Amerika is nou by 'n keerpunt in sy geskiedenis. Respek vir die VSA neem wêreldwyd vinnig af. Selfs in die VSA is respek vir sy eie President die laagste ooit. Die waarde van die Amerikaanse dollar neem wêreldwyd af en die nasie loop die gevaar van 'n finansiële katastrofe indien hulle nie hul ekonomiese huis in orde kry nie. Die nasie se militêre magte is baie yl gesaai weens die toenemende verpligtinge regoor die wêreld.

Intussen daag 'n magtige China die VSA op baie fronte uit – ekonomies, polities en militêr. Namate troppe Chinese diplomate en sakemanne op Suid-Amerika, Afrika en die Midde-Ooste toesak, neem die krag van die Amerikaanse diplomatieke en finansiële invloed in hierdie streke af. Soos die Associated Press onlangs berig het: “China brei vinnig sy militêre reikafstand uit deur al hoe meer langafstand vliegtuie en wapens te koop wat hom sal in staat stel om met die Verenigde State mee te ding en 'n potensiële bedreiging vir ander lande in die streek in te hou, het 'n Pentagonverslag Dinsdag gelui. Die tempo en omvang van China se vordering in die modernisering van sy weermag laat blyk dat dit verder as Taiwan kyk, volgens die jaarstudie” (Charlotte Observer, 24 Mei 2006).

Dan is 'n volskaalse “Verenigde State van Europa” ook stilweg besig om reg onder ons neuse tot stand te kom, soos ons al vir baie jare berig! Uiteindelik, soos Bybelprofesie duidelik aantoon, is dit die mag wat ten laaste die grootste bedreiging vir die VSA, Kanada en Brittanje sal inhou. Wat die meeste Amerikaners nie besef nie, is dat die bou van die Europese Ryk grootliks “stilletjies” geskied. Leidende lede van die Britse parlement het hul diep kommer uitgespreek. Soos die London Daily Telegraph berig: “Die Europese Kommissie het planne opgetrek om 'n Europese kuswag in te stel wat kritici vrees die slinkse poging deur Brussel is om 'n EU-vloot te skep met sy eie magte om verskeping te stop en te deursoek... Lloyd's List, die dagblad wat die seebedryf dek, het die kommissie verlede week in 'n hoofberig daarvan beskuldig dat hulle poog om stilletjies ‘n vloot op te bou. 'Die konsep van 'n Europese kuswag het 'n federalistiese sjarme daaraan wat die oë oombliklik laat blink onder samekomste van Eurofiele, wat moeg is vir die eindelose gesprekke oor vis of landbou' het die koerant gesê. 'Dit is soort van 'n Europese vloot wat by die agterdeur insluip.' Julian Brazier, die minister van skeepvaart sê: 'Dit is baie kommerwekkende nuus. Dit blyk Brussel se ambisies om ’n ryk te bou ken geen perke nie. Die skuif na 'n EU-vloot moet gestaak word.' (25 Mei 2006). 'n “Slinkse” Europese Ryk met 'n slinkse vloot?

Let asseblief daarop dat pas voor Jesus Christus se Wederkoms, 'n groep van tien “konings” (leiers) hul mag en gesag aan 'n charismatiese diktator, naamlik die “Dier” sal gee. Hierdie leiers en hul mense sal so mislei wees dat hulle uiteindelik regstreeks sal oorlog voer teen die terugkerende Jesus Christus (Openbaring 17:11-14)!

Sjoe!
Waarom het so baie van u dit nog nooit gehoor nie? Omdat die meeste van u baie min van die kwart van die Bybel gehoor het wat uit geïnspireerde profesie bestaan! U het meestal gehoor van die sentimentaliteite oor die “liewe Jesus” of  van “gee jou hart vir die Here” of van “hemel toe sweef” wanneer jy doodgaan en om dan blykbaar vir tallose miljarde jare daar rond te sit met bykans niks te doen nie!

Die opwindende profesieë van u Bybel is grootliks geïgnoreer of misverstaan. Die meeste mense het die baie belangrike boodskap van die eerskomende Koninkryk of regering van God nagelaat. Daardie regering sal op hierdie aarde opgestel word, waar die ware heiliges van God Jesus Christus sal bystaan om die nasies te regeer (1 Korinthiërs 6:2-3; Openbaring 2:26-27; 5:9-10). “Algemene Christelike kerke” het hierdie waarheid geïgnoreer of verkleineer, hoewel dit iets is wat u Bybel duidelik onderrig. Dit is moontlik waarom u nooit werklik Bybelprofesie verstaan het nie en waarom u maklik daaroor mislei kan word.

