Vraag: U tydskrif beskryf dikwels die Verenigde State se militêre betrokkenhede en wys hoe Bybelse profesieë oorloë voorspel. Die Ou Testament is gevul met verslae van die Israeliete wat oorlog voer. Is dit geoorloof vir ’n Christen om sy of haar land as ’n soldaat in die oorlog te dien?

Antwoord: 
Jesus Christus het ’n baie duidelike riglyn vir Sy volgelinge daargestel: “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig” (Lukas 6:27-28). Hy het ons ook geleer dat ons volgens “elke woord van God” moet leef – ons lewens moet deur elke woord van die Bybel gelei word.

Christene het sekerlik ’n verpligting om die gesag van die wettige regering te gehoorsaam (Romeine 13:1-7). Christus Self het verduidelik dat Sy volgelinge belasting aan die siviele regering behoort te betaal (Mattheüs 22:21). Ons sien dus dat die Christen nie die pligte wat wettiglik deur die burgerlike gemeenskap opgedra word, mag verontagsaam nie.

Wanneer die wette van die siviele regering egter teenstrydig is met God se Wet, dan moet Christene besluit aan wie hulle getrou onderdanig sal wees (Handelinge 4:19; 5:29, 32; Romeine 6:16). Toe die Israeliete oorloë gevoer het, het hulle dit in direkte opdrag van God Self gedoen, en geveg vir die menslike koninkryk – die nasie van Israel – wat God destyds ingestel het onder die voorwaardes van die ou verbond. Israel het egter God se heerskappy verwerp, dus het Hy van hulle afstand gedoen en simbolies van hulle “geskei” (Jeremia 3:8). Later het Jesus Christus natuurlik gekom en die Heilige Gees beskikbaar gestel aan almal wat gedoop en aan Hom gehoorsaam is. Christene verstaan vandag dat Christus se koninkryk nog nie oor die aarde heers nie; Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Christus het belowe dat Hy met Sy Wederkoms Sy koninkryk op die aarde sal vestig. Tot dan is Christene se onderhorigheid nie aan hierdie wêreld nie (Filippense 3:20). Vandag se Christene is “vreemdelinge en bywoners op aarde” (Hebreërs 11:13), in afwagting van Sy koninkryk.

Wat behoort Christene te doen as hulle geloot word vir verpligte militêre diens? Tans is daar geen loting in die Verenigde State nie; maar die wet vereis nogtans dat elke manlike burger by die Selektiewe Dienste Sisteem moet registreer, binne 30 dae na hul 18de verjaarsdag. Hierdie vereiste skend nie enige Bybelse beginsel soos uiteengesit in Mattheüs 22:21 of Romeine 13:1-7 nie. Deur te registreer by die Selektiewe Dienste Sisteem impliseer nie dat die persoon toegestem het om aan oorlogvoering deel te neem nie. Trouens, hierdie registrasie kan ’n geleentheid bied om formeel gewetensbeswaar teen militêre diens aan te teken. Organisasies soos die “Centre on Conscience and War” in Amerika (nie geaffilieer by die Wêreld van Môre nie – by webtuiste www.centeronconscience.org) kan persone help om op die regte wyse gewetensbesware aan te teken. Dit maak nie saak watter ander stappe ’n persoon met gewetensbesware nou neem nie, die punt is dat mens nou jou geloofsoortuiging moet uitleef, sodat wanneer ’n loting wel plaasvind, dit nie sal lyk na ’n weiering om te veg as gevolg van lafhartigheid of gerief eerder as ’n lankbestaande, diepe geloofsoortuiging nie.

Baie lande maak daarvoor voorsiening dat ’n persoon met opregte gewetensbesware uitgesluit kan word van verpligte militêre diens, of dat die persoon in nie-militêre poste in die Staatsdiens geplaas kan word om ’n nasionale diensverpligting na te kom. Histories het die Verenigde State hierdie toegewings gemaak gedurende die tye toe daar militêre loting was, dus kan Christene wel hul lande dien sonder om God se Wet te verbreek.

Christene wat in lande woon waar militêre diens verpligtend is, moet ’n besluit neem wat ernstige gevolge kan hê: Deur hul Redder te gehoorsaam, mag hul gevangeskap (of erger) trotseer wanneer geweier word om militêre diens te verrig. Christus het aan ons ’n belangrike beginsel gegee toe Hy verduidelik het dat “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mattheüs 6:21). Diegene wat hulle hart op die Koninkryk van God geplaas het sal daardie koninkryk hul prioriteit maak, en sal nie hul plek in daardie koninkryk in die gevaar stel deur te gaan veg en ander mense te dood in die oorloë van mense nie.