Een van die grootste raaisels van die lewe is, wat gaan gebeur met ’n persoon nadat hy gesterf het. Gaan ’n persoon se siel onmiddellik hemel of hel toe na sy afsterwe? Wat sê die Bybel omtrent lewe na die dood?

Een van die grootste beproewings in die lewe is om die dood van ’n geliefde te verwerk, veral wanneer die verlies skielik en onverwags is. Ons ervaar droefheid en treur oor so ’n tragedie. Ons familie en vriende is baie kosbaar vir ons. Die verlies is vir ons pynlik, of die dood op ’n jong ouderdom toeslaan, of eers aan die einde van ’n lang lewe. En ons wonder, “Sal ons hulle ooit weer sien?” Wanneer ons na die einde van lewe kyk, vra ons, “Is daar enige hoop vir die toekoms?”

Ja daar is hoop vir die toekoms! Daar is hoop vir u afgestorwe seun, dogter, eggenoot, vrou, familielid of vriend. Hoe weet ons dat daar hoop is? Omdat God die Almagtige, die Skepper van lewe, in u Bybel die antwoorde op die raaisels van die lewe openbaar.

As fisiese mense met ’n fisiochemiese lewe sal ons almal sterf. Maar, nadat ons gesterf het, sal ons weer lewe? Die Bybel vertel ons reguit: “... die mense [is] bestem ...  om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27).

Gereelde lesers van ons die Wêreld van Môre-tydskrif weet dat daar ’n ontsaglike groot doel is met elke indiwidu se lewe en ’n ontsagwekkende toekoms wat voorlê, maar wat presies sê die Bybel oor Christene wat sterf? Gaan hulle onmiddellik hemel toe hulle by hul afsterwe?

Hemel of slaap?

Die apostel Paulus wou hê dat sy lesers die waarheid moes weet aangaande die opstanding. “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook só die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie” (1 Thessalonicense 4:13-15).

Die apostel Paulus verwys na die dood as ’n slaap. Hy beskryf nie die dooies as aktief of lewend in die hemel nie. Hulle slaap of is dood tot die koms van Christus – Sy Wederkoms. Ons lees: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1Thessalonicense 4:16-18).

Let op dat hierdie opstanding plaasvind met die Wederkoms van Christus “met geklank van die basuin van God”. Dit is die laaste basuin, die sewende basuin soos dit in die boek Openbaring beskryf word. Die Skrif openbaar dat dié wat in Christus gesterf het dan sal opstaan. Ware Christene wat gesterf het sal nie opgewek word voor Christus se Wederkoms nie! Diegene van ons wat in die lewe is met Christus se Wederkoms, sal saam met dié wat reeds lank dood was, herlewe om die beloofde gawe van ewige lewe te ontvang! Dáárdie opstanding is die hoop waarna alle opregte Christene uitsien.

Terwyl Paulus by een geleentheid deur die Joodse Sanhedrin ondervra was, het hy van die opstanding gepraat. Hy het ’n vergadering van beide Fariseërs en Sadduseërs toegespreek: “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: ‘Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg’” (Handelinge 23:6).

Het Paulus gesê dat hy hemel toe sou gaan na sy dood? Volstrek nie! Paulus het uitgesien na die opstanding uit die dood met Christus se Wederkoms! In die boek Filippense praat die apostel Paulus van sy geloof ín Christus en sy toekomsverwagting van die opstanding. “ ... sodat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Filippense 3:10-11).

So skokkend as wat dit mag voorkom, leer die Bybel dat wanneer ons sterf, ons dood bly tot en met die opstanding. Die apostel Paulus praat nooit van die dooies asof hulle lewendig is in die hemel of in die hel nie! Hy verwys na gestorwe Christene as diegene wat in Jesus ontslaap het (1 Thessalonicense 4:14). Slaap word hier as beeldspraak vir die dood gebruik.

Die voorbeeld van Lasarus

Jesus het self die beeldspraak van slaap gebruik. Maria en Martha van die dorp Betanië, se broer Lasarus was siek en het gesterf voordat Jesus daar opgedaag het. Jesus het aan Sy dissipels gesê: “ ... ‘Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak’. Sy dissipels sê toe: ‘Here, as hy slaap, sal hy gesond word’. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: ‘Lasarus is dood’” (Johannes 11:11-14).

Lasarus het weens ’n siekte gesterf. Het hy hemel toe gegaan die oomblik toe hy gesterf het? Indien hy het, sou Jesus vir Lasarus moes beveel om sy nuwe geestelike glorie prys te gee en terug te keer na ’n doodgewone fisiese lewe. Dit maak geen sin nie! Lasarus het nie hemel toe gegaan nie. Hy het ook nie na die mistieke ewigbrandende hel gegaan nie. Lasarus was dood. Jesus het so gesê.