In hierdie artikel gaan ek vir u verskeie basiese sleutels gee om Bybelprofesie te verstaan. Ek daag u uit om die geldigheid van hierdie sleutels te bewys deur dit te gebruik in u studie van wêreldnuus. Onthou, nadat Hy verskeie eindtydse profetiese gebeure beskryf het, leer Jesus Christus ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).

Ons nasionale identiteit

Nadat Hy beskryf hoe Hy die son, maan en sterre in hulle plek geplaas het, sê God: “As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om 'n volk te wees voor my aangesig vir altyd. So sê die Here: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die Here” (Jeremia 31:36-37).

Dit is 'n baie dramatiese stelling deur ons Skepper! Praat God egter net van die klein oorblyfsel van die Joodse volk, soos baie mense aanneem? Stellig nie!

God sê egter ook in dieselfde geïnspireerde skrifdeel: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees” (Jeremia 31:31-33).

Hier beskryf die God van die Bybel duidelik in onomwonde taal twee verskillende dele van Sy volk, Israel. God het egter gesê Sy verbond sal “met die huis van Israel en die huis van Juda” wees. Tog is die meeste mense laat glo dat “Jood” Israel beteken en dat “Israel” Jood beteken!
Hoewel hulle dit dalk nie vir u gesê het nie, erken alle geleerde teoloë dat die “huis van Israel” van Juda (die “Jode”) afgestig en 'n aparte volk geword het. Die Bybel beskryf “Israel” dikwels in oorlog teen die “Jode”! Trouens, in die Afrikaanse Ou Vertaling is die eerste plek waar die naam “Jode” genoem word, waar die konings van Sirië en Israel teen die “Jode” geveg het (2 Konings 16:5-6).

Waar IS die Huis van Israel?

Waar is die huis van Israel dus vandag? Nadat Salomo se seun Rehoboam koning van Juda geword het, het hy op die tien stamme van Israel toegeslaan. Daardie tien stamme het toe van Juda afgestig en gesê: “Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid!” (1 Konings 12:16). Die skrywer van 1 Konings maak dan die afleiding: “So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe” (vers 19). Hierna volg 'n tydperk van ongeveer twee eeue van afwisselende vrede en oorlogvoering tussen die huis van Israel en die huis van Juda (die Jode) – twee aparte nasies. Uiteindelik, rondom 721 v.C. het Assirië die tienstam huis van Israel in ballingskap weggevoer en “Israel” verdwyn klaarblyklik. Moderne geskiedkundiges skryf soms van die “Verlore Tien Stamme” van Israel.

Verlore?
Wat dan van God se plegtige belofte dat Hy nooit sou toelaat dat die volk van Israel “ophou om 'n volk te wees” (Jeremia 31:36)? Het God Sy belofte versaak?

Nee!
In Genesis 49 vind ons 'n besielende profesie oor die stand van elk van die twaalf stamme van Israel in die “laaste dae” (vers 1). Juda sou die “septer” behou en die Messias voortbring – die uiteindelike Koning oor die aarde (vers 10). Die ander nasies wat uit Jakob (Israel) se seuns voortkom, word baie kortliks beskryf – behalwe Josef. Slegs Josef – wat God kragtig gebruik het om Egipte se graan te red en te produseer en groot dele van die wêreld te voed in 'n tyd van droogte – word breedvoerig en met mooi woorde beskryf. In die “laaste dae” sou Josef baie geseënd wees: “Van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Genesis 49:25-26).

Vandag behoort dit voor die hand liggend te wees dat geen ander volke die seëninge van wêreldwye mag ontvang het wat vergelykbaar is met wat die VSA en Britse afstammelinge gedeel het nie! Tesame het hierdie nasies elke groot oorlog vir die afgelope sowat twee eeue gewen. Hierdie twee nasies het meer voedsel, mediese voorrade en geldelike hulp aan beleërde lande gestuur as al die ander nasies op aarde saam! Hulle het beslis saam soos “broers” opgetree!

Is hulle broers?
Ja! Hoewel Amerikaners dikwels praat van hul Britse “neefs”, toon die Bybel dat hierdie twee nasies veel meer as net neefs is! Net voor die beskrywing van die ontsagwekkende seëninge wat “Josef” in die “laaste dae” sou ontvang, beskryf die Bybel hoe Israel (Jakob) Josef se seuns – Efraim en Manasse – die hande opgelê en voorspel het dat hierdie twee kleinseuns van Israel sy naam sou dra. Hy het gesê: “Mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Genesis 48:16).

