Bybelprofesie onthul u toekoms – en die toekoms van die wêreld. Wat se rol speel dit in u lewe?


Die meeste van ons wonder wat die toekoms inhou. Sal die wêreld deur meteore vernietig word? Sal die derde wêreldoorlog “die einde van die wêreld” beteken? Gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet dat die Bybel die antwoorde op hierdie vrae gee. Ons het getoon dat talle eertydse profesieë reeds vervul is, presies soos voorspel in u Bybel. Nietemin, kan ons weet wat God vir die toekoms voorspel? Ja, beslis!

Talle mense wat godsdiens as ’n stokperdjie beskou, is geprikkel deur Bybelprofesie, maar hulle begryp nie die betekenis of belangrikheid daarvan nie. Sommige belydende Christene wys Bybelprofesie van die hand en ag dit onbelangrik. Hulle mag toegee dat profesie interessant is, maar sê dat dit niks met saligheid te doen het nie. Sien u die wanbegrip? Onthou, in ’n sekere sin word geen ware Christen vandag finaal gered voor Christus se Wederkoms, soos voorspel nie. Christus, in Sy eie woorde, sê: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheus 24:13).

Die Bybel beveel God se mense om getrou te bly tot aan die einde. Ware Christene sien uit na die toekoms wanneer Jesus Christus die Koninkryk van God op aarde sal vestig. Trouens, Christus sê in die volgende versie: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (vers 14).

Christus sal die mensdom se immorele en vervalle samelewing met mag beëindig en Sy Koninkryk en regering op hierdie aarde vestig. Daardie Koninkryk sal vreugde, geluk en blywende wêreldvrede vir al die nasies meebring! Let op – watter evangelie het Christus verkondig? Die evangelie van die Koninkryk! Met ander woorde, selfs die evangelie wat Jesus verkondig het is profeties!

Die blye boodskap is dat daar hoop vir die wêreld is – die eerskomende Koninkryk van God – wat Jesus Christus eersdaags op hierdie aarde sal vestig! Ware Christene tref nou voorbereidings om met Christus se Wederkoms verander te word en in daardie Koninkryk opgeneem te word. Die apostel Paulus skryf: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Korintiërs 15:51-54).

Die opstanding van getroue Christene sal plaasvind met die “laaste basuin” – die sewende basiungeskal, soos in Openbaring 11:15 bekend gemaak is. Diegene wat “volhard tot die einde” sal gered word, soos Jesus gesê het. Vir sommige, sal die “einde” die einde van ’n getroue Christelike lewe wees. Andere sal nog lewe met die Wederkoms van Christus. Al hierdie getroue Christene sal opgewek en verander word met Christus se Wederkoms en sal in die Koninkryk van God opgeneem word.

Sommige besef nie dat daar ’n toekomstige Koninkryk van God sal wees nie. Hulle sien nie die belangrikheid van Paulus se mededeling in nie, naamlik: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie” (1 Korintiërs 15:50). As u ’n vlees en bloed Christen is, berei u voor om die Koninkryk te beërwe, maar u het dit egter nog nie beërwe nie! U sal u volle erfdeel ontvang ten tye van die opstanding (Johannes 3:5-6).

Jesus self benadruk dat hierdie erfenis sal plaasvind aan die einde van hierdie era: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheus 25:34).

Wat is profesie?

Sommige mense probeer verkeerdelik om profesie te skei van God se plan vir saligheid; dit kan egter nie gedoen word nie. Wat presies is profesie? Ten eerste, kom ons oorweeg wat dit nie is nie. Unger’s Bible Dictionary maak hierdie stelling: “Profesie word nie bedoel om die toekoms vir ydele nuuskierigheid te openbaar nie, maar vir die groter doel om lig te werp op die geloof vir diegene wat se geloof bekragtiging nodig het” (Moody Press, 1967, bl. 892).