Lasarus was vier dae in die graf, hy was in ’n grafkelder geplaas, met ’n groot steen wat die ingang bedek het. Ons lees: “Jesus sê: ‘Neem die steen weg’. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: ‘Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood’. Jesus sê vir haar: ‘Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?’” (Johannes 11:39-40).

Jesus, die Seun van God, was op die punt om die krag van die opstanding te demonstreer. In hierdie geval was dit ’n opstanding tot fisiese lewe en nie die opstanding tot glorie en onsterflikheid nie. Jesus het aan Martha gesê, ‘“Jou broer sal opstaan’. Martha antwoord Hom: ‘Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag’” (Johannes 11:23-24).

Martha was bewus van die opstanding – dieselfde opstanding waarvan die apostel Paulus later sou skryf. “Jesus sê vir haar: ‘Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie’” (Johannes 11:25-26). Let op dat Jesus sê, “wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”. Nadat die groot opstanding plaasgevind het, sal die verheerlikte, opgewekte heiliges nooit weer sterf nie! Dit is die belofte van ewige lewe! Maar, dit vereis geloof in die Verlosser van die wêreld – die Een wat “die opstanding en die lewe” is.

Nadat die steen verwyder is van die ingang na die grafkelder, het Jesus die dooie Lasarus toegeroep. “En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n groot stem geroep: ‘Lasarus, kom uit!’ En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: ‘Maak hom los en laat hom gaan’. En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo” (Johannes 11:43-45).

Lasarus was uit die dood opgewek om die res van sy natuurlike lewe te voltooi. Hierdie ontsaglike groot wonderwerk het bevestig dat Jesus inderdaad die Messias, die Seun van God, is. Die hoofpriesters en Fariseërs was ontstel oor die wonderwerk van Lasarus se opstanding – en van toe af het hulle saamgesweer om Jesus dood te maak. U kan verder daaroor lees in die res van Johannes 11.

Dood tot met die opstanding

Ons het gesien dat die Bybel verkondig dat ’n dooie persoon dood bly tot met die opstanding. Beide die apostel Paulus en Jesus self het na die dood verwys as ’n slaap. Een wat dood is het geen bewustheid nie – dié een bly in die graf tot met die opstanding. Let op wat Jesus sê in Johannes 5:28, “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28-29). Ander vertalings gebruik die woord “oordeel” in die plek van “veroordeling”. Ja, ons almal vestig ons hoop op die opstanding. Gelowige Christene sal opgewek word tot onsterflikheid met Christus se Wederkoms!

Die Skrif toon aan dat onsterflikheid ’n gawe van God is! “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Let op dat die Skrif nie sê “die loon van die sonde is ewige lewe in die hel se vuur” nie. Die loon van die sonde is die dood – die afwesigheid van lewe. Indien u alreeds ’n onsterflike siel het – as u alreeds in besit is van die ewige lewe  – dan sou dit vir u nie nodig gewees het om dit as ’n gawe, ’n geskenk van God te ontvang nie. Die ewige lewe is ’n wonderlike gawe deur ons lewende Saligmaker, Jesus Christus!

Die apostel Paulus beskryf hierdie dramatiese transformasie wat sal plaasvind tydens die laaste basuin wat Christus se Wederkoms aankondig. “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korinthiërs 15:51-54).

Ja, daar sal oorwinning oor die dood wees met die laaste basuin. En, in dieselfde vers sien ons “hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word”. Maar, waarom sal daar dan nog ’n behoefte aan onsterflikheid wees as ons as mense alreeds ’n onsterflike siel het? Die Bybel openbaar dat siele nie onsterflik is nie. ’n Siel kan sterf! Die profeet Esegiël vertel byvoorbeeld aan ons, “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh, wat fisiese of natuurlike lewe beteken. Dieselfde woord nephesh verwys ook na diere se lewe in Genesis 1:21.

Hierdie verse uit die Ou Testament is duidelik, maar wat leer ons van siele in die Nuwe Testament? Neem Christus se eie woorde: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna vuur]” (Mattheus 10:28). Ja, God is in staat om beide siel en liggaam in die hel te vernietig. Baie ander Skrifture bewys ook dat menslike wesens nie oor ’n onsterflike siel beskik nie. God het die profeet Esegiël geïnspireer om te skryf: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:20).