Josef het probeer dat sy pa, Jakob, die groter seën aan Manasse, die oudste seun, gee. “Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook 'n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sý nageslag sal 'n menigte van nasies word. So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel 'n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel” (verse 19-20).

Die jonger broer, Efraim, het die Britse volk geword wat tot onlangs toe die grootste ryk in wêreldgeskiedenis beheer het. Op die kruin van hul ryk het Brittanje beheer gehad oor Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Indië, groot dele van Afrika en baie ander dele van die wêreld. Behalwe vir die Panamakanaal, het Brittanje feitlik al die wêreld se groot “seepoorte” beheer, want God het spesifiek beloof dat Abraham se afstammelinge “die poort van sy vyande in besit [sal] neem” (Genesis 22:17). God het hierdie ontsagwekkende belofte deur Abraham se seun, Isak, wie se vrou profeties soos volg geseën is, uitgebrei: “Mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 24:60).

Op hierdie wyse het die Almagtige God wêreldsake regstreeks gelei sodat die seuns van Jakob, wie se naam na Israel verander is, die grootste nasies op aarde sou word. Die VSA het in die laaste tyd die een “groot” nasie geword, met die jonger broer Efraim, wat die groot “menigte” of gemenebes van nasies geword het – die Britse Ryk! God sê: “Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, ja, 'n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom” (Genesis 35:10-11).

Wanneer 'n mens eers hierdie noodsaaklike sleutel tot nasionale identiteite verstaan, kan jy die talle eindtydprofesieë wat beskryf wat met “Israel” gaan gebeur, makliker verstaan. Hoewel party van hierdie profesieë die Joodse volk en die klein Joodse staat wat homself Israel noem kan insluit, is hierdie profesieë gewoonlik van toepassing op al twaalf nasies wat van Israel afstam. So ook, wanneer die Bybel profeties praat van die huis van Israel, verwys dit nooit net na “Juda” (die Jode) nie, maar ook na die ander nasies wat uit Jakob se seuns voortgekom het. Aangesien Israel se “naam” spesifiek op Efraim en Manasse geplaas is, behels die groot eindtydprofesieë die VSA en Britse afstammelinge. Dit is noodsaaklik om dit te verstaan wanneer eindtydprofesieë bestudeer word.

Die TOEKOMS van die huis van Israel

Dit is waarom die Amerikaanse en Britse volke 'n groot volk en menigte van volke geword het. Dit is waarom hulle die grootste spit sal afbyt in die eerskomende “Groot Verdrukking”! Want, ondanks al die fisiese seëninge wat hulle ontvang het, het hulle hul gedistansieër  van die ware God wat hierdie seëninge gegee het! Dit is waarom die “tyd van benoudheid vir Jakob” in der waarheid die “Groot Verdrukking” is. Want dit is nie bloot 'n straf vir die klein Joodse nasie nie, maar 'n reuse verdrukking wat oor die ganse huis van Israel kom, insluitend veral die VSA en Britse afstammelinge (Jeremia 30:4-7).
Tog, wanneer Jesus Christus terugkeer, sal daardie nasies diep verootmoedig wees. Dan, met die opstanding van die dode, sal God koning Dawid laat opstaan om weereens oor al twaalf stamme van Israel te regeer (verse 8-9). Dawid sal natuurlik onder Christus, wat die Koning van konings oor die hele aarde sal wees, dien (Openbaring 19:16). Hy sal hulle leer om God se gebooie en Sy wette te gehoorsaam! Let op: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Esegiël 37:24).

Esegiël se besielende profesie onthul dat God op daardie tydstip weereens al twaalf nasies van Israel as een volk sal saamsnoer (Esegiël 37:16-26)! Gedurende daardie tyd sal die volke van Brittanje en Amerika leer om die Jode lief te hê – hulle sal uiteindelik leer dat hulle een nasie – een volk – is! “En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie” (vers 22).
Sodra 'n mens eers die profetiese sleutel tot die opspoor van hedendaagse Israel in eindtyd profesie verstaan, sal hierdie profesieë waarlik vir u gestalte aanneem. Wanneer u koerant lees of TV-nuus kyk, sal dit bykans 'n daaglikse saga word van wat nou aan die gebeur is met Israel se afstammelinge en wat dit vir u en u geliefdes in die onmiddellike toekoms beteken!

