Wat is ons plek in die heelal op die 40ste herdenking van die mens se eerste tree op die maan?
Sal ons ooit die heelal “verower”?


Namate die aftelling zero nader, dreun die Saturnus V vuurpyl-engin tot lewe. Die vurige rook borrel omhoog en vir ’n oomblik lyk dit of dit die klein ruimtetuigie bo-op die vuurpyl heeltemal omvou. Terwyl die rook opklaar, styg Apollo 11 stadig en grasieus op in die helder lug van Florida. Dit is 9:32 vm. (EDT) op 16 Julie 1969. Gretige toeskouers het van die grond af gekyk by die Kennedy Ruimtesentrum en ander uit hul sitkamers reg oor die wêreld, totdat die 363 voet [± 111m] lange skip wat drie Amerikaners vervoer, in die lugruim verdwyn.

Binne twaalf minute was die bemanning in ’n wentelbaan om die aarde. Drie dae later het die moedige verkenners om die maan gesirkel. Op die volgende dag, 20 Julie 1969, was 500 miljoen paar oë vasgenael op televisieskerms reg oor die wêreld om ’n gebeurtenis dop te hou wat party mense beskou het as ’n meer belangrike mylpaal as die eerste vaart oor die Atlantiese Oseaan of die bou van die piramides in Egipte.

Ruimtevaarder Neil Armstrong het sy nou bekende woorde geuiter toe sy voet die fyn stof van die aarde se enigste natuurlike satelliet, raak: “Dit is een klein treetjie vir die mens, ’n groot sprong vir die mensdom”. Hulle het die beskutting van hul maanlandingstuig, “Eagle”, verlaat en Armstrong en sy mede ruimtevaarder Edwin “Buzz” Aldrin het die eerste twee menslike wesens geword wat ooit op die maan geloop het.

Veertig jaar later – op die 40ste herdenking van die eerste maanlanding – wat is die toekoms van bemande ruimtevaart? Het ons die ruimte oorwin? Sal ons ooit? Sal menslike wesens ooit regtig “daar buite” in die buitenste ruim leef? Glo dit as u wil, u Bybel het die antwoorde.

Hoe dit begin het

Op 4 Oktober 1957 het die Sowjet Unie Sputnik, die eerste mensgemaakte voorwerp gelanseer om om die aarde te wentel. Toe die Amerikaanse President John F. Kennedy in 1961 besef het watter politieke en militêre kwessies betrokke is, het hy sy nasie verbind aan die doelwit om teen die einde van die dekade ’n man op die maan te plaas.

Die begeerte na ruimtevaart het egter nie in die jare na die Tweede Wêreldoorlog begin nie. Skrywer Tom Crouch herinner ons aan die woorde van astronoom Johannes Kepler, wat in die sestiende eeu geskryf het: “Daar sal sekerlik geen tekort wees aan menslike pioniers wanneer ons die kuns van vlieg bemeester het nie ... Laat ons vaartuie en seile ontwikkel wat aangepas is by die hemelse lugruim, en daar sal baie mense wees wat onbevrees is vir die leë ruimtes ...” (Aiming for the Stars: The Dreamers and Doers of the Space Age, bl. 10).

Die beste denkers van die verlede kon slegs ’n denkbeeld vorm – ietwat verbeeldingryk – oor hoe reise buite die aarde se atmosfeer moontlik kan wees. Soos skrywer Ron Miller dit beskryf: “In 1638 het skrywer Francis Godwin beskryf hoe hy na die Maan gedra is deur ganse ... In 1657 het skrywer Cyrano de Bergerac die gek geskeer met Maanvaart stories deur sy held in ’n vuurpyl te lanseer ... In 1865 het skrywer Jules Verne sy ruimtevaarders met ’n reuse kanon na die maan geskiet” (Space Exploration, bl. 6).

Namate die wêreld die 20ste eeu betree het, het hierdie drome in werklikheid begin verander. As ’n jong seun het Dr. Werner Von Braun gedroom oor interplanitêre reise. Skrywer Michael Neufeld vertel hoe Von Braun se verbeelding gaande gemaak is deur ’n artikel in ’n sterrekundige tydskrif wat “’n denkbeeldige vaart na die maan beskryf het ... Dit het my met ’n romantiese drang gevul. Interplanitêre reise! Hier was ’n taak werd om ’n mens se lewe aan te wy! Nie om slegs maar na die maan en planete te staar nie, maar om deur die hemele te sweef en werklik die geheimsinnige heelal te verken! Ek het geweet hoe Columbus gevoel het” (Von Braun: Dreamer of Space, Engineer of War, bl. 4). Von Braun sou later, na die oorlog, vir die Amerikaanse ruimteprogram werk en ’n noemenswaardige rol speel in die Apollo projek.

