Die boek Openbaring bevat geheimsinnige simbole wat slegs ’n paar mense verstaan. Kan u die geheime van Openbaring ontsluit? Is dit vir u moontlik om te weet wat die toekoms vir ons wêreld inhou – en wat u deel daarin is?


Die boek Openbaring, soms die Apokalips genoem, is een van die belangrikste boeke in die wêreld. Waarom? Omdat dit die toekoms van die mensdom openbaar en ook die toekoms van die planeet aarde! Dit bevat egter simbole en geheime wat aan ons ’n uitdaging stel. Wat is die betekenis van hierdie laaste boek in die Bybel – hoe gaan dit u en u toekoms raak?

Die apostel Johannes was verban na die eiland Patmos, na aan die suidwestelike kus van Turkye, wat deur die Romeine as ’n strafkolonie gebruik was. God het in ongeveer 95 n.C. vir Johannes geïnspireer om die boek Openbaring te skryf, nadat hy alreeds die drie sendbriewe geskryf het wat deel sou uitmaak van die Nuwe Testament.

God het Johannes opdrag gegee om neer te skryf wat hy sien, en ’n seën uitgespreek oor diegene wat dít sal bestudeer wat Johannes geskryf het: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Ja, die Almagtige God belowe dat Hy u sal seën as u ag sal slaan op Sy vermaning om die woorde van Openbaring te lees en dit te “hoor”; indien u dit sal “bewaar” – ter harte sal neem – wat in hierdie wesenlike boek geskryf staan.

Johannes het die verslag van sy visioen aan die sewe kerke op die algemene posroete in Klein Asië gestuur. Daardie kerke het vandag nog steeds betekenis vir ons. Hulle was Efese, Smirna, Pérgamus, Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea (sien Openbaring 1:11). Deesdae kan u argeologiese terreine in daardie stede in westelike Turkye besoek. Die geestelike toestand van daardie sewe kerke word weerspieël in God se Kerk deur die afgelope twee duisend jaar.

Die Openbaarder, Jesus Christus, sê aan ons om lesse te leer van elke kerk. Sewe maal – een keer vir elke kerk – vertel Hy aan ons: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê”. Het enigeen van die beskrywings van hierdie kerke betrekking op u geestelike toestand?

Die sewe kerke

Jesus beskryf die kerk te Efese so: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4). Efese is die “Liefdelose Kerk”. Jesus waarsku die Efesiërs: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (vers 5). Het u, as Christen, u “eerste liefde” verloor?

Smirna word die “Vervolgde Kerk” genoem. In Openbaring 2:9 sê Jesus: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk ... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (verse 9-10). Het u getrou lyding en vervolging weerstaan?

Pérgamus, die derde stilhouplek op die roete, word die “Kompromitterende Kerk” genoem. Pérgamus het leerstellings verdra wat tot seksuele immoraliteit gelei het. Jesus waarsku: “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond” (vers 16). Het u gekompromitteer met valse leerstellings?

Thiatire, word die “Korrupte Kerk” genoem. Jesus kondig aan: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ’n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ’n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie” (verse 19-22). Het u die slagoffer van korrupsie geword?

Sardis, die vyfde kerk, word die “Dooie Kerk” genoem. Jesus waarsku: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou” (Openbaring 3:1-3). Besit u lewende geloof?

Filadelfia word die “Getroue Kerk” genoem. Christus belowe aan die Filadelfiёrs: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openbaring 3:10-11). Hou u vas aan die waarheid van God?

Laodicea, die laaste kerk op die posroete, is die “Louwarm Kerk”. Jesus waarsku die Laodicense: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (verse 15-16). Het u geloof louwarm geword?

Jesus wil hê dat ons na al sewe hierdie boodskappe moet luister. Hulle bevat almal veranderings wat ons in ons lewens moet maak. Sewe maal beveel Hy ons: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê” – aan al sewe die gemeentes of kerke.

Christus se sewe boodskappe openbaar ook die geestelike karaktertrekke en gesindhede van die Christelike Kerk, sedert Christus se tyd tot aan die einde van hierdie tydvak. Ons mag in die era van Laodicea lewe, maar individueel kan ons ’n Filadelfiese benadering tot ons Christelikheid hê – liefde tot die broeders en oorgawe van onsself om te help dat God se waarskuwingsboodskap ’n wêreld bereik wat dit op sigself spoedig in ’n tyd van ongeëwenaarde krisis sal bevind, voor Christus se Wederkoms.

’n Visioen van die Hemel

In Openbaring 4 beskryf Johannes sy visioen van die Hemel. Hy sien die werklike troonkamer van God Almagtig, met ’n reënboog om God die Vader se setel van gesag. Hoe ontsagwekkend en inspirerend is dit dat ons Vader aan ons Sy hemelse troon beskryf. Dink u daaraan wanneer u bid? Christene mag direk tot God in die hemel bid, deur hulle Redder en Hoëpriester, Jesus Christus. “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). Dank God dat u in gebed na Hom mag kom. Wanneer u Openbaring 4 lees, maak seker dat u oor die majesteit en glorie van God se troon mediteer.

