Gedurende die afgelope paar dekades is daar ’n omvangryke aanslag teen die Christendom geloods. Miljoene het die “hoofstroomkerke” verlaat en baie ander mense is besig om dit te doen. Geleerde mense is toenemend besig om hul rug op godsdiens te draai en, soos dit lyk, op God ook.

Waarom?
Waarom skryf ontelbare duisende jong mense, as gelowige lidmate van die kerk, by kolleges in, net maar om slegs ’n paar jaar later as wêreldlike ongelowiges te voorskyn te tree, onseker oor God se bestaan of die gesag van die Bybel?

Begrip van die werklike antwoorde op hierdie probleme sal u toekoms grootliks beïnvloed – en die bestaan van ons nasies. Ons moet nie bang wees om “beginselvrae” soos hierdie te konfronteer nie!

Eerstens bevorder ons moderne Westerse opvoedkundige instellings toenemend die teorie van evolusie. Meer as wat die meeste mense egter besef, affekteer die veronderstellings wat voortvloei uit die evolusieteorie, ander studievelde buite die fisiese wetenskappe. Onbewese begrippe word gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar wanneer dit onder die sogenaamde beskerming van die “wetenskap” geleer word.

Die meeste eerlike wetenskaplikes erken egter geredelik dat hulle geen manier het om ’n “Eerste Oorsaak” verkeerd te bewys nie. Hulle het werklik geen manier om die baie “gapings” in die evolusieteorie te vul nie. Vanuit ’n godsdienstige perspektief, het hulle geen manier om die letterlik dosyne spesifieke Bybelprofesieë wat alreeds vervul is,verkeerd te bewys nie!

Moontlik sonder dat hulle daarvan bewus is, “begrawe” deesdae se ateïste basies “hulle koppe in die sand” en ignoreer eenvoudig die ontsagwekkende profesieë van die groot God, soos opgeskryf in Sy geïnspireerde Woord! Hulle is egter nie intellektueel werklik eerlik nie, tensy hulle die kennis van die groot God van die skepping toegang verleen tot hul verstand asook erken hoe Hy in die verlede in menslike sake ingegryp het en selfs nou nog ingryp! Die ware God van die Bybel het meer as 2,500 jaar gelede deur die profeet Jesaja gepraat: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

Baie andersins intelligente mense is ateïste of agnostici want hulle het hoofstroomgodsdiens laat vaar omdat dit so baie onwaarhede gefabriseer het. Dit is geen wonder dat geleerde mense met argwaan vervul is as gevolg van sulke onsin nie! Duisende oudmodiese predikers het gebulder: “Die Bybel sê dat God die aarde 6,000 jaar gelede geskape het. Ons stam dus nie van ape af nie en die wetenskaplikes is heeltemal verkeerd!” Maar, sê die Bybel in werklikheid dat God die wêreld 6,000 jaar gelede geskape het?Geensins nie!

Wat die Bybel wel sê is: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Die woorde “in die begin” gee nie ’n spesifieke tydraamwerk nie! Ons in hierdie Werk van Christus het altyd verkondig dat die wêreld moontlik miljoene jare gelede geskape kon gewees het. Wetenskaplikes het egter dikwels hulle teorieë verander oorhoeveel miljoene – hulle gooi miljoene jare rond soos tennisballe want in werklikheid weet hulle nie! Hulle gee ons eenvoudig “geleerde raaiskote”. Hoe dit ook al sy, volgens wat ons weet van hierdie planeet en sy ontwikkeling, wil dit wel voorkom asof ons planeet miljoene jare gelede tot stand gekom het.

Die wetenskaplikes het weereens geen werklike manier om ’n “Eerste Oorsaak” of die teendeel daarvan, te bewys nie. Maar, omdat hulle menslik is, kry hulle teësin in die predikers se verspotte idees – wat hulle nie as onbybels kan identifiseer nie, omdat die meeste wetenskaplikes nie met ’n oop gemoed “die skrifte ondersoek” om te sien wat God in werklikheid sê nie. Die deursnee wetenskaplike, soos die gemiddelde Amerikaner, is Bybels-ongeletterd.

Dr. Stephen Prothero, Leerstoel van die Departement van Godsdiens aan die Boston Universiteit, sê: “Meer as 90 persent van die federale wetgewers noem hulleself Christene, wat die Kongres meer Christelik maak as die Verenigde State self ... Burgers van die Verenigde State weet egter bykans niks van die Bybel af nie. Hoewel die meeste dit beskou as die woord van God, is daar min wat dit nog lees. Selfs evangeliste uit die Bybelgordel fokus skynbaar meer daarop om Jesus lief te hê as om te leer wat Hy te sê het ... Opnames wat meer wetenskaplik is, het bevind dat slegs een uit drie burgers in die Verenigde State in staat is om die vier Evangelies op te noem, en een uit tien dink “Joan of Arc” was Noag se vrou. Dit is dus geen wonder dat meningspeiler George Gallup tot die gevolgtrekking gekom het dat die Verenigde State ‘’n nasie van Bybels-ongeletterdes’ is nie” (Charlotte Observer, 18 Maart 2007).

