’n Persoonlike boodskap van Gerald E. Weston, Hoofredakteur

Is u anders?

Die meeste van ons het al gewonder hoe dit sou wees indien ons gedurende ’n ander tyd in die geskiedenis gebore was. Sommige mense het gewens dat hulle gedurende die pioniersdae van Noord-Amerika geleef het. Heelwat ander mense wens hulle het geleef gedurende die tyd van Jesus Christus, toe Hy al daardie wonderwerke gedoen het.

Daar is egter een aangeleentheid wat kommerwekkend sou wees vir enigiemand wat gedurende Jesus se leeftyd sou wou leef. Ten spyte van Sy menigvuldige onbetwisbare wonderwerke, het die mense van Jesus se tyd Hom gekruisig. Die vraag is dus: Wat sou u gedoen het indien u daar was? Sou u die skare gevolg het? Sou u u saam met die gepeupel geskaar het wat geskree het: “Kruisig, kruisig Hom”? Natuurlik nie! Dit is hoe die meeste van ons dink. Verskil ons regtig só baie van die mense van die eerste eeu n.C.?

Die Skrif dui aan dat Jesus slegs 120 ware volgelinge gehad het aan die einde van Sy bediening (Handelinge 1:15) en dit ná al die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hy het water in wyn verander en duisende mense kos gegee met ’n paar brode en ’n paar klein vissies. Hy het ook op water geloop en baie mense genees. Sommige wonderwerke is deur slegs ’n paar mense gesien, soos toe Hy op die water geloop het. Ander wonderwerke is weer deur honderde of selfs duisende aanskou. Die opwekking van die vier-dae-dooie Lasarus deur Jesus was so algemeen bekend dat die Joodse leiers uit jaloesie, nie gerus was nie. Hulle het beplan om Jesus dood te maak; hulle wou ook vir Lasarus doodmaak, om die bewyse van Jesus se daad te verdoesel (Johannes 12:9-11).

 

Ons is nie wie ons dink ons is nie

Wat sou ons gedoen het indien ons gedurende die tyd van Christus geleef het? Ons kan hoop. Ons kan spekuleer. Ons kan egter nooit weet nie want ons sou nie die mens gewees het wie ons vandag is nie. Ons sou verskillende ouers en verskillende DNS gehad het en sou blootgestel gewees het aan baie verskillende invloede.

Laat ons egter vir ’n oomblik aanneem dat ons presies dieselfde mense sou wees gedurende die eerste eeu as wat ons vandag is. Natuurlik kan so iets nooit moontlik wees nie, maar kom ons veronderstel dat dit moontlik sou wees ter wille van die bespreking.

Daar word met reg beweer dat die beste voorspelling van ons gedrag in die toekoms dieselfde sal wees as ons huidige gedrag. Geld daardie beginsel ook andersom? Gestel u was in alle opsigte dieselfde persoon wat u vandag is, openbaar u huidige gedrag hoe u sou optree indien u gedurende Jesus se menslike leeftyd gebore was?

Of ons dit wil erken of nie, ons is nie altyd die persoon wat ons graag wil wees nie – selfs nou in ons daaglikse lewens. Dit behoort ons te laat verstaan of ons deel sou wees van die kruisigingsgroep. Dit is waarskynlik akkuraat om te sê dat die meeste van ons dink dat ons ’n uitsondering van die gepeupel sou wees. Dit is die persoon wat ons wil wees en wie ons dink ons is. Ons sou sekerlik nie uitgeroep het “Kruisig Hom” nie. Selfbedrog is egter ’n algemene menslike eienskap. Dit is skokkend dat die meeste belydende Christene, deur die keuses wat hulle maak, aantoon dat hulle deel sou wees van die gepeupel! Hoe kan dit wees? Hoe kan ek [die skywer] so seker wees?

 

Wie was hierdie Man?

Jesus het in die vlees as die Seun van God gekom maar min mense verstaan ten volle wie hy was vóór daardie tyd. Selfs die Jode van Sy tyd het dit nie verstaan nie. Baie mense neem aan dat die God van die Ou Testament – die Een wie die Tien Gebooie op ’n klip geskryf het, die Een wat met Moses gepraat het – die Een was wie Jesus, “God die Vader” genoem het. In werklikheid is die Heilige wese wat met Moses gepraat het nie God die Vader nie; Hy was niemand anders as die Logos wat Jesus Christus geword het nie! Hierdie maklik bewese feit het gevolge vir die hedendaagse Christendom.

