“Dit is aan die kom. Dit kom spoedig. U Bybel wys duidelik dat ’n vlaag van vals profete na vore sal kom aan die einde van hierdie tydvak!

Hierdie eiesinnige, ydel manne mag selfs die lewens van duisende van u, Wêreld van Môre intekenaars, beïnvloed, indien u toelaat dat dit gebeur. Ons in hierdie Werk het u by herhaling die ware “weg” van lewe geleer wat Jesus Christus Sy eie dissipels geleer het. Ons het – heeltemal gratis – miljoene tydskrifte en boekies uitgestuur wat die tien gebooie verduidelik en hoe om dit met God se hulp te onderhou. Ons het u by herhaling aangemoedig om die “Oorspronklike Christenskap” van Jesus Christus en die Apostels in u lewe in te sluit – alles gebaseer op gehoorsaamheid aan die wet van liefde en God se weg.

Met verloop van tyd sal baie vals leraars egter na vore kom en probeer om opregte mense weg te lei van die ware Werk van God. Dit was altyd so. Die apostel Paulus moes die ouderlinge van Korinthe waarsku: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29-30). Jesus Self waarsku ons: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! ... So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:15-16, 20).

Dink!
Wat is die “vrugte” – die gevolg – van opregte mense wat geleer word om die voorbeeld van Christus en die oorspronklike Apostels te volg? Dit is mense wat werklik probeer om mekaar asook hulle medemense lief te hê en te dien. Dit is mense wat die Skepper God lief het en vreugdevol Sy weeklikse Sabbatte en Sy jaarlikse Heilige Dae onderhou en – deur Christus wat in hulle leef – volgens die weg van die Tien Gebooie wandel.

In teenstelling hiermee, wanneer ’n gees van twyfel en ontmoediging onder God se mense gesaai word, dikwels oor klein en betwiste “tegniese punte” van profesie of chronologie, is die “vrugte”, – die gevolg – nie goed nie. Die apostel Paulus waarsku Timótheüs om “suiwer leerstelling” te beklemtoon. Hy het aan Timótheüs gesê: “Soos ek jou versoek het toe ek na Macedonië op reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie,en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is. Maar die doel van die gebod is liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof” (1 Timótheüs 1:3-5).

Alle ware leerstellings verwys na God se gebooie wat op liefde (vers 5) en diensbaarheid gegrond is. Alle ware leraars van Jesus Christus beklemtoon daardie benadering –daardie manier van lewe. Ware leraars van Christus verootmoedig hulle self en probeer op elke manier om God se mense te bemoedig en te dien. In sy laaste brief – soos geboekstaaf in die Bybel – sê die apostel Petrus aan die ouderlinge oor wie hy toesig gehad het, om “nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” te dien (1 Petrus 5:3). Dan gaan Petrus voort: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd” (verse 5-6).

In die Apostels se tyd, toe een van die oorspronklike vals apostels begin het om mense te mislei, boekstaaf u Bybel dat hierdie man rondgegaan het “deur te sê dat hy ietsbesonders was” (Handelinge 8:9). Uiteindelik sal die finale groot opstand teen God gelei word deur ’n ydel, eiesinnige man, “wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4).

Wanneer enige man of vrou dus probeer om hulself “aan te stel” as ’n “apostel” of aankondig dat hy ’n “profeet” is, pas op! God waarsku ons oor en oor: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Mattheüs 23:12; sien ook Lukas 14:11; 18:14).

Nie een van ons in hierdie Werk, wat aan u die Tomorrow’s World se televisie-program en hierdie tydskrif beskikbaar stel, het ooit probeer om homself as ’n “profeet” of ’n “apostel” te verklaar nie. Die woord van God beskryf die “tekens” van ’n apostel as, “tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12). Nie een persoon wat vandag leef het daardie tipe “tekens” verrig om ware apostelskap of profeetskap aan te dui nie!

Ten slotte wil ek u almal ten sterkste waarsku in die naam van Jesus Christus: Aan die einde van hierdie tydvak sal daar ’n “man van sonde” wees (2 Thessalonicense 2:3) wat kragtige “tekens” sal verrig en dit sal gebruik om miljoene verwarde mense te mislei binne die leeftyd van die meeste van u! God inspireer die apostel Johannes om hierdie man te beskryf as “’n ander dier” (Openbaring 13:11). Hierdie man sal die mag van die herleefde Romeinse Ryk gebruik. Hy sal egter nie die politieke of militêre leier daarvan wees nie. Hy sal ’n magtige godsdienstige figuur wees wat miljoene mense sal mislei! Johannes skryf só van hom: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (verse 13-14).

“Vuur uit die hemel” in ons hedendaagse tyd?
Ja! Dit sal moontlik nie binne die volgende aantal jare gebeur nie, maar dit sal kom binne die leeftyd van baie van u!

Let daarop dat God sê hierdie komende godsdienstige leier sal die een wees wat skouspelagtige wondertekens verrig – en daardeur “verlei [hy] die bewoners van die aarde” (vers 14). Onthou God se woord waarsku ons: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volkwat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:19-20). Die “sleutel” is om enige belydende apostel of profeet te verwerp wat probeer om u te beinvloed om u te distansieer van God se wet, of om u aandag af te trek van Sy Werk, wat Christus en die Apostels herhaaldelik verkondig het.

Maak dus seker dat u God se opdrag gehoorsaam: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timótheüs 2:15). Namate u “op Christus voed” en God se woord indrink – wat God se denke openbaar – sal dit baie moeilik wees om u te mislei! Soos Jesus sê, neem altyd die “vrugte” in ag. Is ’n belydende profeet of apostel opreg nederig in sy strewe om sy medemens te dien en hulle die lewensweg wat gebaseer is op die Tien Gebooie en die bergpredikasie, te leer? Of probeer hy eenvoudig om “aanhangers te verkry” en om mense te lei na idees en begrippe wat nie Bybels is nie, of eenvoudig nie ter sake is nie? Leer en beoefen hy die weg van diensbaarheid en nederigheid volgens die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het? Of gebruik hy sy leerstellngs om homself te verhef?

Om u ewige lewe se ontwil, onthou altyd die apostel Paulus se pragtige een-vers beskrywing van ware Christelikheid: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Voor u die leerstellngs van ’n “profeet” of “apostel” aanvaar, vra uself af: “Word ek deur hom beïnvloed om die ware Christus van die Bybel Sy lewe in my te laat leefdeur die Heilige Gees? Of skort iets?”

Wat “skort” mag die verskil wees tussen ewige lewe en ewige dood! Soos Jesus Christus ons beveel: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openbaring 3:11).