Die Oekraïne-krisis veroorsaak dat baie mense bekommerd is dat nog ’n wêreldoorlog reeds begin het. Die volle waarheid is selfs meer verbasend.

Die meeste van ons wat leef in, wat genoem word die Eerste Wêreld of “ontwikkelde” nasies, vind die lewe gemaklik. Dit is ongetwyfeld hoe baie mense in Hawaii gevoel het toe hulle een sonnige Sondagoggend wakker geword het. Vanaf 7 Desember 1941 sou dit egter in skande voortleef – vir hulle en vir die res van Amerika.

Europa was reeds in ’n oorlog gewikkel. Dit was skaars meer as twee dekades sedert die sogenaamde “oorlog om alle oorloë te beëindig” wat direk of indirek die lewens van meer as 20 miljoen soldate en burgerlikes geëis het. Die meeste Amerikaners het dus nou nie belanggestel om in ’n konflik aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan betrokke te raak nie – allermins een aan die ander kant van die Stille Oseaan. Die Verenigde State was in 1941 só onbetrokke dat die militêre konsep vier maande tevore amper geskrap is. “Die naelskraapse oorwinnings (in die Huis van Verteenwoordigers) was net met ’n enkele stem [om die militêre konsep te behou] en die stryd kon verloor gewees het net so maklik as wat dit gewen is, indien dit nie was vir die speaker van die Huis, Sam Rayburn se persoonlikheid, leierskap, beheersing van die parlementêre prosedure nie – toe daar geen ander uitweg was nie – asook sy blitsvinnige gebruik van die blokhamer [soos in hof gebruik word]. Indien Rayburn misluk het, sou die weermag ongeveer twee derdes van sy krag en driekwart van die offisierskorps verloor het” (“How Mr. Sam Saved the Draft,” The Washington Post, 18 Augustus 1991).

Enigiemand wat wêreldsake dophou, kon die waarskuwingstekens sien van wat aan die kom was. Baie mense wou egter glo dat die ramp nie sou plaasvind nie. Japan het sy krag aan China getoon en verhoudings tussen Japan en die V.S. het vir die grootste gedeelte van ’n dekade versleg. “Teen die laat 1930’s het Amerikaanse buitelandse beleid in die Stille Oseaan afgehang van ondersteuning vir China en aggressie teen China deur Japan, sou Japan dus noodwendig in konflik met die Verenigde State bring” (“Pearl Harbor attack,” Britannica.com, 30 November 2022).

Japan het reeds dele van China oorgeneem en Japannese en Chinese soldate het voortgegaan om te veg. “Gedurende die nag van 7 Julie 1937 het ’n klein Japannese mag wat met krygsoefeninge naby die Marco Polo-brug besig was, toegang tot die klein ommuurde dorpie Wanping geëis om na een van hulle soldate te soek” (“Marco Polo Bridge Incident,” Britannica.com, 30 Junie 2022). Die Chinese garnisoen het veiligheidstroepe toegang geweier. Onderhandelings het etlike ure lank geduur. Uiteindelik is ’n skoot afgevuur en wat begin het as ’n plaaslike skermutseling tussen twee klein afdelings soldate het in die Sino-Japannese Oorlog (1937-1945) ontaard.

In retrospek, of daar gekyk word na Hitler en Mussolini in Europa of Japan se stappe in Oos-Asië, het die wêreld slaapwandelend in die grootste konflik beland wat die mensdom nog ooit beleef het, waarin ’n geraamde 40 tot 70 miljoen lewens verlore sou gaan. Is dit vandag enigsins anders? Is ons ook op die drumpel van die ondenkbare?

