’n Jaar is verby sedert die Wêreldgesondheid-organisasie die uitbreek van Covid-19 tot ’n pandemie verklaar het. Dit was ’n jaar van ekonomiese probleme, angs, skeiding van familie en vriende, verliese en vir sommige mense, spanningsvolle aanlyn-onderrig. Die meeste mense sou saamstem dat ons almal ’n vakansie nodig het, ná 2020!

Die Karibiese eiland St. Barthélemy, met sy pragtige wit sand strande, tropiese weer en verskeie gewilde oorde klink ideaal. Wie wil nie graag die hele familie bymekaar kry vir ’n vakansie in Hawaii nie? Kalifornië, Mexiko, Griekeland – klink enige van hierdie plekke nie aanloklik nie? Alhoewel hierdie bestemmings inderdaad skilderagtig is, hoeveel mense wil doodeenvoudig net familielede besoek wat hulle al vir langer as ’n jaar nie kon sien nie? Hoeveel mense wil só graag net ’n siek ouer of grootouer besoek, maar kán nie as gevolg van ’n huidige regeringsmandaat om “tuis te bly”?

Terwyl die meeste mense daarna streef om die voortdurend veranderende regulasies en reisbeperkings na te kom, het verskeie regeringsamptenare wat die beperkings uitgereik het, ál hierdie plekke besoek. Sommige reise het veroorsaak dat amptenare gedwing was om te bedank terwyl ander met Facebook-verskonings “reggestel” is. Hierdie skynheiligheid is nie net tot ’n enkele politieke party beperk nie en is ook nie tot Kanadese amptenare beperk nie. Dit is ’n krisis in leierskap op alle vlakke en skynbaar oraloor.

 

Die tekort aan vertroue

Ongelukkig het baie politici en administrateurs regoor die wêreld ’n gesindheid van “doen wat ek sê, nie wat ek doen nie”, aangeneem – verseker nie almal nie, maar genoeg om die brose vertroue tussen regerings en die mense wat veronderstel is om deur hulle gedien te word, te verswak.

Ons leef in ’n tyd waarin verkeerde inligting hoogty vier. Een van die grootste uitdagings om hierdie pandemie te bestry, is om sommige van die bevolking te oortuig dat daar hoegenaamd ’n werklike pandemie is en ook om die grootste deel van die bevolking te oortuig dat hulle individuele optrede die krisis kan verleng of verkort. In 2012 het die voormalige goewerneur, John Huntsman, tydens sy party se nominasie-veldtog vir die Verenigde State se presidensiële verkiesing, dikwels gepraat van die “tekort aan vertroue” wat tussen die Amerikaanse volk en hulle regering ontwikkel. Die tekort aan vertroue is egter nie net ’n Amerikaanse probleem nie. Dit is ’n menslike probleem – teenwoordig in lande regoor die wêreld.

Diegene in posisies van leierskap moet nooit vergeet dat hulle optrede – hulle voorbeelde – die potensiaal het om diegene in wie se diens hulle staan, te inspireer of te ontnugter nie. In ’n artikel wat deur Global News gepubliseer is, word die effek van vandag se skynheiligheid aangetoon: “Natuurlik word politici lankal beskuldig van skynheiligheid. Te midde van ’n pandemie waartydens miljoene mense egter gedwing word om in afsondering te leef en dit baie mense sonder salarisse gelaat het, kan [skynheilige] optrede soos ’n persoonlike belediging voel, wat die idee versterk ‘dat sommige mense net eenvoudig nie die reëls hoef te volg nie, terwyl die res van ons dit doen’” (“‘People hate hypocrisy’. Anger high when politicians break coronavirus rules,” 19 Desember 2020).

 

Die resultaat van gebroke vertroue

Behoort ons verbaas te wees dat al hoe minder burgers die riglyne volg? The Globe and Mail het data gepubliseer wat aantoon hoeveel Kanadese gedurende die wintervakansie in 2020 gereis het. Hoewel die getalle aansienlik laer was as dié van ’n tipiese wintervakansie, “het ongeveer 1,2 miljoen mense in Kanada, van wie baie uit gegoede buurte kom, minstens een nag weg van die huis af spandeer gedurende die vakansie, selfs al het regerings – volgens ’n ontleding van liggingsdata – mense aangemoedig om nie byeen te kom nie” (“More Than a Million Canadians Engaged in Overnight Holiday-Season Travel, Data Show,” 21 Januarie 2021).

