Kersfees is een van die gewildste vakansietye in die wêreld. Tog is min mense vertroud met die oorsprong daarvan en nog minder mense weet hoe God daaroor dink.

Dit mag dalk ’n uiters gewilde vakansiedag wees, maar dit gaan gepaard met ’n geweldige klomp bagasie. Behoort ons bekommerd te wees?

Miljoene mense regoor die wêreld beskou Kersfees as die hoogtepunt van die jaar. Daar is geen vakansie in die belydende Christelike wêreld wat met meer tyd, geld en energie gevier word nie. Ontelbare kleinhandelaars beplan die hele jaar deur vir die kerstyd, want die verbruikersbesteding van Desember is vir hulle “maak of breek”.

Kersfees word wyd gevier, selfs in Japan waar die meeste mense hulleself as Boeddhiste of Sjintoïste beskou. Afhangend van die bron, bely miskien selfs minder as een persent van Japan se bevolking Christelikheid, maar tog is verligte bome en Kersvader daar baie gewild. “Oukersaand word as ’n romantiese tyd beskou waarin paartjies tyd saam spandeer en geskenke uitruil ... Jong paartjies hou daarvan om te gaan stap om na die kersliggies te kyk en ’n romantiese maaltyd in ’n restaurant te geniet. Dit kan baie moeilik wees om ’n tafel vir Oukersaand in ’n restaurant bespreek te kry aangesien dit so gewild is”! (“Christmas in Japan,” WhyChristmas.com, 2019).

Baie mense sal verbaas wees om te hoor dat die viering van Kersfees ook in China, ’n amptelik ateïstiese volk, toeneem. Alhoewel dit nie ’n amptelike vakansiedag is nie – winkels sluit nie vir die viering daarvan nie – word tradisies aangaande Kersfees al hoe opvallender.

Vanaf einde November is baie afdelingswinkels versier met kersfeesbome, flikkerende liggies en kersversierings. Winkelsentrums, banke en restaurante het dikwels kersuitstallings, kersbome en liggies. Groot winkelsentrums help om Kersfees in China in te lui met seremonies om kersboomliggies aan te skakel. Winkelklerke dra dikwels kersvaderhoede en groen en rooi bykomstighede. Dit is nie ongewoon om nog tot die middel van Februarie oral kersversierings te sien en selfs in Julie kersmusiek in kafees te hoor nie (“Is Christmas Celebrated in China?,” ThoughtCo.com, 16 Augustus 2019).

Waarom het Kersfees so ’n houvas op die wêreld? Waar kom die tradisies en gebruike daarvan vandaan? Kan Jesus met Kersvader, versierde bome, kantoorpartytjies en verbruikersbesteding meeding? Behoort ons “Christus terug te plaas in Kersfees” soos wat baie mense sê?

 

Die “outydse Kersfees”-mite

Al hoe meer mense in die Westerse wêreld begin dit bevraagteken of die jaareind-funksies selfs Kersfees genoem moet word. Hofuitsprake het beslissings gelewer teen die uitbeelding van die kersverhaal op openbare eiendom. Daar word na kersbome verwys as “vakansiebome” om niemand te beledig wat nie die godsdienstige aspekte van die seisoen onderskryf nie. Waarheen is al hierdie dinge dus op pad?

Daar is by baie mense ’n begeerte om “Christus terug te plaas in Kersfees” om die kommersialisering daarvan te ontmoedig en terug te keer na ’n outydse Kersfees. Wat hulle nie besef nie, is dat die idee van ’n outydse Kersfees ’n romantiese uitvinding van onlangse geslagte is. Die feesvierings het op dramatiese wyse gedurende die negentiende en twintigste eeu ontwikkel. Die manier waarop ons nou aan Kersfees dink, verskil radikaal van vroeëre geslagte.

Die skrywer Bruce Forbes skryf dat hy baie van Kersfees hou en dat hy die geskiedenis daarvan ondersoek het. Soos hy in sy boek, Christmas: A Candid History, bespreek, het hy ’n aantal verrassings teëgekom. Hier is in sy eie woorde, ’n klein aantal voorbeelde van onverwagte feite wat hy ontdek het:

•  In die eerste twee of drie eeue n.C. het die vroeë Christene nie Kersfees gevier nie.

•  Puriteine in Engeland en in Nieu-Engeland het Kersfees-vierings onwettig verklaar.

•  Die Amerikaanse Kongres het tot in die 1850’s gereeld op Kersdag vergader.

•  President Franklin Roosevelt het die datum van Thanksgiving verander om die seisoen vir kersinkopies te verleng.