Openbaring 5 vertel van Johannes se visioen van die boekrol met die sewe seëls. In die eerste eeu na Christus het skrifgeleerdes manuskripte op lang stroke papirus of perkament geskryf, wat dan opgerol gehou was. Johannes skryf: “En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?” (Openbaring 5:1-2).

Johannes het gehuil, want daar was niemand wat waardig was om die boekrol oop te maak nie – totdat die Lam van God, Jesus Christus, begin het om die seëls oop te maak. God openbaar ons ontsagwekkende toekoms wanneer Hy aan ons sê: “U [die Lam, Jesus Chrustus] is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Verse 9-10).

Jesus, die Lam van God, het Sy bloed gestort vir die sondes van elke menslike wese. Diegene wat hul werklik van hul sondes bekeer het en wat hul geloof gedemonstreer het deur hulle te laat doop met die doop wat God se woord ons beveel, se sondes is vergewe. Hulle is losgekoop! Moontlik het u op daardie plek in u lewe gekom waar u die noodsaaklikheid van vergifnis begryp. U besef die nodigheid daarvan om u lewe om te keer en ’n dramatiese verandering te maak. Indien u werklik ernstig is om so ’n verandering te maak, nooi ons u uit om te beraadslaag met ’n ware dienaar van Jesus Christus. Skryf slegs aan ons by een van ons Streekkantore soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif of nader ons aanlyn by ons webtuiste www.wvm.co.za.

Almal wat hulle wel bekeer en hul lewens heeltemal verander deur hul Verlosser te gehoorsaam, kan uitsien na ’n ontsagwekkende toekoms. Hulle sal die aarde beërwe as onsterflike, verheerlikte kinders van God en tydens die Millennium sal hulle saam met Christus regeer (Openbaring 20:4-6)! God openbaar ons ontsagwekkende en glorieryke toekoms. Getroue Christene sal die aarde en alle dinge beërwe, met inbegrip van die heelal (Openbaring 21:7). Indien God u nou roep, sal u sekerlik nie daardie geleentheid wil misloop nie!

Openbaring 6 beeld die eerste vier seëls van Openbaring uit. Hulle is die beroemde vier “perderuiters” van die Apokalips. (Sien die laaste paragraaf: “Die rit van die vier perderuiters!”) Die vier perde en hul ruiters simboliseer groot verwoesting oor die hele aarde. Wat is egter die betekenis daarvan? Jesus, die Openbaarder, gee ’n raamwerk van die profetiese gebeure in Sy Olyfbergprofesie wat ons vind in Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21. Hierdie profetiese gebeure verklaar die vier perderuiters in die boek Openbaring. Die beroemde vier perderuiters van die Apokalips simboliseer valse Christusse en valse godsdiens, oorlog en die ontsettende gevolge daarvan, hongersnode wat gewoonlik op die hakke van oorloë volg, en pessiektes [siekte-epidemies] en siektes wat volg op hongersnood.

Skokkende tye lê voor vir die hele wêreld. Ons moet voorbereid wees. Hierdie vier perderuiters sal reg oor die aarde verwoesting saai. Ja, daar was nog altyd oorloë, hongersnode en siektes, maar die vier perderuiters sal in die jare wat voorlê hulle rit meer intens maak en ons sal rekord getalle sterftes en slagoffers sien. Nie alleen sal groot oorloë verwoesting saai nie, maar die euwels van terrorisme sal teen die Westerse nasies toeneem, tensy hulle hul van hul sedeloosheid en wetteloosheid bekeer. Daar sal ’n tyd kom dat die tragiese gebeure van 11 September 2001 onbenullig sal wees in vergelyking met die gruwelike verskrikkings wat die Amerikaners en ander nasies wat van die Britte afstam, gaan tref.

Hierna volg die vyfde seël. “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9). Hier word die martelaarskap van die heiliges – waaragtige Christene – beskryf. In die eerste eeu het die Romeinse keiser, Nero, die Christene geweldig vervolg en hulle laat doodmaak. Die vyfde seël dui ook op ’n grootskaalse eindtydse vervolging van die heiliges (Mattheüs 24:9).

Daarna maak Jesus die sesde seël oop wat die hemelse tekens aandui en wat die mense oor die hele aarde sal skok. Wat is daardie tekens? “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die bergeen eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14). Ja, Bybelse profesieë maak melding van ’n tyd wanneer vreesaanjaende asteroïde en meteoriete deur die lug sal flits. Massiewe aardbewings sal ook die grond onder ons voete laat skud. In die afgelope jare het ons sterk aardbewings en tsunamies ervaar, maar dáárdie wat aan kom is, sal baie meer intens wees, dit sal elke berg en eiland verskuif.

