’n Opwelling van Moslemse geboortesyfers is besig om die politieke en sosiale omgewing reg oor die wêreld te verander. Wat gaan dit vir ons toekoms beteken?


“Waarom Israel nie kan oorleef nie”. So lui die skokkende opskrif bokant die 5 Mei 2008 voorbladstorie in Maclean’s, een van Kanada se oudste en mees-gerespekteerde nuustydskrifte. Die artikel verduidelik voorts: “Sestig jaar van nou af, sal die land tussen twee opsies vir die toekoms moet kies: Dit sal óf ’n Joodse staat, óf ’n demokrasie kan wees – maar nie albei nie” (bl.30).

Waarom soveel pessimisme? “Binne een of twee dekades sal die getal Moslems en Christelike Arabiere wat onder Joodse beheer leef (insluitende Gaza, die Wes-oewer en binne Israel self) die getal Israelse Jode oortref. Wanneer dit gebeur en daar is nog geen Palestynse staat nie (en sonder enige grootskaalse etniese suiwering) sal Israeli’s verplig wees om te kies tussen twee opsies vir die toekoms. Hulle land sal óf Joods wees maar nie demokraties nie – met ander woorde, ’n Joodse minderheid sal ’n land beheer wat meestal bewoon word deur Palestyne – óf Israel sal demokraties wees maar nie Joods nie, omdat Arabiere die meerderheid sal vorm in wat dan ’n bi-nasionale staat sal wees ... Dit kan nie albei wees nie” (ibid.).

In der waarheid nader die Joodse staat vinnig ’n demografiese krisis wat baie meer gevaarlik is as enige militêre krisis wat dit tot dusver trotseer het. Die wapens is nie gewere of bomme nie, maar babas. Israel se vyande skenk geboorte aan meer toekomstige kiesers – en die dag gaan spoedig kom wanneer die Arabiere in die meerderheid sal wees en ’n demokratiese Israel eenvoudig uit sy bestaan stem!

Europa in krisis

Is hierdie situasie uniek aan die Midde-Ooste? Nee! ’n Mens kan net so akkuraat ’n hoofopskrif skryf: “Waarom Europa nie kan oorleef nie”. Net soos Israel, nader Europa ook ’n tyd van beslissing – en Europa se vyande is deeglik bewus daarvan. Verlede April op die elfde, het Yunis Al-Astal, ’n Palestynse geestelike wat ook ’n lid van sy nasionale parlement is, aan aanbidders tydens Vrydag se gebede, wat deur Al-Aqsa televisie gebeeldsend is, gesê: “Binnekort, soos voorspel deur ons profeet Mohammed, as Alla wil, sal Rome verower wees net soos Konstantinopel was”. Al-Astal het voorspel dat Rome, Europa, en uiteindelik die hele wêreld, onderworpe sal wees aan “verowerings deur dawa[proselitisering of te wel bekeringswerk] en selfs militêre verowerings”.

Westerlinge het gewoond geraak om na vreemde en buitensporige grootpratery van waansinnige fanatici in die Midde-Ooste te luister, dus is dit te verstane dat die meeste mense uitlatings soos dié van Yunis Al-Astal nie ernstig opneem nie. Moontlik behoort hulle dit egter hierdie keer wel te doen!

Bestuurskundige Stephen Covey haal dikwels ’n ou gesegde aan: “Dit wat ons die graagste wil hê, glo ons die maklikste”. Mense wil gewoonlik graag glo dat alles wel is en dat alles op die einde goed sal uitwerk. Wat gebeur egter as die feite nie ooreenstem met wat ons graag wil glo nie? Yunis Al-Astal en baie ander mense soos hy, glo aan ’n wêreldbeskouing wat baie meer algemeen – meer geloofwaardig, meer kragtig en meer gevaarlik – is as wat baie Westerlinge graag wil glo. Indien die Weste egter nie nou gaan optree in reaksie op die bedreiging wat hierdie wêreldbeskouing inhou nie, sal sy waardes en sy toekoms moontlik binnekort verander word deur die gevolge van hierdie stille krisis wat nou ontwikkel in Europa se babakamers.

