Wat gaan van Gibraltar word nou terwyl die Britse vlootmag verswak?


Is Gibraltar ’n agtiende eeuse tydteenstrydigheid? Behoort Brittanje net eenvoudig sy ses vierkante kilometer-gebied terug te gee, wat Spanje beweer na regte aan hulle behoort?

Spanje tart weereens Groot Brittanje se ontoegeeflike houvas op die strategiese Rots van Gibraltar uit – daardie klein uitsteeksel van sandsteen aan die suidelike punt van die Iberiese Skiereiland. Sedert die Utrechtse Vredesverdrag dit in 1713 aan die Britte afgestaan het met die bepaling dat die fort en die fort se dorpie “vir altyd gehou en geniet moet word, sonder enige uitsondering of belemmering hoegenaamd”, was dit ’n voortdurende bron van irritasie vir die Spanjaarde.

Betrekkinge tussen Gibraltar en Spanje is vir lank reeds troebel. In 1969 het Generalissimo Francisco Franco, heerser van Spanje vanaf 1936 tot 1975, sy land se grense gesluit vir die Gibraltarese. Die sosialistiese regering wat gevolg het ná Franco se dood, het Spanje in die NAVO ingebring, en toe Spanje in 1986 by die Europese Unie aangesluit het, het hoop in Spanje opgevlam dat ’n supranasionale gesag Engeland dalk sal kan oorreed om “die Rots” terug te gee.

In Junie 2009 het die EU aan Spanje bykomende regte oor die waters om Gibraltar verleen, deur ’n nuwe “omgewingszone” te verklaar wat deur Spanje in stand gehou moet word. Daar is egter nog meer. “Onder EU-wetgewing kan ’n bewaringsgebied slegs verklaar word deur die onafhanklike staat wat die stukkie land of see wat in gedrang is, besit. Dus, deur toe te gee aan Spanje se versoek om die waters om Gibraltar in te sluit, het die Europese burokrate takties erken dat Spanje Britse gebied besit” (“Gibraltar Con Trick”, The Daily Mail, 1 Junie 2009).

Wat baie min mense verstaan, is dat dit nie slegs hier gaan om Spanje se hebsug en Brittanje se koppigheid nie. Dit gaan om ’n belofte wat God omtrent 4 000 jaar gelede aan Abraham en sy nasate gemaak het.

Mense wat die Wêreld van Môre vir ’n lang tyd reeds lees, weet dat die Skrif openbaar dat die Verenigde State van Amerika, tesame met die Brits-afstammende volke, die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel is. Die Bybel toon dat toe Jakob (Israel) op sterwe was, hy al die seëninge wat God aan hom gegee het, aan Josef – en Josef se twee seuns, Efraim en Manasse (Genesis 48:16, 20) oorgedra het. Daardie seëninge was bykomend tot die seëninge wat God aan Abraham en Isak belowe het.

Die Skrif gee ’n uiteensetting van ’n seëning wat God aan daardie afstammelinge belowe het. God sê “dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 22:17).

Hierdie belofte sou vervul word in die “laaste dae” – na aan die einde van hierdie tydvak, net voor Jesus Christus se wederkoms na die aarde. Alhoewel die belofte ten opsigte van die vervulling daarvan onvoorwaardelik was, het God voorwaardes aan Abraham se nageslag gestel, indien hulle die seëninge wou behou. Hy het gewaarsku dat indien hulle Sy insettinge verwerp en ’n afsku aan Sy verordeninge het, sal Hy Sy seëninge van hulle af wegneem (Levitikus 26:14-17).
Dit is wat ons nou sien, namate Brittanje se wêreldwye invloed verklein.

Seepoorte

Tydens die hoogtepunt van sy Ryk, het Brittanje die oorgrote meerderheid van die wêreld se seepoorte besit. Party historici het dit “knelpunte” genoem, waar natuurlike topografiese en geologiese faktore saamsmelt om waterweë te vorm om diegene wat dit beheer, ’n strategiese vlootvoorsprong te gee.

