Wat hou die 21ste eeu in vir Europa? Hoe sal veranderings in Europa ons wêreld beïnvloed? Bybelprofesieë onthul die toekoms!


In Maart 2007 het die Europese Unie sy 50ste herdenking gevier en al sy suksesse en prestasies in oënskou geneem. Sedert die Verdrag van Rome in 1957 onderteken is het Europa ’n einde gemaak aan die verdeling wat die Koue Oorlog tot gevolg gehad het, die grense oopgegooi, ’n gemene mark ingestel, ’n enkele geldeenheid en ’n Europese Bank verkry, ’n Europese hof ingestel, die welvaart van sy burgers verbeter en bykans vyf dekades van vrede beleef. Vandag is oorlog so-te-sê “ondenkbaar” binne die grense van die Europese Unie – dit het die wêreld se grootste interne mark en is ’n belangrike bron van finansiële hulp aan baie lande. Ten aanskoue van al hierdie prestasies, beskou sommige mense die Europese Unie as ’n kragtige mag ten goede en ’n unieke model wat die wêreld sal transformeer in ’n “Nuwe Europese Eeu” (Why Europe Will Run the 21st Century, Leonard, bl. 4, 19). Die voormalige Duitse Kanselier, Helmut Kohl, het egter gesê die 21ste eeu “behoort aan die Duitsers” en Amerikaanse strateë voorsien weer dat Amerika se invloed sal strek tot ver in die 21ste eeu. Ander voorsien weer dat soos hierdie eeu ontvou China en Indië groter rolle op die wêreldverhoog sal speel.

Wat hou die toekoms egter werklik in vir Europa en die lande met wie hierdie historiese kontinent ’n raakvlak het? Sal die Europese Unie die vernaamste agent wees wat ’n nuwe wêreldwye tydperk van “vrede, voorspoed en demokrasie” inlei (Leonard, bl. 7)? Sal Europa se liberale maatskaplike model, sy wêreldse samelewing en neiging om stringe wetlike regulasies te genereer, die basis voorsien vir ’n brawe nuwe wêreld van die toekoms? Of, sal die dae wat binnekort voorlê ’n algehele transformasie sien van die Europese eksperiment wat selfs die geheimsinnige burokratiese beplanners in Brussels sal verbaas? Terwyl die bouers van “Europa” geen bloudrukke publiseer nie en beweer dat “Europa ’n reis is met geen finale bestemming nie” (Leonard, bl. 10), het Bybelprofesieё lankal aangedui wat vir Europa voorlê terwyl ons die eindtyd nader, soos die Skrif daarna verwys (Mattheüs 24:3). Dit is nodig dat u die kritieke gebeure verstaan wat op die punt staan om Europa radikaal te verander asook die wêreld waarin ons leef!

’n Brose Unie

Gedurende die afgelope vyftig jaar het die argitekte van die Europese Unie gepoog om die uiteenlopende nasies van Europa saam te bind deur talle verdrae en derduisende regulasies wat ontwerp is om ’n “dieper en hegter unie” daar te stel. Die Europese Unie is egter die produk van die politieke elite wat gefaal het om die harte en verbeelding van die deursnee persoon in Europa daarby te betrek. Bykans die helfte van die bevolkings van die 27 lidlande van die Europese Unie is negatief ingestel teenoor die projek (BBC Nuus, 25 Maart 2007) – insluitend die bevolking van Duitsland. Baie min van die inwoners het die moeite gedoen om te gaan stem vir die kandidate wat in die verkiesings vir die Europese Parlement gestaan het. In 2005 het die burgers van Frankryk en die Nederlande – twee van die stigterslede – die voorgestelde Europese Konstitusie oortuigend verwerp. Alhoewel die elite agter die Europese Unie die hoop koester om Europa in staat te stel om uit een mond te praat sodat die Unie ’n groter rol op die wêreldterrein kan speel, word Europese spitsberade dikwels gekwel deur persoonlike konfrontasies tussen Europa se nasionale politieke leiers en deur vurige verdediging van nasionale belange – ten spyte van die baie retoriek oor “gedeelde” soewereiniteit. Die interne verdeeldheid binne die Europese Unie word beklemtoon deurdat die Europese Parlement – wat vergelyk word met ’n “moderne toring van Babel” – bykans een miljard euro jaarliks aan vertaaldienste spandeer omdat elkeen van die 27 lidlande daarop aandring dat sy taal amptelike erkenning moet geniet. Die Europese baanbreker vervaardiger van die passasiersvliegtuig, Airbus, is nog ’n voorbeeld van die slaggate en probleme wat “gedeelde” soewereinitiet meebring. Airbus, wat as teenvoeter geskep is vir die Amerikaanse lugreus, Boeing, en op ’n keer opgehemel is as die ideale model van Europese samewerking, het gesukkel as gevolg van die vernietigende wedywering tussen die Franse en Duitse bestuursgroepe en die onstabiele openbare/private struktuur daarvan (economictimes.indiatimes.com, 5 Maart 2007).

