Vraag: In Johannes 6:44 word gesê dat God die Vader ons na Jesus Christus toe trek en dat ons nie uit ons eie na Hom kan kom nie. Ek het altyd gedink dat ons ’n vrye wil het om ons eie keuses te maak. Dit lyk egter of hierdie vers impliseer dat ons nie regtig ’n keuse hierin het nie. Het ons ’n sê in die saak of nie?
Antwoord: Eerstens moet ons erken dat God wil hê dat álmal die ewige lewe sal kies (Johannes 3:16-17). Ons lees: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Hy sal Sy aanbod van verlossing van niemand weerhou nie en Hy roep elke persoon op die regte tyd (Romeine 9:15). Ons leer: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timótheüs 2:3-4).
God roep egter nog nie nou elke mens op aarde nie. Indien dit Sy huidige plan was om almal in hierdie tyd te red, kan ons na die toestand van ons samelewing kyk en tereg tot die gevolgtrekking kom dat Hy besig is om te misluk. Dit is egter nie wat Hy doen nie. Baie mense het geleef en gesterf sonder om ooit iets van Jesus Christus te weet en baie ander was slegs blootgestel aan ’n valse weergawe van Hom en Sy boodskap (2 Korinthiërs 11:4). Die Bybel verseker ons egter dat ’n tyd sal kom wanneer almal die ware Evangelie sal hoor en die geleentheid sal hê om te reageer (Eségiël 37:1-14; Romeine 11:26). God roep tog sommige mense vóór daardie tyd, as “eerstelinge” (Jakobus 1:18), om Sy Evangelie in vandag se uitdagende wêreld te verkondig.
In die boek Openbaring lees ons van twee afsonderlike groepe mense wat uit die dood opgewek sal word. Die een groep sal opgewek word tot die ewige lewe as ’n deel van God se Goddelike gesin, terwyl die ander groep tot hernude fisiese lewe opgewek sal word en hulle eerste werklike geleentheid sal hê om Jesus Christus as Verlosser aan te neem en in gehoorsaamheid aan God se liefdevolle Wette te leef (Openbaring 20:4-6, 11-13). Almal wat van hierdie geleentheid gebruik maak sal later as ewige geestelike wesens uit die dood opgewek word en voortleef tot in ewigheid as lede van die Gesin van God. Diegene wat nie hierdie geleentheid gebruik nie, maar eerder kies om teen God te rebelleer terwyl hulle ten volle bewus is van die gevolge, sal in die poel van vuur tereggestel word en nooit weer leef nie (Openbaring 20:14-15).
’n Buitengewone roeping
Sedert Adam en Eva se keuse, in Génesis 3, het die mensdom pogings aangewend om die wêreld se probleme sonder God op te los maar het jammerlik misluk. Hierdie mislukking wys vir ons dat die mensdom se weë nie tot ware geluk of vervulling lei nie. Selfs in ons gebroke wêreld lei God egter diegene tot bekering wat Hy in Sy Kerk, die liggaam van Christus inroep (1 Korinthiërs 1:2; 12:13; 2 Timótheüs 2:25-26).
Diegene wat geroep is en God se Gees ontvang het, het ’n groot verantwoordelikheid om sonde te oorwin en die Heilige Gees wat hulle ontvang, gee aan hulle die krag om sonde te oorwin (Kolossense 3:5-10). Deur hulle voorbeeld sien die wêreld watter voordele en seëninge dit inhou wanneer ons leef volgens God se Wet in plaas van ’n lewe sonder God volgens die mensdom se nukke en grille. Dit is ’n weg wat ons moet kies en die keuse van ongehoorsaamheid aan God het ernstige gevolge (Romeine 6:23; Hebreërs 6:4-6; 10:26-27). Om deel van God se Kerk te wees en die Heilige Gees te hê, ontneem ons nie van ’n vrye wil nie; dit help ons om wyse keuses te maak.
God het mense nog altyd geroep om standpunt in te neem teen die verkeerde dinge van hulle tyd (Deuteronómium 8:19-20). Indien u na God se Waarheid soek en wil leer oor u rol in Sy Koninkryk, hou aan om die Bybel te ondersoek asook die verskillende hulpbronne wat die Wêreld van Môre gratis aanbied.
Vra God om u te lei om u rol te verstaan. Indien u nou geroep word, het u die geleentheid om in die eerste opstanding te wees as een van diegene wat deel sal wees van die Bruid van Jesus Christus en saam met Hom te regeer in die naderende sewende millennium van die menslike geskiedenis as deel van Sy koninkryk. Wat ’n uitsonderlike roeping!