Baie ateïste en agnostici maak daarop aanspraak dat hulle nie in ’n God kan glo wat in die wêreld “so baie lyding toelaat” nie. “Waar was God gedurende die volksmoord op die Jode?” sal hulle vra.

Goed, waar was God? Bybelstudente weet dat Hy op Sy troon in die hemel was, basies besig om Sy “hande af te hou” van die mensdom – en besig om Hom by Sy plan te hou om die mensdom toe te laat om hulle hul eie gang te gaan vir 6,000 jaar. Hy sal daarna Jesus Christus na hierdie aarde terugstuur vir ’n duisendjarige Sabbat van vrede enkennis (Openbaring 20:6).

Met die menigtes van Sy dag het Jesus Christus in gelykenisse gepraat. Slegs aan die “binnekring” van Sy dissipels het Hy die volle betekenis van daardie gelykenisse bekend gemaak. Christus het die menigtes toegelaat om voort te gaan in hulle blindheid (2 Korinthiërs 4:3-4). Hy sê aan Sy dissipels: “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Markus 4:11-12). Jesus het dus nie eens toe probeer om iedereen te “red” soos wat baie mense aangeneem het nie. Die groot God “laat” eenvoudig die mensdom toe om sy eie kop vir 6,000 jaar te volg, om die les te leer dat die mens se weg – sonder God – lei tot verwarring, ellende, lyding en dood! God probeer nie om elkeen in hierdie tydvak te “roep” nie. Dit is waarom Jesus Christus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44).

God laat almal van ons toe om ’n “vrye morele keuse” te hê. Hy “dwing” ons nie om Sy wil te volg nie. As Hy dit gedoen het, sou ateïste kla dat “God nie regverdig is nie” omdat Hy hulle nie sou toelaat om met hulle begeertes en welluste te eksperimenteer deur die misbruik van die wetenskap, seks en verdowingsmiddels nie; en om betrokke te raak by so baie aktiwiteite wat aanleiding gee tot haat, verwarring, gebroke huisgesinne en oorlog!

Ateïste en agnostici kan egter nie hul brood aan albei kante gebotter kry nie
Onthou, God het aan die mensdom 6,000 jaar toegestaan om die lesse van die lewe deur menslike lyding en wanhoop te leer. Daarna sal Hy die lewende Jesus Christus terugstuur aarde toe as Koning van die konings (Openbaring 11:15). Gedurende daardie tyd sal God alle mense se oë open en hulle sal God se weg geleer word – die weg vanvredevoorspoed en vreugde wat op Sy groot geestelike Wet, die Tien Gebooie, gebaseer is (Miga 4:1-4).

Wat egter van die dooies wat God nooit “geroep” het nie – en wat nooit ’n waaragtige geleentheid gehad het om van God se plan en die ware betekenis van die lewe te leer nie? Die meeste van daardie mense het deur die eeue heen gely en gesterf sonder dat hulle ooit die naam “Jesus Christus” gehoor het. Is al hulle lyding dan tevergeefs? As daar ’n werklike en genadige God is, sal Hy nie aan hierdie miljoene mense ’n waaragtige geleentheid bied om God te kan ken en om die weg van hulle Skepper te kan leer volg nie?

Die waarheid is dat, soos Jesus aandui, God nie nou poog om die meerderheid mense tot insig te roep gedurende hierdie tydvak nie. Dit is waarom God die apostel Johannes geïnspireer het om Satan te beskryf as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Gedurende hierdie tyd is Satan waarlik “in beheer” van hierdie verwarde wêreld. Jesus het Satan so beskryf toe Hy sê: “... die owerste van hierdie wêreld kom en [hy] het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Hoe wonderlik is dit nie om te besef dat die miljoene indiwidue wat nooit enigiets aangaande God en die doel van hulle lewe verstaan het nie, weer opgewek sal word in ’n “dag van oordeel” soos dit in u Bybel beskryf word. Dit is nie “’n dag van veroordeling” nie, maar eerder ’n toetstydperk vir mense wie se oë vir die heel eerste keer geopen sal word. Dit is waarom Jesus aan die mense van Sy geslag gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag” as vir daardie mense wat wel verstaan, maar Sy boodskap verwerp het (Mattheus 10:15).

Intussen, hoewel hulle geweldig mislei is, het die ateïste en agnostici – in ’n sekere sin – tog ’n punt beet. Hulle is gekonfronteer met ’n wêreld van verwarring, angs en skynbaar doellose lyding. Hulle word ook gekonfronteer met ’n valse Christelikheid wat nie ware antwoorde bied op die vrae van die lewe nie. U wat egter hierdie tydskrif lees, kan die Waarheid vind indien u gewillig is om die moeite te doen om met ’n oop gemoed te studeer. Soos Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Om God se ontsagwekkende doel met dit alles te verstaan, moet u ons verseker skakel of aan ons skryf om u kopie aan te vra van een van die uiters nuttige, deeglik nagevorsde en insiggewende boekies wat u ooit sal kan lees. Vra om u gratis kopie van ons boekie, Is Hierdie die ENIGSTE Dag van REDDING? Dit sal werklik u oë open!