Lank gelede het God aan die profeet Daniël ’n toekomsblik gegee. Daniël het gesien sien dat daar aan die einde van hierdie era, ’n Europese moondheid met historiese bande wat terugstrek tot die antieke Romeinse Ryk, na vore sal tree. Hierdie eindtydse politieke entiteit word uitgebeeld as die voete van ’n reuse beeld – die voete wat gemaak is uit ’n mengsel van yster en klei – “’n gedeelte ... sal hard en ’n gedeelte sal bros wees ... hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie” (Daniёl 2:40-43). Dit is presies wat ons vandag in Europa sien gebeur – ’n potensieel magtige, maar brose unie van nasies wat probeer om soewereiniteit te deel, maar nogtans onwillig is om enige nasionale voordeel prys te gee. Bybelse profesieë toon aan dat hierdie reëling kort van duur sal wees en sal beëindig word deur die Wederkoms van Jesus Christus – dit sal nie die 21ste eeu oorheers nie (Daniёl 2:44-45).

Verrassings agter geslote deure

Vanaf sy ontstaan het die argitekte van Europese eenheid onder ’n dekmantel van geheimhouding gewerk. Vergaderings word gehou en besluite word geneem – gewoonlik agter geslote deure en hoofsaaklik deur nie-verkose amptenare. Hierdie gebrek aan deursigtigheid het gedien om beduidende dele van die nasionale bevolkings te vervreem. Wanneer kiesers gevra word om hul mening oor ’n saak uit te spreek en hulle verwerp die besluit wat die Europese Unie goedgekeur wil hê (soos die Europese Grondwet), word hulle eenvoudig gevra om weer te stem – totdat hulle die regte stem uitbring! Dit maak in werklikheid enige verkiesing betekenisloos – tensy dit die regte resultaat lewer! Dit stuur ook ’n boodskap aan die deursnee Europeërs dat hulle opinie nie werklik saak maak nie, omdat hulle politieke leiers in elk geval gaan doen wat hulle wil. Deesdae word beraam dat tussen 50 en 80 persent van die wette wat deur nasionale parlemente uitgevaardig word, hul oorsprong in Brussels gehad het en dat nasionale parlemente slegs maar as “rubberstempels” dien vir wetgewing wat deur die Europese burokrate gegenereer is. Hierdie proses bevorder belangeloosheid en ontmoedig die mense in Europa om aktief belang te stel in die sake van die Europese Unie. Terwyl die Europese politieke leiers van demokrasie praat, berus die werklike mag van die Europese Unie nie by die mense nie, maar eerder by nie-verkose burokrate in Brussels en by die nie-verkose lede van die Europese Hof. Selfs die onlangse pogings om die Europese Konstitusie weer te laat herleef, is gedoen in private besprekings tussen Angela Merkel en individuele nasionale afgevaardigdes. Dit is gedoen in plaas daarvan om openbare debatte te voer oor hierdie wesentlike aangeleentheid wat die lewens van alle Europeërs sal raak.