Japan het hom misreken ná die Marco Polo-brug-voorval. Wat hulle gedink het ’n kort oorlog sou wees, het China se strydende kommunistiese en nasionalistiese magte saamgesnoer om ’n gemeenskaplike vyand te beveg – ’n geveg wat vir agt wrede jare voortgeduur het. Japan het nie natuurlike hulpbronne soos olie, yster, rubber en ander grondstowwe gehad nie en daarom het sy magte teen Frans-Indo-China (Viëtnam, Laos, Kambodja en ’n klein gedeelte van China) gedraai om die militêre krag te versterk. Dit het die alarm in Washington laat lui. “In Julie 1941, teen die tyd dat die Japannese die hele Indo-China beset het en ’n alliansie met die Spil-moondhede (Duitsland en Italië) aangegaan het, het die V.S. se regering alle kommersiële en finansiële betrekkings met Japan verbreek. Japannese bates is gevries en ’n invoerverbod is verklaar op verskepings na Japan van petroleum en ander noodsaaklike oorlogsmateriaal” (“Pearl Harbor attack,” Britannica.com).

Die skielike aanval op Pearl Harbor was die gevolg van magte wat onverbiddelik na ’n kragmeting gelei het. Japannese vliegtuie het nie “uit die niet verskyn nie” vir wie ookal bereid is om die feite te aanvaar. Dit was ’n versekerde resultaat van ’n geleidelike naderdrywing aan oorlog wat ’n dekade vroeër begin het.

 

Ons Wêreld: Voorbereiding vir Oorlog

Die vraag vandag is: Waarheen is ons wêreld nou op pad? ’n Noemenswaardige geleerde van geskiedenis, wie bekend is as ’n realis, het aan ons die antwoord gegee. Die volgende opskrif het op NBC News verskyn: “Ex-Soviet Leader Mikhail Gorbachev: ‘World is Preparing for War’” (27 Januarie 2017). Dit was vyf jaar voordat Rusland die Oekraïne binnegeval het. Net soos wat die samelewing gedurende die 1930’s tydens die grootste konflik in die mensdom se geskiedenis aan die slaap was, so wandel ons nasies al slapende, een besluit op ’n slag, ’n ramp tegemoet.

Die oorlog teen die Oekraïne was veronderstel om vinnig en maklik vir Rusland te wees – net soos Japan wat verwag het dat die oorlog teen China sou wees. President Poetin en sy raadgewers was verkeerd. Minder as twee maande nadat Poetin se “spesiale militêre operasie” begin het, het die Oekraïne Rusland se vlootvlagskip in die Swart See gekelder. Dit het gelei tot hierdie verskriklike opskrif: “‘Die Derde Wêreldoorlog het begin’, sê die staatsmedia van die Kremlin nadat die Russiese oorlogskip Moskva gesink het”. Die artikel het verder gelui:

Olga Skabeyeva, een van Poetin se top-mediafigure het ... vreemd genoeg, beweer dat die oorlog in die Oekraïne ontwikkel het tot ’n oorlog teen NAVO. “Waarin dit ontwikkel het, kan met veiligheid die Derde Wêreldoorlog genoem word. Dit ly géén twyfel nie! Nou veg ons beslis teen NAVO-infrastruktuur, indien nie teen NAVO sélf nie. Dit is nodig dat ons dit erken” (“‘World War III has begun’, says Kremlin state media after sinking of Russian warship Moskva,” Free Press Journal, 15 April 2022).

Was haar beoordeling so “vreemd” soos MSN berig het? Nie volgens pous Fransiskus nie. Hy het ’n maand later ’n soortgelyke opinie van die situasie uitgespreek.

“Die Derde Wêreldoorlog is verklaar,” het pous Fransiskus op 19 Mei 2022 in ’n gesprek oor baie onderwerpe met die redakteurs van die Europese Jesuïete publikasies gesê, met verwysing na Rusland se aanval teen die Oekraïne ... “Die wêreld is in ’n oorlog betrokke”, het hy gesê. “Volgens my is die Derde Wêreldoorlog vandag verklaar. Dit is iets wat ons tot nadenke behoort te stem. Wat is besig om met die mensdom te gebeur dat ons drie wêreldoorloë in een eeu beleef?” (“Pope Francis: ‘World War III has been declared,’” America: The Jesuit Review, 14 Junie 2022).