Dink aan die Seestraat van Malakka, waardeur 80% van Japan se olie-invoere vloei, asook 50 000 skepe elke jaar. Groot Brittanje het daardie waterweg beheer, totdat sy aan Singapoer onafhanklikheid gegee het in 1965. Deur die 1950s en 1960s het dekolonisasie van die Ryk beteken dat die eens magtige Britse nasie die meeste van sy seepoorte ontneem is. Hier volg ’n lys van strategiese gebiede wat Brittanje verkry het en toe verloor het:

1815-1948            Sri Lanka
1882-1956            Suezkanaal (in Egipte)
1819-1965            Singapoer
1839-1967            Aden
1795-1975            Simonstad Vlootbasis (Suid-Afrika)
1841-1997            Hong-Kong

Groot Brittanje besit nog verskeie seepoorte. Saam met Gibraltar, beheer die Britte die Falkland Eilande (wat die Malvinas genoem word deur Argentinië wat daarop aanspraak maak) en die beheer daaroor is teen groot koste aan Britse lewens en rykdom, in ’n oorlog in 1982 verdedig. ’n Ander, minder strategiese besitting is die eiland van Diego Garcia in die Indiese Oseaan, wat Brittanje aan Amerika verhuur en wat ’n rol gespeel het tydens die twee Golfoorloë.

Die Verenigde State van Amerika het ook ’n paar seepoorte beheer, insluitende die Filippynse vlootbasis te Subic-baai (1899-1992) en die Panamakanaal (1914-1999). Saam met die verlies aan daardie poorte, kom ’n verlies aan internasionale aansien; nie slegs is die Panamakanaal aan Panama afgestaan nie, maar hierdie uiters belangrike strategiese hulpbron word nou beheer deur ’n firma uit die Volksrepubliek van China! Wat sal dit beteken in die geval van ’n militêre konflik?

Wat voorspel wêreldneigings vir toekomstige Britse beheer van Gibraltar? In ’n tyd van kernwapentuig, mag dit lyk asof seepoorte oorbodig is. Is dit werklik so? Definitief nie! Oorweeg byvoorbeeld, die onlangse konflik in Suid-Ossetia. Binne dae nadat vyandighede begin is, het die Amerikaanse Sesde Vloot se skepe deur die Bosporus gevaar om humanitêre hulp aan die Georgiërs te verleen en om Rusland in kennis te stel van Amerika se belang in die saak. Deur dit te kon doen, moes die skepe deur die Straat van Gibraltar en die Bosporus vaar. Vandag beheer Brittanje en Turkye respektiewelik daardie belangrike “knelpunte” – maar dinge kan verander. Namate die Europese Unie ekonomiese en militêre mag bekom en Amerika en Brittanje moet terugsny op militêre uitgawes, is dit slegs ’n kwessie van tyd voordat die gekombineerde Europese mag by Brittanje sal aandring om afstand te doen van sy vlootbasis by Gibraltar ten gunste van ’n gesamentlike Europese bevel.

Ceuta

Nee, Spanje sal ook nie uitsluitlike beheer oor Gibraltar verkry nie, maar dit het belange aan die anderkant van die seestraat om te beskerm.

Spanje se aanspraak op Gibraltar kry ’n ander kleur wanneer ons dié land se aanspraak op die strategiese Noord-Afrikaanse hawe van Ceuta ondersoek wat regoor Gibraltar aan die suide, sedert 1580 deur Spanje beheer word. Die regering van Marokko het geredeneer dat indien Spanje beheer oor Gibraltar verkry, Ceuta moet teruggaan na Marokkaanse besit, sodat Spanje nie beide kante van die seestraat na die Middellandse See beheer nie. Nogtans is baie inwoners van Ceuta Spaans van afkoms en praat die Spaanse taal. Hulle wil nie Marokkane word nie, netso min as wat die Engelssprekende inwoners van Gibraltar Spanjaarde wil word.

In ’n 1967 referendum, het 12,138 inwoners van Gibraltar aangedui dat hulle verkies om ’n Britse gebied te bly. Slegs 44 wou terugkeer na Spaanse beheer. In 2002 het 98.97% van die inwoners van Gibraltar in ’n stemming gesamentlike beheer met Spanje verwerp.

Wat sal van Gibraltar word as die Britse seemag verswak? Dink aan die ou Gibraltarese legende dat solank daar ’n kolonie kuifapies [Barbary Macaques] op die Rots is, dit Brits sal bly. In 1942, toe verneem is dat die bevolking kuifapies gekrimp het tot slegs enkeles, het Eerste Minister Winston Churchill beveel dat van die Marokkaanse kuifapies daarheen geneem moes word om getalle op Gibraltar aan te vul. Tans is daar net 230 van hierdie apies op die Rots. Sal hulle weggaan of sal hulle uitsterf?

God ken die antwoord op daardie vraag. Indien u meer te wete wil kom oor die toekoms van die Amerikaanse en Britsafstammende nasies, vra asseblief vir ’n gratis kopie van ons uiters belangrike boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?