Wat voorheen as skandelike taal beskou was het eenvoudig algemeen geword. Wat weerspieël aanstootlike taalgebruik egter regtig vir diegene wat dit aanhoor?

Aanstootlike taal – die eerste uitweg van die ongeletterde persoon. Tog is ons in die middel van ’n gekruide taal-epidemie. Die gebruik van growwe taal in algemene gesprekke het van die skeepswerf na televisienuus verskuif en dit het die nuwe “normaal” geword. In die verlede sou mens soms hoor dat ’n president partymaal ’n bietjie “gekruide” taal in die openbaar gebruik. Vandag bemors prominente politieke figure egter hulle toesprake met onwelvoeglikhede wat nooit voorheen in die openbaar uitgespreek sou word nie.

Rolprente en TV-programme peper die kyker met onsmaaklike verwysings en “vier-letter woorde” asof sulke taal alledaags behoort te wees. Die media “poleer” dikwels growwe besprekings om dit “cool” en selfs gesofistikeerd te laat lyk. Dit is ’n standaard gebruik op laataand-televisie en die platvloerse aanbieders is dikwels die gewilde groep. Ordentlikheid word afgekraak.

Vir eeue lank het individue hier en daar kragwoorde en onbetaamlike taal in hulle toesprake en gesprekvoering gebruik om klem te plaas op hulle uitsprake. Alhoewel enigiemand kan kies om onwelvoeglike taal te gebruik, doen die beste sprekers dit selde, behalwe in ’n toevallige onbewaakte oomblik. Diegene wat oor ’n goeie woordeskat en skerp verstand beskik, vermy dit omdat hulle taalvaardighede heeltemal voldoende sonder enige kragwoorde is.

Nie almal wat na onwelvoeglike taal luister dink dit is “cool” nie en in werklikheid dink baie mense dit is nie. Mense mag verdraagsaam luister, maar wat hulle dink, word waarskynlik nie opgemerk deur die spreker nie. Hulle kan dit afstootlik vind en ongemaklik voel, maar stil bly en is onwillig om die spreker daaroor te konfronteer. Intussen is hulle opinie van die platvloerse persoon na die maan: Kru taal, growwe persoon. Trouens, wie wil regtig toelaat dat hulle ore beledig word deur vloektaal wat godslastering, ontlasting en hoerery insluit?

Wat van die luisteraar?

Sommige vroulike skrywers beskou die gebruik van liederlike woorde as die vertoon van manlike mag en beweer dat daar ’n “dubbele standaard” vir die gebruik van kragwoorde is. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat alle vroue net so platvloers soos sommige mans behoort te wees. ’n Skrywer van ’n prominente vrouetydskrif beweer (vloekwoorde uitgelaat):

Vloektaal is kragtig ... gekruide taal trek aandag en in sommige opsigte verdien dit selfs ’n mate van respek. Navorsing toon byvoorbeeld dat vloektaal beskou word as ’n teken van opregtheid, eerlikheid en toewyding. Maar – en dit is ’n groot maar – dit werk verseker net indien dit ’n man is. Indien dit ’n vrou is? Vloek is die wapen wat dalk net mag boemerang (E. Byrn, “There’s a Swearing Double Standard – and Women Can Change It,” (Elle, 21 Maart 2018).

Dit lyk nie of die skryfster besef dat aanstootlike taalgebruik vir mans sowel as vir vroue kan boemerang nie. Dit is ’n gelyke geleentheid om aanstoot te gee en sprekers – mans sowel as vrouens – behoort nie net hulle eie behoeftes in ag te neem nie, maar ook die ore van die luisteraar.

Hierdie lang aanhaling kan baat vind by ’n bietjie woordontleding. Neem die volgende in ag: “Vloektaal is kragtig ...” Dit is waar, mense gebruik dit beslis om krag aan hulle stellings te gee en dit is al vir eeue lank die geval. Soos ons egter opgemerk het, is dit aanstootlik vir baie luisteraars en projekteer dikwels ’n swak humorsin eerder as spitsvondigheid. Wat van “Gekruide taal trek aandag ...”? Verseker, negatiewe aandag. Gebruik liederlike taal en mense sal u raaksien. Ongelukkig, indien u hierdie soort taal nodig het om aandag te trek, sal baie mense dink dat dit te wyte is aan ’n gebrek in u vermoë om aandag te trek daarsonder. Is dit waar dat “in sommige kontekste sulke growwe taalgebruik selfs ’n mate van respek verdien”? Dit mag so wees in ’n platvloerse omgewing indien die werkers, manlik sowel as vroulik, daaraan gewoond is. Deesdae kan dit sekerlik ’n paar “elite”-kringe insluit. Dit is egter eenvoudig nie deel van die meeste sake-omgewings en professionele kulture nie en niemand wil dit hoor nie. Enige persoon wat dit nodig vind om na ’n aanstootlike tirade oor te skakel om te begin om “opregtheid, eerlikheid en toewyding” oor te dra, sal waarskynlik op sy beste as verbaal gestremd beskou word.

Sommige sielkundiges ondersteun die idee dat vulgêre taal sielkundig voordelig vir die spreker is. Dit is debatteerbaar, maar dit is beslis nie voordelig vir die arme luisteraar wat gedwing word om die selfsugtige vermetelheid van die spreker te verdra nie. ’n Vuil mond skep onwillige ore.

Aanstootlike taalgebruik mag dalk “magtig” lyk vir die gebruikers daarvan en die mense wat dit verdedig, maar een persoon se bemagtiging is ’n ander persoon se intimidasie en mense gebruik dikwels liederlike taal vir presies daardie rede. Diegene wat kragwoorde laat uitborrel, probeer dikwels om ander mense te beheer met wat hulle dink intimiderende taal is. Hulle gehoor kan egter sodanige beheer verwerp.

Deesdae het onbeskofte mense soms hulle verdedigers, maar wie sal voorspraak maak vir die moeë ore van die misbruikte luisteraars? Daar is baie raad oor hierdie onderwerp. U kan byvoorbeeld die onbeskofte mense wat vuil taal gebruik kalm konfronteer deur hulle te laat weet hoe u voel. Dit kan werk as sprekers hulle dalk misgis het en gedink het hulle taal is aanvaarbaar in hulle huidige geselskap. Indien diegene wat sulke onwelvoeglike taal gebruik, nie oop is vir teregwysing nie en nie bereid is om te verander nie, kan u hulle eenvoudig vermy. Deur kalm om te draai en weg te loop, kan u sulke mense laat agterkom dat u hulle taal afstootlik gevind het.

’n Wyse waarneming van lank gelede

Die apostel Jakobus skryf: “Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur ’n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand” (Jakobus 3:4-5). Jakobus beveel aan: “Moenie dat jou tong jou liggaam oorheers nie”!

Hy gaan voort met ’n waarneming wat sal aanklank vind by vandag se vloektaal-geteisterde luisteraars wat die samelewing se platvloersheid nie heeltemal kan vermy nie: “Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. ’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? ’n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ’n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie” (verse 10-12).

Jesus sê: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word” (Matthéüs 12:35-37). Selfs as die aanstootlike taalgebruiker nie omgee vir wat Jesus gesê het nie, sal die menings van ander mense dalk ’n effek hê.

Is dit wat uit u mond uitvloei soos vars water of is dit bitter vir die luisteraar? Wat sal ander mense verstaan van die verstand en die hart waaruit u woorde ontstaan? Wat sou Jesus dink van u woorde?