Indien u nog nie geskakel of geskryf het vir u absoluut gratis kopie van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? nie, doen dit dadelik! Hierdie boekie verduidelik ten volle in duidelike terme die Bybelse en geskiedkundige bewyse van die nasionale identiteit van die VSA en Britse afstammelinge en wat dit vir u toekoms beteken! Skryf of skakel gerus om die boekie te versoek en bestudeer hierdie noodsaaklike sleutel om te begryp  wat in wêreldnuus om u aan die gang is.

Die beginsel van TWEELEDIGHEID

Nog 'n noodsaaklike sleutel tot begrip van die Bybel is om te erken dat God dikwels die beginsel van tweeledigheid aangewend het toe Hy Bybelskrywers geïnspireer het. Sekere profesieë het beide 'n vroeë vervulling en 'n latere vervulling.

Jesaja het voorspel dat Babilon vernietig sou word weens hul baie towery en sondes (Jesaja 13). Vandag word 'n hedendaagse “Babilon” beskryf as 'n godsdiens-politiese stelsel wat ook vernietig sal word – hierdie keer met Christus se Wederkoms (Openbaring 18:1-4).

Jeremia voorspel ook die val van 'n hedendaagse “Babilon”. Hy beskryf dat beide Israel en Juda bevry sal word uit die slawerny wat deur hierdie moderne diktatorskap opgelê gaan word (Jeremia 30:4-8) en dat hulle sal terugkom om God op te soek met 'n gesindheid van berou tot bekering na Christus se Wederkoms (Jeremia 50:1-5). Baie profesieë oor die straf van antieke Israel – soos gesien in hul Bybelse konteks – het 'n duidelike oorbrugging na 'n hedendaagse vervulling net voor of net na Jesus Christus se Wederkoms.

Ander voorbeelde sluit in die profesieë van Hosea, Amos en Miga. Hoewel hierdie boeke duidelik gerig is aan die antieke huis van Israel, is daar keer op keer besliste verwysings na eindtyd strawwe op moderne “Israel” weens soortgelyke sondes en situasies in vandag se samelewing. Regdeur Hosea praat God oor die sondes van owerspel, dronkenskap en vals godsdiens in antieke Israel. Dan beskryf die skrywer meteens die laaste samekoms van Israel met Christus se Wederkoms (Hosea 3:5).

Namate ons tot die besef kom dat die Bybel die “gedagtes van God” op skrif is, is dit ook belangrik om te verstaan hoe God besluit om ons te help om Sy plan en Sy wil te verstaan deur tweeledigheid regdeur Sy geïnspireerde Woord aan te wend.

Die Bybel vertolk sy eie simbole

Die Bybel gebruik baie simbole, veral in die profetiese boeke. Daniël gebruik verskillende stelle simbole om die groot Heidense Ryke te beskryf. Hy beskryf byvoorbeeld 'n groot “beeld” wat die vier groot wêreldoorheersende koninkryke simboliseer wat mekaar opvolg tot en met Christus se Wederkoms (Daniël 2:32-34). 
Sonder die Bybel se eie vertolking, sou ons wonder wat hierdie beeld kon voorstel, maar Daniël sê vir koning Nebukadneser “ú is die hoof van goud” (verse 38-40). Bykans alle Bybelgeleerdes en selfs geskiedkundiges wat belangstel, stem saam dat Daniël duidelik die wêreldregerende koninkryk, Babilon, wat toe aan bewind was, as die “kop van goud” beskryf. Hulle erken dat Daniël die volgende groot koninkryke beskryf wat op die wêreldtoneel sou kom: Die Ryk van die Mede en Persiërs, die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote en uiteindelik die magtige Romeinse Ryk wat eeue na Daniël se dood 'n opgang sou maak.

Laastens het God Daniël geïnspireer om die Koninkryk van God  te beskryf, uitgebeeld deur die “rots” – Jesus Christus – wat uiteindelik al die oorlogvoerende, wêreldse koninkryke sal verbrysel en “self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

Die boek Openbaring beeld die lewende Jesus Christus uit – wat tans aan die regterhand van God in die hemel sit – te midde van “sewe kandelare” (Openbaring 1:13), met “sewe sterre” in Sy regterhand (vers 16). Weereens, sonder om ons eie idees in die Bybel in te lees, moet ons die Bybel toelaat om homself te vertolk. God se Woord verduidelik: “Die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (vers 20).