’n Belangrike deurbraak vir ruimtevaart het in Oktober 1942 gekom. By die Baltiese kusdorp, Peenemunde, het Duitsland sy eerste supersoniese vuurpyl getoets. Projekbestuurder Walter Dornberger het aan die groep mense wat vir die dag saamgekom het, gesê: “Ons is die eerste om aan ’n vuurpyl die spoed van 3,300 myl [5,280 km] per uur te gee”. Hy het bygevoeg: “Ons vuurpyl het vandag byna die hoogte van 60 myl [96 km] bereik. Ons het die ruimte binnegedring met ons vuurpyl; ons het bewys dat vuurpyl-aandrywing prakties is vir ruimtevaart ...” (Countdown: A History of Space Flight, T. A. Heppenheimer).

Sewe-en-twintig jaar later, op die dag toe Armstrong en Aldrin op die maan geloop het, het President Richard Nixon hulle vanuit die Ovaalkantoor gebel. Wat het hy gesê? “Hierdie behoort sekerlik die mees historiese telefoonoproep ooit te wees”. Die President het vervolg: “As gevolg van wat julle gedoen het, het die hemele ’n deel van die mens se wêreld geword” (The Image Empire: A History of Broadcasting in the United States From 1953, Erik Barnouw, bl. 328).

Ja, ons het die hemele “binnegedring” – die ruimte om die aarde het ’n gereelde deel van ons wêreld geword. In die laaste vier dekades is duisende satelliete in die aarde se atmosfeer gelanseer deur Amerika, Rusland, Japan, Frankryk, Indië, Israel, Australië, die Verenigde Koninkryk, die ERA (Europese Ruimte Agentskap) en China. Al hierdie “ruimteverkeer” het baie gevaarlike rommel in die wentelbane gelaat, waarvan party soms teen duisende kilometers per uur beweeg, met die potensiaal om geweldige skade aan ander satelliete en bemande ruimtetuie te berokken. Dit is een rede waarom die wêreld verontrus was toe China in Januarie 2007 een van hul verouderde Fengyun weersatelliete neergeskiet het. Die ontploffing het “’n haelstorm van gevaarlike wentelrommel” vrygelaat wat ander satelliete en wentelende vaartuie nog meer bedreig (“Space Wars”, Scientific American, Maart 2008, bl. 79).

Om die “buiteruimtelike verkeer” te vererger, mag lugrederye se handelsvliegtuie binnekort hul passasiers hoër neem as wat hulle dit ooit tevore gedoen het! Die Duitse ruimte-agentskap DLR ontwikkel tans ’n “Ruimtetuig” wat “14,000 myl [22,400 km] per uur sal vlieg en 50 passasiers deur die ruimte van New York na Sydney kan vervoer in minder as 90 minute” (“Hypersonic Commercial Flight: 2050”, Popular Science, Mei 2009, bl. 38). Dit is maar een van verskeie vaartuie waar sitplekke al bespreek word teen pryse so hoog as $200,000 [±R1,500,000] en meer!

Realisties gesproke, is dit so ver as wat mans en vroue ooit sal reis? Of is dit onvermydelik dat menslike wesens eendag die maan, planete en selfs verder as dit sal koloniseer? Is dit ons bestemming?

Na die Maan – en selfs verder?

Die begeerte om buite in die ruimte te wees – om die buitenste ruim te gaan verken – kan nie ontken word nie. Dit is natuurlik dat menslike wesens wil sien wat agter die horison lê – selfs wanneer daardie horison tussen sterre mag wees! John Logsdon, direkteur van die Instituut vir Ruimtelike Beleid by die George Washington Universiteit, het gesê: “Dit gaan nie primêr oor wetenskap nie ... Dit is om die opvatting te toets dat menslike wesens bestem is om op ander plekke, buiten die aarde, te leef” (“Lunar Living”, Smithsonian, Julie 2008, bl. 19).

Die probleem is – menslike wesens is nie geskape vir ruimtevaart nie! Dit is ’n ooglopende hindernis vir werklike ruimte verkenning. Selfs om na die maan te reis – ’n relatiewe kort afstand van “slegs” omtrent 238,000 myl [380,800 km] – lewer skrikwekkende en dodelike probleme op. Ruimtevaarder Michael Collins herroep die gedagtes wat deur sy kop geflits het toe hy gereed gemaak het om Apollo 11 op 16 Julie 1969 te bestyg. Hy onthou dat hy sy kanse op sukses bereken het – of selfs oorlewing: “Ek dink dat ons ter nouernood sal ontsnap, of ten minste dat ek naelskraap sal ontsnap, maar ek kon nie meer as ’n gelykop kans gee vir ’n suksesvolle landing en terugvaart nie. Daar is net te veel dinge wat kon verkeerd loop. Fred Haise, [die bystand ruimtevaarder wat die skakelaarposisies van die beheermodule nagegaan het] het deur ’n kontrolelys van 417 stappe lank gegaan” (Apollo Expiditions to the Moon, edited by Edgar M. Cortright, NASA SP; 350, Washington, DC).