Het u geloof bekragtiging nodig? Unger’s gaan voort: “Die openbaring van toekomstige gebeure mag nodig wees ten tye van moedeloosheid om hoop aan te wakker of te behou, om vertroue te midde van algemene afvalligheid te inspireer en die getroues te waarsku teen dreigende onheil. Voorspellings oor die lot van Babilon, Tirus, Egipte, Nineve en ander koninkryke wat Israel se vyande was, is gemaak oor hul lot om God se mense gerus te stel” (ibid).

Unger’s definieer profesie baie eenvoudig: “Die mondelinge of geskrewe woord van ’n profeet” (ibid., bl. 893). Die Griekse woord is prophetes wat beteken “voorspeller” of “geïnspireerde spreker”. Die Anchor Bible Dictionary sê: “In die sekulêre wêreld is die woord “profeet” gebruik ... om te verwys na “een wat namens ’n god spreek en om sy wil vir die mens te vertolk” (vol. 5. bl. 496).

God se ware profete het Sy wil aan die mense openbaar. Hulle het ook die volke van antieke Israel en baie ander nasies gewaarsku. Byvoorbeeld, na die dood van Juda se koning Jójada, het die volk die ware God verlaat en afgode gedien: “En hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ’n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle” (2 Kronieke 24:18). Hoeveel mense aanbid vandag die moderne afgode van mag, besittings en posisie? In hierdie tydskrif, (en op die Wêreld van Môre televisieprogram) word die Westerse nasies gewaarsku om hulle te bekeer. Hoe het God opgetree toe Juda en Jerusalem afgodediens beoefen het? “En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie” (2 Kronieke 24:19).

Uiteindelik stuur God toe die Koninkryk van Juda weg in ballingskap na Babilon vir hulle goddeloosheid. Ons moet egter vandag na God se waarskuwings luister! God se woord, die Bybel, bied ontnugterende profesieë en waarskuwings om in ag te neem!

Die profete was God se boodskappers. Hulle het beide onderrig en openbaar gemaak. Unger’s Bible Dictionary lewer die volgende kommentaar oor die rol van die profete: “Die element van voorspelling was dikwels deel van die inhoud van die profeet se boodskap. Hierdie is egter nie die enigste element nie. Benewens dat die profete hul ook dikwels in die rol van sosiale en politieke hervormers bevind, het hulle predikers aangespreek oor geregtigheid asook die leiding in herlewingsveldtogte geneem en het hulle terselfdertyd ook oordeel of seëninge uitgespreek, na gelang van omstandighede. Die profeet se boodskap was altyd godsdienstig en geestelik en het God se wil aan die mens bekend gemaak asook ’n oproep tot volkome gehoorsaamheid” (bl. 893).

Ons sien dus dat God profete gestuur het om volke te help om van sedeloosheid af te sien. Die profete het ook God se plan vir die toekoms onthul. Na Sy opstanding uit die dode, verwys Jesus Christus na sommige van die talle profesieë wat betrekking het op homself: “En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die Psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan” (Lukas 24:44-45). Die “Skrifte”, waarna Jesus verwys is wat vandag aan ons bekend is as die Ou Testament. Die Ou Testament was verdeel in drie dele: Die Wet, die Profete en die Geskrifte. Die boek van Psalms is die eerste boek van die Geskrifte. Jesus het die belangrikheid van Bybelprofesie benadruk wat betref die voorspelling van Sy eerste koms en Sy Messiasskap. Talle Ou-Testamentiese profesieë voorspel ook Sy Wederkoms.

Profesie is ook deel van die grondslag van die Nuwe-Testamentiese Kerk. Paulus skryf: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:19-20).

Ja, die ware grondslag van die Kerk bestaan uit die “apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”. Het God hierdie profete geïnspireer? Wat sê u Bybel? Die apostel Petrus het gesien hoe profesieë vervul word. Hy het die Herrese Christus gesien. Hy skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:19-21).

God die Skepper het Sy profete geïnspireer om ons te onderrig, te waarsku en om gebeure te openbaar. Derhalwe is dit belangrik om onderskeid te tref tussen wie ’n ware profeet is en wie valslik op daardie rol aanspraak maak. Jesus waarsku ons: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheus 24:11). Hoe kan u weet wie God se ware dienaars is? Die Skrif gee ons die antwoord. “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:20).