Een belangrike simbool om te verstaan is dat die woord “vrou” soms 'n kerk verteenwoordig – hetsy God se ware Kerk of 'n groot vals kerk. Die apostel Paulus skryf aan Christene in Korinthe: “Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korinthiërs 11:2). Hier word die kerk verteenwoordig as 'n vrou – die verloofde “bruid” van Christus.

In Efesiërs 5:22-33 gebruik Paulus herhaaldelik die versinnebeelding of simboliek van die Kerk as die vrou van Jesus Christus: “Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees” (vers 24).

Die apostel Johannes is geïnspireer om dieselfde simboliek te gebruik ter beskrywing van die groot vals kerk – wat binnekort in ons tyd tot haar volle mag en invloed sal opgang maak. Let daarop hoe hierdie ganse heidense stelsel as 'n “vrou” beskryf word – hoewel, trouens, 'n “gevalle” vrou – 'n groot hoer. Johannes is geïnspireer om te skryf: “Ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:3-6).

God beskryf hierdie gevalle kerk as 'n “groot hoer wat op die baie waters sit” (vers 1). Dan onthul Johannes dat “die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, ... volke en menigtes en nasies en tale” is (vers 15). Hierdie geweldig magtige “vrou” sal “sit op 'n skarlakenrooi dier” en sal in die tyd van die einde geweldige godsdienstige en politieke invloed geniet!

Openbaring 12 beskryf 'n heel ander “vrou” – God se ware Kerk. Hierdie “vrou” moet “na die woestyn” vlug om erge vervolging vry te spring. Wanneer Satan na die aarde neergewerp word aan die heel einde van hierdie tyd, sal hy hierdie “vrou”, wat deur God gelei word, geweldig vervolg “sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg” waar God haar bonatuurlike beskerming sal bied gedurende die drie-en-'n-half jaar van die Groot Verdrukking (verse 12-14).

Indien u hierdie profesieë waarlik wil verstaan – en onder diegene wil tel wat deur God beskerm gaan word – moet u nie toelaat dat hierdie wêreld u mislei oor wat hierdie verse beteken nie! Bid vir begrip! Bid vir die krag om uit hierdie hedendaagse Babilon “uit te kom” (Openbaring 18:4) en om onder daardie ware heiliges te wees wat waarlik God se gebooie gehoorsaam: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof  in Jesus  bewaar” (Openbaring 14:12).

Begrip kom deur gehoorsaamheid

God se ware heiliges is diegene wat “die gebooie onderhou” – wat ook die “geloof van Jesus” het, nie net hul menslike geloof “in” Jesus nie! [Sien Engelse New King James-weergawe.] Dus – deur die Heilige Gees – word aan hulle begrip en moed gegee om God waarlik te gehoorsaam. Want God gee nie die Heilige Gees aan diegene wat bloot in Hom of in Jesus “glo” nie. Soos Jakobus geïnspireer is om vir ons te sê: “Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19).

God se Woord beskryf die “Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Die Bybel maak dit herhaaldelik baie duidelik dat slegs diegene wat bereid is om God te gehoorsaam met Sy invloeiende Gees vervul sal word: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23). In hierdie skrifdeel, soos in vele ander, is dit duidelik dat God en Christus in die ware heiliges sal woon en hulle sal lei deur die Heilige Gees. Johannes skryf dat die Heilige Gees, deur die Vader gestuur in Jesus se naam, “sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (vers 26).

Ons ganse verhouding met God en Christus, deur die Heilige Gees wat vir ons ware begrip gee, word vasgestel deur ons bereidwilligheid om ons waarlik oor te gee en ons Skepper te gehoorsaam. Naby die heel einde van die tyd van die Apostels, skryf Jesus se “geliefde” apostel: “Hy wat sê: Ek ken Hom en sy gebooie nie bewaar nie is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:4-6).

God se Woord stel dit ook duidelik: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het 'n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid” (Psalm 111:10).

Om dus die Bybel ten volle te verstaan, is die belangrikste sleutel van almal, om 'n mens se hart, verstand en lewe heeltemal oor te gee om die grote God te gehoorsaam en om Sy gebooie as leefwyse te onderhou! Dan en slegs dan, sal God u gedagtes open om Sy woord, Sy groot plan en Sy geïnspireerde profesieë wat nou vinnig besig is om vervul te word, ten volle te verstaan. Mag God u help om te begin om hierdie noodsaaklike sleutels tot begrip te gebruik!