Dink net daaraan! Die 30 Apollo ruimtevaarders wat uiteindelik om die maan gewentel het en die twaalf maanwandelaars wat daarop geland het, het vir jare geoefen, en is noukeurig voorberei vir elke gebeurlikheid. ’n Fout kon hul dood en die dood van hul mede ruimtevaarders beteken het! Ruimtevaarder Aldrin het geskryf in sy dagboek dat aangesien die laagste trappie van die maanmodule 3½ voet [’n bietjie meer as ’n meter] bokant die oppervlakte van die maan was, moes hulle geduldig in hul bonkige oorpakke oefen om die trappe op en af te klim – anders kon hul vind dat hulle nie weer kan terugklim nadat hulle maanverkenning afgehandel was nie!

Mans en vroue het hul lewens gewaag – en opgeoffer – om die ruimte te verken. Die pendeltuie Challenger en Columbia het in 1986 en 2003 verlore geraak in tragiese ongelukke waarin almal aan boord dood is. Apollo 13 se ruimtevaarders het ter nouer nood aan die dood ontkom nadat ’n suurstofsilinder ontplof en hul toerusting beskadig het. Die ruimtevaarders op Apollo 14 het ook net-net ’n tragiese einde vrygespring. Tydens hulle maanwandeling het hulle amper verdwaal!

Selfs al sou die omgewing in die ruimte nie inherent vyandig wees teenoor lewende, asemhalende wesens nie, maak die geweldige afstande wat betrokke is in interstellêre ruimtevaart, dit onrealisties vir ons met ons huidige tegnologie. Kenners sê dat ’n rit na Mars slegs ’n paar maande kan duur (een rigting). Wat egter van reise buite ons sonnestelsel? Die naaste ster is Proxima Centauri, 4.2 ligjare weg. Teen die spoed van ons huidige ruimtetuie – 17,500 myl [28,000 km] per uur – sal dit verkenners meer as 160,000 jaar neem om die naaste ster te bereik. Daar is eenvoudig net nie genoeg tyd in menslike lewens om hierdie soort ruimtelike verkenning te onderneem nie!

Om te gaan waar Een Man voorheen gegaan het!

Is menslike wesens bestem om op ander planete, uitgesonderd die aarde te leef? Sal verafgeleë sterrestelsels eendag deel wees van u wêreld? God bied aan Sy gehoorsame kinders ewige lewe, sonder die grense en beperkings van menslike asemhaling! Daar is werklik ’n “geweldige gaping” tussen fisiese menslikheid en die geestelike ryk. Jesus beskryf dit in die gelykenis van Lazarus en die ryk man. In hierdie gelykenis neem Jesus ons honderde jare in die toekoms in. Hy gee aan ons ’n vlugtige blik van ’n toekomstige gebeurlikheid wanneer Abraham, (teen daardie tyd, na die opstanding, ’n geestelike wese) met ’n slegte man praat nadat hy opgewek is tot fisiese lewe in die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-15) en wag om in die poel van vuur gewerp te word na ’n leeftyd waarin hy God se lewensweg verwerp het. In hierdie toekomstige gebeurlikheid sê Abraham aan die man: “En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie” (Lukas 16:26).

Waarvan het Jesus gepraat? Hy het verduidelik dat, ná die opstanding, daar ’n geweldige groot kloof sal wees tussen die geestelike wêreld en die fisiese wêreld. Die gehoorsames sal met Christus se Wederkoms opgewek word tot geestelike lewe – om vir ewig te lewe. Die ongehoorsame, opstandige en onboetvaardige mense sal egter opgewek word tot ’n opstanding van veroordeling, om in die poel van vuur gewerp te word (Johannes 5:28-29). Die groot kloof is vasgestel tussen diegene wat opgewek is tot geestelik lewe en diegene wat tot die dood veroordeel is.

Die Bybel toon dat dit die mensdom se lotsbestemming is om, as verheerlikte Geestelike wesens, die aarde te beërwe. Die Skrif beskryf Abraham as “erfgenaam van die wêreld” (Romeine 4:13). Christus het geleer dat die sagmoediges die aarde sal beërwe (Mattheüs 5:5). Openbaring 2:26 beskryf die oorwinnaars wat oor nasies regeer. Die gelykenis van die ponde (Lukas 19:11-27) toon dat getroue Christene oor stede op hierdie aarde sal regeer. Selfs die Vader Self sal uiteindelik op die aarde woon nadat die Nuwe Jerusalem na die “nuwe aarde” neergedaal het (Openbaring 21:2-3).