Indien iemand vandag beweer dat hy ’n profeet is, maar hy weerspreek die duidelike woord van die Skrifte deur sy eie woorde te stel bo die geloof “wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas vers 3), dan is hy ’n valse profeet. God se dienaars preek en leer volgens Sy Woord, die Bybel! Dit is van toepassing op my en hierdie tydskrif. Toets ons – bewys wat ons sê aan die hand van u Bybel – en toets verseker ook alle ander mense wat sê dat hulle God se Woord verkondig.

Baie sogenaamde geestelikes skep wilde wanvertolkings van profesie deur hul eie “gunsteling idees” in die Bybel in te lees. Somtyds is hierdie selfaangestelde profete self onskuldiges wat mislei is, maar somtyds is hulle bedrieërs wat probeer om onskuldiges te mislei. Wees op u hoede!

Vier oogmerke van profesie

Bybelprofesie word gegee vir verskeie doeleindes waarvan ons vier van die belangrikste en mees basiese sal bespreek. Eerstens, Bybelprofesie waarsku mense en nasies om hulleself te bekeer, sodat hulle straf kan voorkom.

Johannes die Doper het talle gemoedere deur sy prediking aangeraak. Wat was sy boodskap? “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheus 3:1-2). Jesus Christus het kort daarna dieselfde boodskap van bekering verkondig (sien Markus1:14-15).

Hoe het die mense reageer op Johannes se prediking? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes. Maar toe hy [Johannes] baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Mattheus 3:5-8).

Ons moet almal op hierdie waarskuwing ag slaan en die vrugte dra wat by bekering pas. Jesus Christus belowe beskerming aan diegene wat hulle werklik bekeer en getrou is. Die apostel Johannes verwys na hierdie boodskap wat Christus aan die Kerk te Filadelfia gelewer het: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10).

’n Uur van beproewing wag op ons wederstrewige en goddelose wêreld. Jesus waarsku dat ’n groot verdrukking gaan kom (Mattheus 24:21). God sal egter diegene beskerm wat na Sy profetiese waarskuwings luister en hul lewens verander. Die boek van Jona vertel van ’n seldsame voorbeeld van ’n volk wat waarlik ag geslaan het op die waarskuwing van God en hulle weë verander het. Sal ons ons ook nasionaal en individueel bekeer?

God was van voorneme om Nineve te vernietig indien die volk hulleself nie bekeer nie. Hulle het hulleself bekeer! Hoe het God hulle bekering beskou? “En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie” (Jona 3:10). Die resultaat van die profetiese waarskuwing was God se seën op die mense. Sal ons, soos eertydse Nineve, reageer op vandag se profetiese waarskuwing? Indien nie, sal ons die geweldige straf van die Groot Verdrukking moet trotseer.

’n Tweede doel van Bybelprofesie is dat dit mense waarsku om hulleself te bekeer in ballingskap. Profesie onthul dat talle mense wat hulleself nie bekeer het voor die Groot Verdrukking nie, in staat sal wees om te onthou van God se profetiese waarskuwings en hulleself dan bekeer gedurende die pyn en lyding van die Groot Verdrukking. God gee hierdie waarskuwing – en belofte – aan diegene wat in die toekoms nasionale slawerny en ballingskap sal moet deurmaak: “En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronomium 4:27-31).

Jesus het gesê dat die Evangelie van die Koninkryk ’n getuienis sal wees vir alle nasies: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheus 24:14). Talle sal die evangelie hoor, maar hulle sal aanvanklik nie daarop reageer nie. Die gevolg is dat hulle nie die Groot Verdrukking sal kan vryspring nie. Nietemin, profesie toon aan dat baie wat die ware Evangelie gehoor het hulleself sal bekeer gedurende daardie toekomstige nasionale ballingskap. Indien u een van hulle sou wees, onthou asseblief God se beloftes wanneer u in ballingskap is. Hy sal u red. Hy sal u bevry, indien u Hom met u hele hart en siel soek!

