Ons leef in ’n gepolariseerde samelewing waar daar baie wesenlike verskille tussen Oos en Wes, Noord en Suid is. Die kloof tussen ryk en arm word al hoe groter en meer opvallend. Daar is vurige meningsverskille tussen mense binne landsgrense. Verskillende rasse en stamme kom nie altyd oor die weg nie. Ongeveer die helfte van ons is manlik, die ander helfte is vroulik – maar selfs dít word as te eenvoudig beskou, aangesien sommige mense dink dat daardie biologiese verskille te beperkend is. Daar is onoplosbare verdeeldheid oor wat moreel is en wat nié moreel is nie.

Demokratiese nasies is erg verdeeld. Italië kan nie vir baie lank saamstem oor wie in beheer is nie; volgens GlobalSecurity.org het dit 63 regerings in 70 jaar gehad vanaf 1946 tot 2015. Die Verenigde State is uiters verdeeld. ’n Verdeelde Israel het vier verkiesings in net twee jaar gehou voordat Benjamin Netanyahu, die langsdienende Eerste Minister verwyder is en nou is daar bewerings dat die Israeliese staatspolisie Pegasus-sagteware gebruik het om op Netanyahu en ander politici te spioeneer en sodoende die verkiesings beïnvloed het.

Universiteite het “veilige ruimtes” en gee “waarskuwings” aan die begin van media-plasings om te verhoed dat enigiemand aanstoot neem, maar hierdie gepamperlang moedig net meer sensitiwiteit by studente aan wat nie in staat is om ander studente te hanteer wat nie met hulle saamstem nie. Die woord kultuur word dikwels deur kanselleer voorafgegaan. In watse wêreld leef ons tog nie!

Ons sien hierdie teenstrydige sienings eerstehands hier by Tomorrow’s World. Die meeste briewe en e-posse wat ons ontvang is positief – maar nie almal nie. Mnr. Wallace Smith is onlangs gekritiseer as pro-Biden en anti-Trump. Ek is daarvan beskuldig dat ek aan albei kante van die politieke verdeeldheid is. Ek en mnr. Smith dink egter dieselfde oor hierdie sake: Nie mnr. Trump óf mnr. Biden of énige ander sogenaamde politieke held sal Amerika of enige land red wat sy Skepper verwerp nie.

Sommige briewe is venynig; sommige daarvan is komies. Een brief wat ek ontvang het in reaksie op een van my uitsendings was so amusant dat ek my sekretaresse gevra het om dit vir my kantoor te laat raam. Daardie brief kan ten minste vertoon word. Dieselfde kan nie gesê word van ‘n brief wat mnr. Smith onlangs ontvang het nie. ’n Mens moet deesdae ’n sin vir humor hê en nie een van ons hier is oor-sensitief nie. Soos die wel bekende woorde van die voormalige president van die Verenigde State, Harry Truman: “Indien ’n mens nie ’n spanningsvolle situasie kan hanteer nie, laat dit oor aan iemand wat dit kan hanteer”.

’n Mens moet tog wonder waarom daar soveel vyandigheid in die wêreld is. Hoe lok een televisieprogram of ’n enkele artikel in ’n gratis tydskrif, sulke woedende reaksies uit?

Die bron van woede

Die antwoord word verduidelik in my artikel, ’n Katastrofiese storm is aan die kom, wat elders in hierdie uitgawe verskyn. Min belydende Christene en nog minder agnostici en ateïste verstaan die bron van die ongelukkigheid oor die hele wêreld. Toe Sy kruisiging nader gekom het, het Jesus aan Sy dissipels gesê: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). ’n Bietjie later het Hy gesê: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Wie is die “owerste van hierdie wêreld” en wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het, “die owerste van hierdie wêreld ... het aan My niks nie”?

Die god van hierdie wêreld word “die owerste van die mag van die lug” genoem (Efésiërs 2:2). Net soos radiogolwe onsigbaar deur die lug beweeg, so saai daardie owerste – meer algemeen bekend as Satan die duiwel – sy buie en gesindheid van woede, haat, trots, eiewilligheid en rebellie uit in die niksvermoedende denke van mense om “volgens die loop van hierdie wêreld” te volg. Ons verstaan dat die God van die Skepping oor alles beheer het, maar lank gelede het Hy die engel Lucifer oor die sake van hierdie planeet geplaas. Lucifer het trots en arrogant geraak; hy was nie tevrede met wat aan hom gegee is nie en in sy poging om sy troon bo God te verhef, het hy Satan die duiwel geword (Jesaja 14:12-13). Wanneer Jesus sê: “... en het aan My niks nie”, bedoel Hy dat die gesindhede van die duiwel géén tuiste in Hom kon vind nie.