Die apostel Paulus skryf: “WANT ek wil nie hê. broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs10:1-4).

Verder word aan ons vertel: “Niemand het God ooit aanskou nie” (1 Johannes 4:12). Hoe kan dit wees wanneer ons lees dat 74 mans die God van Israel gesien het? “Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien ... Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Exodus 24:9-11).

Hoe maak dit sin: “Niemand het God ooit aanskou nie” maar “hulle het die God van Israel gesien”? Jesus se dissipel Johannes gee vir ons die antwoord: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” (Johannes 1:18). Een rede waarom Jesus gekom het, was om die Vader te openbaar. “Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar” (Lukas 10:22).

Die hedendaagse “Christendom” het ’n valse verhaal geskep dat die Vader hard en veeleisend is en aan die mensdom onmoontlike opdragte gee, maar soos in hierdie en baie ander geskrifte getoon word, is die God van die Ou Testament die Een wat later Sy lewe vir die mensdom gegee het. Hy is ook die Een wat die mense van die eerste eeu berispe het: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Is dit deesdae enigsins anders? Mense noem Jesus “Here” – wat “Meester” beteken – maar verwag egter van Hom om aan te pas by húlle idees van wat reg en verkeerd is, húlle idees van hoe om Hom te aanbid en hulle menslik uitgedinkte gebruike. Hulle beweer dat hulle Hom volg, maar wandel hulle soos Hy gewandel het of volg hulle die skare, die gewoontes van familie en vriende en tradisies wat van een geslag na die ander oorgedra word?

Weereens; wat sou u gedoen het indien u ’n eerste-eeuse inwoner van Judea was? Sou u Hom gevolg het? Johannes antwoord: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:3-6).

Hoe was Jesus se lewenswyse? Nié soos die gewilde “Christendom” nie! Christenskap, soos dit algemeen bekend staan, is nié die Christenskap van Christus nie! Die hoogaangeskrewe geskiedskrywer, wyle Paul Johnson het selfs in die vroegste jare geskryf oor die verheidensing van die Christendom:

“Baie Christene het nie ’n duidelike onderskeid tussen hierdie sonkultus en hulle eie gemaak nie. Hulle het verwys na Christus wat sy strydwa deur die uitspansel bestuur het; hulle het Sondag hulle dienste gehou, na die Ooste gekniel en hulle geboortefees op 25 Desember gehou – die geboortedag van die son tydens die wintersonstilstand. Gedurende die latere heidense herlewing onder die keiser Julianus het baie Christene dit maklik gevind om afvallig te raak as gevolg van hierdie verwarring; die biskop van Troje het vir Julianus gesê dat hy nog altyd in die geheim tot die son gebid het. Konstantyn het nooit sonaanbidding laat vaar nie en het ’n afbeelding van die son op sy muntstukke gehou. Hy het Sondag ’n rusdag gemaak” (A History of Christianity, bll. 67-68).

Dit is baie duidelik in die Skrif opgeteken: Jesus, Sy Apostels en die vroeë Kerk van God het die Bybelse sewende-dag Sabbat en jaarlikse Heilige Dae onderhou in plaas van foutiewe heidense vierings (sien ons boekies, Watter Dag is die Christelike Sabbat? en, Die Heilige Dae – God se meesterplan). Elke jaar begin die jaarlikse siklus van Heilige Dae in die maand April soos dit gevind word in die Bybel – presiés net soos wat Jesus, Sy Apostels en die vroeë Kerk van God dit onderhou het – dieselfde Feeste waaraan Jesus Israel vroeër bekendgestel het voor die berg Sinai se gebeure (Exodus 12-13). Hierdie huidige geslag sou min verskil van dié van die eerste eeu n.C. Hulle het die Messías gekruisig en so sou hierdie geslag ook gedoen het. Die vraag is steeds: Gebaseer op u huidige keuses, sou u by die skare aangesluit het?