Van Keiser na Konstantyn na ... Kalifaat? Wat kan die Skrif en die geskiedenis ons leer oor Europa se toekoms en die opkoms van Islam in die Weste?


Sal radikale Islam Europa verander? Gedurende die afgelope twee dekades het Europa deur verrykende veranderings gegaan, met die vorming van die 27-nasie Europese Unie en die instelling van ’n gemene geldeenheid, die euro. Die Europese Unie is nou egter in gevaar om te ontbind en die toekoms van sy eens-magtige geldeenheid word bevraagteken.

’n Aantal EU nasies se ekonomië verkeer onder druk as gevolg van onbeheerde tekorte. Dit het vereis dat van die ander EU nasies, hoofsaaklik Duitsland, vir hulle moes borgstaan. Duitsland het egter ingestem om net te help indien ’n sterker sentrale Europese regering beheer kan hê oor die fiskale beursie van die verkwistende lande. Die Duitsers wil nie hê dat die vrugte van hul swaarverdiende produktiwiteit spandeer word ter ondersteuning van die belastingoorspandering van ander Europese nasies nie.

Die gevolg is dat Europa voortgaan om verdeel te wees volgens kulturele, ekonomiese en nasionalistiese lyne, wat groot spanning meebring binne hierdie merkwaardige gemeenskap van nasies. Europa staan op ’n kruispad.

Dit was ’n lang en moeilike taak om die Europese Unie te vorm en Europeërs het groot veranderings aanvaar om te kan saamsnoer as die EU. Dit sal egter nog baie meer verg om hul gemeenskaplike bestemming te bereik. Wat sal dit verg om hierdie dwarstrekkende nasies saam te snoer as ’n magtige federale unie?

Teen hierdie agtergrond ervaar Europa tans ’n ongeëwenaarde demografiese verandering. Die kontinent wat lank reeds ’n bastion was vir belydende Christendom, het die tuiste geword van toenemende getalle Moslem immigrante wat uit hul geboortelande gevlug het in die hoop om deel te hê aan Europa se welvaart.

Wat hou hierdie veranderings vir Europa in? Die Skrif sê aan ons dat selfs groter veranderings voorlê in die relatief-nabye toekoms. Wat behels daardie verandering egter, en hoe sal dit gebeur?

Geskiedenis maak saak!

Europa se huidige kultuur het nie uit die lug geval nie. ’n Nasie se kultuur spruit grootliks voort uit sy geskiedenis. Die nasies van Europa deel ’n gemeenskaplike fondament wat terugdateer na die 4de eeu n.C., toe Keiser Konstantyn die Romeinse Ryk “gekersten” het. Sedertdien was Rooms-Katolisisme die staatskerk van baie Europese nasies, hoewel die kerk-staat verhouding dikwels ingewikkeld en omstrede was.

Dit sal moeilik wees om die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk op Europese geskiedenis oor te beklemtoon. Pous Johannes Paulus II, wat die Rooms-Katolieke Kerk beskou het as die gom wat al die verskillende kulture van Europa saamgebind het, verklaar: “Die geskiedenis van die vorming van die Europese Nasies hou tred met hul evangelisering. Derhalwe, ten spyte van die geestelike krisisse wat die lewe van die kontinent in ons dag kenmerk, sal sy identiteit onverstaanbaar wees sonder Christelikheid... Slegs ’n Europa wat sy Christelike wortels nie verwerp nie maar dit herontdek, sal in staat wees om die uitdagings van die derde millennium die hoof te bied; Vrede, interkulturele en intergodsdienstige dialoog, die beveiliging van die skepping. Dit word van almal uit die Europese Weste en Ooste, wat in Christus glo, verwag om hul eie bydrae te lewer deur openlike en opregte ekumeniese samewerking” (Regina Caeli, 2 Mei 2004).

Ekumeniese samewerking? Geen verrassing nie, in die Vatikaan se oogpunt van die ekumeniese beweging, lei alle paaie na Rome!