Was dit oordrewe? Hierdie twee aanhalings is kwalik die enigstes wat hierdie mening uitspreek. Rob Lownie het op Unherd.com op 16 Januarie 2023 geskryf:

Die Derde Wêreldoorlog het reeds begin – volgens een van Frankryk se voorste intellektuele, Emmanuel Todd. Die antropoloog en geskiedskrywer het met Le Figaro gepraat en beweer dat ... die Weste ook in ’n “bestaans”-konflik betrokke geraak het.

“Dit is duidelik dat die konflik, wat begin het as ’n beperkte oorlog oor grondgebied, toegeneem het tot ’n wêreldwye ekonomiese konfrontasie met die hele Westerse wêreld aan die een kant en Rusland en China aan die ander kant en dit het nou ’n wêreldoorlog geword”, het Todd aan die Franse koerant gesê (“Emmanuel Todd: World War III has already begun,” The Post, 16 Januarie 2023).

Die Weste het telkens van plan verander wat betref die omvang van dodelike wapens wat aan die Oekraïne se president Volodymyr Zelenskyy se regime gegee is, sodat die Weste homself toegelaat het om verder in die konflik betrokke te raak. Die V.S. het gesê hulle sal nie Patriot-missiele [grond tot lug missiele] stuur nie, maar het later toegegee onder druk van Zelenskyy. Die een NAVO-land na die ander het besluit om nie tenks te stuur nie, maar het later teësinnig toegegee. Elke keer wat hulle ’n ommekeer gemaak het, het dit meer “betrokkenheid” vir NAVO-nasies beteken en elke keer is meer belê en hoe moeiliker het dit geraak om uit die stryd te tree en aansien te behou. NAVO se besluit om moderne tenks na die Oekraïne te stuur, het hierdie woedende reaksie van Moskou ontlok:

Rusland het op 25 Januarie 2023 gewaarsku dat Duitsland se besluit om dosyne moderne tenks na die Oekraïne te stuur “uiters gevaarlik” is en “die konflik na ’n nuwe vlak sal neem” ... Poetin-propagandis Yevgeny Satanovskyy ... het aan die Waldman-LINE-kanaal gesê dat kernmissiele in die middel van Duitse demokrasie gebruik behoort te word. Hy het gesê: “Duitse tenks met kruise op hulle wapenrustings sal weer deur die Oekraïne marsjeer en Russiese soldate aanval” ... Intussen het Poetin se gunsteling-propagandis, Vladimir Solovyov, ook uitgevaar oor die stap, wat hy duidelik gesien het as ... ’n bewys in Russiese oë dat Duitsland direk by die oorlog aangesluit het (“‘Hierdie uiters gevaarlike besluit neem die konflik na ’n nuwe vlak’: Woedende Rusland beloof Westerse voertuie sal ‘brand’ met Duitsland se bevestiging dat hulle tenks aan die Oekraïne sal gee ... wat Poetin se TV-marionette aangespoor het om ’n NUKE-kernaanval op Berlyn te eis,” The Daily Mail, 25 Januarie 2023).

Die tenkbesluit is skaars geneem toe Zelenskyy begin druk uitoefen op NAVO om vegvliegtuie te stuur. Voor die laerhuis in Londen, “is aan die Britse Minister van Verdediging, Ben Wallace, gevra oor berigte met betrekking tot die moontlikheid van die ‘vervaardiging van ’n vegvliegtuig-koalisie met die Oekraïne’”. Sy antwoord op die vraag is baie akkuraat. “‘Sedert ons die stryd aangepak het om tenks na die Oekraïne te neem, is dit verstaanbaar dat mense vra wat die volgende vermoë sal wees’, het Wallace geantwoord. ‘Wat ons van al hierdie eise weet, is dat die aanvanklike reaksie nee [negatief] is, maar die uiteindelike antwoord is ja [positief]’” (“Biden rules out Providing F-16 Fighters to Ukraine, As Debate Picks Up in Europe,” CNS News, 31 Januarie 2023).