Hoe sal lewe op die aarde egter wees vir opgewekte, verheerlikte wesens? Hulle sal inherente lewe hê – soos die opgewekte Jesus Christus, wat gesê het dat Hy aan ons die heerlikheid sal gee wat Hy het (Johannes 17:22). Dit mag moeilik wees om te verstaan, maar die apostel Johannes het probeer om dit so goed hy kan, uit te druk: “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:1-3).

Ons kan nog nie ten volle begryp hoe ons soos God die Vader of Jesus Christus sal wees nie, maar wanneer ons na die Skrif kyk, sien ons dat die opgestane Jesus Christus in staat was om “deur mure te loop” (Johannes 20:19). Hy was in staat om na willekeur te “verskyn of verdwyn” (Lukas 24:31, 36). Dit is soos ons sal wees! Soos die verheerlikte Jesus Christus, sal verheerlikte heiliges nie langer beperk wees deur die wette van fisika nie! Sal ons in staat wees om bokant die wolke te vlieg, die bevrore poolstreke te verken of om sonder duiktoerusting in die diepste  oseane te duik? Die uiteindelike moontlikhede – met ’n geestelike liggaam en inherente geestelike lewe – is werklik verstommend!

Kyk wat het die apostel Paulus geskryf om ons toekomstige verandering tydens die opstanding te verduidelik; “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52). Die apostel Paulus het verduidelik, in menslike terme, dat om in die geestelike ryk ingebore te word, beteken om ’ngeestelike liggaam te ontvang wat nie onderworpe sal wees aan die beperkings van die vlees nie!

Een groot sprong vir die mensdom

Uit sy aard, is die menslike liggaam tans gebonde aan die aarde. God het ons planeet uniek en delikaat gebou om net reg te wees om menslike lewe te onderhou. Neem as voorbeeld, die temperatuur op die aarde se oppervlakte wissel met omtrent 150 grade – die presiese speling waarbinne menslike lewe kan bestaan. In teenstelling hiermee, wissel die speling in die res van die sonnestelsel tussen temperature van -459 grade Fahrenheit (-273 grade Celsius) aan die donker kant van die interplanitêre ruimte na meer as 27 miljoen grade Fahrenheit (15 miljoen grade Celsius) by die son se kern (lees “Energy in the Universe”, Scientific American, September 1971, bl. 59). Die temperature in die grootste deel van die sonnestelsel is eenvoudig onherbergsaam vir menslike verkenning sonder spesiale lewensonderhoudende toerusting.

 Wesens met liggame van gees is egter toegerus vir ’n hele nuwe wêreld van moontlikhede vir verkenning en ontdekking! Terwyl die aarde bestem is om die mens se tuiste te wees, gee die Skrif aan ons ’n vlugtige blik van opwindende ruimtevaart moontlikhede in die toekoms. Die outeur van Hebreërs het geskryf: “U het hom [die mens] ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel ...” (Hebreërs 2:7-8). Dit beskryf die huidige rol van die mens om die aarde te bestuur en te regeer.

Dan gaan hy egter verder om die fokus uit te brei: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (laaste deel, vers 8). Die Griekse frase wat vertaal word as “alle dinge” sou die ganse heelal insluit. Soos dieJamieson, Faucet en Brown kommentaar uitwys: “Aangesien daar geen beperking is in die heilige Skrifte nie, moet die “alle dinge” die hemelse sowel as die dinge insluit”. Niks in die geskape heelal sal noodwendig uitgesluit wees van ons heerskappy of regering nie. God wil aan menslike wesens die geleentheid gee om nie net op die aarde te leef en te heers nie, maar oor die ganse heelal!

Wanneer ons nadink oor die afgelope prestasies van die mensdom se ruimteprogram, word ons vervul met bewondering vir die dapper manne en vroue wat die stukrag was agter die menslike strewe. Wanneer ons egter die menslike prestasies waardeer, word ons pynlik herinner aan ons beperkings. Dit boesem ontsag by ons in dat God aan ons ’n manier gegee het om oor die groot kloof te spring wat ons van Hom skei! Terwyl hy opgekyk het na die hemele, het Koning Dawid gepeins: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5). Laat ons God dank vir die aanbod van die ontsagwekkende geskenk van ewige lewe. As ons ons aan Hom onderwerp en aan Hom gehoorsaam is, sal ons, met die opstanding, die verstommende geleentheid hê om “een groot sprong vir die mensdom” te neem tot in die werklike Gesin van God!