Ons beleef ’n groeiende en toenemend strydende anti-God beweging in nasies wat voorheen daarop aanspraak gemaak het dat hulle “Christene” is – hul wat eens God as die bron van hulle seëninge erken het. Baie “progressiewe” denkers sien hierdie wêreldse beweging as verlig, modern en bevrydend – ’n idee waarvan die tyd uiteindelik aangebreek het. Slegs ’n klein aantal mense, wat hulle Bybels bestudeer, besef dat die Skrif lank gelede die ontstaan van hierdie beweging voorspel het. Bybelse profesieëwat vandag besig is om gestalte aan te neem openbaar die ernstige gevolge wat daardie mense wat God verag en die lesse van die geskiedenis ignoreer, gaan tref.

Antieke waarskuwings

Nadat God die antieke Israeliete uit hulle gevangenskap in Egipte bevry het deur ’n reeks dramatiese wonderwerke, het Moses hulle gewaarsku: “Neem jou net in ag ... dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie ... en verderflik handel ... en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God ... Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie ... as jy nogtans die Here jou God vergeet en agter ander gode aan loop ... dat julle sekerlik sal omkom” (Deuteronomium 4:9, 25; 8:11-19).

God het aan die Israeliete Sy wette gegee sodat hulle ’n voorbeeld vir die wêreld kon wees (Deuteronomium 4:6-8). Hy het ’n verbond met Israel gesluit – ’n verbond met baie eenvoudige terme. Gehoorsaamheid aan God se wette sou seëninge bring; ongehoorsaamheid aan Sy opdragte sou ernstige gevolge bring (Levitikus 26; Deuteronomium 28).

Nogtans het die Israeliete hulle gedistansieer van God en Sy wette geïgnoreer; hulle het “die woord van die Heilige van Israel verag” (Jesaja 5:24). Die gevolg was dat hulle deur hulle vyande verower en in gevangenskap weggevoer was na Assirië en Babilon. Die tragiese les van die geskiedenis is dat God se uitverkore volk wat veronderstel was om ’n lig vir die wêreld te wees, hulle besondere roeping verag het. Hulle het ’n swaar prys betaal – verowering en vernedering aan die hand van buitelandse vyande.

Nasies wat God verwerp

Gedurende die 1800’s het geestelikes van Westelike Europa begin om die Skrif te betwyfel, te ignoreer en selfs belaglik te maak. Hierdie geleerdes – ironies die afstammelinge van die antieke Israeliete wie se Skrifte hulle bespot – is in die besonder gevoed uit twee denkrigtings. Een was die bioloog Charles Darwin se teorie van evolusie, wat aanspraak maak daarop dat mense nie na die ewebeeld van God geskape is nie maar eerder deur natuurlike prosesse ontwikkel het uit “geringer” organismes. Die ander idee was van filosoof Friedrich Nietzsche se astrante bewering dat God dood is, die Bybel ’n mite, die Christelikheid nie meer ’n lewensvatbare geloofstelsel is nie.

Die saad wat deur hierdie wêreldse ateïste geplant is het weer begin uitloop in ons huidige geslag. In Brittanje en Amerika publiseer militante ateïste boeke met titels soos:The God Delusion, God Is Not GreatThe End of Faith en DVD’s soos The God Who Wasn’t There – publikasies wat die Christelike geloof en die God van die Bybel kragtig verwerp.

In Amerika, ’n nasie wat gegrond is op die beginsel van geloofsvryheid, vind ons nou organisasies soos “Freedom from Religion” wat aktief probeer om enige uitdrukking van die Christelike geloof in die openbaar onwettig te maak. Alhoewel die Bybel homoseksualiteit duidelik verdoem en dit as ’n sonde bestempel (Levitikus 18:22; 1 Korinthiërs 6:9-10), moedig baie leiers in Westerse nasies homoseksuele gedrag ten sterkste aan as ’n gesonde “alternatiewe leefstyl” en ignoreer dus baie mediese en sielkundige studies wat waarsku teen die potensieel gevaarlike gevolge daarvan.