’n Derde doel van profesie is om die eerskomende Koninkryk van God op aarde aan te kondig. Die mensdom het vir bykans 6,000 jaar die weg van sonde, selfsugtigheid, oorlog en hebsug beoefen. Die mensdom het nie die weg na vrede geleer nie. Slegs onder die heerskappy van die Prins van Vrede – ons Verlosser, Jesus Christus – sal die mensdom ooit blywende wêreldvrede geniet.

Profesie gee ons die bemoedigende nuus dat Jesus Christus Sy Koninkryk hier op aarde sal vestig en dat die getroue Christene saam met Hom sal regeer vir ’n duisend jaar (Openbaring 20:4-6). Daarna sal die Groot wit Troon oordeel plaasvind, wanneer almal wat geleef en gesterf het, sonder om God se waarheid te hoor, sal opstaan en hulle ’n eerste werklike geleentheid sal kry om God se boodskap te aanvaar en volgens Sy weë te lewe (vir meer inligting oor hierdie onderwerp, bestel asseblief ons gratis boekie, Is Hierdie die Enigste Dag van Redding?).

Sommige van die profesieë oor die millennium kan nageslaan word in Jesaja 2, 11 en 35 en in Miga 4. Hierdie is besielende profesieë wat ons werklike hoop gee.

Edersheim se Prophecy and History in Relation to the Messiah merk as volg op: “Die een deurdringende en aansporende gedagte van die Ou Testament is die koninklike heerskappy van God op aarde ... Hierdie Messiaanse idee is die enigste grondige rede waarom die Ou Testament as openbarend van aard beskou word” (bll. 48, 135). Jesus Christus sal terugkeer as Koning van konings en Here van here, soos weergegee word in Openbaring 19:16. “Die koninklike heerskappy van God op aarde”, soos Edersheim dit beskryf, sal wêreldvrede en voorspoed meebring.
’n Regering in die hande van die mens, sonder God, het net swaarkry veroorsaak. Tensy God tussenbeide tree, sal die mensdom gedoem wees tot totale uitwissing. Jesus sê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:22). Die Bybel voorspel dat daar ’n tydperk sal wees waartydens die aarde herstel sal word. Onthou Petrus se woorde: Dat God “Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21). God sal die aarde restoureer tot sy natuurlike, onbesoedelde prag en voorspoed, onder die Goddelike regering en Koninkryk van God. Ons kan almal verheug wees by die aanhoor van hierdie goeie nuus.

’n Vierde doel van profesie is dat dit God se totale soewereiniteit en gesag bewys. Niks kan God se plan van saligheid beïnvloed nie. Hierdie plan word in u Bybel onthul, van Genesis tot Openbaring. God het ’n ontsagwekkende doel met elke mens wat gehoor gee aan Hom. Daardie doel is om God se glorieryke, onsterflike kinders te word vir alle ewigheid, soos ons reeds gelees het: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korintiërs 15:53). God se groot mag, deur Sy seun en ons Verlosser, Jesus Christus, sal dit teweeg bring.

Die Almagtige God verklaar Sy gesag en soewereiniteit deur te sê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ’n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ’n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11). Die Almagtige God sal Sy doel en profesieë kragdadig vervul.

Die profeet Amos waarsku dat daar ’n tyd sal kom wanneer die waarheid wat u nou hier lees nie beskikbaar sal wees nie: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie” (Amos 8:11-12).

U moet reageer op die waarheid, terwyl dit beskikbaar is. Lees hierdie tydskrif. Die belangrikste is om u Bybel te lees en die waarheid daarin in u lewe toe te pas!

Jesus Christus belowe ’n beloning aan almal wat Hom soek met ’n opregte begeerte tot begrip. “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openbaring 1:3). Deur God se Woord in alle opregtheid te bestudeer sal u seëninge ontvang en die talle profesieë verstaan. ’n Wonderlike toekoms, groter as al u drome en begeertes, wag op u!