Die goeie nuus is dat ons weer opgewek sal word. Neem as voorbeeld Koning Dawid, ’n man so na God se hart. Het hy hemel toe gegaan soos wat baie mense glo? Of is hy nog in sy graf? In die Koninkryk van God sal Koning Dawid oor al die stamme en nasies van Israel en Juda regeer (lees Esegiël 37:24; Jeremia 30:20). Dawid behoort verseker in die hemel te wees as die regverdiges dan daarheen gaan die oomblik as hulle sterf maar die Bybel toon duidelik dat Dawid nie daar is nie! Op Pinksterdag het die apostel Petrus die heel eerste geïnspireerde preek van die Nuwe Testamentiese Kerk gelewer. Hy het gesê, “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hygesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29). Na die dood, begrafnis en opstanding van Christus was Dawid nog steeds dood en begrawe! Petrus het voortgegaan en dit duidelik gestel: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:34). Dawid wag nog op die opstanding soos al die ander gelowige heiliges!

Ons het gesien dat gelowige Christene weer opgewek sal word wanneer Christus  met die laaste basuin na hierdie aarde terugkeer. Hulle sal van sterflik na onsterflik verander word; van ’n natuurlike liggaam na ’n geestelike liggaam. Dit sal ’n glorieryke tyd wees!

Maar, wat van al daardie mense wat nooit tot ware Christelikheid bekeer het nie? Wat gebeur met hulle wanneer hulle sterf? Dr. Roderick C. Meredith het onlangs ’n boekie oor die onderwerp geskryf, Is hierdie die enigste dag van redding? Indien u dit nie alreeds aangevra het nie, doen dit gerus nou.

Hoeveel opstandings?

In die boek Openbaring vind ons dat met Christus se Wederkoms, Satan vir ’n duisend jaar gebind en opgesluit sal word in die bodemlose put. Met Christus se Wederkoms sal onsterflikheid aan die gelowige heiliges gegee word. “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van dié wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en dié wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:4-6).

Die eerste opstanding, soos dit genoem word, is vir die heiliges – gelowige Christene. Maar, as daar ’n “eerste” opstandig is, dan moet daar ook ’n “tweede” opstanding wees. Die apostel Paulus het gepraat van die rangorde van opstandings en verduidelik dat Jesus Christus die “eersteling” is – die eerste om opgewek te wees (1 Korinthiërs 15:20) – gevolg deur diegene wat aan Christus behoort (vers 23). Daarna volg die “ander dode” waarvan Openbaring 20:5 melding maak.

Die “ander dode” is dié wat onder die oordeel gaan kom. Hulle sal tot ’n fisiese lewe opgewek word. Let egter op na die goeie nuus aangaande hierdie oordeel. Nadat die Koninkryk van God vir ’n duisend jaar oor hierdie aarde geheers het, sal daar ’n groot opstanding tot oordeel, van biljoene mense wees. Hierna word verwys as die Wit Troon Oordeel. “En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan [dit is die tweede opstanding], en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Openbaring 20:11-12).

Die Griekse woord vir “boeke” is biblion. Vir die eerste keer word die boeke, of te wel die Bybel, geopen vir die begrip van die massas mense. Die opstanding tot fisiese lewe uit die vallei van droë bene soos beskryf deur die profeet Esegiël in Hoofstuk 37 van die boek wat sy naam dra, vind ook gedurende hierdie tyd plaas. Die Boek van Lewe word uiteindelik vir hulle almal geopen. Dit sal hulle eerste geleentheid wees om regtig die waarheid te leer. Dit is nie ’n tweede kans soos sommige dit wil noem nie. Alle mense sal verantwoordelik gehou word vir hulle dade en gedagtes. Dit sal egter vir baie van hulle hul heel eerste geleentheid wees om hulle sonde in te sien, berou tot bekering te beleef en om vir Jesus Christus te aanvaar as hulle Verlosser en Saligmaker.

Ja, daar is hoop vir nie-Christene. Die meeste van hulle sal in die graf wag tot die Wit Troon Oordeel om dan hulle eerste geleentheid te kry om die waarheid én God se lewensweg te leer ken.

Dan volg uiteindelik die finale straf vir diegene wat hulle gewete en karakter verseël het om God se liefde en die offergawe van Christus te verwerp. Hierdie verharde goddelose mense sal in die poel van vuur verbrand en totaal vernietig word. Hulle siele en liggame sal in Gehenna vuur vernietig word soos Jesus sê.

Die vertroostende nuus is dat geen mens wat nog ooit gelewe en gesterwe het, nou ly nie. Dood is werklik die afwesigheid van lewe. “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie ...” (Prediker 9:5). Die dooies ervaar geen bewustheid van tyd nie, hulle weet niks nie. In die volgende breukdeel van ’n sekonde in hulle bewustheid sal hulle in die opstanding ontwaak.

Jesus Christus sê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Johannes 11:25). Ja, daar is lewe na die dood – ons hoop is in die opstanding gevestig! God belowe ’n glorieryke toekoms in die Wêreld van Môre aan diegene wat werklik reageer op Sy roepstem, hulle wat werklik berou tot bekering het, gedoop word en getrou bly aan hulle Saligmaker en Verlosser, Jesus Christus!