Europa, net soos Israel, ervaar tans ’n demografiese krisis. Eenvoudig gestel, Europa – of meer korrek, Europeërs – is besig om uit die besigheid te gaan! Etniese Franse, Duitsers, Grieke en Italianers produseer nie genoeg kinders om die bevolkings van hul nasies in stand te hou nie. Intussen produseer Moslemse families babas met die groeikrag wat die Europeërs en Noord-Amerikaners eens gehad het. Dit beteken dat namate die nuwe, ontluikende bevolkings groei, hulle godsdiens en kulture sal bots met die bestaande Europese orde – maar een kant sal aan die opkoms wees en nuwe kiesers met elke verkiesing bykry, terwyl die ander kant op die verdediging sal wees en gedwing sal word om die realiteit van hul uiteindelike ondergang in die gesig te staar!

Europese leiers besef dat hulle etniese en godsdienstige erfenis bedreig word. Skrywer Mark Steyn maak ons attent daarop dat hierdie feit nie by Kardinaal Josef Ratzinger verbygegaan het toe hy sy naam vir die pousdom gekies het as Benedict XVI nie. St. Benedict, gebore in Umbrië in 480, was die man wat deur die Donker Eeue heen, verseker het dat die lewensnoodsaaklike elemente van die Romeinse en Griekse beskawing bewaar gebly het, en deur dit met Christelikheid te verenig, het hulle in ’n nuwer en sterker vorm ontluik: ’n Basis vir die Europese en Westerse beskawing. Met verwysing na sy naamgenoot, het Pous Benedict XVI een keer ’n Benediktynse leuse aangehaal: ‘Succisa virescit’. Gesnoei, groei dit weer” (America Alone, bl. 126).

Terwyl hy ’n skare wat byeengekom het om die 850ste herdenking van die beroemde Oostenrykse heiligdom, bekend as Mariazell, te vier, het die pous, wat hy “die krisis van Europa” genoem het, bespreek. In sy kanselrede het hy die morele relativisme van postmodernisme uitgekryt as “’n gesindheid van gelatenheid ten opsigte van die waarheid” en bygevoeg: “Ek is daarvan oortuig dat dit na aan die hart van die krisis van die Weste, die krisis van Europa, lê. Indien die waarheid nie vir ’n mens bestaan nie, dan kan hy ook nie uiteindelik tussen goed en kwaad onderskei nie”.

Benedict het verder voor die 30 000 getroues wat die koue en reën trotseer het om na hom te luister, een besondere manifestasie van die krisis in die Weste verklaar: “Europa het kind-arm geword. Ons wil alles vir onsself hê en plaas min vertroue in die toekoms” (Reuters, 8 September 2007).

Hoe kind-arm is Europa?

Demograwe vertel ons dat dit gemiddeld 2.1 geboortes per vrou neem net om ’n land se bevolking te handhaaf. Nogtans is die gemiddelde geboortesyfer in Europa tans net 1.38! Dit beteken Europa se bevolking raak ouer, met te min kinders wat gebore word om die ontsaglike maatskaplike stelsel te ondersteun wat Europeërs as vanselfsprekend begin aanvaar het.

Lae geboortesyfers is egter nie oral ’n probleem nie. Vrouens in Nigerië gee geboorte aan gemiddeld 7.46 kinders. In Mali, Somalië, Afganistan en Yemen is die syfers respektiewelik 7.42, 6.76, 6.69 en 6.58 (Steyn, bl. 10). Hierdie lande het ook iets anders as hoë geboortesyfers in gemeen – hulle is almal oorwegend Moslems en hulle het jong mense in oorvloed.

Wanneer ’n nasie in gebreke bly om hulself te reproduseer, dan moet hulle óf uitsterf óf immigrasie oorweeg. Dít is die pad wat Kanada gekies het; een uit elke drie inwoners van Ontario, Kanada se mees digbevolkte provinsie, is nie in Kanada gebore nie. Oor die land heen is een uit elke vyf Kanadese nie in Kanada gebore nie. Dit is ’n seismiese kulturele verskuiwing wat ernstige komplikasies vir die toekoms inhou.