Die verslag het genoeg van ’n beroering veroorsaak en die getalle het genoeg opskudding veroorsaak om ’n reaksie van die hoogste verkose amp in die land uit te lok: “Eerste minister Justin Trudeau het Vrydag op die verslag gereageer deur enigiemand wat ’n reis na die buiteland beplan het aan te moedig om dit te kanselleer. ‘My boodskap aan Kanadese bly duidelik, niemand behoort op die oomblik in die buiteland vakansie te hou nie,’ het Trudeau gesê ... Met die Maart-skoolvakansie om die draai, het die premier beklemtoon: ‘Moenie ’n reis bespreek vir die lente vakansie nie’” (“PM urges Canadians to cancel plans after data reveals 1M travelled over holidays,” CTVNews.ca, 22 Januarie 2021).

Baie mense sal gehoor gee aan die pleidooi van die premier. Hoeveel van hulle sal egter in plaas daarvan die voorbeelde van sekere leiers volg en tog reis? Wanneer minder individue die riglyne volg, neem infeksiesyfers toe. Dit lei weer tot strenger inperkings. Hoe strenger die inperkings is, hoe meer mense beskou dit as voorbeelde van magsmisbruik deur regerings en sal dit ignoreer en die swak voorbeelde van hulle leiers as genoegsame rede daarvoor aanvoer. Die resultaat van skynheilige leierskap is ’n bose kringloop wat vertroue en optimisme vernietig en slegs die verdeeldheid wat tans die samelewing verwoes, laat toeneem.

 

’n Beter voorbeeld

“Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie”, is gewoonlik ’n simptoom van ’n heersersklas wat glo dat reëls nie op hulle van toepassing is nie. Leiers regverdig dikwels hulle onbesonnenhede deur te verduidelik dat hulle situasie verskil van die van die gewone burger. Indien daar ’n Wese is wat kan wegkom met hierdie woorde: “Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie”, is dit die Skepper van die Heelal. Hy lééf egter nie slegs volgens die reëls wat Hy gegee het nie, maar hierdie Wette wat Hy aan die mensdom gegee het, beskryf Sy hart en denke. Gereelde lesers van die Wêreld van Môre verstaan dat die doel van die Wette wat in die Skrif uiteengesit word, is om dieselfde karakter in ons te bou as wat ons Skepper besit. Hy wil hê dat ons soos Hy sal wees en daarom lei Hy ons deur Sy voorbeeld!

Die Allerhoogste Wese, kragtig en wys genoeg om die hele heelal te ontwerp en in werking te stel, kan verstaan word deur wat Hy nie kan – of nie sal – doen nie, asook deur wat Hy doen. Laat ons kyk na twee voorbeelde van God wie dieselfde Wette volg wat Hy vir die mens geskep het.

Die apostel Paulus was geïnspireer om te sê dat God nie leuens kan vertel nie (Titus 1:1-2). Dit beteken nie dat God nie slim genoeg is om oortuigend te kan jok nie. Sy Wet is eerder absoluut: Verkeerd is áltyd verkeerd. Die karakter wat Hy in elkeen van ons wil hê, is ’n weerspieëling van Sy eie karakter. Hy verwag nie van ons om ’n standaard te handhaaf wat Hy Sélf ignoreer nie. God het hierdie gedeelte geïnspireer om vir ons te wys dat Hy nie skynheilig is nie. Hoeveel ouers leer hulle kinders dat leuens verkeerd is, maar sê ook vir hulle dat indien hulle hul sleg gedra, hulle “in Kersvader se slegte boekie sal opeindig”?

’n Ander voorbeeld kan in die boek Génesis gevind word. Die eerste verse van Génesis 2 toon aan dat God na ses skeppingsdae, op die sewende dag gerus het. Sou enigiemand redeneer dat God net te moeg was om aan te gaan – dat Hy Homself ooreis het sodat Hy ’n middagslapie nodig gehad het? Natuurlik nie! Hy het ’n voorbeeld gestel en bewaar wat later as die Vierde Gebod opgeneem sou word – dat ons op die sewende dag behoort te rus – alhoewel Hý nie die rus nodig gehad het nie. Dit is ’n voorbeeld van Goddelike leierskap wat ons behoort na te streef.

Die rede waarom God besig is om ons karakter te ontwikkel, is omdat Hy beplan om individue met ’n goeie karakter in leierskapsrolle te gebruik. Hy verwag dat diegene wat lei, deur hulle voorbeeld sal lei. Indien u meer wil leer oor die resultate van regverdige leierskap, vra dan gerus ’n gratis eksemplaar aan van Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.