Kan ons dieselfde sê? Hoeveel van ons denke word geïnspireer deur die god van hierdie wêreld? Neem ons maklik aanstoot? Het ons ’n slagoffermentaliteit en dink ons dat ons probleme ander mense se skuld is? Is ons gevul met woede? Dink ons dat niemand vir ons kan sê wat om te doen nie? Namate ons die toppunt van die mensdom se poging tot selfregering sonder God nader, sal al hoe meer moeilike omstandighede ons in die gesig staar. Ons sal woede van ander trotseer. Wanneer ons alles sien wat rondom ons gebeur, kan ons dalk ook gevul word met woede en ’n begeerte om wraak te neem.

Twee van Jesus se dissipels wat na Jerusalem gereis het, het aanstoot geneem toe daar geweier is dat hulle in ’n Samaritaanse stad oorbly. ’n Mens kan sê dat hulle verblyf gekanselleer is. Kanselleerkultuur is inderdaad niks nuuts nie, maar dit word vandag na nuwe hoogtes geneem. Met verwysing na koning Ahásia se poging om die profeet Elía te laat arresteer, het Jesus se twee dissipels gevra: “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het”? Dit sou die uiterste in kanselleerkultuur gewees het! Geen wonder dat Jesus vir Jakobus en Johannes “seuns van die donder” genoem het nie. “Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie” (Lukas 9:54-55).

Die resultate van woede

Ray Dalio, die mede-beleggingshoof van die grootste verskansingsfonds ter wêreld, het die wisselvalligheid van wêreld-ekonomieë bestudeer en hy sien waarheen hierdie woede lei. Hy identifiseer ses stadiums waardeur samelewings gaan en sy merkers dui aan dat ons in stadium vyf is. U kan waarskynlik raai wat die laaste stadium is deur middel van die titel van ’n onlangse artikel in sy Principled Perspectives-nuusbrief, wat gepubliseer is by LinkedIn.com: “The Rising Risk of Civil War: Following in the Footsteps of History” (3 Februarie 2022).

Deur aan te haal vanaf bladsy 176 van sy boek Principles for Dealing with the Changing World Order: Why Nations Succeed and Fail, beskryf hy ons plek in die siklus van opkoms en ondergang: “In stadium 5 werk diegene wat twis tipies saam met diegene in die media om mense se emosies te manipuleer om steun te verkry en sodoende die opposisie te vernietig. Daar word deeglik besef dat dit nou besig is om te gebeur ... Selfs baie bekwame en magtige mense is nou te bang om met die media oor belangrike sake te praat of om hulleself beskikbaar te stel vir ’n openbare amp”.

Dalio stem saam met die baie geskiedskrywers wat neigings waarneem wat herhaal word in die opkoms en ondergang van nasies. Die filosoof George Santayana se bekende aanhaling uit sy 1905-boek The Life of Reason, is waar: Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal”. Die beste geskiedskrywers erken dit, maar slegs ’n paar van hulle het enige begrip van die teenwoordigheid van die gees wat probeer om menslike gedrag te beïnvloed. Die menslike natuur, wat deur daardie bose, ongelukkige gees beïnvloed word, lei nasies op paaie van vernietiging.

Die belangrikste geskiedenisboek wat ooit geskryf is, is die Bybel – die grondslag van Waarheid. Hierdie wonderlike, God-geïnspireerde Boek teken geskiedenis vooraf op. Meer as 2,600 jaar gelede het die profeet Jesaja beskryf wat ons vandag sien: “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder” (Jesaja 59:14-15).

Jesaja se woorde behoort ons te laat wakker skrik terwyl ons Dalio se beskrywing lees van die oorgang van waar ons is, na waarheen ons oppad is: “Wanneer wen die enigste faktor is wat saak maak, word onetiese gevegte toenemend meer kragdadig op aggressiewe wyses. Wanneer almal sake het waarvoor hulle veg en niemand kan oor enigiets saamstem nie, is die stelsel op die randjie van burgeroorlog/rewolusie” (LinkedIn.com).

Nie alle burgeroorloë word met wapens gevoer nie – maar dit bly steeds onbeskaafd. In die September-Oktober 2021-uitgawe van die Wêreld van Môre verskyn die artikel “Staan Amerika voor ’n tweede burgeroorlog?” Ons is nie die enigstes wat daardie vraag vra nie. Ons is egter van die min mense wat die uiteindelike antwoord ken – dat Jesus Christus na die tyd van verwoestende ekonomiese rampe, asook sosiale- en natuurrampe wat binnekort gaan plaasvind, sal terugkeer as Koning van die konings om ’n wêreld sónder oorlog te tot stand te bring.