Hierdie hemelse tekens lui die sewende seël in, ook bekend as die “Dag van die Here” – die tyd van God se gramskap en oordeel oor ’n ondankbare en rebelse wêreld, wanneer Jesus Christus, die Lam, God se regverdige oordeel sal voltrek. Die Dag van die Here is ook bekend as “die groot dag van Sy toorn” (vers 17)!

Wanneer die sewende seël geopen word, vind ons dat dit bestaan uit sewe oordele. “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee” (Openbaring 8:1-2). Met hulle basuine kondig die engele die plae aan wat die aarde gaan verwoes.

Daardie plae sal verskriklike lyding veroorsaak vir die mense wat gedurende hierdie tyd van beproewing gaan leef, behalwe vir ’n klein handjievol wat God in ’n plek van veiligheid sal beskerm. Daar is egter goeie nuus! Net ná die Dag van die Here volg die glorieryke Koninkryk van God, wat deur Jesus op hierdie aarde ingestel gaan word! Ja, Jesus Christus gaan weer kom met groot krag en liefde om Sy duisendjarige heerskappy oor die planeet aarde in te lui.

God belowe seën

Soos ons gesien het, belowe God om diegene te seën wat Sy Woord bestudeer en strewe om daarvolgens te lewe. U wil nie graag God se seën verbeur nie. Lees die boek Openbaring in die wete dat God u sal seën indien u daarna sal strewe om dit te verstaan en Sy lewenswyse te beoefen. Ons wêreld verkeer tans in gevaar en verwarring. Bybelprofesieë waarsku aangaande meer en groter aardbewings, droogtes, oorstromings, orkane, vulkaniese uitbarstings en ander natuurrampe. Selfs wetenskaplikes en geopolitici voorspel nou ’n geweldige toename in omgewingsrampe en militêre konflikte, soos wat die 21ste eeu ontvou.

Daar lê verskriklike tye voor. Die boek Openbaring openbaar egter ook God se genadiglike ingryping tydens die Dag van die Here, en die terugkeer van die Prins van Vrede, Jesus Christus, met Sy Wederkoms. Ons sien uit na die sewende basuin wat aan ons die goeie nuus sal bring: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15)!

Ware Christene sal juig om die aankondiging te hoor, maar die misleide nasies en militêre magte sal nie verheug wees nie – hulle sal woedend [vertoornd] wees. Let wel: “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (verse 17-18).

Die Koning van die konings, Jesus Christus, sal die oorlog wen teen die ontsaglike gekombineerde militêre mag van die rebelse mensdom. Dan sal Christus oordeel fel oor die bose wêreldmagte wat gesimboliseer word deur diere soos beskryf in Openbaring 13 en 17. Wie is die luiperdagtige, sewekoppige dier met tien horings in Openbaring 13, wat voete het soos ’n beer en ’n bek soos ’n leeu? Wie is die dier met twee horings, voorkom soos ’n lam maar praat soos ’n draak? Wie is die vrou wat die dier van Openbaring 17 ry? Skryf en vra om u gratis kopie van ons boekie: Openbaring: Die Verborgenheid Onthul – dit sal aan u die betekenis en identiteit daarvan verduidelik en wat dit beteken vir u toekoms en die toekoms van die wêreld.

Na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (verwys Openbaring 16:14), sal die Prins van Vrede oor alle nasies regeer. Vir die eerste keer in die menslike geskiedenis sal die mensdom dan begin om werklike wêreldvrede te geniet. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9). Die heiliges sal vir ’n duisend jaar saam met Christus op die aarde heers (Openbaring 20:4-6), en daarna die ewigheid in.

Die boek Openbaring onthul dat ons kan uitsien na die toekomstige Koninkryk van God. Terwyl ons waak en wag behoort ons daagliks te bid: “Laat U koninkryk kom”! Spoedig nadat die duisend jaar van Christus se Millennium heerskappy op aarde voltooi is, sal die Nuwe Jerusalem na ’n hernude hemel en aarde (Jesaja 65:17; Openbaring 21) neerdaal. God sal eens en vir altyd wegdoen met Satan die duiwel en die heelal sal goddelike vrede vir alle ewigheid smaak. Daar lê gevaarlike tye voor, maar die boek Openbaring toon aan ons die hoop wat wag – die tyd wanneer God se getroue volgelinge die aarde sal beërwe en uiteindelik die hele heelal. Dank God vir die heerlikheid wat Hy aan ons en aan Sy hele skepping gaan skenk!

Die rit van die vier perderuiters!

Die apostel Johannes beskryf vier perderuiters wat groot misleiding simboliseer en ook verwoesting aan die mensdom en lewe op aarde. “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin. En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee. En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:2-8).