Vraag: Christene is veronderstel om Jesus Christus te verkondig asook Sy kruisiging en dat Hy uit die dood opgestaan het. Waarom haal u tydskrif dan so dikwels aan uit die boeke van die Ou Testament?

Antwoord: Die Ou Testament bestaan uit die geïnspireerde geskrifte van God se dienaars wat geleef het voor Jesus Christus se geboorte, dood en opstanding. Die Nuwe-Testamentiese geskrifte doen nie aan die Ou Testament afbreuk nie, maar bekragtig dit eerder. Die apostel Petrus, byvoorbeeld, beskryf die Ou Testament as goddelik geïnspireerd – nie van eie uitlegging of oorsprong nie (2 Petrus 1:20-21).

Die apostel Paulus herinner die jong evangelis Timótheüs daaraan dat hy “van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timótheüs 3:15-16). Daardie “heilige Skrifte” – wat in staat is om Timótheüs wys te maak vir redding – was die Ou-Testamentiese boeke!

Wat het Jesus Christus Self gesê? “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4; Lukas 4:4). Jesus het aangehaal uit Deuteronomium 8:3, en het verwys na God se hele Woord van Genesis tot Maleagi – die heiligverklaarde Bybel van Sy dag.

Die Nuwe Testament toon dat Jesus Ou-Testamentiese gebeure as histories akkuraat aanvaar het, insluitend dié oor Adam en Eva (Mattheüs 19:3-4), Abel (Mattheüs 23:35), Noag se vloed (Lukas 17:26-27), Sodom en Gomorra (Lukas 17:28-29) en Jona (Mattheüs 12:40). Moderne kritici van die Bybel bevraagteken en beswadder dikwels gebeure in die Ou Testament, maar Jesus Christus bekragtig dit reguit met Sy eie woorde! Let ook op Jesus se verwysing na “Moses se geskrifte” – dit wat die Jode beskou het as die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Jesus vermaan Sy kritici: “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het oor My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (Johannes 5:46-47). Sonder aanvaarding van Moses se geskrifte, kan mens nie ware oortuiging en geloof in Jesus Christus hê nie!

Nie net geskiedenis nie, maar ook vervulde profesie, staan as ’n kragtige getuie vir die egtheid van die Ou Testament. Deur die hele Ou Testament is daar talle verwysings wat Christus se eerste koms voorspel. Dit het alles so gebeur. Vir ons, vandag, is die talle profesieë oor Sy wederkoms – wat sal volg op spesifieke eindtydse gebeure wat in die Skrif voorspel word – gevul met geïnspireerde toepaslikheid. Om die Ou Testament te verontagsaam, sal lei tot verwerping van lewensbelangrike waarhede aangaande Jesus Christus, Sy boodskap en selfs God se Kerk – wat gebou is op die “fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:19-20).

Na Christus se opstanding, het Hy tyd met sy dissipels deurgebring om hulle te help verstaan wat gebeur het. Let op watter deel van die Bybel Hy gebruik het: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Lukas 24:27). Dit sluit ook die Psalms in (vers 44).

Het Jesus Sy dissipels geleer om die seremoniële wette wat deur Sy offerande vervang is, te onderhou? Nee! Soos Hebreërs 10 verduidelik, word die Ou-Testamentiese wette van offerandes nie meer van Christene vereis nie. Soos Jesaja geleer het, moes die Messias kom om die onderwysing (wet) groot en heerlik te maak (Jesaja 42:21). Christus sê Hy het gekom om “die wet en die profete” te vervul – nie om hulle af te skaf nie. Hy het Sy volgelinge eenvoudig geleer om die Tien Gebooie te gehoorsaam (Mattheüs 5:17-20; Lukas 18:18-20). Hy het dit moontlik gemaak deur die Heilige Gees aan Christene te gee sodat hulle Christus se geloof kon hê om in hulle te leef (Galasiërs 2:20).

Soos u sien, kan ware Christene nie preek – of selfs nie eens ware Christenskap uitleef nie – sonder om uit die Ou Testament sowel as uit die Nuwe Testament, te onderrig nie. Die Ou Testament is deur Goddelike inspirasie gegee, bevestig deur die Apostels en die Nuwe-Testamentiese geskrifte, en bevestig deur Jesus Christus Self. Om hierdie rede, streef die Wêreld van Môre-tydskrif daarna om aan u “die hele raad van God te verkondig” (Handelinge 20:27).