Soortgelyk is in Europa 9% van diegene wat in Duitsland woon, burgers van ’n ander land. Die grootste groep immigrante na Duitsland is by verre Moslems uit Turkye. In Frankryk is die grootste groep immigrante Moslems uit Algerië, Marokko en Tunisië.

Italianers was histories bekend vir hulle groot gesinne. Dit het egter in die afgelope jare verander. Een BBC verslag beskryf ’n droewige prentjie vir die nasie: “In Italië is die geboortesyfer van die laagste op die kontinent ... die statistieke is onweerlegbaar; te min mense in Italië het gesinne. ’n Onlangse verslag van die Verenigde Volke gee ’n slegter projeksie vir Italië as die Italiaanse kundiges self en het alarm gemaak in Rome – in die volgende 50 jaar sal die bevolking na verwagting krimp van 57 miljoen na 41 miljoen. Sonder ‘vervangende immigrasie’, soos dit genoem word, sal dit nodig wees om die aftree-ouderdom op te skuif na 77 jaar, ten einde die verhouding van vier werkers vir elke pensioenaris te handhaaf” (“Italy: Immigration or extinction”, BBC News, 19 April 2000).

Waar moet sodanige “vervangende immigrasie” egter vandaan kom? Sekerlik nie van ander nasies met dalende geboortesyfers nie. Die scenario van ’n “Islamitiese Rome” wat deur die Palestynse geestelike, Al-Astal, geskets is, is dus glad nie so vergesog nie!

Uitdying van jongelinge en die geskiedenis

Gunnar Heinsohn, ’n sosioloog aan Bremen Universiteit in Duitsland, het oor die onderwerp “bevolking-uitdying” – ook bekend as “uitdying van jongelinge of jongmense” – geskryf. In ’n lesing van Augustus 2005, onder die opskrif: “Bevolking, Verowering en Terreur in die 21ste Eeu”, het Heinsohn die geskiedenis nagevors vanaf 1400 n.C. tot op hede. Nadat dit deur die 15de eeu heen verwoes was deur herhaalde uitbrake van builepes, het Europa ’n era van bevolkingsontploffing betree wat implikasies vir ons hele planeet ingehou het.

Die teorie van “uitdying van jongmense” lui dat wanneer ’n nasie ’n ooraanbod van 15 to 29 jariges het (wat beskou word as die ideale ouderdom vir militêre diens), dan wend hulle hul óf tot interne revolusie en burgeroorlog, óf tot buitelandse verowerings. Europa het die laaste rigting gekies en 90% van die wêreld gekoloniseer gedurende hierdie tydperk van uitbreiding.

Die Europese bevolkingsontploffing wat rondom 1500 begin het, het nie afgeplat voor die vroeëre deel van die 20ste eeu nie. Heinsohn het opgemerk dat daar in 1500 wêreldwyd, vir elke 1 000 mans tussen die ouderdomme van 15-29, ongeveer 100 uit Europa afkomstig was. Teen 1914 was 350 uit elke 1 000 óf uit Europa afkomstig, óf van Europese oorsprong.

Deesdae het daardie neiging omgeswaai. Europese geboortesyfers is van die laagste in die wêreld, maar daar is ’n oplewing in die geboortesyfer van babas in Moslemlande. Tussen 1930 en 2005 het Pakistan se bevolking gegroei van 23 miljoen tot 163 miljoen, waar die gemiddelde vrou vier tot ses kinders het. Vergelyk dit met Duitsland se laer as vervangende syfer van slegs 1.3. Soos Heinsohn opmerk: “Die Islamitiese “jeuguitdying” is werklik geweldig. Van [die 15 miljoen] manlike Afgane, is 7 miljoen onder die ouderdom van 15 jaar. Elke jaar bereik 350 000 Afgane veg-ouderdom ... sedert 1945 het elke Afgaanse vader wat opgehou het om te veg, sy onvoltooide werk aan drie of vier seuns nagelaat. Sedert 1945 het die bevolking van Afganistan gespring van 8 tot 30 miljoen”.