Baie van wat ons as ’n outydse Kersfees beskou, is die resultaat van meer onlangse kulturele invloede, soos die Norman Rockwell-skilderye, Irving Berlin se “White Christmas” en pogings deur afdelingswinkels om hierdie vakansiedag te benut vir finansiële gewin. Laat ons nie die agtjarige Virginia O’Hanlon se vraag, “Is daar ’n regte Kersvader?” vergeet nie en wat die beroemde Sun-reaksie van 1897 se mees herdrukte koerant se hoofartikel in die Engelse taal was en deel van die Kersfees volksoorlewering geword het.

Soos Phillip Snyder in December 25th: The Joys of Christmas Past geskryf het, “Die Kersfees wat Amerikaners vandag vier, is grotendeels ’n skepping uit die laat negentiende eeu: ’n Mengelmoes van Ou-Wêreldse geskiedenis en tradisies wat vermeng en verander word deur ’n opkomende Amerikaanse kultuur" (bl. xiii).

 

Plaas Christus terug in Kersfees?

Tye is egter besig om te verander. Volgens ’n 2018 Pew Navorsings-opname is selfs belydende Christene minder geneig om vas te klou aan tradisionele Christelike verwagtings wat betref die vakansie (“5 facts about Christmas in America,” Pew Research Centre, 18 Desember 2017). Ons hoor egter nog steeds die uitroepe van: “Plaas Christus terug in Kersfees!” Daar is egter ’n probleem hiermee en ’n kort geskiedenisles verduidelik dit.

Feitlik alles omtrent Kersfees, vanaf die datum tot die gebruike daar rondom, kom van voor- en na-Christelike heidense vierings – behalwe vir die kommersialisering wat in relatief onlangse tye bygevoeg is. Die enigste greintjie waarheid in die verband is dat Jesus werklik is, wél gebore is en gebore is om ’n Koning te wees. Kersfees verwar egter selfs die feit dat Hy gebore is om ’n Koning te wees, saam met die hele geboorteverhaal.

 

In ’n doolhof van verwarring

Waarskynlik is die grootste simbool van Kersfees in baie wêrelddele ’n boom wat met klatergoud, tierlantyntjies en liggies versier is. Wat het dit egter met die geboorte van Christus te doen? Die skrywer Barbara Segall verduidelik die oorsprong van die verering van hierdie boom:

[Die kersboom] het ons huise binnegedring ... die fabels van die verlede, vermeng met Victoriaanse kersfeestradisies en gebruike, is vir daaropvolgende geslagte in die moderne wêreld saamgebring ... Deur al die veranderende seisoene staan die immergroen boom oral trots, ook in Noord-Europa en Noord-Amerika, om in die middel van die winter, soos dit vir ons voor-Christelike voorouers gedoen het, moed en hoop te gee en geloof in ’n warmte ná die seisoen ... (The Christmas Tree, bll. 6-7).

’n Mens kan tallose bronne vind wat die heidense voor-Christelike verlede rondom “die rede vir die seisoen” kan bewys, maar nie almal is bekend met die teenstrydighede tussen tradisie en die Bybelse weergawe van Jesus se geboorte nie. Een voorbeeld is dat byna almal wat iets van die godsdienstige kant van die kersfeesviering weet, glo dat die drie wyse manne uit die Ooste opgedaag het die aand toe Jesus gebore is om aan Hom “verjaarsdaggeskenke” te gee. Hierdie begrip is heeltemal verkeerd volgens die opgetekende verhaal.

Tydens die drie wyse manne se aankoms was Jesus nie ’n pasgebore baba nie. Daar word nie na hom as ’n baba verwys nie, maar as ’n jong kind – ongetwyfeld ’n baie jong kind, maar daar is ’n duidelike onderskeid tussen ’n baba en ’n jong kind in die Griekse taal, net soos in Engels. Wanneer die wyse manne opgedaag het, was Hy nie in ’n stal nie, maar in ’n huis. “En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre” (Matthéüs 2:11).

Ons weet dat dit ten minste 40 dae ná Sy geboorte plaasgevind het, want Jesus is voor hulle besoek in die tempel voorgestel (vergelyk Lukas 2:21-24; Levítikus 12:2-6; Matthéüs 2:11-14). Dit is die vroegste wat die besoek sou kon plaasvind, maar dit het waarskynlik weke of maande later gebeur, aangesien ons sien dat “Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het” (Matthéüs 2:16). Daar is nogal ’n verskil tussen ’n pasgebore baba en ’n tweejarige kind!