Pous Benediktus XVI het sy voorganger se tema uitgebrei deur te beweer dat die blote begrip van Europa nie sou bestaan in die geskiedenis of die hede, behalwe vir die belydende Christendom nie. Voordat Kardinaal Josef Ratzinger verhef is tot die pousdom, het hy geskryf: “Europa is nie ’n kontinent wat netjies in geografiese terme verstaan kan word nie; dit is eerder ’n kulturele en historiese begrip” (Europe Today and Tomorrow, bl. 11). Benediktus beskou die wortels van die begrip Europa as sou dit teruggaan tot by die instelling van die Heilige Romeinse Ryk in die 8ste eeu n.C., onder Karel die Grote. Karel die Grote word dikwels “Die Vader van Europa” genoem.

’n Antieke droom

Die boek Daniël vertel van Koning Nebukadnésar van Babel se droom van ’n groot beeld en dat Daniël ingeroep was om dit uit te lê. Daniël antwoord soos God aan hom openbaar het: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. ... U, o koning ... is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u [Mede-Perse]; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper [Griekeland], wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk [die Romeinse Ryk en sy herlewings] sal hard wees soos yster ... Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie ... net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (Daniël 2:31-45).

Dit is interessant dat Kardinaal Ratzinger ’n mate van begrip gehad het van die belangrikheid van hierdie beeldspraak. Toe hy oor die Europa van die Middeleeue geskryf het, merk hy op: “Die konseptuele voortsetting ... was verseker deur ’n teologiese interpretasie van geskiedenis: In verband met die boek Daniël was die Romeinse Ryk – vernuwe en verander deur die Christelike geloof – beskou as die finale en permanente koninkryk in die geskiedenis van die wêreld in die algemeen en derhalwe was die verbintenis van volke en state wat tot stand gekom het, omskryf as die permanente Sacrum Imperium Romanum [Heilige Romeinse Ryk]” (ibid., bl. 13).

Sy analise gee natuurlik nie die volle betekenis van hierdie beeldspraak weer nie. Nogtans, toe hy na die twee bene van yster van Daniël 2 se beeld verwys het, het die huidige pous daarop gewys dat selfs die Rooms-Katolieke Kerk in die verlede erken het dat die Romeinse Ryk en die opvolger daarvan, as die sogenaamde “Heilige Romeinse Ryk”, uitgebeeld word in Nebukadnésar se droom.

Hy het ook na die beeld se twee bene verwys as ’n voortsetting van die begrip van Europa, afgesien van dié se geografie: “Ons kan die opkoms van die Karolingiese [Karel die Grote] se ryk aan die een kant [die westelike been] en die voortsetting van die Romeinse Ryk in Bisantium en dié se missie aan die Slawiese volke aan die ander kant [die oostelike been] as die ware en eintlike geboorte van die kontinent van Europa beskou ...” (ibid., bl. 17). In sy uiteensetting verteenwoordig die twee “bene” van die ryk die grondslag van die geografiese begrip van Europa en hy het ook ’n punt.

Verder: “Voor die moderne era het die twee helftes van ou Europa slegs een teenstander geken waarmee dit te kampe gehad het in ’n stryd van lewe of dood, die Islamitiese wêreld” (ibid., bl. 22). Weerstand teen Islamitiese oorheersing het grootliks bygedra tot die gemene identiteit van Europa omdat dit die Europeërs gehelp het om te dink dat “die kontinent van Europa” ’n gemeenskaplike lot gehad het om die Kalifaat te opponeer, wat vir meer as ’n duisend jaar probeer het om Europa te oorwin.

Benediktus herinner ons ook daaraan dat hierdie Rooms-Katolieke kloosterlewe “die noodsaaklike borg gebly het, nie slegs van kulturele voortsetting nie maar bo alles, van fundamentele godsdienstige en sedelike waardes, van die mens se bewustheid van sy uiteindelike lotsbestemming; en as ’n krag wat eerste kom en verhewe is bo politieke gesag, dit het die bron geword van die hergeboortes wat weer en weer nodig geword het” (ibid., bl. 15).