Wat die argitekte van die Europese Unie geskep het is ’n regerings- en administratiewe struktuur wat in die geheim agter geslote deure planne maak en besluite neem deur onverkose amptenare wat nie verantwoording hoef te doen aan die mense wat hulle veronderstel is om te dien nie. Dit is ’n sisteem wat die potensiaal het om vir ander doeleindes gekaap te kan word wat dan in ’n heel ander rigting geneem kan word as waarheen baie mense veronderstel het waarheen dit oppad is. Die Bybelprofesieë beskryf hierdie eindtydse politieke sisteem as ’n dier (Daniёl 7:7; Openbaring 13:1-10), wat die wêreld in werklikheid sal verras wanneer dit in sy finale vorm sal herleef (Openbaring 13:3). Die Skrif dui aan dat hierdie politieke dier in Europa sal verrys as ’n verdraagsame onderneming wat vrede sal bevorder, maar dat dit uiteindelik sal verander in ’n baie meer onverdraagsame, militaristiese dier wat Christene sal vervolg wat in die Bybel glo (Daniёl 11:36-39; Openbaring13:14-15). Dít is wat Bybelprofesieё aandui wat vir Europa voorlê!

Duitsland se Verskyning

Die Europese Gemeenskap was aanvanklik deur Franse beplanners bedink as ’n manier om Duitsland aan Europa te bind en te verhoed dat dit ooit weer die kontinent sal oorheers. Die laaste klompie dekades het egter die opkoms van ’n nuwe, verenigde, voorspoedige en meer aanmatigende Duitsland gesien, wat nie langer tevrede is om slegs ’n ondergeskikte rol in Europa te speel nie. Die Europese Unie was Duitsland se pad na rehabilitasie na die rampe en neerlae van twee Wêreldoorloë. Die Duitse ekonomie is nou die sterkste in Europa. Duitse Kanselier Angela Merkel dien as die President van die Raad van die Europese Unie vir die eerste ses maande van 2007 asook as die President van die G-8 (leidende geïndustrialiseerde lande) vir die hele 2007. Sy is al die magtigste vrou in die wêreld genoem (nog meer as die VSA se Staatsekretaris, Condoleeza Rice), en is weens haar diplomatieke vaardighede deur die Duitse media uitgebeeld as die “Koningin van Europa” (www.spiegel.de, 12 Maart 2007).

Die herrese Duitsland het ook gevra vir die daarstelling van ’n Europese weermag met ’n enkel verenigde beheersentrum – oënskynlik vir verdediging teen terrorisme en vir vredesendings in die buiteland – en het al idees geopper omtrent Duitsland wat sy eie kernwapens ontwikkel – weereens vir verdedigingsdoeleindes (www.telegraph.co.uk, 27 Januarie 2006). Die Duitse weermag ondergaan tans ’n grootskaalse herstruktureringsprogram om ’n blitsige reaksiemag op die been te bring wat enige plek in die wêreld ontplooi kan word. Terselfdertyd poog die Europese Unie om ’n Europese Kuswag tot stand te bring wat in staat sal wees om vaartuie te stop en te deursoek (wat sommige vrees ’n Europese vloot “deur die agterdeur” is). Duitsland, Italië en Griekeland het almal nuwe, vakstandige aanvals-duikbote bestel (www.telegraph.co.uk, 21 Mei 2006; naval-technology.com, 14 Maart 2007). In die afgelope jare het Duitsland begin om troepe te stuur om te dien op sendings in Afganistan, die Midde-Ooste en in Afrika – waar hulle werklike gevegsondervinding opdoen.           

Binne die Europese gebied het Duitsland ’n voorkeur-posisie verwerf. Die enkele geldeenheid van Europa (die euro) is geskoei op die deutschemark. Die Europese Sentrale Bank is geleё in Frankfurt, Duitsland. ’n Duitse finansiële firma het onlangs probeer om die Londense Aandelebeurs oor te neem. Duitsland is die grootste finansiële bydraer tot die Europese Galileo satelietprojek (wat sal kompeteer met die Amerikaanse GPS-stelsel) en die Duitsers het daarin geslaag om die hoof kontrolestelsel van die satelietsisteem naby Munich, Duitsland, geplaas te kry (euobserver.com, 6 Desember 2005). Duitsland het ook sy plan aangekondig om ’n sending na die maan te stuur om die minerale bronne daarvan na te vors – “sonder die hulp van sy Europese bure” (www.spiegel.de, 12 Maart 2007).