Dit het vroeg reeds duidelik geword dat Poetin heeltemal betrokke was – hy het soveel belê in die saak dat hy nie kon bekostig om te verloor indien hy hoop om aan bewind te bly nie. Dit is nou duidelik dat NAVO in dieselfde koerslose boot vaar. NAVO en die Weste kan nie bekostig om te verloor nie. Wat begin het as ’n beperkte gebieds-oorlog, het gaandeweg in ’n wêreldwye konflik ontaard. Wanneer die mensdom se groot magte vasgevang word in ’n konflik wat nie een van hulle kan bekostig om te verloor nie, sal dit waarskynlik nie goed vir die planeet eindig nie. Wat ons deesdae sien is ’n herhaling van die 1930’s!

In Ernest Hemingway se boek, The Sun Also Rises, vra Bill Gorton vir Mike Campbell hoe hy bankrot geraak het. Mike se antwoord? “Twee maniere. Geleidelik en dan skielik”.

Wêreldoorloë ontstaan nie uit die niet nie. Die denkbeeldige Mike Campbell se antwoord is van toepassing op baie dinge in die lewe, met inbegrip van groot konflikte. Klein toenemende besluite deur nasies bou op totdat iets breek. Die sluipmoord op aartshertog Franz Ferdinand op 28 Junie 1914 was die hoogtepunt van spanning wat onder die oppervlak teenwoordig was en dit het vinnig die vonk geword wat die Eerste Wêreldoorlog laat ontvlam het. Die voorval van die Marco Polo-brug in China was die vonk van ’n dekade-lange opbou na oorlog in Asië wat ver van daardie vasteland af versprei het.

 

Wat u Bybel voorspel

Baie mense sal verbaas wees om te besef dat wat ons vandag in Europa sien gebeur, reeds voorspel is in die boek wat as die Bybel bekend staan. Nee, Rusland wat Oekraïne aanval word nie spesifiek genoem nie, maar die gevolge van die inval word wel genoem. Ons hier by Die Wêreld van Môre het al dekades lank artikels gepubliseer wat voorspel dat Duitsland weer ’n groot militêre mag sou word en dat dit bestem is om tien nasies of leiers te lei om weer oorlog teen die wêreld te maak. Hierdie voorspelling word in die bladsye van die Bybel gevind. (Sien ons hulpbronne, Duitsland in Profesie en Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid?)

Ek het in ons Julie 2023 Wêreld van Môre-tydskrif verduidelik: “Meer as een president van die Verenigde State het Duitsland en ander Europese state versoek om hulle verpligtings na te kom om 2 persent van hulle BBP aan verdediging te bestee. Die gewese president Donald Trump het selfs so ver gegaan as om te dreig om uit die [NAVO]-alliansie te onttrek indien hulle dit nie doen nie ... Vladimir Poetin het dit feitlik oornag verander”.

Duitsland en ander Europese nasies probeer koorsagtig om in te haal op die bedreiging wat hulle in die gesig staar. Duitse kanselier Olaf Scholtz het aangekondig dat sy nasie die 2 persent jaarlikse drempel vir militêre besteding sal oorskry en ’n bykomende 100 miljard euros opsy sal sit om die dalende Bundeswehr te herbou. Dit sal tyd neem en sal nie oornag gebeur nie, maar die ware verskyning van hierdie dier-mag is dalk nie meer ver nie.

Neem hierdie skokkende opskrif in die Jerusalem Post van 28 Desember 2022 in ag: “Dmitri Medwedef die voormalige president van Rusland en ’n ywerige ondersteuner van die oorlog in die Oekraïne het gesê ‘Vierde Reich’ bestaan uit Duitsland en Pole”. Die artikel gaan dan voort: “‘Die Vierde Reich sal geskep word, wat die grondgebied van Duitsland en sy satelliete insluit, dit wil sê: Pole, die Baltiese state, Tsjeggië, Slowakye, die Republiek van Kiëf en ander uitgeworpenes’”.