Vir Benediktus is “Europa” onafskeidbaar van “Christelikheid” – die instelling wat volgens sy siening, die kontinent omskryf, ontwikkel en beskerm het en dit gemaak het wat dit vandag is. Hy redeneer dat Europa nie lank daarsonder sal kan voortbestaan nie. Tans, terwyl die kontinent hernude aanslae van Islam in die gesig staar, begin baie magtige Europeërs tot dieselfde slotsom kom en hulle wil hê dat die Europese Unie konstitusioneel as “Christelik” omskryf moet word.

Die krisis van sekularisme

Daar is egter ’n opponerende beweging in Europa: Sekularisme. Die Franse is sterk ten gunste van ’n suiwer wêreldlike gemeenskap en hulle het selfs ’n woord daarvoor: “Laïcité”. Die woord stem ooreen met “Laicism” in Engels en beide word afgelei van die Griekse woord laikos, wat “van die mense” beteken. ’n Samelewing wat onder hierdie model georganiseer is, verplaas godsdiens streng na private lewe, soos dat godsdienstige perspektiewe op gedrag en sedelikheid nie in die openbare sfeer geuiter mag word nie. Hierdie wêreldlike of laïstiese model raak meer en meer bekend aan Amerikaners wat sien dat hul howe openbare vertoning van die Tien Gebooie beperk en gebed in openbare skole verbied. Ver daarvan om godsdienstig-neutraal te wees, kom laïsisme dikwels voor as deur en deur vyandiggesind teenoor uitings van Judeo-Christelike beginsels en gebruike wat vir eeue lank as normatief aanvaar was in die Verenigde State, Groot Brittanje en ander Westerse nasies.

In Benediktus se kritiek op laïsisme het hy opgemerk dat die staat wat geen aanspraak maak op enige godsdienstige gesag nie, “beweer dat dit uitsluitlik gefundeer is op rede en eie intuïsies. Wanneer dit gekonfronteer word met die onbetroubaarheid van rede, het hierdie stelsels bewys dat dit swak is en maklik die prooi geword  van diktatorskappe; hulle oorleef eintlik slegs omdat dele van die ou sedelike bewustheid bly voortbestaan, selfs sonder die voorafgaande maatskaplike grondslag, wat daardeur ’n basiese sedelike konsensus moontlik maak” (ibid., bl. 26).

’n Staat se wette gee uiting aan sy begrip van sedelikheid. Indien ’n gemeenskap dit as “verkeerd” beskou om banke te beroof of oor rooi ligte te ry, dan stel dit wette in om sodanige handelinge te straf. ’n Wêreldlike of laïstiese staat kan, by definisie, nie wette maak vir godsdienstige moraliteit nie; dus is die vraag: “Wie se sedelikheid sal in sy wette weerspieël word?”

Die EU is amptelik ’n sekulêre of wêreldlike staat. In ’n nuwe godsdienstige omgewing waar al hoe meer Europeërs probeer om hul Moslem-geloof te beoefen, kan al die gelowe egter geakkommodeer word in ’n sekulêre raamwerk? Of sal toegeeflikheid teenoor Islam eeue van Europese waardes ondermyn?

Op die pad na federale eenheid

Die spanning tussen sekulêre en Katolieke dryfkragte in Europa skyn hardnekkig te wees. Wat kan hierdie twee teenstrydige sienings verenig? Kan die EU ooit werklik polities en ekonomies verenig word met ’n sentrale federale regering? Voordat volle eenheid bewerkstellig kan word, moet twee skanse eers afgebreek word.