Die opgang van Duitsland as ’n leidende moondheid in Europa hou ook konsekwent verband met Bybelse profesieë aangaande die eindtyd. Die Skrif dui aan dat die Assiriërs (die moderne Duitse nasie; vir meer oor hierdie onderwerp moet u asseblief ons gratis herdrukte artikel, ’n Vierde Reich?, aanvra) aan die einde van hierdie tydvak ’n belangrike rol sal speel as ’n instrument in God se hande (Jesaja 10:5-14) om Sy afvallige volke wat gefaal het in hulle Godgegewe roeping om “ligte vir die wêreld” te wees (Deuteronomium 4:1-10; vir meer oor hierdie onderwerp moet u asseblief ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, aanvra) tereg te wys. Moderne Duitsland is voorwaar besig om in hierdie posisie as instrument in God se hand, wat lankal voorspel is, in te beweeg!

Oorspronklike Godsdiens herleef

Moontlik die mees ontnugterende opmerking wat in die afgelope jare van ’n Duitser gekom het was die Minister van Kultuur, Bernd Neumann, se verklaring: “Die Middeleeuse, dwarsoor Europa Duitse Reich (Die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie in die Middeleeue) is huidig ’n toepaslike model vir die unie van Europese lande ... [en] ’n toepaslike model vir die funksionering van ’n superstaat” (www.german-foreign-policy.com, 1 September 2006). Die Heilige Romeinse Ryk was ’n multinasionale, multi-etniese samestelling wat sentraal Europa (groot dele van Duitsland, Oostenryk, Italië, Frankryk, Switserland, die Nederlande en die Tsjeggiese Republiek) vir meer as 800 jaar gedomineer het. Die Heilige Romeinse Ryk was saamgesnoer deur die gesamentlike invloed van beide die kerk en staat. ’n Keiser wat deur die pous in Rome gekroon was, was aan die hoof daarvan. Dit moet nog gesien word watter soort verwantskap sal ontwikkel tussen Pous Benediktus XVI, die eerste Duitse pous in meer as ’n duisend jaar en Angela Merkel, wat bevorder is tot “Koningin van Europa”. Hulle het reeds ontmoet en albei huldig die idee dat godsdiens ’n meer prominente rol behoort te speel in die vereniging van Europa.

Vir dekades het die pouse in Rome die samestelling van ’n Verenigde Europa bevorder. Hulle het die dienste van die Roomse Kerk aangebied om te help om die uiteenlopende volke en nasies van Europa saam te snoer. Pous Benediktus en sy voorgangers het ook gepraat van die noodsaaklikheid om moderne, wêreldlike Europa te “her-evangeliseer”. Trouens, dit was Pous Johannes Paulus II wat, toe hy gepraat het in Santiago de Compostella – die plek waar die herowering van Spanje van die Moslems af begin het – die Europeërs aangemoedig het “om hul [godsdienstige] wortels te ontdek”. Hierdie oproep tot terugkeer na Europa se Rooms-Katolieke godsdienstige wortels was vir dekades ’n herhalende tema in pouslike toesprake. Angela Merkel was ook ’n voorstander (saam met leiers van Pole, Spanje, Italië en Oostenryk – almal oorwegend Rooms-Katolieke lande) om ’n duidelike verwysing na Europa se Rooms-Katolieke erfenis in te sluit in die Europese Konstitusie.

Bybelse profesieë toon duidelik aan dat, soos wat die einde van hierdie tydvak nader, Europa die herlewing van ’n politieke stelsel wat historiese bande het met die antieke Romeinse Ryk, sal sien (Openbaring 17:10). Baie leiers wat betrokke is by die samestelling van ’n verenigde Europa het openlik erken dat hulle poog om die eenheid van die Romeinse Ryk weer te herskep. Die Skrif dui ook aan dat hierdie politieke stelsel sy historiese bande met die Rooms-Katolieke Kerk weer sal laat herleef en dat ’n invloedryke godsdienstige figuur die vernaamste rol sal speel in hierdie proses (Openbaring 17:1-7). Dit is geprofeteer dat hierdie godsdienstige figuur bonatuurlike magte sal gebruik om mense te oortuig om hierdie Europese politieke “dier” te volg (Openbaring 13:11-15; 2 Thessalonicense 2:1-12). Bloeiende beelde en visioene van die Maagd Maria wat op heuwels en geboue verskyn, kan moontlik ’n voorsmaak wees van die tipe “wonders” wat aan die kom is.