 

Tradisies teenoor werklikheid

Die verskille tussen tradisies en feite is belangrik. Jesus het om verskillende redes in die vlees gekom. Een rede was sekerlik om die boete vir ons sondes te betaal, maar ’n ander rede was om die grondslag te lê vir Sy terugkeer as Koning van konings en Here van die here om ’n wêreld vol beroeringe te red. Hierdie wyse manne het geskenke gebring, nie om Jesus se geboorte te vier nie, maar om met behoorlike respek in die teenwoordigheid van ’n koning te verskyn – iets wat dikwels verlore gaan in die besonderhede van die “kersverhaal”.

Alhoewel dit streng gesproke nie ’n kers-komposisie is nie, word Händel se Messiah gedurende die kerstyd oor die wêreld heen gesing. Die immer gewilde “Halleluja Koor” bevat die woorde van Openbaring 11:15 en 19:16: “Hy sal vir ewig en altyd regeer, Koning van die konings en Here van die here.”

Die woorde mag wel daar wees, maar begrip daarvan ontbreek. Min mense besef dat Hy weer sal kom, nie as ’n Lam om geslag te word nie, maar as ’n triomfantelike Koning om die mensdom van volkome vernietiging te red. Jesus is ons Verlosser op meer as een manier.

Sagaría 14 begin met ’n aankondiging: “Kyk, daar kom ’n dag vir die HERE” en verduidelik dat wanneer die Messias kom, sal die Olyfberg, net oos van Jerusalem, middeldeur gesplyt word, “tot ’n baie groot dal [vallei]” waardeur ’n rivier vanaf Jerusalem oos en wes sal vloei. Dit skyn ’n letterlike fontein te wees waaruit twee riviere sal vloei, maar dit simboliseer ook die genesende Gees van God. Voordat daardie genesende waters sal vloei, sal Jesus egter teen die nasies veg wat teen Jerusalem en teen Sy heerskappy as “Koning oor die hele aarde” opgetrek het (Sagaría 14:1-9; vergelyk. Openbaring 14:15-18).

Hierdie is nié ’n boodskap oor ’n hulpelose babatjie nie! Die Ware verhaal van Sy geboorte en die redes waarom Hy gekom het, word verdoesel deur heidense tradisies en ’n verdraaide vertelling van die Bybelse verhaal. Tog lyk dit asof min mense hierdeur gepla word. Waarom pla dit niemand dat Jesus se geboorte nêrens deur ’n Bybelse persoonlikheid gevier is nie? Twee van die Evangelieskrywers vertel wél van die geboorte van Jesus en die gebeure wat daarop gevolg het, maar nêrens is daar ’n jaarlikse viering van Sy geboorte nie.

Indien God wou hê dat ons Jesus se verjaardag vier, waarom is dit dan dat die tyd van die jaar en ook die presiese dag van Sy geboorte nie in die Skrif opgeteken is nie? Selfs die jaar van Sy geboorte is omstrede! Die een ding waaroor die meeste Bybelgeleerdes saamstem, is dat Hy nie op 25 Desember gebore is nie. Dit is omdat Lukas 2:8 ons meedeel dat daar destyds herders in die oop veld gewoon het. Soos wat in volume 5 van Adam Clarke se Commentary on the Bible rakende hierdie vers verduidelik word:

Aangesien hierdie herders nog nie hulle kuddes huis toe gebring het nie, word die argument aanvaar dat Oktober nog nie begin het nie en dat ons Here gevolglik nie op 25 Desember gebore is toe geen troppe skape in die veld was nie. Dit is ook nie moontlik dat Hy later as September gebore is nie, aangesien die troppe skape snags nog in die veld was. Op grond hiervan behoort Sy geboorte in Desember nie aanvaar te word nie. Dat die skaapkuddes snags in die veld gewei het is ’n chronologiese feit, wat aansienlik lig werp op hierdie twispunt (Adam Clarke, bl. 370, klem bygevoeg).