Al-Astal se vrypostige voorspelling van ’n Islamitiese Rome mag aan die begin verregaande klink, maar wanneer ons na die demografie en geskiedenis kyk, is die feite aan sy kant! Westerse sekulariste mag dit wel moeilik vind om te erken dat hulle kosbare wêreldbeskouing vervang kan word deur ’n ideologie so radikaal anders as Islam, maar dit is inderdaad wat die feite ons meedeel – ten minste so bolangs.

Is ’n Islamitiese wêreld egter werklik die toekoms? Wag daar dalk verrassings langs die pad wat nóg die Moslem geestelikes, nóg die sekulêre ontleders kan vooruitsien?

Die goeie nuus is dat Al-Astal verkeerd is, daar sal geen Moslem verowering van die hele wêreld wees nie. Die slegte nuus is dat daar ’n tyd van wêreldwye oorlog voorlê en dit sal ongeëwenaarde lyding oor ons planeet bring. Genadiglik is daar goeie nuus ná die slegtes. Die toekomstige tyd van lyding sal eindig met die Wederkoms van Jesus Christus en die vestiging van Sy Koninkryk op die planeet Aarde.

Voor Christus se Wederkoms sal die wêreld egter tot ’n breekpunt kom – ’n ontploffingspunt wat lank gelede geprofeteer is. ’n Botsing van gelowe en beskawings is in wording. Wanneer die ontbrandingspunt kom, sal daar groter rampspoed wees as wat enige mens kan indink. Soos lesers wat die Wêreld van Môre lank reeds lees weet, voorspel Bybelse profesieë duidelik wêreldveranderende oorloë aan die einde van hierdie tydvak, in vergelyking waarmee die konflikte van die 20ste eeu onbeduidend sal wees. Godsdiens sal ’n groot rol speel in wat aan die kom is!

Die rit van die vier perderuiters

In Openbaring 6 beskryf die Bybel vier “perderuiters” wie se ritte verskriklike verwoesting op ons wêreld sal aanrig. Die apostel Johannes beskryf die opening van die eerste seël van die misterieuse perkamentrol wat hy in ’n visioen gesien het: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (vers 2).

Die meeste Bybelse kommentators aanvaar dat hierdie perd simbolies is van Christus of Christelikheid wat uitgaan om te oorwin. Die boog in die ruiter se hand pas egter nie by ander Bybelse beskrywings van Jesus Christus nie en die idee dat hierdie ruiter Christus is, pas nie by die konteks van die volgende drie perde nie, hulle beeld oorlog, hongersnood en pessiektes uit, wat baie duidelik verskriklike verwoesting op die aarde sal aanrig. Die belangrikste is dat Jesus Self die betekenis van Johannes se visioen openbaar (Openbaring 1:1; 5:5) en in die “Olyfberg predikasie” beskryf Hy duidelik die tweede, derde en vierde perderuiters in presies dieselfde volgorde (Mattheüs 24:6-7). Die vierde perd van Openbaring 6 word gevolg deur verdrukking in presies dieselfde volgorde as in Mattheüs 24:9.

Dus, die vraag wat oorbly is: Wat verteenwoordig die eerste perderuiter? Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het Sy dissipels Hom gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Hy het reageer deur hulle te waarsku teen wat sou kom voor die geprofeteerde oorloë, hongersnood en siekte-epidemies (die tweede, derde en vierde perde in Openbaring 6): “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (verse 4-5).

Eenvoudig gestel, hierdie eerste perderuiter lyk na Jesus Christus, maar verteenwoordig vals Christusse of vals messiasse! Jesus sê aan ons dat voor die geprofeteerde eindtydse oorloë, hongersnode en pessiektes, ons ’n opwelling van valse redders sal beleef – insluitende baie wat daarop aanspraak sal maak dat hulle Christus volg.