Die huidige Europese Unie bestaan uit 27 nasies. Tensy die Europese nasies egter kan saamstem oor die hervormings wat vervat is in die Konstitusie, mag die Unie nie in staat wees om op ’n doeltreffende wyse te funksioneer nie. Die Franse ondervind alreeds moeite om aan te pas by die toenemend oorheersende rol wat Duitsland speel. Die uitbreiding van die Unie na Oostelike Europa (’n gebied tradisioneel onder Duitse invloed) verswak die Franse se vermoë nog verder om die toekomstige rigting van die Unie te bepaal. Toe Angela Merkel onwilligheid aan die kant van die Franse teengekom het om ’n voorstel van die EU te steun, het sy aangedui dat Duitsland ander vriende in Europa het met wie hulle kan saamwerk – die Italianers. Dit is betekenisvol dat die Italiaanse leier, Romano Prodi, reeds aangedui het dat as Brittanje teësinnig is om ’n weg te baan met die planne van meer Europese integrasie, die Britte agtergelaat mag word.

Een idee wat voortdurend kop uitsteek elke keer wanneer die EU-nasies probleme ondervind om saam te werk, is dat ’n “kerngroep” van nasies die voortou behoort te neem om sodoende dieper integrasie na te streef. Die Verdrag van Maastricht bevat in werklikheid so ’n voorsiening wat ’n groep van agt of meer nasies toelaat om in spesifieke areas saam te werk en voor die ander uit te beweeg. Indien 27 nasies se pogings om saam te werk skipbreuk lei, sal hierdie kerngroep uiteindelik na vore tree – en in alle waarskynlikheid sal hulle gelei word deur Duitsland. Dit is presies wat Bybelse profesieë lankal reeds aangedui het. Die apostel Johannes skryf: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings [nasies of nasionale leiers] ... [wat] hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:12-13). Wanneer die profeet Daniёl hierdie selfde eindtydse sisteem beskryf, vergelyk hy dit met die voete van ’n groot beeld – en daardie voete het tien tone wat hy gelykstel aan tien konings (Daniёl 2:40-45). Hierdie profesieë toon duidelik dat die eindtydse herlewing van ’n politieke sisteem in Europa en wat historiese bande met die Romeinse Ryk het, ’n kern van tien nasies sal hê. In moderne Europa word die voorbereiding getref vir die vervulling van hierdie lank-bepeinsde profesieë!

Die maande wat voorlê sal gevul wees met uiters belangrike gebeure. Kragtige magte werk agter die skerms om die verloop van sake in Europa te beïnvloed. Wat meeste mense vandag nie besef nie – selfs nie die geheimsinnige beplanners in Brussels of die langtermyn strateё in die Vatikaan nie – is dat God die toekoms van Europa in die bladsye van die Bybel openbaar het (2 Thessalonicense 2:9-12). God het hierdie openbaring gegee, sodat Sy dienaars die wêreld kan waarsku oor wat werklik gaan gebeur (Amos 3:7; 2 Petrus 1:19-21) en dat diegene wat ag slaan op die waarskuwings, nie verras of mislei sal word deur die warboel van gebeure wat die Wederkoms van Jesus Christus vooraf sal gaan nie. Dit is een rede waarom Christus aan ons sê om wêreldgebeure dop te hou in die lig van die Bybel se profesieë (Mattheüs 24:42-44). Die vraag is: Sal u die belangrikheid van wat werklik besig is om in Europa te gebeur insien en ook hoe daardie gebeure inskakel in eindtydse profesieë wat in die bladsye van u Bybel aangeteken is?