Indien 25 Desember nie die datum van Christus se geboorte is nie, waarom is dit dan die dag wat die Roomse Kerk gekies het vir die viering daarvan? Barbara Segall verduidelik nie net die oorsprong van immergroen bome nie, maar ook hoe die vroeë kerkleiers ’n datum reg in die middel van drie heidense voor-Christelike feeste gekies het:

In die gedagtes van ons heidense voorouers het die meeste plante en diere magiese en mistieke magte gehad en veral daardie immergroen plante wat die aanslag van die winter oorleef het, is spesiaal geag ... Op een stadium was die rede vir vreugde die geboortedag of ontwaking van die songod, na die donkerheid wat die winter-sonstilstand in die middel van Desember voorafgegaan het. Later het ons meer gevestigde voorouers gevind dat dit ’n goeie tyd was om die feesviering van Saturnus, die god van landbou, te geniet in die tweede en derde week van Desember. Omdat Desember na Januarie en ook die ou jaar na die nuwe jaar oorgaan, het antieke Romeine ’n fees met die naam Kalends geniet. Dit was ’n tyd wanneer hulle geskenke of strenae vir mekaar gegee het, gewoonlik steekpalm of ander geskenke wat versier was met takkies van immergroen plante ... Die vroeë kerk in Rome het die datum vir Christus se verjaardag in die middel van hierdie heidense feeste vasgestel (Segall, bll. 11-15).

Dit word bevestig deur niemand anders nie as die hoogs gerespekteerde Eerdmans’ Handbook to the History of Christianity:

Die Christelike kerk het baie heidense idees en beelde oorgeneem. Uit sonaanbidding, byvoorbeeld, kom die viering van Christus se geboorte op 25 Desember, die verjaardag van die son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17 tot 21 Desember, het die vrolikheid, die uitdeel van geskenke en kerse voorsien wat kenmerkend van latere kersvakansies was. Sonaanbidding het bly voortbestaan in die Roomse Christendom en in die middel van die vyfde eeu het Pous Leo I, aanbidders bestraf omdat hulle na die son gedraai het om voor die son te buig voordat hulle die basiliek van die St. Peter binnegegaan het. Sommige heidense gebruike wat later verchristelik is, byvoorbeeld die gebruik van kerse, wierook en kerskranse, is aanvanklik deur die kerk vermy omdat dit die heidendom gesimboliseer het (red. Tim Dowley, bll. 131-32).

Verjaardagvierings was nie ’n gebruik van die vroeë Kerk nie. Die Encyclopædia Britannica se Kersfees-artikel verduidelik: “So laat as 245 het Origen in sy agtste preek oor Levítikus, die idee om die verjaardag van Christus te vier ‘asof hy ’n koning Farao was’, as sondig verwerp. Die eerste bevestigde vermelding van 25 Desember is in ’n Latynse tydhouer van 354 n.C.” (vol. 6, 11de uitgawe).

 

Maak dit saak?

Dat die vierings rondom Kersfees, met inbegrip van die datum, deurweek is met heidense praktyke is onbetwisbaar. Dat die gewilde verwante verhaal met onakkuraathede gevul is, behoort nie ’n twispunt te wees nie, aangesien die noukeurige lees van die verhale in Matthéüs en Lukas dit bewys. Die vraag bly egter: Indien die betrokke praktyke en oortuigings gebruik word om Christus te verheerlik, maak enigiets hiervan regtig saak?

Let op hierdie insiggewende opmerking van die ateïs Tom Flynn in The Trouble with Christmas (bll. 68-69):

Selfs toegewyde Christene moet erken – soos hoofstroom en liberale Christelike geestelikes wel doen – dat baie van wat ons as die “verhaal van Kersfees” ken, bloot die resultaat van ’n proses van literêre afleidings is. Die elemente daarvan is geïnspireer deur of net afgelei van legendes van vroeë, heilige “persoonlikhede”. Selfs al is Christelikheid waar, is die verhaal van Kersfees nie die waarheid nie.

Indien die legende van die geboorteverhaal mettertyd uitgebrei het, op ’n manier wat geen verband hou met die lewe van die historiese Jesus nie, sou ons verwag dat die eerste Christene nie die fees van die geboorte sou onderhou nie. Inderdaad het hulle dit ook nie gedoen nie, soos selfs die konserwatiewe godsdiensskrywer George W. Cornell erken:

Christene het vir meer as 300 jaar na Jesus se tyd nié Sy geboorte gevier nie. Die viering daarvan het in die vierde eeu in Rome begin en was beplan om saam te val met ’n heidense fees in die middel van die winter, ter ere van die heidense gode Mithra en Saturnus. Die datum in Desember is eenvoudig oorgeneem om die herdenking van Jesus se geboorte te vier, aangesien die presiese datum nie bekend is nie. Gevolglik het die samesmelting van die heilige en die goddelose, die viering van die begin af gekenmerk.

Ongeag of enigiets hiervan vir ons belangrik is, hang dit af van ’n deurslaggewende besluit: Behoort ons ’n besluit te neem op grond van menslike emosie en redenasie of behoort ons op die Bybel staat te maak vir ’n antwoord?