Die Bybel stel dit duidelik dat God die huwelik ontwerp het om tussen ’n man en ’n vrou te wees (Genesis 2:24). “Progressiewe” politici – en selfs liberale teoloë – bepleit nogtans die wettiging van dieselfde-geslag huwelike en ignoreer God se skriftuurlike instruksies openlik. ’n Australiese lid van die Volksraad wat dieselfde-geslag huwelike aanmoedig, het onlangs beweer dat die wet wat die huwelik beskryf as sou dit tussen ’n man en ’n vrou wees, “geskryf was deur politici en wetgewers in ink en nie op klip nie” – ’n spottende verwysing na die Tien Gebooie (Sky News, “MPs to Delay Gay Marriage Vote”, 18 Junie 2012). In Amerika het die Obama-administrasie geweier om ’n wet van die Kongres te bekragtig wat die tradisionele huwelik beskryf as tussen ’n man en ’n vrou. Hulle het dit verwerp omdat dit volgens hulle “diskrimineer” teen dieselfde-geslag paartjies.

Die huwelik word ook aangeval op ander fronte. Die Bybel stel dit duidelik dat God egskeidings haat (Maleagi 2:16). Prokureurs het nogtans “geen-fout” egskeidings geskep om die ontbinding van huwelike te vergemaklik. Standaarde van sedelike gedrag wat lank gelede aanvaarbaar was verkrummel nou in Westerse sogenaamde “Christelike” nasies. Die Skrif bestempel lieg, steel, owerspel, ontug en dronkenskap as sondige dade, nogtans is hierdie gedrag algemeen onder miljoene mense wat nie meer die woord van God as gesaghebbend beskou nie.

Nasies waar die afstammelinge van God se uitverkore volk nou woon is weer besig om hul te distansieer van God en verag Sy woord, soos Bybelse profesieë lank gelede voorspel het sou gebeur! Die apostel Paulus het gewaarsku dat “die laaste dae” gekenmerk sal word deur arrogante “lasteraars” wat God se woord sal verag, en die apostel Petrus het voorspel dat “spotters” sal kom en die spot sal dryf met die beloftes wat in die Skrif aangeteken is (2 Timótheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:1-7). Die profeet Jesaja waarsku dat die tyd gaan aanbreek wanneer die leiers van die Israelitiese nasies “sleg goed [sal] noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Hierdie profesieë beskryf akkuraat wat vandag besig is om te gebeur!

Dae van afrekening lê voor!

Meer as 3,000 jaar gelede het Moses ’n profetiese waarskuwing aan die Israeliete gerig: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom” (Deuteronomium 31:29). God het die kinders van Israel gewaarsku, “as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie ... en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het sodat julle nie al my gebooie doen nie ... Ek sal [dan] julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19). Die straf wat God oor Sy ongehoorsame volke gaan bring, sluit in: Terreur, siekte wat verteer, plae onder vee, droogtes, hongersnood, natuurrampe, uitbuiting deur ander nasies en verowering deur buitelandse magte. Hierdie rampe is besig om vandag met toenemende snelheid te realiseer in hedendaagse Israelitiese nasies!

Die profeet Jeremia het ’n soortgelyke waarskuwing gerig aangaande toestande wat sal voorkom in Israelitiese nasies aan die einde van hierdie tydvak – net voor die wederkoms van Jesus Christus. Hy beskryf dit as “’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Jakob het twaalf seuns gehad wat die stamvaders is van die hedendaagse Israelitiese nasies (om meer hiervan te leer, vra vir u gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?) Jeremia beskryf eindtydse Israelitiese nasies as siek nasies gevul met bose praktyke, hy meld: “... aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” – wat beteken dat hulle hierdie profesie voor die einde van hierdie tydvak sal verstaan (Jeremia 30:24).

Voordat Moses gesterf het, het hy die Israeliete gewaarsku dat wanneer hulle straf kom, hulle “gou tot niet [sal] gaan” (Deuteronomium 28:20). Hierdie selfde tema – dievinnige ondergang van Israelitiese nasies wat hul van God distansieer en Sy woord verag – word dikwels herhaal deur die profete (Jesaja 9:14; 29:5; 30:13; Jeremia 6:26; 15:8; 18:22; Hosea 10:15). Selfs wêreldse geleerdes maak nou soortgelyke stellings, namate hulle die benarde posisie van Amerika besef – huidiglik nog die wêreld se toonaagewende supermoondheid. Professor Niall Ferguson van Harvard het gewaarsku aangaande die toenemende verwagting van die “skielike ineenstorting” van die Amerikaanse ryk en dat dit “in die volgende vyf jaar” kan gebeur (“Historian Warns of Sudden Collapse of American ‘Empire’”, Aspen Daily News, 6 Julie 2010). Tensy die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel gewillig is om hul te bekeer en te leer uit die geskiedenis, sal diegene wat verkies om God te verag, toenemend strawwer gevolge ondervind.