die sterrestelsels beweeg? Astronome het gedemonstreer dat sommige sterrestelsels verder uitbeweeg die ruimte in teen ongeveer 100 miljoen myl per uur!

Die meeste van ons het al van die “Big Bang” teorie gehoor wat wetenskaplikes gebruik om die heelal se huidige uitspreiding te verduidelik. Is dit egter moontlik dat die heelal eendag die uitbreiding kan omkeer of dat dit eenvoudig kan aanhou uitbrei totdat dit uitmekaar val? Kosmoloë het met scenario’s vorendag gekom met eksotiese name soos die “Groot Vries” en die “Groot Samepersing”. Die “Groot Vries’’-teorie stel voor dat namate die heelal uitwaarts beweeg, die uitwaartse beweging kan lei tot verlaagde temperature, te koud om lewe te onderhou. Die “Groot Samepersing” suggereer dat die heelal se uitwaartse beweging sal omkeer en dat dit uiteindelik op sigself sal inplof. Andere weer verwag ’n scenario van “Hitte-dood” waar al die heelal se energie uiteindelik in hitte omgesit sal word. Nog ’n moontlikheid word die “Groot Uiteenbarsting” genoem. In hierdie scenario beweeg die heelal teen ’n versnellende tempo uiteen, totdat al die materie verspreid en donker word.

Soos ’n Stanford Universiteit fisikus aan die tydskrif, New Scientist, gesê het: “’n Paar jaar gelede sou niemand eers ernstig gedink het aan die einde van die wêreld binne die volgende 10 tot 20 miljard jaar nie, veral sedert ons geleer het dat die Heelal se uitwaartse beweging versnel ... Nou sien ons dit is ’n werklike moontlikheid” (6 September 2002).

Nie al die navorsers bied sulke swartgallige scenario’s nie. Dr. Ruth A. Daly, outeur van ’n navorsingstuk van die Princeton Universiteit, het gekyk na die maksimum grootte van verafgeleë radio-sterrestelsels en kom tot die gevolgtrekking: “Ons kan met 95% sekerheid sê dat die heelal oop is en sal voortgaan om vir altyd uit te brei”.

Selfs as die heelal oorleef, wat sal die toekoms van die Aarde wees?

Die einde van die aarde?

Ons planeet staar baie bedreigings in die gesig. Watter bedreiging is die dodelikste? Fisikus Stephen Hawking het sy opinie gelug teenoor ’n onderhoudvoerder van die ABC News-program 20/20: “In die huidige tyd is kernoorlog waarskynlik nog die grootste bedreiging vir die mensdom. Selfs na die einde van die Koue Oorlog is daar steeds nog genoeg kernwapens opgeberg om ons almal ’n paar keer oor te dood en nuwe kernnasies sal bydra tot die onstabiliteit. Met tyd mag die kernbedreiging verminder, maar ander bedreigings sal ontwikkel, dus moet ons op ons hoede bly” (30 Augustus 2006).

Watter ander dodelike bedreigings bied die program? Dit het gewaarsku oor kernoorlog. Dit het uitbarstings van gammastrale uit die ruimte ondersoek, wat die aarde se atmosfeer en alle lewe kan vernietig. Dit het die gevaar uiteengesit van supervulkane soos die kraterkom in die Yellowstone Nasionale Park. Dit het aan ons die risiko’s van siekte-plae en klimaatsverandering omskryf; en dit meld die moontlikheid van ’n asteroïde wat met die aarde kan bots.

’n Asteroïde wat met die aarde kan bots is nie slegs die materiaal vir ’n wetenskapfiksie-rolprent nie. Soos wat die BBC 2 beeldsending “Averting Armageddon” in Januarie 2003 berig het, word verwag dat ’n asteroïde, bekend as 1950DA, “... in 2880 met die aarde sal bots of ontstellend na aan die aarde sal kom. Die impak daarvan kan honderde miljoene mense dood. Dit lyk of ons in ’n blote 877 jaar, minder as ’n oogknip van ’n kosmiese oog, ’n afspraak met Armageddon het, ons mag dalk nie eens so lank hê nie. Asteroïde-jagters beraam daar kan tot soveel as 600 kilometer grootte onontdekte asteroïdes naby die aarde wees, en enigeen van hulle mag reg op ons afpyl”.

In 1962 het die wêreld ontstellend na aan ’n kernoorlog gekom tydens die Kubaanse Projektielkrisis. Die Verenigde State en die Sowjet Unie het in werklikheid oorweeg om kernwapens te lanseer. Dankie tog, die Sowjet Unie het uiteindelik hul kernprojektiele uit Kuba verwyder. Die Sowjet Unie het egter vir baie jare daarna nog steeds hul supermag-status beoefen.

Weet u hoe, of indien, Rusland betrokke sal wees in Bybelse Profesieë van die eindtyd? Die Skrif dui aan dat nasies oos van die Eufraatrivier die Midde-Ooste sal binneval. Ons lees: “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word” (Openbaring 16:12).