Nie een van ons weet met sekerheid wat die presiese tyd is vir die totstandkoming van hierdie “Vierde Reich” nie, maar die feit dat iemand van Medwedef se statuur hierdie voorspelling gemaak het, moet nie geredelik verwerp word nie. Mens wonder wat hy weet van wat agter die skerms aangaan. Die antwoord kan in ’n artikel van die Asia Times gevind word:

Die V.S. se Minister van Buitelandse sake, Antony Blinken, het waarskynlik gedink dat in sy selfaangestelde rol as die wêreld se polisieman, dit sy uitsluitlike voorreg was om na te gaan wat aangaan tussen Duitsland, China en Rusland waarmee hy nie bekend was nie. Blinken se oproep op Vrydag (Desember 2023) aan die Chinese Minister van Buitelandse sake, Wang Yi, het egter op ’n fiasco uitgeloop.

Sy voorneme was sekerlik om besonderhede te bekom oor twee hoëvlak besprekings wat die Chinese president Xi Jinping die vorige week op opeenvolgende dae gehad het – onderskeidelik met die Duitse president Frank-Walter Steinmeier asook die voorsitter van die Verenigde Russiese Party en die voormalige Russiese president Dmitri Medwedef.

Blinken het waarskynlik ’n intelligente raaiskoot gewaag naamlik dat Steinmeier se telefoonoproep daardie Dinsdag na Xi en Medwedef se verrassingsbesoek aan Beijing en sy vergadering met Xi die Woensdag dalk nie toevallig was nie (“A Germany-China-Russia triangle on Ukraine,” 25 Desember 2022).

’n Mens kan net wonder wat in hierdie vergaderings gesê is. Watter binnekring inligting het Medwedef Is sy voorspelling van ’n vierde Reich wat in 2023 tot stand sal kom, ’n wilde spekulasie? Weet hy dalk meer as die res van ons? Die tyd sal leer of sy tydsberekening korrek is, maar volgens die Bybel is die voorspelling andersins akkuraat en die toestand van die wêreldorde laat ons besef dat ons verseker in die tydperk is vir hierdie dier-mag om in Europa tot stand sal kom.

Die ondergang van die V.S. kan hierdie geopolitieke verskuiwing versnel en Medwedef het ’n paar voorspellings in daardie verband gehad. “Hy het verder gesê: ‘Die Bretton Woods-stelsel van monetêre bestuur sal in duie stort, wat sal lei tot die IMF en Wêreldbank se ineenstorting. Die euro en dollar sal nie meer sirkuleer as die wêreldwye reserwe-geldeenhede nie. Digitale geldeenhede sal in plaas daarvan aktief gebruik word’” (The Jerusalem Post). Dit is iets waaroor baie mense gedurende die afgelope paar jaar bespiegel het maar of ’n mens Bretton Woods verstaan of nie en hoe dit die V.S. se dollar as die reserwe geldeenheid van die wêreld opgestel het, is dit voldoende om te sê dat die lewe in die V.S. en ander Westerse nasies oornag dramaties ten slegste sou verander.

Om toekomstige gebeure te voorspel is moeilik en die tydsberekening daarvan is selfs moeiliker. God openbaar egter die geskiedenis vooraf in die bladsye van Sy Woord, die Bybel. Meer as 2,500 jaar gelede het God vir die profeet Daniël ’n uiteensetting van die wêreldgeskiedenis gegee en die groot imperiale magte geïdentifiseer wat die wêreld van daardie tyd af tot vandag toe sou vorm. Verdere besonderhede wat op hierdie raamwerk voortbou, is aan die apostel Johannes gegee wat dit in die boek Openbaring opgeteken het.