Laat ons eerlik wees. Baie van ons emosionele reaksies op elemente van die kerstradisie spruit voort uit diepliggende herinnerings uit ons kinderdae. Die seisoen prikkel ook ons sintuie: kleurvolle liggies, die reuk van groenigheid, gunsteling feeskos, nostalgiese musiek en die opwinding daarvan om te ontdek wat vir ons in helderkleurige geskenkpapier wag. Dan het ons Charles Dickens se Kersfees haat-verhaal, “Bah, humbug!”, Scrooge. Wie wil met hom oor dieselfde kam geskeer word?

Maak dit nie sin dat indien ons ons Verlosser, Jesus Christus daardeur wil eer, ons wil weet wat Sy gedagtes oor hierdie viering is nie? Sou dit nie sinvol wees om besluite op grond van Sy instruksies te neem nie? ’n Mens sou so dink, maar is dit wat ons doen?

Keer op keer het Jesus diegene uitgedaag wat Hom hulle Here en Meester genoem het, maar verkies het om hulle eie tradisies te volg. “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas” (Markus 7:6-8). “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matthéüs 7:21).

 

’n Waarheid wat selde begryp word

Swyg Jesus oor die onderwerp van Kersfees? Glad nie! Min belydende Christene verstaan wie Jesus voor Sy menslike geboorte was, maar tog sê die Bybel dit duidelik. Paulus het oor Christus geskryf, “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode” (Kolossense 1:16-18). Kan enigiets duideliker wees? Alle dinge is deur die Een geskep wat Jesus Christus geword het.

Paulus verduidelik verder wie dit is wat met Israel gewerk het: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het ... en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:1-4; sien ook Efésiërs 3:9 en Hebreërs 1:1-2).

Hierdie eenvoudige waarheid maak duidelik wat andersins ’n teenstrydigheid sou wees. Exodus 24:9-11 sê vir ons: “Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien ... en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.” Ons lees egter: “Niemand het ooit God [die Vader] gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” (Johannes 1:18).

Dus, wat openbaar die Een wat alle dinge geskep het – die geestelike Rots wie Israel gevolg het en die Een wat deur 74 manne met hulle eie oë op die berg Sinai gesien het – hoe Hy oor hierdie onderwerp dink? Neem eers in oorweging: Nêrens sien ons ’n jaarlikse viering van Sy geboortedag nie. Verder is die gewilde geboorte-storie met foute besaai. Wat meer is, Kersfees is ’n mengsel van teologiese dwaling en heidense gebruike. Lees wat “die rots wat hulle gevolg het” sê oor die ontlening van heidense gebruike en tradisies en om dit in te bring wanneer Hy aanbid word:

“As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:29-32).

Die Een wat alle dinge geskep het, het die profeet Jeremia ook geïnspireer om die volgende te skryf:

“So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie” (Jeremia 10:2-5).

Vergelyk hierdie besonderhede net met die gebruik om Kersfees ’n boom af te kap, dit met spykers en ’n dwarsstuk vas te slaan (voor moderne maniere om dit in ’n watergevulde houer vas te maak) en dit met silwer en goue voorwerpe te versier. Party mense neem aan dat dit na ’n gesnede afgod verwys, maar Jeremia spreek daardie probleem later in die hoofstuk aan. Antieke kulture het meestal bome aanbid:

’n Deel van die storie [van die kersboom] het by ons voorouers ontstaan. Immergroen plante soos steekpalms, Ivy klimopplante, lourier en die naaldbome [soos dennebome], wat hulle blink blare of aromatiese naalde deur die lang en koue wintermaande kan behou, is en was ’n bron van verwondering vir ons en ons voor-Christelike voorouers.

In baie antieke mites en legendes is die sentrale krag in ’n heilige boom geleë. Eik, wilgers, essehout en dadelpalms is voorbeelde van die bome wat gevind word in die Homeriese, Chinese, Skandinawiese en Arabiese mites en legendes (Segall, bll. 6-7).

Word bome deesdae aanbid? Miskien is dit nie soos in vorige geslagte nie, maar hoeveel van ons moderne wêreld sal hierdie jaar ’n lied vir ’n boom sing? “O Christmas tree, O Christmas tree ...”

Maak Kersfees dus saak? Wanneer ons die Skrif eerlik en noukeurig lees, wys dit dat dit wel saak maak, maar nie soos baie mense dink nie. Die meeste mense wil eerder self bepaal wat reg en verkeerd is – in plaas daarvan om te luister na die Een wat hulle beweer hulle dien. Min mense het die moed om Christus eerste in hulle lewens te plaas. Het u, my vriend, daardie soort moed?