Die Asiatiese magte sal te Megiddo in Israel ’n nuwe supermoondheid teëkom – genaamd die “Dier”. Hierdie moondhede sal saamsmelt in die klimaktiese slag wat dikwels “Die Slag van Armageddon” genoem word. Bose magte, aangehits deur die Dier en die Vals Profeet, sal al die konings van die aarde versamel te Megiddo of Armageddon. Die konings van die ooste sal weswaarts beweeg oor die Eufraat om saam te smelt met ander magte. Kyk na enige wêreldkaart om te sien waar die Eufraatrivier geleë is. Dit begin in Turkye, vloei deur Sirië en dan deur Irak na die Persiese Golf. Watter nasies lê oos van die Eufraat? Daardie nasies sluit in Iran, Indië en China.

Kyk noukeurig waar die konings van die aarde versamel. “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (vers 16). Presies wat is Armageddon? Die woord Armageddon is ’n transliterasie van die oorspronklike Hebreeuse har megiddo, wat “heuwel van Megiddo” of “berg van Megiddo” beteken.

Megiddo is in Israel geleë, ongeveer 90 kilometer noord van Jerusalem. In antieke tye het dit die hoof handelsroete tussen Egipte en Damaskus beskerm. Dit kyk ook uit oor die grootste vlakte in Israel, die Vlakte van Esdraelon (in die Bybel die Vallei van Jezreël genoem). Die Skrif noteer verskeie groot veldslae wat daar plaasgevind het.

Nadat die wêreld se leërs te Megiddo vergader het, trek hulle suid om by Jerusalem te veg, in wat die Skrif “die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God” noem (Openbaring 16:14). Hier volg wat die Bytel aan ons sê: “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:1-4).

Die Messias, Jesus Christus, sal uit die hemel terugkeer om hierdie leërmagte te vernietig. U kan daarvan lees in Openbaring19:19-21. Dan sal die Koning van die konings begin om saam met die heiliges – getroue Christene – vir ’n duisend jaar oor die aarde te heers. Ons sien uit na die Millennium, die wêreld van môre, wanneer die wêreld egte, blywende vrede sal ervaar! Ons moet elkeen voorberei vir daardie glorieryke tyd. Om meer hieroor te leer, skryf asseblief aan ons streekkantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) en vra vir u gratis kopie van ons insiggewende boekie: Armageddon en daarna.

Ja, Bybelse profesieë onthul die uiteindelike einde van hierdie tydvak. Die Messias, Jesus Christus, sal vrede na die Aarde bring. Hy word “Vredevors” genoem (Jesaja 9:5). Tydens Sy duisendjarige heerskappy op die aarde sal die woestyn bloei soos ’n narsing (Jesaja 35). Alle nasies sal na Jerusalem optrek om God se manier van lewe aan te leer (Miga 4, Jesaja 2). Die diere se aard sal van wreedaardig na vreedsaam verander (Jesaja 11:6-9; 65:25).

Na die Millennium?

Aan die einde van die Millennium sal God die dooies opwek tot wat die Groot Wit Troon Oordeel genoem word. Miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder dat hulle ooit die ware Evangelie van Jesus Christus gehoor het – die meeste van wie nog nooit eers die naam “Jesus Christus” gehoor het nie – sal hul eerste geleentheid tot redding gegee word. U kan meer aangaande daardie oordeel lees in Jesaja 65:17-25.

Aan die einde van die Groot Wit Troon Oordeel sal al die verharde, goddelose mense in die poel van vuur gegooi word. “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).

Dan sal God se plan van redding in ’n ander fase inbeweeg. Let op: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:2-4).

Ja, die aarde sal vernuwe word en die nuwe Jerusalem sal vanuit die hemel na die aarde kom! U sal daar wil wees. Wat ’n ontsagwekkende erfporsie het die Almagtige God vir ons beplan!

Die heelal beërwe?

Daar is nog meer! Soos ons voorheen opgemerk het, het die mens ’n aangebore begeerte om uit te reik na die ruimte. Ons liefdevolle God het belowe dat ons presies dit sal kan doen, indien ons getrou is. Neem kennis van hierdie wonderlike belofte: “Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom [die mens] het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie” (Hebreërs 2:8).

Die Griekse woord vir “alle dinge” in vers 8 is ta panta, wat letterlik “die alles” beteken. Soos Griekse leksikons verduidelik, beteken ta panta in die volstrekte sin, “die heelal”. God wil graag aan Sy seuns en dogters nie slegs heerskappy oor die Aarde gee nie, maar ook oor die ganse heelal!

God noem Sy kinders erfgename: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:16-17). Ons sal egter net in staat wees om daardie heerskappy te ontvang indien ons die ewige lewe beërwe – wanneer ons God se onsterflike kinders word.

Wat sal ons erf? Ons sal die aarde beërwe (Mattheüs 5:5), en ons sal “alle dinge” beërwe. Christus word die erfgenaam van “alle dinge” genoem – die heelal. “God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak” (Hebreërs 1:2, NV). As erfgename saam met Christus, sal ons die heelal beërwe!

God het Sy groot liefde teenoor Sy kinders betoon en Hy bevestig ons erfenis: “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge [Grieks, ta panta] saam met Hom uit genade skenk nie?” (Romeine 8:32).

Nee, die heelal gaan nie eindig nie – dit wag vir u en vir my!