Dmitri Medwedef se voorspelling van ’n vierde Duitse Reich wat ander Europese nasies betrek, stem ooreen met Bybelprofesie. Die enigste vraag is: Wanneer sal dit gebeur? Baie dinge gebeur agter die skerms. Die V.S. is moreel bankrot, verwar deur ’n anti-God-agenda, erg verdeeld en finansieel in die skuld van meer as 31 biljoen dollar. Baie dieselfde kan gesê word van die V.K., Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Sommige mense voorspel ’n tweede Amerikaanse burgeroorlog wat die eensgesindheid sal verpletter wat nog in die nasie oor is. Indien dit gebeur, waar sal al die nasies staan wat afhanklik was van die “Amerikaanse sambreel”?

Bybelprofesie sal vervul word. Die V.S. en die nasies van Britse afkoms wat hulle Skepper verwerp het en hulleself aan onsedelikheid oorgegee het, sal tot niet gemaak word. Die oorlog in die Oekraïne is ’n ernstige bedreiging vir die Westerse sowel as die Oosterse moondhede. Volgens Bybelprofesie is daar ’n groot geopolitieke verskuiwing van Europa in die nabye toekoms aan die kom. Huidige bondgenote sal vyande word.

 

Nie Die Eerste Nie

Ons is kwalik die eerste geslag wat moeilike tye beleef, maar die Bybel moedig diegene aan wat God getrou gehoorsaam en vertrou. “Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Die wyse koning Salomo het ook verstaan dat dinge op die ou einde goed sal uitwerk vir diegene wat God vrees – diegene wat Hom werklik eerste in hulle lewens stel. “... aangesien ’n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe – alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos ’n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie” (Prediker 8:12-13).

Juda het in ballingskap gegaan en daarna is vier Joodse seuns saam met duisende ander seuns weggevoer na ’n vreemde land en ’n onseker toekoms. Daniël, Sadrag, Mesag en Abednégo het God vertrou onder die moeilikste omstandighede en God het hulle ondersteun (Daniël 3:6, 26-28).

Die profeet Jeremia het gedurende hierdie tyd in Jerusalem gewoon, maar God het hom beskerm toe die stad geval het (Jeremia 39:11-14). God het ook Jeremia se skrifgeleerde Barug beskerm (45:1-5) en eweneens die lewe gespaar van Ebed-Meleg, ’n Ethiopiese eunug wat op God vertrou het en gehelp het om Jeremia se lewe te red (38:7-13; 39:15-18). Vroeër was koning Dawid geen onbekende met gevaar nie, tog het hy God meer gevrees as die mens en God het oor hom gewaak al die dae van sy lewe. “Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?” (Psalm 56:12)

’n Ongewone visioen wat in Eségiël 9 opgeteken is, beeld die stad Jerusalem uit in ’n metafoor en boodskap vir die noordelike tien stamme van Israel (Eségiël 9:2-5). In hierdie visioen word ses manne aangesê om deur die stad te gaan en sy inwoners dood te maak, maar daar is ’n sewende man met ’n inkpot aan sy heupe wat deur die stad moes gaan en ’n merk maak op die voorkoppe van almal wat “sug en steun” (weeklaag) oor die gruwels wat tussen hulle medeburgers gedoen is. Die laksmanne word beveel: “... slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom” (Eségiël 9:6). Dat hulle by God se heiligdom moet begin, kan daarop dui dat hierdie straf eerste sal kom oor godsdienstige huigelaars – diegene wat beweer dat hulle godsdienstig is, maar nie volgens God se bevele leef nie.

Soos Hemingway se denkbeeldige Mike Campbell beskryf het, is ons wêreld daadwerklik besig om in hulle slaap te wandel op pad na Armageddon – wat geleidelik aan die kom is, maar dan skielik sal plaasvind. Die einde van die mensdom se wanbestuur op aarde is egter nog nie hier nie. Baie profesieë moet nog vervul word, maar soos ons die afgelope paar jaar gesien het, kan ons wêreld oornag dramaties verander. Ons vorder van geleidelik na skielik. Is dit nie wat die profeet Jesaja vir ons rebelse wêreld opgeteken het nie? “Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom” (Jesaja 30:12-13).

U kan groot verrassings te wagte wees wat die wêreld sal skok in die dae, weke en maande wat voorlê!