Vals godsdiens sal die verhoog gereed kry vir die geprofeteerde oorloë, hongersnood en siekte-epidemies waarin miljarde mense sal sterf. Op een stadium sal ’n leër van 200 000 000 soldate ’n volle derde van die mensdom doodmaak! (Openbaring 9:12-18). Dit is nie die gevolg van akkurate aanvalle deur “slim bomme” nie. Dit sal uit-en-uit ’n alles is toelaatbaar, veg-tot-die-dood, die wenner-neem-alles oorlogvoering wees!

Oorgeruste Westerlinge, veilig in hulle gerieflike denkwyse, mag glo (of hoop) dat so ’n onheil nie moontlik kan voorkom in ons moderne, verligte, beskaafde wêreld nie. Oorweeg egter die keuses wat Israel en Europa binnekort onder oë sal moet neem. Hulle sal óf hulle godsdiens, kultuur en nasionale erfenis moet prysgee – in werklikheid ophou om te bestaan – óf hulle sal ’n paar baie onaangename en drastiese stappe moet neem. Dit is ondenkbaar dat die Joodse staat stilweg die mag sal oorgee aan interne vyande wat openlik begeer om Israel vernietig te sien. Israel se Joodse leiers sal Israel bo demokrasie kies.

Sal die Arabiere dit gedwee aanvaar? Heelwaarskynlik nie. Die Bybel beskryf duidelik ’n gebeurtenis sal plaasvind wat gaan veroorsaak dat “al die nasies van die aarde” die Joodse staat sal omsingel en daarteen sal veg (Sagaria 12:2-3, 14:1-2). Ons weet nog nie presies wat hierdie konflik sal veroorsaak nie, maar ons weet dat Israel rede het om sy Midde-Oosterse bure te vrees wat kernwapens en ander wapens van massa-vernietiging bekom. Versuim om so ’n bedreiging suksesvol te ontlont terwyl daar nog tyd is om op te tree, sal sekerlik tot ’n geprofeteerde konfrontasie lei – ’n konfrontasie wat demograwe voorstel nie meer as 10-20 jaar weg is nie, teen welke tyd Israelse Arabiere die demografiese meerderheid sou verkry wat hulle dan in staat sal stel om Israel by die stembus te verslaan.

Twee opponerende konings

Net soos Bybel profesieë openbaar dat Israel uiteindelik nie voor die Arabiere sal val nie, so weerlê dit ook die idee dat daar ’n eindtydse Islamitiese oorname van Europa sal wees. In werklikheid vertel die Skrif aan ons dat presies die teenoorgestelde sal gebeur. Daniël 11 beskryf tot in die fynste besonderhede twee magsblokke wat deur die eeue heen gebots het. Hulle word die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide” genoem.

Daniël se merkwaardige profesie strek die hele pad tot aan die einde van die mensdom se wanbestuur van die aarde. “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei” (Daniël 11:40). Die Skrif impliseer dat die koning van die Suide iewers suid van Jerusalem woon, in die algemene rigting van Egipte, Noord-Afrika en Saoedi-Arabië.

Hierdie konflik wat tussen Europa en die Midde-Oosterse magte sal begin, sal vinnig versprei om Asiatiese magte te betrek (vers 44).

Die Bybel sê aan ons dat nóg Europa, nóg Israel hulle gedwee aan die demografiese krisis sal onderwerp – en hulle tyd raak min om op te tree. Ons kan verseker wees dat ons nou gewigtige tye tegemoetgaan wanneer nasies en groepe nasies gedwonge sal voel om op te tree op wyses wat teenstrydig is met wat hulle harte en lank-gekoesterde waardes hulle nou lei om te glo moontlik is.

Daar is goeie nuus anderkant die naderende demografiese krisis, maar menslike wesens sal eers ’n paar baie pynlike lesse moet leer. ’n Botsing van kulture, godsdienste en nasies wag net agter die horison, net soos dit in die bladsye van die Bybel geprofeteer word. Terwyl geen mens die dag of die uur van Christus se Wederkoms kan weet nie, word ons vertel: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:32-34).