Die eerste kwessie is ekonomiese beheer. Tot onlangs, het EU nasies fiskale outonomie binne die EU raamwerk geniet. Indiwiduele nasies se regerings het besluit hoe hulle hul mense gaan belas en hoe hulle die inkomste gaan spandeer. As gevolg van ’n gemene geldeenheid, het uitleners aanvaar dat daar ’n vanselfsprekende EU waarborg vir alle soewereine skuld van die onderskeie EU nasies is. Gevolglik het ekonomiese swak nasies soos Portugal, Italië, Ierland Griekeland en Spanje (wat in Engels gesamentlik die “PIIGS” nasies genoem word) meer ruimskoots maatskaplike dienste en pensioenvoordele voorsien as wat hulle werklik kon bekostig – wat tot nie-volhoubare tekorte en skuldvlakke gelei het. Die dreigende soewereine wanbetalings het nie slegs die lewensvatbaarheid van die euro bedreig nie, maar ook van die EU self, totdat Duitsland – die “kragreus van Europa” – ’n plan deurgedruk het om ’n borgskap te finansier in ruil vir groter Duitse invloed oor die EU se fiskale beleid. Van nou af sal daar baie meer sentrale toesig en beheer wees oor die verskillende EU nasies se spandering. Die ekonomiese onafhanklikheid van die EU nasies is effektief afgebreek. Hulle gemene geldeenheid, die euro, vestig ’n gesamentlike ekonomiese lot vir almal binne die EU. Dit het egter ’n groot ekonomiese krisis gekos om dit te vermag. Meer krisisse mag meer vermag.

Die tweede kwessie is nasionalisme. Indien u in Parys, Frankryk woon, sal u aan uself dink as ’n Fransman of as ’n Europeër? Behoort inwoners van Milaan eerstens aan hulself te dink as Italianers en daarna as Europeërs? Die groot meerderheid inwoners van die EU klou nog steeds vas aan hul nasionale identiteit eerder as aan hul identiteit as Europeërs. Die EU is ’n fiskale en politieke entiteit, nie ’n nasionale identiteit nie. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie. Voor die Amerikaanse Burgeroorlog van 1861-65, byvoorbeeld, het baie burgers aan hulself gedink as eerstens inwoners van hul eie staat (bv. “Virginiane”) en slegs daarna as “Amerikaners”. Dit het ’n vernietigende oorlog gekos om miljoene Amerikaners te oortuig dat die indiwiduele state ’n gemeenskaplike lot as een nasie deel en dat hulle identiteit as Amerikaners eerste moet kom.

Wat kon die nasionalisme en eiebelang van die indiwiduele EU lande oorkom en hulle verenig in ’n kragreus wat die wêreld sal ruk? Wat kon die voorstanders van ’n “Christelike Europa” aanspoor om gemeenskaplike gronde te vind met die laïste wat ’n sekulêre Europa wou hê? Wat kan die uiteenlopende volke van die EU ’n gevoel gee dat hulle ’n gemeenskaplike belang en gemeenskaplike lot deel?

Die Islamitiese bedreiging

Na Mohammed se dood in 632 n.C. het die Islamitiese Kalifaat sy heerskappy uitgebrei regoor die Midde-Ooste en Noord-Afrika. In 711 n.C. het Islamitiese magte  Spanje binnegeval, dit verower en tot diep in Frankryk ingedring. Op sy plundertog na Parys, is al-Rahman se Moslem-leër uiteindelik in 732 n.C. in Frankryk gestuit deur die Rooms-Katolieke leër van Charles Martel met die “Battle of Tours” en Europese Katolisisme het behoue gebly.

Ten spyte van hierdie terugslag het die Kalifaat groot dele van Westelike Europa verower en vir eeue daaroor geheers, insluitend suidelike Italië en Sicilië, sowel as Spanje en dele van Frankryk. Later het Moslem-leërs Europa vanuit die Ooste binnegeval en gevorder tot by Wenen, Oostenryk – setel van die Heilige Romeinse Ryk – wat drie maal aangeval was, maar nooit oorwin kon word nie. Katolieke magte het by Granada, Spanje, die laaste Moslem-vesting in Europa in 1492 oorwin. Na 1718, met Hongarye se onafhanklikheid van Ottomaanse oorheersing, het die Kalifaat egter uiteindelik uit Oostelike Europa onttrek, wat ’n einde gebring het aan meer as ’n duisend jaar van oorloë.

Europa was vir byna 300 jaar nie gekonfronteer deur ’n dreigende Moslemse inval nie – ’n bedreiging wat deur die Middeleeue heen gelei het tot die vorming van ’n gedeelde Europese identiteit. Nou is daar egter weer ’n waarneembare Islamitiese bedreiging namate Moslemse ekstremiste aandring op ’n “heilige oorlog” en herstel van die Kalifaat. Net soos baie ander Europese leiers, glo Pous Benediktus ook dat Europa nie sal oorleef sonder ’n terugkeer na die kontinent se kulturele en godsdienstige wortels nie. Is daar enige ander bedreiging, afgesien van radikale Islam, wat Europa se sekulariste en godsdienstiges kan verenig?

’n Blik op die toekoms

Europa se geskiedenis kan ons help om die huidige gebeure te verstaan, maar vandag se gebeure kan verder toegelig word deur die “toekomstige geskiedenis” wat in Bybelse profesieë opgeteken is. God deel aan ons die nuus mee voordat dit gebeur. Gevolglik kan gelowiges huidige gebeure verstaan in die konteks van die volledige panorama van die geskiedenis.

Met ’n duisend jaar van invalle en besettings wat terugdateer na die agtste eeu, het Islam ’n lang geskiedenis as strategiese bedreiging vir Europa. Anders as die Amerikaners, het Europeërs – op Europese grondgebied – eeue van oorloë met Moslems verduur. Europeërs begin stadig besef, gegewe die geskiedenis van djihad in Europa, dat ’n herstelde Islamitiese Kalifaat in die Midde-Ooste weer ’n strategiese bedreiging vir die kontinent sal inhou.

Islamiete herinner Europeërs inderdaad openlik aan hierdie bedreiging. Iran se President, Mahmoud Ahmadinejad, het die EU in 2006 geskok toe hy in die openbaar aangekondig het: “Ons het die Europeërs geadviseer dat Amerika ver weg is, maar julle is die bure van hierdie streek se nasies. Ons herinner julle daaraan dat die nasies soos ’n oseaan is wat opwel en indien ’n storm sou losbars, sal die omvang nie beperk bly tot Palestina nie en julle mag seerkry. Dit is in julle eie belang om julle te distansieer van daardie misdadigers [Israel]. Dit is ’n ultimatum” (“Ahmadinejad Does Europe”, Wall Street Journal, 24 Oktober 2006, bl. A18). Daar is geen bewys dat President Ahmadinejad van opinie verander het nie en hy kan moontlik binnekort oor kernwapens beskik. Suid van Ahmadinejad eis baie Moslems regoor die Arabiese Skiereiland en in Noord-Afrika, ’n terugkeer na Islamitiese wette. Ahmadinejad, ’n Shi’ite Moslem van Persiese oorsprong, sal nie maklik die oorgrote meerderheid Moslems wat die Sunni tak van Islam aanhang en ’n Arabiese voorgeslag deel, saamsnoer nie. Die waarskuwing wat Ahmadinejad gerig het, is werklik en voorspel ’n groeiende neiging tot Moslemse eenheid wat, volgens die Skrif, sal lei tot ’n eindtydse konfederasie van nasies.

Die profeet Daniël voorspel dat ’n konflik sal opvlam net voor die wederkoms van die Messias. In hoofstuk 11 van Daniël begin die profeet die geskiedenis vertel van antieke leiers wat geveg het om beheer oor die gebied rondom Jerusalem. Konings van die noorde het geveg teen konings van die suide. Dan, vanaf vers 40 en verder, beklemtoon Daniël se profesie “die tyd van die einde” – ons onmiddellike toekoms – waar ’n heerser suid van Jerusalem, sal opkom en magtig word. Hy sal ’n noordelike moondheid aanval of “met hom in botsing kom”. Bybelse profesie toon dat dit ’n Europese moondheid sal wees – die opvolger van die Romeinse Ryk.

Miljoene Europeërs is nou bevrees dat Islam hul nasies van binne af sal verander. Soos ons egter gesien het, openbaar Bybelse profesieë dat dit Islam se rol is om Europa van buite af te verander – om dit saam te snoer sodat dit ’n profetiese rol kan vervul in die eindtydse gebeure wat sal lei tot die Messias, Jesus Christus, se wederkoms. Hou aan om Die Wêreld van Môre te lees, terwyl ons toekyk hoe hierdie verwikkelinge ontvou. Die Wêreld van Môre verduidelik dit alles in die lig van Bybelse profesieë (Mattheüs 24:42).